Opgelei om dood te maak, maar nou bied ek die lewe aan
“Terroriste hou gyselaars aan in ’n huis in Noord-Israel.”
EK WAS aan die Israeliese leër verbonde en het tydens ’n vry naweek by die See van Galilea gekampeer toe ek die nuus oor die radio gehoor het. Ek het maar alte goed geweet wat daardie woorde beteken. Ek was ’n leëroffisier in ’n spesiale eenheid wat professioneel opgelei was om met terroriste af te reken. Ek het ook geweet dat ek onder diegene sou moes wees wat sou inbreek, die terroriste sou doodmaak en die gyselaars sou bevry. Ek het sonder aarseling in my motor gespring en so vinnig as wat ek kon na die toneel toe gery.
Omdat Israeliese leëroffisiere altyd eerste ingaan, het ek geweet dat ek onder die eerstes sou moes wees wat die terroriste trotseer, maar die gedagte om doodgemaak of beseer te word, het my nie afgeskrik nie. Ek het op die toneel aangekom enkele minute nadat my vriende in ons eenheid die taak afgehandel het deur die vyf terroriste om die lewe te bring en die gyselaars te bevry. Ek was so teleurgesteld dat ek daardie aksie gemis het.
Waarom het ek so gevoel? Omdat ek baie nasionalisties was en my liefde vir my land wou bewys. Maar hoe het ek in hierdie spesiale antiterroriste-eenheid beland?
Ek is in 1958 in Tiberias, in Israel, gebore en is in ’n baie nasionalistiese huis grootgemaak. Ek het geglo dat my land altyd reg is. Toe ek dus in 1977 by die leër aansluit, het ek vrywillig aangebied om in die mees professionele vegeenheid in die Israeliese leër te dien. Van diegene wat aansoek doen, word net ’n baie klein persentasie aanvaar om die baie moeilike opleidingskursus te begin. Nie almal voltooi die kursus nie, en uit dié wat dit wel voltooi, word net ’n paar gekies om offisiere te word. Ek was een van hulle.
My sukses was eintlik ’n weerspieëling van my liefde vir my land. Ek het goeie rede gehad om trots op myself te wees. Ek was immers ’n offisier in ’n spesiale vegeenheid wat dinge gedoen het wat die gewone man beswaarlik sien, nie eers in rolprente nie. Maar die sukses, roem en geheimhouding het met ’n geestelike leemte gepaardgegaan wat so groot geraak het dat ek begin besef het dat die lewe meer moet behels. Ná meer as vier baie moeilike jare het ek dus die leër verlaat om te reis en die wêreld te verken.
Waarom ek Israel verlaat het
My wêreldreise het ten einde geloop toe ek Koenlaja, my toekomstige vrou, wat toe kuns aan die Bangkok-universiteit gestudeer het, in Thailand ontmoet het. Nie een van ons was van plan om te trou nie, maar ons liefde was sterker as wat ons besef het. Koenlaja het dus haar studies gestaak, ek het my reis beëindig en ons het besluit om ’n lewe saam te begin. Waar? In Israel natuurlik. “Ek moet my land help beskerm”, het ek vir haar gesê.
In Israel kan ’n Joodse man net met ’n Jodin trou; ek was dus terdeë daarvan bewus dat Koenlaja, wat toe ’n Boeddhis was, tot Judaïsme bekeer sou moes word, wat sy gewillig was om te doen. Maar die godsdienstige Jode wat haar bekering moes goedkeur, het haar toestemming geweier. Waar ons ook al hulp gesoek het, het ons dieselfde negatiewe reaksie gekry: “Iemand soos jy moet ’n oulike Joodse meisie kry en nie met hierdie Heiden trou nie.” Koenlaja was nie net ’n Heiden nie, maar sy was ook van ’n ander ras.
