Ware hoop vir die kinders
“Daar sal geen kind sterf wat maar ’n paar dae oud is nie . . . Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal ’n volk wees wat deur die Here geseën word.”—Jesaja 65:20, 23, NAV.
ONDANKS die mens se prysenswaardige pogings om sake te verbeter, is daar steeds miljoene pasgebore babas “vir wie daar rampe wag”. Dit sal nie altyd die geval wees nie. Jesaja se profesie verseker ons nie net dat elke kind eendag ’n veilige toekoms sal hê nie, maar verduidelik ook hoe so ’n doel verwesenlik kan word.
In Jesaja 65:17 sê God: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” Om behoorlik vir die wêreld se kinders te sorg, is “nuwe hemele” sowel as “’n nuwe aarde” nodig.
Hierdie “nuwe aarde” is ’n nuwe mensegemeenskap wat bly by die beginsels wat Jesus Christus geleer het. Een van hierdie beginsels, soos Jesus verduidelik het, is: “Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My” (Markus 9:37). ’n Gemeenskap wat elke jong kind behandel asof hy Christus self is, moet inderdaad “’n nuwe aarde” wees! Miljoene mense probeer reeds om juis dit te doen en hulle het daarin geslaag om hoop aan sommige van die wêreld se kinders te gee.
Kinders wat nou hoop het
Tshepo het, saam met sy vier ouer broers en susters, in ’n plakkersdorp in Suid-Afrika gewoon. Toe hy ’n jaar oud was, het hy reeds die onmiskenbaar opgeswelde magie van ’n ondervoede kind gehad. Sy ouers het ’n aansienlike deel van hulle karige inkomste op bier verkwis in ’n vergeefse poging om hulle verdriet te verdrink. Tshepo het selde ’n bord gekookte kos gekry, en hy het maar tussen die vullis en leë bierblikkies gespeel wat rondom die huis gestrooi gelê het.
Die toekoms het vir Tshepo maar somber gelyk totdat iets gebeur het wat sy ouers se denkwyse verander het. ’n Buurman met die naam George het hulle gratis uit die Bybel onderrig. Die resultate was indrukwekkend—die drankprobleem het verdwyn, die huis is skoongemaak, die gesin het elke dag gekookte kos gekry en Tshepo en sy broers en susters het skoon, goed geklee en gelukkig begin lyk.
George het Tshepo se gesin gehelp omdat hy, as een van Jehovah se Getuies, dit as sy verantwoordelikheid beskou om almal te help, die minder bevoorregtes inkluis. Dit het natuurlik baie tyd en geduld geverg om die gesin te help om hulle lewenswyse te verander en vir hulle nuwe waardes te leer wat op God se Woord gegrond is. Maar George meen dat dit beslis die inspanning werd was, veral wanneer hy sien watter verskil dit aan die kinders gemaak het.
In die Mexikaanse dorp San Salvador Atenco woon ’n kleinboer met die naam José, wat die pa van nege kinders is. Hy was ’n strawwe drinker, en sy kinders was bang vir hom omdat hy gewelddadig geraak het wanneer hy dronk was. Hulle huis was altyd vuil en die werf was ’n kamp vir die gesin se donkies en varke wat na willekeur in en uit die huis gedwaal het. Die kinders het gevolglik aan maagderminfeksies gely, en soms was hulle liggaam vol lopende sere.
Sake het verander toe José die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Hy het sy strawwe drinkery gestaak en ’n ware vader vir sy kinders geword. Een van die jonger kinders sê trots: “Nou kan ons selfs met my pappie speel!” Hulle huis is nou een van die skoonste—pleks van een van die vuilste—in die dorp. Die varke en donkies word in ’n kamp gehou, en die gesin kook gereeld die drinkwater. Verbeterde higiëne het daartoe gelei dat die kinders baie gesonder en gelukkiger is.
Soos hierdie twee voorbeelde toon, is hulp aan die ouers dikwels ’n sleutelfaktor om die kinders te help. Die verklaring van die Wêreldspitsberaad vir Kinders het erken dat “die gesin hoofsaaklik vir die kinders se versorging en beskerming verantwoordelik is”. En of gesinne hulle kinders versorg en beskerm of nie, kan net soveel van hulle opvoeding as van hulle inkomste afhang.
’n Straatkind ondergaan ’n verandering
Domingos van Brasilië was net nege toe sy pa dood is. Toe sy ma weer getroud is, is hy na ’n weeshuis toe gestuur. Die genadelose behandeling wat hy in die weeshuis gekry het, het hom laat besluit om hom by ’n groep aan te sluit wat beplan het om weg te loop. Hoewel sy ma hom laat terugkom het huis toe toe sy van sy planne gehoor het, het hy, nadat sy stiefpa hom etlike kere te lyf gegaan het, besluit om die huis te verlaat. Hy het een van Sao Paulo se duisende straatkinders geword wat skoene poets, lekkers verkoop of selfs dwelms aflewer om aan die lewe te bly.
