Maniere is dit deur die “nuwe moraliteit” verwerp?
‘Wee hulle wat sleg goed noem, wat duisternis lig en bitter soet maak.’—Jesaja 5:20.
GEDURENDE die 20ste eeu het ingrypende veranderinge in maniere en sedes plaasgevind. Gedurende die dekades wat op die twee wêreldoorloë gevolg het, is die ou waardesisteem geleidelik as verouderd beskou. Die veranderende toestande en nuwe teorieë op die gebied van menslike gedrag sowel as die wetenskap het talle mense daarvan oortuig dat die ou waardes nie meer geldig is nie. Maniere wat eens gerespekteer is, is as ekstra bagasie afgeskud. Die Bybelriglyne wat voorheen hooggeag is, is as verouderd verwerp. Hulle was veels te beperkend vir die vry, ongebonde samelewing van ultramoderne individue van die 20ste eeu.
Die jaar waarin hierdie keerpunt in die mensegeskiedenis plaasgevind het, was 1914. Geskiedskrywers se geskrifte aangaande daardie jaar en die Eerste Wêreldoorlog is vol van hulle waarnemings waarin hulle sê dat 1914 ’n jaar van betekenisvolle verandering was, ’n werklike baken wat tydvakke in die mensegeskiedenis geskei het. Die Jolige Twintigerjare het onmiddellik ná die oorlog gevolg en mense het probeer vergoed vir die vermaak wat hulle nie gedurende daardie oorlogsjare gehad het nie. Ou waardes en ongerieflike sedebeperkings is opsy gestoot om plek te maak vir hulle oorgawe aan genot. ’n Nuwe moraliteit, om vleeslike dinge na te jaag, is sonder meer van krag gemaak—in wese ’n doen-wat-jy-wil-houding. Die nuwe sedewet het onvermydelik ’n verandering in maniere teweeggebring.
Die geskiedskrywer Frederick Lewis Allen sê die volgende daaroor: “Nog ’n gevolg van die revolusie was dat maniere nie net bloot anders nie, maar—’n paar jaar lank—onmanierlik geword het. . . . Gedurende hierdie dekade het gasvroue . . . gevind dat hulle gaste hulle nie eers verwerdig het om by hulle aankoms of vertrek die gasvrou te groet nie; dat die gewoonte om ongenooid by ’n dansparty op te daag algemeen aanvaar is, dat dit ‘mode’ was om laat te kom vir ete, brandende sigarette net so te laat lê, sigaret-as op matte te strooi, en dit alles sonder om verskoning te vra. Die ou beperkings is oorboord gegooi, en met geen nuwes om dit te vervang nie, kon die ongemanierdes doen net wat hulle wou. Miskien sal die tien jaar wat op die oorlog gevolg het gepas eendag as die dekade van Slegte Maniere bekend staan. . . . As die dekade ongemanierd was, was dit ook ongelukkig. Saam met die ou orde van dinge het ’n stel waardes verdwyn wat die lewe sinryk en betekenisvol gemaak het, en dit was nie maklik om plaasvervangende waardes te vind nie.”
Plaasvervangende waardes om die lewe weer eens sinryk en betekenisvol te maak, is nooit gevind nie. Daar was geen aanvraag daarna nie. Die opwindende lewenstyl van die Jolige Twintigerjare waar enigiets toelaatbaar was, het mense van sedelike beperkings bevry, wat hulle uitstekend gepas het. Hulle het nie moraliteit opsy geskuif nie; hulle het dit net gewysig, dit ’n bietjie skiet gegee. Mettertyd het hulle dit die Nuwe Moraliteit genoem. Daarvolgens doen elkeen wat reg is in sy eie oë. Hy is die belangrikste. Hy gaan sy eie gang. Hy volg sy eie kop.
Of so meen hy. Wyse koning Salomo het in werklikheid drieduisend jaar gelede gesê: “Daar is glad niks nuuts onder die son nie” (Prediker 1:9). Selfs vroeër, gedurende die tyd van die rigters, het die Israeliete ’n groot mate van vryheid gehad om te toon of hulle God se wet sou gehoorsaam of nie: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Maar die meerderheid het getoon dat hulle nie bereid was om die Wet te gehoorsaam nie. Deur só te saai, het Israel honderde jare lank as ’n nasie rampe gemaai. Die hedendaagse nasies het eweneens eeue van pyn en lyding gemaai—en die ergste lê nog voor.
