Die Bybelse beskouing
Die “swakker vat” ’n Belediging vir vroue?
“WAAROM WORD VROUE EERDER OP GROND VAN HULLE GESLAG AS HULLE ONDERVINDING, VERMOË EN INTELLIGENSIE BEOORDEEL?”—BETTY A.
“VROUE WORD GEKONDISIONEER OM TE DINK DAT HULLE MINDERWAARDIG IS.”—LYNN H.
WORD vroue deur die Bybelse uitdrukking die “swakker vat” verlaag? Die Bybelvers onder bespreking is 1 Petrus 3:7 (NW), wat sê: “Mans, gaan insgelyks voort om ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie.”
Toe Petrus hierdie woorde aan mede-Christene geskryf het, het vroue baie min regte gehad, nie net in die antieke heidense wêreld nie, maar ook onder die afvallige Joodse gemeenskap. Het Petrus en die vroeë Christene die destyds heersende beskouing oor vroue voorgestaan?
’n Minderwaardige vat?
Hoe sou eerste-eeuse lesers van Petrus se woorde die term “swakker vat” opgeneem het? Die Griekse woord vir vat (skeuʹos) is ’n hele paar keer in die Griekse Geskrifte gebruik en dit verwys na verskeie houers, werktuie, voorwerpe en instrumente. Toe Petrus vroue die “swakker vat” genoem het, het hy vroue nie verlaag nie, want die uitdrukking het te kenne gegee dat die man ook ’n brose of ’n swak vat is. Ander Bybeltekste gebruik soortgelyke beeldspraak met verwysing na vroue sowel as mans, soos byvoorbeeld “erdekruike” (2 Korinthiërs 4:7) en “voorwerpe van barmhartigheid” (Romeine 9:23). Petrus beeld vroue weliswaar uit as die “swakker” geslag. Maar Romeine 5:6 gebruik “swak” met betrekking tot alle mense—manlik en vroulik. Die vroeë Christene sou gevolglik nie die term “swakker vat” as neerhalend teenoor vroue beskou het nie.
Petrus se woorde sou eerder beskou geword het as ’n verheffing van vroue se status. In Petrus se dag het daar nouliks enige respek vir vroue bestaan. Soos God lank vantevore vooruit gesien het, het mans dikwels hulle vrouens gedomineer en hulle fisies, seksueel en emosioneel mishandel (Genesis 3:16). Petrus se raad aan Christenmans het in werklikheid die volgende te kenne gegee: Moenie die mag uitbuit wat die wêreldse gemeenskap aan mans gegee het nie.
Kom ons beskou die term “swakker” van naderby. Petrus het in hierdie vers nie na emosionele eienskappe verwys nie, maar na fisiese eienskappe. Mans is swak vate; in vergelyking daarmee is vroue swakker vate. Hoe so? Mans se been- en spiersamestelling is van so ’n aard dat hulle gewoonlik groter fisiese krag het. Maar daar is geen aanduiding dat Petrus ’n vergelyking getref het wat sedelike, geestelike of verstandelike krag betref nie. Wat emosionele reaksies op gebeure betref, kan vroue inderdaad die beste beskryf word as anders as mans, nie noodwendig swakker of sterker nie. Die Bybel beskryf die sterk sedelike karakter, die volharding en die onderskeidingsvermoë van vroue wat God se weg gevolg het—soos Sara, Debora, Rut en Ester, om maar ’n paar te noem. Dit is nie vir nederige mans moeilik om te erken dat vroue intelligenter as hulle kan wees nie.
Nogtans glo sommige dat ’n verwysing na vroue as “swakker” te kenne gee dat hulle minderwaardig is. Maar beskou hierdie voorbeeld. ’n Persoon het twee nuttige houers. Een is sterk, die ander een nie so sterk nie. Word die tweede houer van geringer waarde geag omdat dit nie so sterk is nie? Om die waarheid te sê, die swakker houer word gewoonlik met groter sorg en eer hanteer as die sterker houer. Is ’n vrou gevolglik minderwaardig omdat sy minder fisiese krag as ’n man het? Beslis nie! Petrus gebruik die term “swakker vat”, nie om vroue af te kraak nie, maar om respek te bevorder.
“Insgelyks . . . ooreenkomstig kennis”
Petrus het mans vermaan: “Gaan insgelyks voort om ooreenkomstig kennis met hulle [hulle vrouens] saam te woon.” “Insgelyks”—soos wie? In voorgaande verse het Petrus Christus se liefdevolle sorg vir sy volgelinge bespreek, en hy het mans beveel om “insgelyks” vir hulle vrouens te sorg (1 Petrus 2:21-25; 3:7). Christus het altyd sy dissipels se welsyn en belange bo sy eie persoonlike begeertes en voorkeure gestel. Hy het belanggestel in hulle geestelike en fisiese welsyn en hy het hulle beperkings in ag geneem. Mans moet Christus se liefdevolle voorbeeld navolg en “insgelyks” teenoor hulle vrouens optree.
’n Voorspoedige huwelik gebeur nie toevallig nie. Die man sowel as die vrou moet weet hoe om tot die sukses van die huwelik by te dra. Petrus se raad aan mans is gevolglik dat hulle moet voortgaan om “ooreenkomstig kennis” met hulle vrouens saam te woon. Mans moet die manier bestudeer waarop Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, teenoor vroue opgetree het. Hulle moet weet hoe God wil hê hulle hulle vrouens moet behandel.
