Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 4/8 bl. 15-18
  • Gesprekvoering is ’n kuns

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gesprekvoering is ’n kuns
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons moet praat!
  • Struikelblokke tot gesprekvoering
  • ‘Wat kan ek sê?’
  • Wees ’n goeie luisteraar
  • Opregte belangstelling kry ’n gunstige reaksie
  • Empatie—die grondslag van gesprekvoering
  • Jy kan dit doen!
  • Hoe om jou kommunikasievermoë te verbeter
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Moet jy die gesprek beëindig?
    Wees lief vir mense – Maak dissipels
  • Hoe kan ek beter daarin word om met ander te praat?
    Jongmense vra
  • Verbeter jou vaardighede in die bediening—Hoe om ’n gesprek te begin om informeel te getuig
    Ons Koninkryksbediening—2014
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 4/8 bl. 15-18

Gesprekvoering is ’n kuns

EET, slaap en werk is almal basiese menslike behoeftes. Maar daar is nog ’n behoefte waarin daar eenvoudig voorsien moet word. Wat is dit?

Beskou die woorde van ’n man wat vyf jaar lank in alleenopsluiting was, ontneem van een van die lewe se kosbaarste noodsaaklikhede. “Ek het na kameraadskap gesmag, na iemand om mee te praat, om gesprekke mee te voer”, erken hy. “Ek het begin besef dat ek iets moes doen om die eensaamheid teë te werk. In my afsondering en stilte sou my verstand aangetas word.”

Ja, ons het ’n ingebore behoefte daaraan om te kommunikeer. Gesprekvoering help om in daardie behoefte te voorsien. Die navorsers Dennis R. Smith en L. Keith Williamson sê: “Ons het mense nodig wat ons met openhartigheid in ons vertroue kan neem, aan wie ons ons grootste vreugdes en ons kwellendste vrese kan vertel, met wie ons kan praat.”

Ons moet praat!

Die mens het die wonderlike gawe van spraak ontvang. Ja, ons is gemaak om gesprekke te voer. Een man het hierdie opmerking gemaak: “God het ons geskep om sosiaal te wees. As jy nie die geleentheid het om te praat nie of as iemand jou ontneem van jou vermoë om te kommunikeer, is dit soos ’n straf. Wanneer jy gesels, vind iets waardevols plaas. Jy voel beter oor jouself, en jy het die voordeel dat jy weet wat ander dink en voel.”

Elaine, die vrou van ’n reisende opsiener, sê: “Woorde druk gevoelens uit. Ons kan nie aanneem dat ons huweliksmaat weet hoe kosbaar hy of sy vir ons is nie. Dit moet gesê word; die oor moet die woorde hoor. Ons moet gesels.”

David, die seun van ’n Christen- ouer man, druk hom so uit: “Soms is ek gefrustreerd en weet ek regtig nie hoe ek voel nie. My eerste reaksie is gewoonlik om tjoepstil te raak, en dan bou druk binne-in my op. Wanneer ek met iemand praat, vind ek dat dit soos ’n uitlaatklep is om van die druk ontslae te raak. Terwyl ek praat, het ek ’n kans om uit te vind hoe ek werklik oor myself voel en kan ek dit alles uitstryk.”

Struikelblokke tot gesprekvoering

Gesprekvoering voorsien beslis in ’n behoefte. Daar is egter struikelblokke tot gesprekvoering. Trouens, vir party word gesprekvoering ’n stryd—iets wat vermy moet word.

“Vir die grootste deel van my lewe”, sê Gary, “het ek dit makliker gevind om weg te skram van gesprekke met ander mense.” Hy verduidelik: “Die basiese rede hiervoor is my gebrek aan selfvertroue. Ek het steeds te kampe met die vrees dat ek dom sal klink wanneer ek met mense gesels of dat iemand my sal verkleineer vir wat ek gesê het.”

Elaine sê dat skaamheid haar probleem is. Sy verduidelik: “Ek is in ’n gesin grootgemaak waar ons nie gepraat het nie. My vader was uiters intimiderend. Terwyl ek dus grootgeword het, het ek gevoel dat ek niks het wat die moeite werd is om te sê nie.” Ja, skaamheid kan ontsaglike struikelblokke tot die genieting van gesprekvoering skep. Trouens, dit kan jou agter mure van stilte gevange hou!