Daar is ’n ander term wat die Nuwe Moraliteit meer spesifiek identifiseer, naamlik “relativisme”. Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer dit as volg: “’n Opvatting dat etiese waarhede afhang van die individue en groepe wat daarvolgens lewe.” Kortom: die dissipels van relativisme sê wat ook al vir hulle goed is, is ook vir hulle eties. Een skrywer het oor relativisme uitgewei toe hy gesê het: “Relativisme, wat lank onder die oppervlak verberg is, het as die algemene filosofie van die ‘ek eerste-dekade’ van die sewentigerjare te voorskyn gekom; dit kom steeds in die jappie-lewenswyse van die tagtigerjare voor. Ons bring dalk steeds lippehulde aan tradisionele waardes, maar in die praktyk is enigiets wat vir my goed is reg.”
En dit sluit maniere in—‘As dit my pas, sal ek dit doen; indien nie, sal ek dit nie doen nie. Dit sou nie vir my reg wees nie, selfs al was dit vir jou meer gemanierd. Dit sou my radikale individualisme skend, my swak laat lyk, my in ’n lamsak verander.’ Dit geld blykbaar vir sulke mense nie net wat onbeskofte dade betref nie, maar ook wat sulke doodeenvoudige, alledaagse woorde betref wat van goeie maniere getuig, soos ‘Asseblief, Ek’s jammer, Verskoon my, Dankie, Laat ek die deur vir jou oopmaak, Sit gerus hier op my plek, Laat ek daardie pakkie vir jou dra’. Hierdie en ander uitdrukkings is soos sagte smeermiddels wat dinge uitstryk en ons menseverhoudings aangenaam maak. ‘Maar om maniere teenoor ander te toon, sou ’n negatiewe uitwerking hê op hoe ek my beeld as die belangrikste persoon handhaaf en uitdra’, maak iemand met die “ek eerste”-gesindheid dalk beswaar.
Die sosioloog James Q. Wilson skryf die toenemende wrywing en kriminele gedrag toe aan die ineenstorting van dit waarna daar vandag “smalend as ‘middelklaswaardes’ verwys word”, en die verslag sê voorts: “Die ondergang van hierdie waardes—en die toename van morele relativisme—hou blykbaar met ’n hoër misdaadsyfer verband.” Dit hou beslis verband met die hedendaagse tendens om enige beperking op selfuiting te verwerp, ongeag hoe ongemanierd of afstootlik dit moontlik is. Dit is soos ’n ander sosioloog, Jared Taylor, gesê het: “Ons samelewing het geleidelik oorgegaan van selfbeheersing na selfuiting, en baie mense maak verouderde waardes as onderdrukkend af.”
As jy volgens relativisme lewe, word jy die regter van jou persoonlike gedrag en neem jy geen notisie van enigiemand anders se oordeel nie, ook nie God s’n nie. Jy besluit self wat reg en wat verkeerd vir jou is, net soos die eerste mensepaar in Eden gedoen het toe hulle God se bevel verwerp en vir hulleself besluit het wat reg en wat verkeerd was. Die Slang het Eva bedrieg deur haar te laat dink as sy God ongehoorsaam was en van die verbode vrug geëet het, sou die uiteinde wees soos hy vir haar gesê het: “Julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Eva het dus van die vrugte geneem en geëet, daarna het sy daarvan vir Adam gegee en hy het geëet (Genesis 3:5, 6). Adam en Eva se besluit om die verbode vrug te eet, was noodlottig vir hulle en rampspoedig vir hulle nakomelinge.