Toe Domingos vir die eerste keer by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies opgedaag het, was hy wantrouig en het nie goeie maniere gehad nie—wat nie juis verbasend is as ’n mens sy agtergrond in aanmerking neem nie. Getuievolwassenes het nogtans sy vertroue gewen en hom deur middel van ’n persoonlike Bybelstudie gehelp om ’n nuwe stel waardes te verkry. Uiteindelik het hy geleer dat hy vertroue in God en in ander kan stel. Die Getuies het hom gehelp om werk te kry, eers as handlanger vir ’n messelaar en later as ’n kantoorbode. Nou, etlike jare later, dien hy as ’n voltydse Christenbedienaar.
Hierdie voorbeelde toon dat ’n liefdevolle mensegemeenskap die lyding van die wêreld se kinders in ’n mate kan verlig. Jehovah se Getuies besef natuurlik dat rampe nooit heeltemal deur mensepogings ongedaan gemaak sal kan word nie. Bomenslike vermoëns, onbeperkte hulpbronne en wêreldgesag is vereistes om die probleme van die wêreld se kinders finaal op te los.
“Nuwe hemele” vir ’n beter wêreld
Net God kan ’n volkome oplossing voorsien. Daarom verduidelik Jesaja se profesie dat die “nuwe aarde” met “nuwe hemele” gepaard sal gaan. Die Bybel beloof verskeie kere dat “’n nuwe hemel” of “nuwe hemele” opgerig sal word (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1). Die oprigting van hierdie “nuwe hemele” word elke keer beskryf as ’n lewensbelangrike stap om ’n einde aan lyding te maak en om regverdigheid na die aarde toe te bring. Wat presies is hierdie “nuwe hemele”?
Die Bybel gebruik dikwels die woord “hemele” as ’n sinoniem vir heerskappy, van God of van mense. (Vergelyk Daniël 4:25, 26.) Hierdie nuwe regering is ’n hemelse Koninkryk, God se Koninkryk—die een waarvoor Jesus sy volgelinge geleer bid het (Mattheüs 6:10). God se Koninkryk sal die mag hê om ’n einde te maak aan enige ramp wat die kinders van die wêreld bedreig, en sal dit beslis doen.
Waarom kan ons so seker daarvan wees? Omdat ’n regering die persoonlikheid van sy heersers weerspieël. God se Koninkryk sal dus in ooreenstemming met God se standaarde regeer sowel as dié van sy Seun, Jesus Christus, God se aangestelde Koning. Hulle het albei ’n innige belangstelling in die welsyn van kinders getoon.—Psalm 10:14, NW; 68:6; Markus 10:14.
Terwyl ons gretig wag op hierdie beloofde Koninkryk, of “nuwe hemele”, kan ons die omstandighede van die kinders in ons omgewing probeer verbeter. Soos die Wêreldspitsberaad vir Kinders tereg tot die slotsom gekom het: “Daar is geen edeler taak as om elke kind ’n beter toekoms te gee nie.”
[Venster op bladsy 11]
’n Praktiese program om die kinders te help
Die opvoedkundige werk van Jehovah se Getuies bied praktiese en blywende hulp aan kinders. Sekere aspekte van hierdie program is:
Volwasseneonderrig. Dit behels ’n lees-en-skryf-kursus vir ouers wat nie kan lees of skryf nie, tesame met omvattende Bybelonderrig wat bedoel is om hulle waardes te leer wat noodsaaklik is vir die behoorlike versorging van kinders.
Gesinsvoorligting. Die Bybel maan ouers—selfs diegene wat baie arm is—om vir al hulle kinders te sorg pleks van sommige weg te stuur om by familie te gaan woon. Die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou het bewys dat dit ’n nuttige hulpmiddel is vir gesinne met besondere probleme.a
Kinders word betrek en onderrig. Wanneer kinders self by opvoeding, gesondheidsorg en sanitasie betrokke is, is die resultate baie beter. Die Getuies studeer dikwels die Bybel met kinders en gebruik publikasies soos My boek met Bybelverhale en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk wat daarop toegespits is om hulle te help om probleme tuis die hoof te bied en hulle persoonlike higiëne te verbeter.b
Onderrigting in higiëne en gesondheidsorg. Jehovah se Getuies gee die Ontwaak! in 74 tale uit, en daar verskyn gereeld artikels in hierdie tydskrif wat die aandag op gesondheidsorg vestig.
Noodlenigingswerk. Ten tye van nood tree Jehovah se Getuies vinnig op deur noodleniging te organiseer wat hulp direk in die rampgebied voorsien.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prente op bladsy 10]
Bomenslike vermoëns is ’n vereiste om die probleme van die wêreld se kinders finaal op te los. Net God kan so ’n oplossing voorsien