Nadat ons ses maande probeer het, is ons uiteindelik na die godsdienshof toe genooi waar drie rabbi’s ons sou ondervra om te besluit of Koenlaja bekeer sou kon word of nie. Daar is ek berispe omdat ek met ’n Heiden wou trou. Hulle het vir my gesê om haar huis toe te stuur. “Waarom neem jy haar nie as jou slavin nie!” het een van die rabbi’s toe voorgestel. Hulle het ons aansoek van die hand gewys.
Ek het genoeg gehad. Terwyl hulle nog gepraat het, het ek Koenlaja by die hand geneem en die hofsaal verlaat onderwyl ek gesê het dat Koenlaja nooit ’n Jood sou word nie, selfs al sou sy toegelaat word, en dat ek nie meer een wou wees nie. ‘’n Godsdiens wat mense so behandel, is in elk geval niks werd nie!’ het ek by myself gedink. Nadat ek my besluit geneem het, is spesiale pogings aangewend om ons van mekaar te skei. Selfs my dierbare ouers is hierby betrek weens sterk godsdiensgevoelens en weens die druk wat op ons uitgeoefen is om mekaar te verlaat.
Intussen het die oorlog in Libanon tussen die Israeliese magte en die Palestynse guerrillas begin. Ek is natuurlik opgeroep om te gaan veg en terwyl ek diep in die vyand se gebied my lewe vir my land gewaag het, is Koenlaja se paspoort van haar af weggeneem en is sy gevra om die land te verlaat. Dit was alles deel van die poging om ons van mekaar te skei. Die oomblik toe ek uitgevind het wat gebeur het, het my liefde vir my land gesterf. Vir die eerste keer het ek begin besef waaroor nasionalisme eintlik gaan. Ek was gewillig om soveel vir my land te gee, en nou is ek nie eers toegelaat om met die vrou te trou wat ek liefhet nie! Ek was diep seergemaak en het gevoel of ek verraai is. Wat my betref het, het hulle my gevra om te gaan toe hulle Koenlaja gevra het om te gaan. As ek my daarvoor sou beywer dat Koenlaja in Israel kon bly, sou dit in werklikheid beteken dat ek my daarvoor beywer om self daar te bly, iets wat ek nie meer bereid was om te doen nie.
Ons het geen keuse gehad as om oorsee te vlieg om te trou en dan na Israel terug te keer om finale reëlings te tref voor ons die land verlaat nie. Ons het Israel in November 1983 verlaat, maar nie voordat ons met my ouers vrede gemaak het nie. Ek het altyd die skynheiligheid in godsdiens as die hoofoorsaak van ons probleme beskou; tog was godsdiens vir my nog nooit so onbelangrik as toe nie.
Ek vind die waarheid oor die Messias
Ons was baie verbaas om uit te vind dat ’n sekere immigrasiewet dit vir ons onmoontlik gemaak het om in my vrou se land te woon. Ons moes na ’n derde land soek om in te woon! Ons eerste seun is in Australië gebore, maar ons kon ook nie daar bly nie. Ons het van die een land na die ander geswerf. Twee jaar het verstryk en ons het stadigaan hoop begin verloor dat ons ’n permanente woonplek sou vind. In Oktober 1985 het ons in Nieu-Seeland aangekom. ‘Net nog ’n land waar ons ’n rukkie sal bly’, het ons gedink terwyl ons in ’n noordelike rigting met ons 11 maande oue baba geryloop het. Maar hoe verkeerd was ons tog!
Een aand het ’n vriendelike egpaar ons vir ’n maaltyd uitgenooi. Nadat hulle na ons verhaal geluister het, het die vrou aangebied om ons met ons aansoek om permanente verblyf in Nieu-Seeland te help. Die volgende dag, net voordat ons afskeid geneem het, het sy vir my ’n boekie gegee met die titel The New Testament (Griekse Geskrifte). “Lees dit”, het sy gesê. “Die skrywers daarvan was almal Jode.” Ek het dit in my sak gesit en belowe om daarna te kyk. Ek het nie ’n benul gehad van wat in daardie boek was nie—Jode lees gewoonlik nie Christelike lektuur nie. Ons het later ’n ou motor gekoop en begin om suid te reis, en ons het die motor ons tuiste gemaak.
