Kanada se “besmette bloed”-ondersoek
Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada
SLAGOFFERS van besmette bloed in Kanada sterf in toenemende getalle aan vigs. Waarom die toename? Meer as duisend Kanadese het in die tagtigerjare die vigs-virus van “besmette bloed” en bloedprodukte gekry. Hierdie ontstellende feite het die federale regering ’n Kommissie van Ondersoek na die Bloedstelsel in Kanada laat saamstel. ’n Openbare ondersoek sou vasstel hoe veilig Kanada se bloedstelsel is.
Een van die land se mees gesiene senior regters is as die kommissaris van die ondersoek aangewys. Die kommissie hou verhore regoor Kanada. Die verhore het op 14 Februarie 1994 in Toronto begin, en Sy Edele regter Horace Krever van Ontario se Appèlhof is die taak opgelê om later oor sy bevindinge verslag te doen en om verbeterings aan te beveel.
’n Bedroefde moeder wie se seun weens besmette bloed aan vigs gesterf het, het die regter gesmeek: “Hulle het my seun weggeneem en al wat ek gekry het, was hierdie ondersoek. Laat dit asseblief iets bereik.” Sy wou hê dat ’n deeglike ondersoek ingestel moes word sodat die nodige stappe gedoen sou word om die gevare uit te skakel wat aan bloedoortappings verbonde is. Sy was nie die enigste moeder wat ’n seun aan die dood afgestaan het weens besmette bloed nie. Die kommissie het hartverskeurende getuienis aangehoor aangaande hierdie tragedie wat die lewens van baie Kanadese verwoes het.
Hoofopskrifte in Toronto se Globe and Mail het berig: “Woede, trane terwyl slagoffers van bloedgruwel vertel”; “Bloedondersoek hoor skrikwekkende getuienis aan”; “Onkunde van dokters beskryf” en “Amptenare het gereken vigs-risiko is baie klein, berig die bloedondersoek”.
Slagoffers wat HIV van bloed gekry het, het gesê dat hulle nie oor die gevare gewaarsku is nie. In etlike gevalle het hulle nie geweet dat hulle ’n bloedoortapping ontvang het totdat hulle uitgevind het dat hulle met die vigs-virus besmet is nie.
’n Tiener met vigs het HIV van ’n bloedoortapping gedurende opehartchirurgie gekry toe hy drie jaar oud was. ’n HIV-positiewe man met ligte hemofilie het voor 1984 bloedprodukte gebruik toe hy hokkie gespeel het. Hy sou sy lewenstyl verander het as hy van die gevare geweet het. ’n Moeder het in 1985 ’n HIV-besmette bloedoortapping ontvang, en nou is sy, haar man en hulle vierjarige dogtertjie almal besmet.
Daar was hartverskeurende verslae van mense wat deur net een of twee eenhede bloed besmet is. “Net om ’n bietjie kleur aan sy wange te gee”, het een vrou bitter gesê oor die oortapping wat haar man met HIV besmet het. Nou het sy ook die virus.
Namate meer getuies getuig het, is die aandag gevestig op ’n ander groot tragedie—hepatitis weens bloed. Volgens The Globe and Mail word daar geskat dat “tot 1000 Kanadese per jaar aan hepatitis C sterf”. Die koerant voeg by dat “tot die helfte van hulle die siekte moontlik weens bloedoortappings opgedoen het”.
Een man het vertel hoe hy hepatitis C weens ’n bloedoortapping gedurende ’n rugoperasie in 1961 opgedoen het. Ná sy operasie het hy ’n gereelde bloedskenker geword. Hy het in 1993 uitgevind dat hy sirrose van die lewer het. “Wat van die mense wat die bloed ontvang het wat ek al daardie jare geskenk het toe ek nie geweet het dat ek hierdie siekte het nie?” het hy die ondersoek gevra.
Regter Krever het aandagtig na meer as honderd Kanadese geluister wie se lewe deur HIV en ander tragedies weens besmette bloed verwoes is. Mediese deskundiges het getuig dat dit onmoontlik is om die bloedvoorraad heeltemal teen siekteoordraging en ander gevare te beveilig. Hulle het erken dat daar ernstige gevare en misbruik in verband met bloed is. Dr. J. Brian McSheffrey, die mediese direkteur van ’n streekbloedoortappingsdiens, het getuig dat hy die aandag op die probleem vestig deur in lesings te sê: “As jy wel ’n oortapping moet gee, was óf jou diagnose óf jou behandeling verkeerd.”
Daar was aantygings van politiekery en wedywer onder diegene wat deur die regeringskomitee bestempel is as “vername belanghebbendes” in Kanada se bloedstelsel, wat ’n omset van $250 miljoen (R640 miljoen) per jaar het. Die Rooikruis en regeringsagentskappe het onder skoot gekom. Dit lyk nie of enigiemand in beheer van die ingewikkelde nasionale bloedstelsel is nie.