“Dit is soos ’n plaag”, sê John, ’n Christen- ouer man wat erken dat hy met ’n swak selfbeeld sukkel. “As jy voor skaamheid swig, isoleer jy jou. Selfs al is daar honderd mense in ’n vertrek sal jy nie gesels nie. En dit kom jou duur te staan!”

Daarenteen sê ’n ouer man genaamd Daniel die volgende: “Ek praat maklik met mense. Maar voor ek my kom kry, het ek iemand in die rede geval en die gesprek begin oorheers. Ek raak hiervan bewus wanneer ek daardie uitdrukking op my vrou se gesig sien, en ek dink dan by myself: ‘Ag nee, ek het dit al weer gedoen.’ Ek weet dat sy dan die res van die gesprek nie geniet nie.”

Hoe kan hierdie en ander struikelblokke tot gesprekvoering oorkom word? Watter eienskappe is noodsaaklik vir hierdie kuns? Hoe kan hulle toegepas word?

‘Wat kan ek sê?’

‘Waaroor kan ek praat?’ ‘Ek weet niks nie.’ ‘Niemand wil hoor wat ek te sê het nie.’ Hoewel jy moontlik hierdie gedagtes koester, is hulle waarskynlik nie waar nie. Jy weet baie meer as wat jy besef, en van daardie inligting sal ander waarskynlik interesseer. Miskien het jy byvoorbeeld onlangs êrens heen gereis. Mense sal dalk wil weet hoe daardie gebied vergelyk met die gebied waar hulle woon.

Daarbenewens kan en behoort jy deur te lees jou kennis oor verskillende onderwerpe te verbreed. Dit is ’n goeie gewoonte om die tyd te neem en elke dag iets te lees. Die lektuur van Jehovah se Getuies bevat inligting oor die Bybel sowel as oor onderwerpe van algemene belang. Hoe meer inligting jy inneem, hoe meer het jy om aan ander te vertel. ’n Goeie voorbeeld is die dagteks in die boekie Ondersoek die Skrif elke dag wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Dit gee jou elke dag iets anders om oor te dink en in gesprekke te gebruik.

Om ’n gesprek te voer, beteken nie dat ’n mens al die praatwerk moet doen nie. Albei partye behoort hulleself uit te druk. Laat die ander persoon toe om te praat. As hy nie praat nie, kan jy hom dalk met taktvolle vrae aanmoedig. Gestel jy praat met ’n ouer persoon. Jy kan hom oor gebeure uit die verlede vra en hoe die wêreld of gesinslewe verander het van die tyd toe hy nog jonk was. Jy sal dit geniet om na hom te luister, en jy sal leer.

Wees ’n goeie luisteraar

’n Waardevolle aanwins in gesprekvoering is om aandagtig te luister. Die manier waarop ons na ander luister, kan ’n ondersteuning wees vir diegene wat hulp soek met hulle laste. Een man wat homself as ’n ‘nikswerd’ beskou het, het ellendig gevoel en ’n vriend om hulp getelefoneer. Hoewel dit ’n uiters ongeleë tyd was, het die vriend bedagsaam geluister—twee uur lank! Die man beskou nou daardie een gesprek as ’n keerpunt in sy lewe. Wat het die verskil gemaak? “Deur net ’n goeie luisteraar te wees”, erken die sorgsame vriend. “Ek kan nie onthou dat ek enigiets spesiaals gesê het nie. Ek het net die regte vrae gevra: ‘Waarom voel jy so?’ ‘Waarom pla dit jou?’ ‘Wat sal moontlik help?’ Hy het al sy eie vrae beantwoord toe hy myne geantwoord het!”

Kinders waardeer ouers wat tyd inruim om met hulle te gesels. Een jong seun genaamd Scott sê: “Dit is goed as jou ouers na jou toe kom en wil weet wat jou pla. Pa doen dit in die laaste tyd, en dit help, want daar is party dinge wat jy net nie op jou eie kan hanteer nie.”