By een van die stilhouplekke het ek my belofte onthou. Ek het die boek uitgehaal en dit begin lees. Ek het meer uitgevind oor die man wat die Joodse geloof my geleer het om te haat, selfs te verafsku. Ek was verbaas om te lees dat Jesus die grootste deel van sy lewe om die See van Galilea deurgebring het, waar ek ook die grootste deel van my lewe deurgebring het. Ek was selfs meer verbaas om die dinge te sien wat hy gesê het. Ek het nog nooit iemand soos hy hoor praat nie.
Ek het met daardie man probeer foutvind, maar ek kon nie. Trouens, ek het dit wat hy geleer het, geniet en hoe meer ek oor hom gelees het, hoe meer het ek gewonder waarom die Jode my leuens oor hom vertel het. Ek het begin sien dat, hoewel ek nooit godsdienstig was nie, ek deur godsdiens gebreinspoel is op dieselfde wyse as wat ek deur nasionalisme gebreinspoel is. Ek het gewonder: ‘Waarom haat die Jode hom so?’
My vraag is gedeeltelik beantwoord toe ek hoofstuk 23 in Mattheüs gelees het. Ek het letterlik uit my stoel opgespring toe ek gelees het dat Jesus die skynheiligheid en die goddelose gedrag van die Joodse godsdiensleiers van sy tyd moedig aan die kaak gestel het. ‘Niks het verander nie’, het ek gedink. ‘Hierdie einste woorde van Jesus is vandag nog ten volle op die Joodse godsdiensleiers van toepassing. Ek het dit self gesien en ondervind!’ Ek kon nie anders nie as om diepe eerbied te hê vir hierdie man wat onbevrees die waarheid gepraat het. Ek het nie na ’n ander godsdiens gesoek nie, maar ek kon die krag van Jesus se leringe nie ignoreer nie.
Ek hoor die naam Jehovah
Ek het omtrent die helfte van die Griekse Geskrifte gelees toe ons by die Milford-Sont, in die Fjordland van Nieu-Seeland se Suideiland, aangekom het. Ons het ons motor langs ’n ander motor geparkeer met ’n Asiatiese vrou wat daar naby gesit het. My vrou het met haar begin gesels. Toe haar Britse man opdaag, het ons kortliks vir hulle ons verhaal vertel. Hy het toe vir ons vertel dat God in die nabye toekoms hedendaagse regerings gaan vernietig en dat Sy regering dan oor ’n regverdige wêreld gaan heers. Hoewel dit vir my goed geklink het, het ek gedink: ‘Hierdie man droom.’
Die man het voortgegaan en ons van die godsdiensskynheiligheid en valse leringe van die Christendom se kerke vertel. Sy vrou het toe gesê: “Ons is Getuies van Jehovah.” Ek het gedink: ‘Wat het hierdie Heidene met die God van die Jode te doen? En met daardie naam Jehovah!’ Ek het die naam geken, maar dit was die eerste keer dat ek gehoor het dat dit gebruik word. Jode word nie toegelaat om daardie naam uit te spreek nie. Die egpaar het vir ons hulle adres en Bybellektuur gegee en ons het vertrek. Min het ons geweet dat ons ontmoeting met hierdie egpaar ons lewe sou verander.
Ons vind die waarheid
Twee weke later was ons in Christchurch. Reëlings is getref dat ons op ’n skaapplaas woon en werk wat aan lidmate van ’n Pinksterkerk behoort het. Op die plaas het ek die Griekse Geskrifte voltooi en van voor af daarmee begin. Ek het opgemerk hoe vanselfsprekend God se bestaan vir Jesus was. Vir die eerste keer in my lewe het ek gewonder: ‘Bestaan God werklik?’ Ek het na die antwoord begin soek. Ek kon ’n eksemplaar van die volledige Bybel in my eie taal, Hebreeus, kry en het dit begin lees sodat ek meer kon leer oor Jehovah, die een wat beweer dat hy die almagtige God is.
