Voorspellings van die wêreld se einde
“Onheilsprofete voorspel al duisende jare lank dat die wêreld se einde op hande is.”—Premonitions: A Leap Into the Future.
IN 1033, slegs 1 000 jaar ná die dood van Christus, het die inwoners van Boergondië, Frankryk, in groot vrees verkeer omdat daar voorspel is dat die wêreld in daardie jaar sou eindig. Verwagtinge van vernietiging is vergroot toe daar ’n ongewone aantal vernietigende donderstorms en ’n kwaai hongersnood was. Groot skares het in die openbaar ’n vertoon van hulle bekering gelewer.
’n Paar dekades vroeër, terwyl die duisendste jaar van Christus se geboorte af nader gekom het (volgens die chronologie wat destyds aanvaar is), het baie geglo dat die einde van die wêreld voor die deur staan. Kuns- en kulturele bedrywighede in Europa se kloosters het glo byna tot stilstand gekom. Eric Russell het in sy boek Astrology and Prediction gesê: “Die uitdrukking ‘aangesien die einde van die wêreld nou so naby is’ was taamlik algemeen in testamente wat gedurende die tweede helfte van die tiende eeu opgestel is.”
Martin Luther, wat die Protestantse Hervorming in die 16de eeu begin het, het voorspel dat die wêreld se einde in sy dag naby was. Volgens een bron het hy gesê: “Wat my betref, is ek seker dat die oordeelsdag net om die draai is.” ’n Ander skrywer het verduidelik: “Deur historiese gebeure met Bybelprofesieë in verband te bring, kon Luther die nabyheid van die finale vernietiging bekend maak.”
Gedurende die 19de eeu het William Miller, wat algemeen as die stigter van die Adventistekerk beskou word, voorspel dat Christus die een of ander tyd tussen Maart 1843 en Maart 1844 sal terugkeer. As gevolg hiervan het party verwag om gedurende daardie tyd hemel toe geneem te word.
In onlangser tye het ’n Oekraïense godsdiensgroep wat die Groot Wit Broederskap genoem word, voorspel dat die wêreld op 14 November 1993 sou eindig. In die VSA het ’n radio-evangelis, Harold Camping, gesê dat die einde van die wêreld in September 1994 sou kom. Hierdie voorspellings van datums vir die wêreld se einde was klaarblyklik verkeerd.
Het dit tot gevolg gehad dat mense nie meer glo dat die wêreld sal eindig nie? Inteendeel. “Die nabyheid van ’n nuwe millennium in die jaar 2000”, sê die U.S.News and World Report van 19 Desember 1994, “het ’n vloedgolf oordeelsdagprofesieë tot gevolg.” Die tydskrif het berig dat “bykans 60 persent van Amerikaners dink dat die wêreld die een of ander tyd in die toekoms sal eindig; byna ’n derde van hulle dink dat dit binne ’n paar dekades sal gebeur”.
Waarom is daar al soveel voorspellings aangaande die einde van die wêreld gemaak? Is daar grondige rede om te glo dat dit sal eindig?