Van ons lesers
Slegte maniere So lank as wat ek maar kan onthou, het ek slegte maniere gehad. Daar was selfs tye dat ek trots gevoel het omdat ek nie uitdrukkings van beleefdheid en bedagsaamheid, soos “Dankie”, “Vergewe my asseblief” en “Ek’s jammer”, gebruik het nie. Toe het ek die artikel “Die agteruitgang van maniere” en die dele van die Bybel wat daarin aangehaal is, gelees (22 Julie 1994). Ek het geleer dat God altyd manierlik is in sy handelinge met diegene wat ondergeskik aan hom is en dikwels “asseblief” by sy versoeke voeg. Ek was baie verbaas om dit in die Bybel te sien. Dit het my gemotiveer om God te probeer navolg. Baie, baie dankie.
M. E. J., Nigerië
Ek het die artikel werklik waardeer. Respek vir ander se regte en eiendom is nou verwant aan maniere. Soms wanneer jy vriende oornooi, dink hulle kinders dat hulle kan doen net wat hulle wil—hulle gaan in verskillende kamers in en krap in laaie en yskaste, ensovoorts.
G. W., Verenigde State
Elke sin in die artikel was belangrik. Dit was net wat ek nodig gehad het om my twee tienerseuns te onderrig. Ek het besef dat daar baie besonderhede oor maniere is wat ek my kinders nie geleer het nie. Nou ken ek hierdie lieflike besonderhede en hoe om hulle toe te pas.
P. H., Verenigde State
Moskou se moltreinstelsel Ek het onlangs die artikel “Moskou se skitterende ondergrondse paleise” gelees (22 Junie 1994). Ek wou nog altyd oorsee reis, en wanneer ek sulke artikels lees, voel dit vir my asof ek daar is.
J. H., Nieu-Seeland
Ek het Moskou besoek terwyl ek ’n onlangse streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het. Ek het baie tyd in die Metro deurgebring. Ek het nie toe besef dat ek een van die pragtigste en belangrikste moltreinstelsels ter wêreld sien nie. Ek het die artikel dus werklik geniet.
P. M., Finland
Skerpskutters? In die artikel “My herinneringe aan my lewe as ’n militêre geskiedkundige” beskryf die skrywer hoe hy Parys, ná hierdie stad se bevryding teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, binnegegaan het (22 April 1993). Hy beweer dat Duitse skerpskutters op hom geskiet het en dat hy sy jeep ’n aantal kere moes verlaat om skuiling te soek—en dit op die bekendste straat in Parys! Parys is nooit “bevry” nie, maar is sonder ’n geveg deur die Duitse bevelvoerder Dietrich von Choltitz oorgegee, wat teen bevele opgetree het.
A. W., Italië
Die skrywer het sy persoonlike ondervinding vertel, ’n vertelling wat deur ander ooggetuies en geskiedkundiges bevestig word. Die boek “Liberation”, deur die oorlogshistorikus Martin Blumenson, erken byvoorbeeld dat hoewel Dietrich von Choltitz Hitler se bevele om Parys af te brand, verontagsaam het, daar wel hewige gevegte tussen die Duitse soldate en die Franse en Amerikaanse troepe plaasgevind het in die dae voordat hy oorgegee het. En die gevegte op die Champs Élysées—“die bekendste straat in Parys”—word ook deur ander geskiedkundiges bevestig. Sien “Six Armies in Normandy—From D-Day to the Liberation of Paris”, deur John Keegan.—RED.
Mediese geskil Ek is 12 jaar oud. Ek het die artikel “Nie towenaars óf gode nie” gelees (8 Mei 1994). Ek was bly om te sien dat ’n Christen wat nog werklik jonk is, soos ek, haar standpunt voor die hospitaal se dokters en chirurge ingeneem het en haar ‘van bloed onthou het’.—Handelinge 15:20.
P. M. H., Verenigde State
Ek is 19 jaar oud. Hoe is my geloof tog nie versterk toe ek Mercy Uwasi se ondervinding gelees het nie! Dit het my daarvan bewus gemaak dat lojaliteit aan Jehovah nie van ’n mens se ouderdom afhang nie, maar van ’n mens se innige liefde vir hom. Dit het my meer vasbeslote as ooit tevore gemaak om my lojaliteit aan Jehovah te handhaaf.
S. M., Suid-Afrika