Ek en my vrou het gou besef dat die leringe wat ons by die plaaseienaars geleer het in stryd was met dit wat ons in ons Bybel gelees het. Hulle gedrag het ook nie daarmee ooreengestem nie. Trouens, ons was op een tydstip so ontsteld oor hoe ons op die plaas behandel is dat ek ’n brief daaroor aan die dame geskryf het wat ons die Griekse Geskrifte gegee het. “Tot dusver, glo ek, het God ons gewys watter ‘Christelike godsdiens’ vals is, en as God werklik bestaan, sal hy ons nou wys wat die ware Christelike godsdiens is.” Ek het aan haar geskryf sonder om te besef hoe reg ek was. Dit was toe dat ek onthou het wat daardie twee Getuies ons omtrent die skynheiligheid van die kerke vertel het. Ons het besluit om weer met die Getuies in aanraking te kom.
’n Paar dae later het daardie egpaar gereël dat twee ander Getuies van Jehovah, wat daar naby gewoon het, ons besoek. Hulle het ons vir aandete uitgenooi. By hulle huis het ons die Bybel bespreek, en ons het baie gehou van wat ons gehoor het. Ons is die volgende dag weer uitgenooi en het nog ’n lang bespreking gehad. Wat hulle vir ons in die Bybel gewys het, was so logies en verstaanbaar dat ek en my vrou gevoel het dat ons iets wonderliks, ja, die waarheid, gevind het!
Ons kon daardie nag amper nie aan die slaap raak nie. Ons het geweet dat die lewe nooit weer dieselfde sou wees nie. Ek het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat deur die Getuies uitgegee word, begin lees, en terwyl ek dit gelees het, het ek gevoel soos ’n blinde wat weer kon sien! Ek kon verstaan wat die doel van die lewe is, waarom die mens op die aarde geplaas is, waarom ons sterf, waarom God soveel lyding toelaat en hoe wêreldgebeure Bybelprofesieë vervul. Ek het soveel boeke as wat ek kon van Jehovah se Getuies geleen en het ure daaraan bestee om dit te lees. Ek kon maklik die leuens van die leringe oor die Drie-eenheid, die helse vuur en die onsterflikheid van die siel insien. Ek het die logika en die kragtige Bybelredenasies geniet wat deur die publikasies gebruik is.
Ons vergelyk Bybels en gelowiges
Die plaaseienaars het ons probeer afraai om saam met Jehovah se Getuies te studeer. “Hulle het ’n ander Bybel, ’n valse vertaling”, het hulle vir ons gesê. “Wel, ek sal moet kyk of dit so is”, het ek gesê. Ek het ’n paar Bybelvertalings by die plaaseienaars geleen en het ook ’n eksemplaar van die New World Translation of the Holy Scriptures in die hande gekry en hulle almal met ’n eksemplaar van die Bybel in Hebreeus vergelyk. Ek was in ekstase om te ontdek dat die New World Translation die akkuraatste en juisste vertaling was. My vertroue in die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap se publikasies het toegeneem.
Die eerste keer toe ons ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon het, het ons nie alles verstaan wat daar bespreek is nie, maar dit was nie moeilik om die wonderlike liefde te verstaan wat die gemeente aan ons betoon het nie. Ons was beïndruk dat die naam Jehovah so dikwels gebruik is. “Jehovah, Jehovah”, het ek oor en oor gesê op pad terug van die vergadering af. “Dit is nou nie net ‘God’ nie, dit is ‘Jehovah God’”, het ek vir my vrou gesê.
Ons het uiteindelik na Christchurch toe verhuis sodat ons meer met Jehovah se Getuies kon assosieer en al die vergaderinge kon bywoon. Die publikasie Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? het geen twyfel by my gelaat dat Jehovah God wel bestaan en dat hy die Skepper is nie.
