’n Lewe wat ek nie sou wou verander nie
BAIE mense is spyt oor die manier waarop hulle hulle lewe gelei het. Hulle sê miskien: ‘As ek maar net my lewe kon oorhê, sou daar soveel dinge wees wat ek anders sou doen!’ Maar wanneer ek oor mý lewe nadink, hoewel dit nie maklik was nie, is dit ’n lewe wat ek nie sou wou verander nie.
Ek is deur my ouers as een van Jehovah se Getuies grootgemaak, en hulle het God se wette van kleins af in my hart ingeskerp (2 Timotheüs 3:15). Ek kan nie ’n tyd onthou dat ek nie die vergaderinge en byeenkomste van Jehovah se Getuies bygewoon het nie. En as ’n jong meisie het ek ook saam met ouer Getuies na mense toe gegaan sodat ons hulle kon help om van die Bybel se hoop van die ewige lewe op ’n paradysaarde onder die heerskappy van God se Koninkryk te leer (Mattheüs 24:14). Ek onthou nog hoe ek as ’n vyfjarige die boekie met die titel Die Koninkryk, die hoop van die wêreld vir ander aangebied het.
My ouers het in 1917 vir die eerste keer die waarheid aangaande God se Koninkryk gehoor. Hoewel hulle kerkgangers was, het hulle besef dat dit die waarheid is toe hulle na ’n toespraak geluister het wat in Bridgeton, New Jersey, VSA, deur ’n reisende verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap gehou is. My oupa het na dieselfde toespraak geluister en hy was ook oortuig dat wat hy gehoor het die waarheid is. Toe ek 14 was, is ek by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Detroit, Michigan, gedoop om te simboliseer dat ek my lewe aan Jehovah toegewy het.
Daardie jare is ons weeklikse vergaderinge vir Bybelstudie in ons sitkamer gehou. ’n Winkel is uiteindelik gekoop en in ’n Koninkryksaal omskep. Destyds was daar maar min Koninkryksale. Maar vandag is daar wêreldwyd tienduisende van hierdie sale om die meer as 70 000 gemeentes van Jehovah se Getuies te akkommodeer.
Ek betree die voltydse bediening
My ma het in 1939 haar loopbaan as ’n voltydse bedienaar begin en het tot haar dood op die ouderdom van 85 daarmee volgehou. Ek en my broer, Dick, het ons loopbaan van voltydse diens op 1 April 1941 begin toe die Tweede Wêreldoorlog in Europa gewoed het en teëstand teen Jehovah se Getuies iets algemeens was weens ons neutrale standpunt ten opsigte van die politiek.
Drie van die jong Getuiemans in ons gemeente is weens hulle neutraliteit tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hoe bemoedigend is dit tog om te sien dat twee van hierdie mans steeds as ouere manne in die gemeente dien! My broer het later by die Brooklynse Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in New York, gedien en dien steeds as ’n ouere man in ons geboortedorp, Millville, New Jersey.
Daardie oorlogsjare was baie moeilik vir Jehovah se Getuies in die Verenigde State, asook elders. Gepeupelgeweld was iets algemeens. Kinders is uit die skool gesit. (Sien die Ontwaak! van 22 Julie 1993 oor die lewe van Lillian Gobitas Klose.) Aangesien duisende van ons geestelike broers tronk toe gestuur is, moes ons as vroue verskillende gemeentelike pligte nakom. Daarom was ek die lektuurkneg, hoewel ek nog jonk was. Met Jehovah se hulp het ons die moeilike oorlogsjare oorleef, en toe die broers uit die tronk vrygelaat is, het die werk vooruitgang gemaak.
Dit was op hierdie tydstip dat Lyman Swingle van Bethel ons gemeente besoek het. Hy het my aangemoedig om na Brooklyn toe te kom en met die noodlenigingswerk te help wat ná die Tweede Wêreldoorlog ten behoewe van ons mede-Getuies in Europa gedoen is. In Maart 1948 het ek dus Brooklyn toe gegaan.