Gelukkige teenstelling
In teenstelling met die ontmoedigende getuienis is ’n gelukkiger verhaal op 25 Mei 1994 in Regina, Saskatchewan, aan regter Krever voorgelê. William J. Hall, ’n 75-jarige man met ernstige hemofilie, het vertel hoe hy sy toestand met welslae beheer deur alternatiewe vir bloedprodukte te gebruik. En hy het nie vigs nie. As een van Jehovah se Getuies het mnr. Hall weens sy godvrugtige gewete bloed en bloedfaktore vermy.—Sien venster op bladsy 22.
Maar dit is nie al nie. Die regering het die ondersoek tot aan die einde van 1995 verleng. Die kommissie sal tyd hê om doeltreffende bloedlose behandeling te ondersoek wat in duisende gevalle gebruik is vir volwassenes en kinders wat Jehovah se Getuies is. Hierdie alternatiewe is ook op ander pasiënte van toepassing.
Dokters wat sulke alternatiewe gebruik, het deskundige getuienis wat hulle aan die kommissie kan oordra. Dr. Mark Boyd van McGill-universiteit het in 1993 vir The Medical Post gesê: “Ons moet eintlik ietwat dankbaar teenoor Jehovah se Getuies wees omdat hulle ons gewys het hoe goed ons sonder bloedoortappings kan klaarkom.” ’n Amerikaanse presidentskommissie het in 1988 gesê: “Die betroubaarste voorsorgmaatreël met betrekking tot die bloedvoorraad is om die blootstelling van ’n pasiënt aan die bloed van ander sover moontlik uit te skakel.” Deur God se wet te gehoorsaam om hulle “voortdurend te onthou . . . van bloed”, is Jehovah se Getuies geseën met die “betroubaarste voorsorgmaatreël” teen besmette bloed en ander gevare van bloedoortappings.—Handelinge 15:20, 29.
Onderrigting is nodig
Ongelukkig is die meeste slagoffers van die besmette bloedoortappings nie ingelig oor alternatiewe wat hulle tragedies kon voorkom het nie. Pasiënte is nie die keuse van ingeligte toestemming gegee nie—om die gevare van bloed te aanvaar of om veiliger alternatiewe te gebruik.
Die getuienis wat aan die kommissie voorgelê is, toon dat dit nodig is om dokters en die publiek oor alternatiewe vir bloedoortappings te onderrig. ’n Regeringsondersoek op so ’n hoë vlak kan ’n groot impak in Kanada hê. Regter Krever se aanbevelings kan die weg baan vir die nodige veranderinge in gesindhede en onderrigting in die Kanadese geneeskunde aangaande oortappingsgebruike. Die bevindinge van die Kommissie van Ondersoek sal van belang wees vir almal wat die gevare wil vermy wat met bloedoortappings gepaardgaan.
[Venster op bladsy 22]
HEMOFILIE WAT SONDER BLOED BEHEER WORD
William J. Hall van Nipawin, Saskatchewan, het die kommissie vertel hoe en waarom hy sy ernstige hemofilie sonder bloedprodukte beheer. Hier is uittreksels uit die hofafskrif van sy getuienis:
◻ “My ouers het uitgevind dat ek ’n bloeier is toe ek eenkeer van my toon tot my heup opgeswel het en die dokters dit as hemofilie gediagnoseer het. . . . Ek dink ek was omtrent een jaar oud.”
◻ “Ek het nog nooit bloed of ’n bloedproduk van enige aard geneem nie. . . . Dit is teen my godsdiensoortuiging om bloed te neem, want ek voel dat dit heilig is.”
◻ Oor sy broer wat ook hemofilie gehad het: “Hy het nie dieselfde geloof [godsdiens] as ek gehad nie; daarom het hy ’n bloedoortapping aanvaar en het hy aan hepatitis gesterf.”
◻ Vir ’n duodenumseer in 1962: “Die dokter het gesê dat ek sou sterf as ek nie bloed neem nie. . . . Ek is in die hospitaal goed [sonder bloed] behandel.” Die bloeding is onder beheer gebring.
◻ Aangaande ’n operasie in 1971 om ’n pen in ’n gebreekte heup te sit: “Dit was net ’n versigtige operasie sonder bloed. . . . Die operasie was suksesvol.” Herhaalde bloedtoetse op daardie tydstip het bevind dat daar geen Faktor VIII (stollingsfaktor) in sy bloed was nie.
◻ Hoe hy oor die weg kom: “Lewenstyl . . . , deur versigtig te wees.” Hy sluit dieet, rus, oefening en die versigtige behandeling van swelsels, kneusplekke en bloeding in.
◻ “Ek glo in ontspanning en om te peins oor die goeie dinge wat ons God aan ons voorsien het en om van ons bekommernisse te vergeet. Dit lyk asof dit baie help.”
William Hall is 76 jaar oud en is een van Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 20]
Regter Horace Krever, hoof van die kommissie
[Erkenning]
CANPRESS PHOTO SERVICE (RYAN REMIROZ)
[Prent op bladsy 21]
William en Margaret Hall het 370 kilometer gery om voor die Kommissie van Ondersoek te verskyn