Ná ’n lang opsomming van die verdorwenheid onder politici, sakemanne, atlete, wetenskaplikes, ’n Nobelpryswenner en ’n geestelike het ’n waarnemer die volgende in ’n toespraak voor die Fakulteit vir Handelswetenskappe aan die Harvard-universiteit gesê: “Ek dink ons ondervind vandag in ons land wat ek ’n karakterkrisis wil noem, ’n verlies van dit wat tradisioneel deur die Westerse beskawing beskou is as daardie innerlike beheerstheid en innerlike deugde wat ons verhinder om aan ons eie slegte drange toe te gee.” Hy het gepraat van “woorde wat amper ouderwets sal klink wanneer hulle in hierdie milieu geuiter word, woorde soos onverskrokkenheid, eer, plig, verantwoordelikheid, medelye, beleefdheid—woorde wat feitlik in onbruik geraak het”.
Gedurende die sestigerjare het sekere vraagstukke op universiteitskampusse geskilpunte geword. Baie het gesê ‘daar is geen God nie, God is dood, daar is niks, daar is niks wat werklik van waarde is nie, die lewe is absoluut sinneloos, jy kan die betekenisloosheid van die lewe slegs deur heldhaftige individualisme oorwin’. Die blommekinders het dit as ’n teken beskou om die betekenisloosheid van die lewe te probeer oorwin deur ‘kokaïen te snuif, dagga te rook, vrye liefde te beoefen en persoonlike gemoedsrus na te jaag’. Maar hulle het daardie gemoedsrus nooit gevind nie.
Dan was daar die protesbewegings van die sestigerjare. Dit was meer as net ’n gier, want dit het ’n deel van die algemene Amerikaanse lewenswyse geword en tot die Ek-dekade van die sewentigerjare aanleiding gegee. Daarna het ons ’n dekade ingegaan wat Tom Wolfe, die maatskaplike kritikus, “die dekade van Ek” genoem het. Dit het geleidelik na die tagtigerjare oorgegaan, wat sinies deur sommige “die goue eeu van hebsug” genoem is.
Wat het dit alles met maniere te doen? Dit gaan daaroor dat jy jouself eerste stel, en as jy jouself eerste stel, kan jy nie maklik vir ander terugstaan nie, jy kan ander nie eerste stel nie, jy kan nie goeie maniere teenoor ander toon nie. Deur jouself eerste te stel, gee jy jou in werklikheid aan ’n vorm van selfaanbidding oor, ’n aanbidding van Ek. Hoe beskryf die Bybel iemand wat dit doen? As ’n “gierigaard, wat ’n afgodedienaar is”, as iemand wat bewys lewer van “gierigheid, wat afgodediens is” (Efesiërs 5:5; Kolossense 3:5). Wie dien sulke mense in werklikheid? “Die maag is hulle god” (Filippense 3:19, NAV). Daardie veragtelike, alternatiewe lewenswyses wat baie mense gekies het omdat hulle dit as moreel reg beskou, sowel as die rampspoedige, dodelike gevolge van daardie lewenswyses is slegs ’n bewys van die waaragtigheid van Jeremia 10:23: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”
Die Bybel het al hierdie dinge voorsien en dit as ’n waarskuwingskenmerk van “die laaste dae” voorspel, soos opgeteken in 2 Timotheüs 3:1-5, New English Bible: “Julle moet hierdie feit onder die oë sien: die eindtyd van hierdie wêreld gaan ’n tyd van sorge wees. Mense sal net geld en hulleself liefhê; hulle sal verwaand, grootpraterig en beledigend wees; sonder respek vir hulle ouers, sonder dankbaarheid, sonder vroomheid, sonder natuurlike geneentheid; hulle sal nie hulle wrokke versoen nie, skindertonge, onbesadig en wreedaardig, hulle sal geen goedheid ken nie, verraaiers, waaghalse, verwaand. Hulle sal mense wees wat genot belangriker ag as God, mense wat die uiterlike skyn van godsdiens bewaar, maar ’n flagrante verloëning van die werklikheid daarvan is. Bly weg van sulke mense af.”