Gelukkige jare in ’n nuwe gemeente
Ek is na my nuwe gemeente, Brooklyn-Sentraal, aangewys. Dit was die heel eerste gemeente wat voor die Eerste Wêreldoorlog in die stad New York en naburige gebiede gestig is, hoewel dit toe ’n ander naam gehad het. Destyds was dit in die Brooklyn Heights-omgewing geleë. Maar toe ek in 1948 in die Brooklyn-Sentraalgemeente was, was dit op die hoek van 5th Avenue en 8th Street in Brooklyn geleë. Daardie gehuurde fasiliteit het bykans 30 jaar as ons vergaderplek gedien totdat ’n nuwe saal ’n ent daarvandaan gekoop is.
Ek sal nooit my eerste dag in die predikingswerk in Brooklyn—in Henrystraat—vergeet nie. Dit was ’n groot verandering van getuieniswerk in ’n dorpie. Maar spoedig het ek ’n jong vrou ontmoet wat Bybellektuur aanvaar en tot ’n tuisbybelstudie ingewillig het. Mettertyd het sy asook twee van haar kinders toegewyde knegte van Jehovah geword. Haar seun, Arthur Iannone, dien tans by die Brooklynse Bethel saam met sy vrou, Linda, sowel as hulle seun en skoondogter.
Die gemeente se gebied waar ons gepreek het, was groot en vrugbaar. Met Jehovah se hulp kon ek sien hoe baie van my Bybelstudente die waarheid leer en gedoop word. Tot vandag toe dien sommige nog as voltydse bedienaars in hierdie land. Ander is sendelinge in verafgeleë lande. Party het ouere manne in gemeentes geword. En baie van hulle dien in ander hoedanighede as getroue verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk.
Die vermeerdering was verbasend. Waar daar oorspronklik net een gemeente in New York-stad en omliggende gebiede was, is daar nou bykans 400 gemeentes in die stad New York alleen. Watter aangename herinneringe het ek tog van my aandeel aan hierdie toename!
Franssprekendes se belangstelling neem toe
In die sestigerjare het ons baie Franssprekende mense in die gemeente se gebied gevind wat van Haïti af hierheen verhuis het. Die meeste kon net ’n bietjie Engels praat en ander glad nie. Hier was ’n uitdaging. Hoe kon ons hulle help om meer omtrent die Bybel te leer? Ek kon nie Frans praat nie, maar met my Engelse eksemplaar van ’n basiese Bybelhandboek in die een hand en die Franse vertaling van daardie boek in die ander hand kon ek Bybelstudies hou.
Maar daar was geen vergaderinge in Frans om hierdie mense te help om geestelik vordering te maak nie. Daarom is enige Getuiesendeling wat Brooklyn besoek het en Frans kon praat onmiddellik gevra om te help. Die eerste persoon wat ons kom help het, was Nicolas Brisart, die koördineerder van die Takkomitee in Guadeloupe. Hy het ons eerste openbare toespraak in Frans in die huis van suster Bertha Luisdon, wat Jehovah steeds getrou dien, gehou. Sewe-en-twintig mense het dit bygewoon.
Nogtans was daar op daardie tydstip, buiten Spaans, geen andertalige gemeentes in die stad New York nie. Die idee om ’n amptelike Franssprekende gemeente te stig, was dus iets wat ons ons nie kon voorstel nie. Trouens, ’n reisende opsiener het dit boonop onmoontliker laat lyk toe hy ons meegedeel het dat dit op daardie tydstip die beleid was om mense wat in hierdie land woon, aan te moedig om Engels te leer.
Broer Fred W. Franz, wat later die president van die Wagtoringgenootskap geword het, was ’n bron van bemoediging. Hy het gesê: “As dit Jehovah se wil is, Mary, sál daar ’n Franse gemeente wees.” Broer Harry Peloyan, die presiderende opsiener van die Brooklyn-Sentraalgemeente, het ons ook bemoedig. Hy het gesê dat ons die aande wanneer die Koninkryksaal nie gebruik word nie, ’n nie-amptelike Gemeentelike Boekstudie en openbare toespraak kon hou wanneer ons ook al ’n Franssprekende besoeker gekry het.