“Jy moet ’n omgewing skep waarin jou kinders met jou sal praat”, stel een man voor. Hy bring gereeld afsonderlik tyd deur met elkeen van sy vier kinders omdat hy meen dat dit noodsaaklik is dat ouers aandagtig en simpatiek luister sodat jongmense gebalanseerde persoonlikhede kan ontwikkel. Wat stel hy voor? Wanneer geleenthede hulle voordoen en ’n kind wil praat, moet jy gereed wees om te luister. “Ongeag hoe moeg jy is of onder hoeveel druk jy verkeer, moet nooit hulle vrymoedigheid onderdruk nie! Luister”, sê hy.

Opregte belangstelling kry ’n gunstige reaksie

Baie mense het emosionele ondersteuning nodig om openhartig te kan praat en hulle in ’n gesprek uit te druk. Een jong man het gekla: ‘Ek moet met iemand praat, maar na wie toe gaan ek? Dit is nie vir my maklik om te praat nie. Ek het iemand nodig wat in my sal belangstel!’ Ware, opregte belangstelling kan ’n atmosfeer van vertroue en veiligheid skep waarin dit vir ’n persoon makliker is om te praat en sy hart teenoor iemand anders uit te stort.

Een man vertel: “Etlike jare gelede, toe ek met gesinsprobleme te kampe gehad het, het ek met ’n vriend probeer gesels. Al wat hy gesê het, was: ‘Vasbyt, staan jou man en alles sal regkom.’ Daar was geen dialoog, geen gesprekvoering, nie en dit het my nie gehelp nie. Trouens, dit het my net weer in my dop laat kruip. In teenstelling hiermee het ek later met ’n opsiener van Jehovah se Getuies gepraat. Deur sy oë, sy gesigsuitdrukking en sy vriendelikheid het ek geweet dat hy simpatiek was. Gevolglik was dit vir my al hoe makliker om openhartig te praat en ’n groter aandeel aan die gesprek te hê omdat hy opreg belanggestel het. Hy het gesê: ‘Ons gaan alles in ons vermoë doen om jou in jou situasie te ondersteun.’ Jy reageer gunstig op sulke mense!”

Kan meer van ons ons hart verruim en ander in betekenisvolle gesprekvoering betrek? Probeer ons, wanneer ons iemand sien wat nie aan ’n gesprek deelneem nie, en te skaam is om te gesels, om daardie persoon in ons gesprek te betrek? John, wat vroeër genoem is, sê: “Ek kan agterkom wanneer iemand so voel omdat ek my in sy posisie kan indink, en ek ly saam met hom!” Hy voeg by: “Dit is so belangrik dat ons ons genoodsaak voel om hom te nader en hom in die gesprek betrek. Ons kan selfs ’n stille gebed oor die saak doen.”

Dan sê van ’n vriend: “Roy het so ’n gebrek aan vertroue in sy vermoë gehad om ’n gesprek te voer dat hy altyd ’n paar treë terug sou staan wanneer daar in ’n groep gesels is. In sulke gevalle sou ek hom ’n vraag vra: ‘Sê vir ons Roy, wat was dit wat jy oor dit of dat gesê het?’ Hy sou dan begin praat. As gevolg hiervan het ander ’n sy van hom gesien wat hulle gedink het nie bestaan nie.” Dan sê: “Moenie opgee wanneer dit moeilik is om met ’n persoon te gesels en hom aan die praat te kry nie. Sê vir jouself dat daar in hom ’n goeie mens is wat wil praat. Hou net vol met jou pogings om hom aan die praat te kry.”

Jy word bevoordeel as jy ’n liefdevolle, opregte belangstelling in ander aankweek—selfs as skaamheid vir jou ’n probleem is. John het gevind dat dit hom die neiging om hom te isoleer, help oorkom het. “Liefde soek nie sy eie belang nie”, verduidelik hy (1 Korintiërs 13:5). “Liefdevolle optrede beteken dat jy met ander moet praat en uitvind hoe dit gaan. Om voor jou tekortkominge te swig, is net nie voldoende nie. Jy kan biddend bo jouself uitstyg.” Hy voeg by: “Die beloning daarvoor is so groot. Wanneer jy sien hoe ander reageer en sien hoe dit hulle opbou, word jy ook bemoedig. En dit behoort jou met die moed te besiel om dit weer en weer te doen.”