Ons het ver wegbeweeg van hoe ons geskape is om te wees—na die beeld en gelykenis van God. Die potensiële eienskappe van liefde, wysheid, geregtigheid en krag is steeds in ons aanwesig, maar het ongebalanseerd en verwronge geraak. Die eerste stap op die pad terug word onthul in die laaste sin van die Bybelteks wat hierbo aangehaal word: “Bly weg van sulke mense af.” Kies ’n nuwe milieu, een wat selfs jou innerlike gevoelens sal verander. Die wyse woorde wat jare gelede in The Ladies’ Home Journal deur Dorothy Thompson geskryf is, is in hierdie verband insiggewend. Haar aanhaling begin met die verklaring dat dit noodsaaklik is om in die bekamping van jeugmisdaad eerder ’n jeugdige se emosies as sy intellek te ontwikkel:
“Sy dade en gesindhede as kind bepaal grootliks sy dade en gesindhede as volwassene. Maar dit word nie deur sy brein gemotiveer nie, wel deur sy gevoelens. Hy word dit wat hy aangemoedig en geleer word om lief te hê, te bewonder, te aanbid, te koester en opofferinge te maak. . . . Maniere speel ’n belangrike rol in al hierdie aspekte, want goeie maniere is niks meer of minder as om bedagsaamheid teenoor ander te toon nie. . . . Innerlike gevoelens word deur uiterlike gedrag weerspieël, maar uiterlike gedrag dra ook tot die ontwikkeling van innerlike gevoelens by. Dit is moeilik om aggressief te wees terwyl jy bedagsaam optree. Goeie maniere is dalk net oppervlakkig om mee te begin, maar hulle bly selde oppervlakkig.”
Sy het ook gesê dat goedheid en slegtheid, met baie min uitsonderings, “nie deur die brein bepaal word nie, maar deur die emosies” en dat “mense nie misdadigers word weens die are wat verhard nie, maar weens die hart wat verhard”. Sy het beklemtoon dat gedrag meer dikwels beheer word deur emosies as deur die verstand en dat die manier waarop ons grootgemaak is, die manier waarop ons ons gedra, al is dit aanvanklik gedwonge, ons innerlike gevoelens beïnvloed en ons hartstoestand verander.
Maar dit is die Bybel wat die beste raad bevat en ’n geïnspireerde voorskrif voorsien wat die innerlike persoon van die hart kan verander.
Eerstens, Efesiërs 4:22-24: ‘Julle moet, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en julle moet vernuwe word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.’
Tweedens, Kolossense 3:9, 10, 12-14: “Omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper. Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos [Jehovah] julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.”
Die geskiedskrywer Will Durant het gesê: “Die grootste vraagstuk van ons tyd is nie kommunisme teenoor individualisme, nie Europa teenoor Amerika, selfs nie eers die Ooste teenoor die Weste nie; dit is of die mens sonder God kan lewe.”
Om ’n voorspoedige lewe te lei, moet ons op sy raad ag slaan. “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en ’n goeie insig in die oë van God en die mense. Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:1-6.
Die vriendelike en bedagsame goeie maniere wat deur die eeue van ons bestaan geleer is, is op die ou end toe nie ekstra bagasie nie, en die Bybel se riglyne vir die lewe is hoegenaamd nie verouderd nie, maar sal vir die mensdom ewige redding beteken. Sonder Jehovah kan hulle nie bly lewe nie, want ‘by Jehovah is die fontein van die lewe’.—Psalm 36:10.
[Lokteks op bladsy 11]
Die manier waarop ons ons gedra, al is dit aanvanklik gedwonge, beïnvloed ons innerlike gevoelens en verander ons hartstoestand
[Venster op bladsy 10]
’n Voorbeeld van onberispelike tafelmaniere wat mense gerus kan navolg
Sederlakvlerkies, mooi, goedgemanierd, baie gesellig, wat saam feesvier in ’n groot struik vol ryp bessies. Terwyl hulle in ’n ry op ’n tak sit, eet hulle die vrugte, maar glad nie ongemanierd nie. Van die een bekkie na die ander gee hulle heen en weer vir mekaar ’n bessie aan tot een van hulle dit uiteindelik beleef eet. Hulle vergeet nooit hulle “kinders” nie en bring kos onvermoeid, bessie na bessie, totdat al die leë magies vol is.
[Erkenning]
H. Armstrong Roberts
[Prent op bladsy 8]
Party sê: ‘Raak ontslae van die Bybel en van sedelike waardes’
[Prent op bladsy 9]
“God is dood.”
“Die lewe het geen sin nie!”
“Rook dagga, snuif kokaïen”
[Foto-erkenning op bladsy 7]
Left: Life; Right: Grandville