Teen hierdie tyd het ons al ’n aantal gedoopte broers van Haïti af gehad wat hierheen verhuis het, maar daar was steeds niemand met genoeg ervaring om die organisatoriese leiding in die Franse taal te neem nie. Toe het broer Timothy Galfas, wat in Parys skoolgegaan het en nou ’n lid van die Brooklynse Bethelgesin was, van ons situasie gehoor. Elke Saterdag ná hy by Bethel gewerk het, het hy na ons toe gekom en dan het ons na Haïtiese broers en susters gesoek wat hier gewoon het, maar nie geweet het waar om bymekaar te kom nie.
Ons het spoedig ongeveer 40 mense gehad wat saam met ons geassosieer het. Ons het ons kringopsiener gevra om aan die Genootskap te skryf vir goedkeuring sodat ons ’n amptelike Gemeentelike Boekstudie in Frans kon hou. Hoe bly was ons tog toe dit toegestaan is! Later het ons ook toestemming gekry om gereeld openbare toesprake en ’n weeklikse Wagtoring-studie te hou.
Die eerste Franse gemeente
Op 1 Desember 1967 het ons goedkeuring ontvang om die eerste Franssprekende gemeente in die Verenigde State te stig. Die gemeente sou die Koninkryksaal met die Brooklyn-Sentraal- en die Prospectgemeente deel. Ons was verheug! Ons het geweet dat almal geestelik groter vooruitgang sou maak in die taal wat hulle verstaan het. Gedurende al daardie jare van groeipyne het ons die ondersteuning van broers soos Harry Peloyan, George Haddad en Carlos Quiles, wat die Brooklyn-Sentraalgemeente se dienskomitee uitgemaak het, grootliks waardeer.
Ons het vinnig vermeerder. Spoedig is nuwe Franse gemeentes in Manhattan, Queens en Nyack, New York, gestig. Jeff Keltz en Tom Cecil van die Brooklynse Bethel het ’n aandeel aan hierdie vermeerdering gehad. Broer Keltz het as ons kringopsiener gedien en broer Cecil was op ons Streekbyeenkomskomitee. Ander het ook gehelp, soos sendelinge wat weens gesondheidsredes na die Verenigde State moes terugkeer van lande af waar Frans die taal was. Hoe waardevol was hulle hulp tog nie! Een van hulle is Stanley Boggus wat as ’n presiderende opsiener en waarnemende kringopsiener dien.
Wat ’n heuglike tyd was dit tog om te sien hoe die Franse groepie wat op die hoek van 5th Avenue en 8th Street bymekaargekom het tot tientalle gemeentes en twee kringe gegroei het! Trouens, ons het in April 1970 ons eerste kringbyeenkoms in Frans gehad. Broer Nathan H. Knorr, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was, het ons op die Vrydagaand toegespreek en ons alles van die beste toegewens. Daardie somer het ons ook ons eerste streekbyeenkoms, onder die oop paviljoen by die Roosevelt-stadion in Jersey City, New Jersey, gehad. Dit was warm en stowwerig, maar die meer as 200 wat dit bygewoon het, was baie bly om die hele program, waaronder die drama, in Frans te hoor.
Ons was ook verheug toe ons in 1986 toegelaat is om die Jersey City-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies vir ons streekbyeenkoms te gebruik. Verlede jaar het 4506 ’n Franse byeenkoms by hierdie byeenkomssaal bygewoon, en 101 is gedoop. ’n Franse byeenkoms is tegelykertyd in Florida gehou.
Getroue woonstelmaats
Nog ’n deel van my lewe wat so aangenaam was, was om ’n woonstel in Brooklyn te deel met ander susters wat in die voltydse diens was. Die eerste twee (Rose Lewis Peloyan en Madelyn Murdock Wildman) het Bethel toe gegaan. Later het twee ander (Lila Rogers Molohan en Margaret Stelmah) ook lede van die Bethelgesin geword. Twee ander (Barbara Repasky Forbes en Virginia Burris Beltramelli) is na die Wagtoring-Bybelskool Gilead en dien steeds onderskeidelik in Guatemala en Uruguay.