Ons ontmoet Palestynse broers
Nadat ons met die takkantoor van Jehovah se Getuies in Israel in aanraking gekom het, het ek ’n paar briewe van Getuies daar ontvang. Een van die briewe was van ’n Palestyn wat aan die Wesoewer gewoon het, en haar openingswoorde was: “My broer Rami.” Ek het gedink dat dit ongelooflik was, aangesien die Palestyne my vyande was, en hier het een van hulle my “my broer” genoem. Ek het die unieke wêreldwye liefde en eenheid begin waardeer wat onder Jehovah se Getuies bestaan. Ek het gelees dat Jehovah se Getuies in Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog in konsentrasiekampe gesit, gemartel en tereggestel is omdat hulle nie wou leer om teen hulle geestelike broers in ander lande oorlog te voer nie. Ja, dit is wat ek van ware volgelinge van Jesus verwag het.—Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:16.
Ons het vordering in ons studie bly maak. Intussen het die immigrasiekantoor van Nieu-Seeland ons vriendelik toegelaat om permanent daar te woon, wat verder tot ons vreugde bygedra het. Nou kon ons ons vestig en Jehovah in een van die pragtigste lande ter wêreld dien.
My ouers leer die waarheid ken
Onmiddellik nadat ons hierdie wonderlike Bybelwaarhede geleer het, het ek natuurlik begin om vir my ouers daarvan te skryf. Hulle het reeds die begeerte uitgespreek om vir ons te kom kuier. “Ek het iets gevind wat meer werd is as geld”, het ek geskryf om hulle afwagting op te bou. Hulle het teen die einde van 1987 in Nieu-Seeland aangekom, en ons het amper onmiddellik oor die waarheid van die Bybel begin praat. My pa het gedink dat ek van my verstand afgeraak het omdat ek in Jesus glo, en hy het hard probeer om my verkeerd te bewys. Ons het amper elke dag gestry. Mettertyd het hierdie argumente egter in besprekings verander en die besprekings in ’n Bybelstudie. Met die opregte liefde wat die Getuies aan hulle betoon het, het my ouers die prag en die logika van die waarheid ingesien.
Hoe verheug was ek tog om te sien hoe my ouers van slawerny aan valse godsdiens en later ook van nasionalisme bevry raak! Nadat hulle vier maande gekuier het, het hulle met die waarheid na hulle tuisdorp by die See van Galilea teruggekeer. Daar het hulle hulle studie voortgesit met twee Getuies van die naaste gemeente, wat 65 kilometer daarvandaan was. Hulle het gou vir ander omtrent Jehovah en sy Woord begin vertel. ’n Paar dae voor die oorlog in die Persiese Golf uitgebreek het, het hulle hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer.
Intussen het ek en my vrou by die wêreldwye gesin van Jehovah se Getuies aangesluit toe ons in Junie 1988 ons toewyding aan Jehovah God in die openbaar gesimboliseer het. Ek het geweet dat ek Jehovah net op een manier—as ’n voltydse bedienaar—kon dien; dus het ek die eerste geleentheid aangegryp om die voltydse diens te betree. Ek sal nooit vergeet hoeveel ek bereid was om vir my land op te offer nie en selfs my lewe in gevaar te stel. Hoeveel meer moet ek tog nie gewillig wees om vir Jehovah God te doen, wat ek weet my nooit sal verlaat nie!—Hebreërs 6:10.
Ons dank Jehovah vir die wonderlike hoop wat hy ons bied, die hoop dat die planeet Aarde binnekort ’n pragtige tuiste sal wees vir diegene wat regverdigheid waarlik liefhet—’n tuiste wat vry sal wees van nasionalisme en valse godsdiens en dus vry van oorlog, lyding en onregverdigheid (Psalm 46:9, 10).—Soos vertel deur Rami Oved.
[Kaart op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
LIBANON
SIRIË
ISRAEL
Tiberias
Besette gebiede
Jerigo
Jerusalem
Gasastrook
JORDAAN
[Prent op bladsy 18]
Rami Oved met sy gesin vandag