Daarbenewens moet mans hulle vrouens goed ken—hulle gevoelens, sterk punte, beperkings, voorkeure en afkeure. Hulle moet weet hoe om hulle vrouens se intelligensie, ondervinding en waardigheid te respekteer. Die Bybel sê: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit.”—Efesiërs 5:25, 28, 29.
Ken aan hulle eer toe
Toe Petrus na vroue verwys het as die “swakker vat” het hy ook gesê dat mans ‘aan hulle eer moet toeken’. In Grieks dra die selfstandige naamwoord ti·meʹ die gedagte van eer, agting, waarde en kosbaarheid oor. Met ander woorde, om eer toe te ken, is nie net gunsbetoning nie, maar die erkenning van wat hulle toekom. Paulus het aan alle Christene, mans sowel as vroue, die volgende opdrag gegee: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.”—Romeine 12:10.
Jehovah God beskou vroue beslis nie as blote vertoonstukke nie. In Israel was God se wette ewe veel van toepassing op mans as op vroue wat hulle aan egbreuk, bloedskande, bestialiteit en ander misdade skuldig gemaak het (Levitikus 18:6-17, 23, 29; 20:10-12). Vroue kon die voordele geniet van die Sabbatte, die wette aangaande nasireërs, die feeste en baie ander voorsienings van die wet (Exodus 20:10; Numeri 6:2; Deuteronomium 12:18; 16:11, 14). Die moeder, sowel as die vader, moes geëer en gehoorsaam word.—Levitikus 19:3; 20:9; Deuteronomium 5:16; 27:16; Spreuke 1:8.
Verse 10 tot 31 van Spreuke hoofstuk 31 eer “’n deugsame vrou” vir die getrouheid, vlyt en wysheid waarmee sy haar baie verantwoordelikhede nakom. Daar is gepas erkenning aan haar verleen vir die gesinsake, asook ander finansiële sake, wat sy behartig. Hoe verskil dit tog van party mans se beskouing dat vroue blote ornamente is! Later, in die vroeë Christengemeente, het vroue deur die Heilige Gees krag ontvang om getuies van Christus te wees. (Handelinge 1:14, 15; 2:3, 4; vergelyk Joël 2:28, 29.) Party vroue is dus bestem om hemelse regters oor mans, vroue en selfs engele te word (1 Korinthiërs 6:2, 3). Vroue kon weliswaar nie in gemeentelike vergaderinge onderrig nie; nogtans was daar situasies waarin Christenvroue kon bid of profeteer. Hulle was aangewys om onderrigters van jonger vroue, kinders en diegene buite die gemeente te wees.—Mattheüs 24:14; 1 Korinthiërs 11:3-6; Titus 2:3-5; vergelyk Psalm 68:12.
Nog ’n goeie aanduiding van wat Petrus in gedagte gehad het toe hy gesê het dat daar aan hulle eer toegeken moet word, word in 2 Petrus 1:17 gevind. Daar lees ons dat Jehovah Jesus geëer het toe Hy hom in die teenwoordigheid van ander goedgekeur het deur te sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” ’n Man moet insgelyks deur sy dade, in die openbaar sowel as privaat, toon dat hy aan sy vrou eer toeken.
Erfgename van die lewe
Deur die geskiedenis heen het mans dikwels weinig eer of respek vir vroue gehad—as ’n slaaf of ’n blote instrument vir die bevrediging van mans. Die Christelike begrip dat eer aan vroue toegeken moet word, verhef hulle beslis tot ’n hoër vlak van respek. Barnes’ Notes on the New Testament merk op dat Petrus se vermaning “’n baie belangrike waarheid ten opsigte van die vroulike geslag bevat. Onder elke ander godsdiensstelsel behalwe die Christelike stelsel is vroue in elke opsig as die man se mindere beskou. Die Christelike godsdiens leer dat . . . sy geregtig is op al die verwagtinge en beloftes wat godsdiens bied. . . . Hierdie enkele waarheid sou die vroulike geslag oral van vernedering ophef en onmiddellik ’n einde maak aan die helfte van die mensdom se sosiale euwels.”
Aangesien mans sowel as vroue aan Christus behoort, is daar ’n ernstige rede waarom mans hulle vrouens as Christus se eiendom moet koester. Onmiddellik nadat Petrus na vroue as die “swakker vat” verwys het, het hy gesê: “Aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7b, NW). Petrus het daarop gewys dat dit ’n man se verhouding met God sal benadeel en sy gebede sal verhinder as hy sy vrou mishandel.
Die term “swakker vat” is geensins bedoel om vroue te beledig nie. Hoewel Jehovah mans as die hoof van die huisgesin aangestel het, keur hy dit nie goed dat mans vroue mishandel nie. Hy beveel eerder dat die man, met kennis van die vrou, vir haar moet omgee en haar moet eer.
Die Bybel beveel getroude sowel as ongetroude mans om aan vroue eer toe te ken en hulle nie as minderwaardig te behandel nie. Mans en vroue wat God opreg aanbid en wat mekaar eerbiedig, sal ryke seëninge uit God se hand ontvang.—Vergelyk 1 Korinthiërs 7:16.
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Miss G. E. K. / Artist: Alice D. Kellogg 1862-1900
Courtesy of Joanne W. Bowie