Ons susters het altyd die dag begin deur tyd in te ruim om ’n Bybelteks te bespreek, dan het ons na ons sekulêre werk toe gegaan en daarna het ons in die bediening uitgegaan. Saans het ons moeg en honger, maar gelukkig, teruggekeer! Ons het baie opbouende ondervindinge gehad om mekaar te vertel! By een geleentheid het ek byvoorbeeld met ’n jong vrou, Elisa Beumont Farina, gestudeer wat daarop aangedring het dat haar studie om 10:00 nm. gehou word. Sy het vinnig vordering gemaak. Die eerste keer wat ek haar saam met my in die bediening uitgeneem het, het sy gesê: “Moenie dink ek gaan dit die heeltyd doen nie!” Maar sy het ’n voltydse bedienaar geword en het later die Gileadskool bygewoon en baie jare lank in Ecuador gedien. Sy is steeds in die voltydse diens in Trenton, New Jersey.
Party van my woonstelmaats het kinders grootgemaak wat ook waardering vir Jehovah toon en hom dien. Verlede jaar is die dogter (Jodi Robertson Sakima) van een van my vroeëre woonstelmaats (Virginia Hendee Robertson) getroud en dien op die oomblik saam met haar man by die Brooklynse Bethel.
Ek is bly om te sê dat van die meer as 20 woonstelmaats wat ek al gehad het, het almal aan Jehovah getrou gebly, en baie van hulle is steeds in die voltydse diens.
Ek verlustig my in ons wêreldwye gesin
Dit was ook vir my ’n bron van vreugde om soveel Getuies uit ander lande te leer ken. Aangesien ons naby die Genootskap se hoofkwartier gewoon het, het ons byvoorbeeld die voorreg gehad om met studente om te gaan wat die Gileadsendingskool bygewoon het wat destyds nog by die Brooklynse Bethel gehou is.
Twee studente, Guenter Buschbeck, wat tans by die takkantoor in Oostenryk dien, en Willi Konstanty, wat by die takkantoor in Duitsland dien, is na die Brooklyn-Sentraalgemeente aangewys terwyl hulle Gilead bygewoon het. Wat ’n bron van aanmoediging was hulle tog nie! Hulle het so ’n positiewe invloed op my woonstelmaats gehad dat hulle spoedig ook Gileaddiens oorweeg het.
Ek het verskeie kere die voorreg gehad om my vriendskappe met ons wêreldwye gesin deur middel van oorsese reise uit te brei. Ek het internasionale byeenkomste bygewoon en baie van die Gileadgegradueerdes, wat ek voorheen leer ken het, weer in hulle toewysings gesien.
’n Vol lewe
As ek oor my lewe nadink, kan ek sê dat dit wonderlik was—’n gelukkige lewe vol seëninge. Hoewel ek al baie van die alledaagse probleme ondervind het wat eie aan hierdie stelsel van dinge is, kon niks nog ooit veroorsaak dat ek spyt oor my verlede is of dat ek van my kosbare voorreg van voltydse diens afsien nie.
Toe ek nog baie jonk was, het my ma die woorde van Psalm 126:5, 6 by my ingeskerp: “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.” Daardie teks dien steeds vir my as ’n gids. Ongeag watter probleme ek ondervind het, Jehovah het my altyd gehelp om ’n manier te vind waarop ek dit die hoof kon bied en daardie vreugde kon behou.
Ek sou beslis nie my lewe wou verander nie. Ek het geen rede om spyt te wees oor die nagenoeg 53 jaar wat ek in die voltydse bediening aan Jehovah gegee het nie. Ek sien daarna uit om voort te gaan om hom tot in alle ewigheid in sy nuwe wêreld te dien.—Soos vertel deur Mary Kendall.
[Prent op bladsy 16]
Mary Kendall