Empatie—die grondslag van gesprekvoering

Een van die kosbaarste menslike eienskappe is empatie. Wat presies is empatie? Dr. Bernard Guerney van Pennsilvanië se Staatsuniversiteit sê dat empatie ‘die vermoë is om die ander persoon se gevoelens en beskouing te begryp—of jy nou met hom saamstem of nie’. Hoe belangrik is empatie in gesprekvoering? “Dit is die grondslag daarvan! Dit is die basis waarop alle ander dinge gebou word.”

Dr. Guerney verduidelik dat gesprekvoering onontbeerlik vir alle goeie verhoudings is. Meningsverskille is natuurlik iets algemeens. Om hulle die hoof te bied en die verhouding te bewaar, moet ons bereid wees om oor die probleem te praat. Baie mense skram daarvan weg omdat hulle nie weet hoe om te praat sonder om die ander persoon verdedigend en kwaad te maak nie. Volgens dr. Guerney “dink die meeste mense dat begrip en respek vir die ander persoon se standpunt beteken dat jy met daardie standpunt moet saamstem. Wanneer hulle dus verskil, toon hulle nie begrip en respek nie. Empatie stel jou in staat om ’n onderskeid te tref tussen instemming en begrip.”

Deur jou in die ander persoon se posisie te stel, voel en dink jy soos hy. Onder sulke omstandighede sal jy vind dat begrip, waardering en respek kan toeneem, selfs al verskil julle van mekaar.

Kyk na Janet, ’n moeder van vier. Sy was voorheen neerslagtig en het nutteloos gevoel. Sy besef nou hoe noodsaaklik empatie is wanneer jy iemand help. Sy vertel: “Ek onthou dat my man met my gepraat het en aan my al die verskillende maniere verduidelik het waarop ek behulpsaam was, terwyl ek gedink het dat ek absoluut niks deur my dade bereik het nie. Hy het baie liefdevol deur my trane na my geluister en my toe opgebou. Maar as hy my gedagtes verkleineer het of gesê het: ‘Ag, jy’s sommer verspot’, of iets dergeliks, sou ek doodstil geword het en my afgesonder het. Ons het eerder daardie aand ’n baie lang, betekenisvolle gesprek gehad.”

‘Empatie toon dat jy omgee. Dit bevorder kommunikasie, die uitgebreide soort interaksie wat die meeste mense wil hê en nodig het’, sê dr. Guerney ten laaste.

Jy kan dit doen!

Jy kan ’n goeie gesprekvoerder wees. Ons het van die noodsaaklike dinge bespreek om die kuns van gesprekvoering te bemeester, maar daar is talle ander dinge. Dit sluit in vriendelikheid, ’n humorsin en takt, om maar ’n paar te noem. Maar ons moet, soos ’n kunstenaar wat deur opleiding en oefening sy kwas behendig oor die skilderdoek stryk om ’n pragtige meesterstuk te skep, daaraan werk om hierdie nodige eienskappe te ontwikkel.

Daniel het byvoorbeeld ’n goeie gesprekvoerder geword. Hoe? Deur te leer om sy neiging te beheers om gesprekke te onderbreek en te oorheers. Hy erken: “Ek moet ’n bewuste poging aanwend om nie ’n gesprek te oorheers nie. Vir my beteken dit dat ek my tong in toom moet hou. Wanneer ek vind dat ek interessantighede wil bylas, keer ek myself verstandelik! As ek dink dat ’n opmerking die gang van die gesprek gaan verander of iemand anders se vermoë om te gesels, gaan wegneem, sê ek dit eenvoudig nie!”

Wat het Elaine gehelp? Ná sy juiste kennis van die Bybel opgedoen het, het sy besef dat sy iets kosbaars en lonends het om oor te praat. Sy sê: “Ek vind dat ek met groter gemak gesels as ek die aandag van myself af wegneem en oor geestelike dinge met ander praat. Dit help ook om die Bybellektuur wat ons gereeld ontvang te lees. Wanneer ek dít doen, het ek iets nuuts en vars om aan ander mee te deel en kan ek makliker gesels.”

Probeer hierdie noodsaaklike eienskappe in jou gesprekvoering ontwikkel. Dan kan jy ook ander verkwik en aan hulle genot verskaf en die bevrediging smaak om ’n kuns te bemeester wat werklik in ’n menslike behoefte voorsien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel