’n Oorwinning vir die minderheid—In ’n land van eenvormigheid
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
TOE die 19-jarige Koenihito Kobajasji en sy ouers die konferensiekamer met breë glimlagte op hulle gesigte binnegegaan het, was daar sewe televisiekameras sowel as tientalle verslaggewers wat vir die jong eiser gewag het om in die Persklub van Osaka se Hoër Hof te verskyn. Die kameras het kort-kort in die vertrek geflits terwyl hulle die verslaggewers se vrae beantwoord het.
“Ek is baie bly dat ek ’n onbevooroordeelde uitspraak in my saak gekry het”, het Koenihito gesê. “Ek wil graag ’n wêreld sien waar enigiemand toegang kan verkry tot, bevorder kan word in en sy skoolopleiding kan voltooi aan enige hoërskool ongeag sy of haar godsdiensoortuiging.”
Osaka se Hoër Hof het die beslissing van die laer Kobe-distrikshof ter syde gestel en het aan Koenihito gegee wat hy versoek het, die reg op opvoeding ongeag sy godsdiensoortuiging.
Die geskil
Die geskil in hierdie hofsaak was sy uitsetting uit die Kobe- Munisipale Industriële Tegniese Kollege (kortweg Kobe-kollege genoem) omdat hy om godsdiensredes nie aan kendo- (Japannese skermkuns) oefeninge deelgeneem het nie. Ná die beslissing van die hof in Osaka wat die skool se optrede om hom bevordering te weier en hom toe uit te sit ongeldig verklaar het, het Koenihito sy begeerte uitgespreek om sy studiekursus in elektriese ingenieurswese voort te sit. Die eerste drie jaar van hierdie vyfjaarkursus is gelykstaande aan drie jaar van hoërskoolopleiding.
Kobe-kollege het daarop aangedring dat Koenihito kendo-oefeninge doen as deel van sy liggaamsopvoedingklas. Maar omdat hy een van Jehovah se Getuies is, het sy Bybelopgeleide gewete hom nie toegelaat om aan verweerkunsoefeninge deel te neem nie. Vir die verslaggewers by die perskonferensie het Koenihito sy Bybel oopgemaak en sy standpunt verduidelik: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
Waarom moes ’n jong leerling hom dan tot die wet wend om godsdiensvryheid en die reg op opvoeding te verseker? Professor Kodji Tonami van die Tsoekoeba-universiteit het gesê: “Daar kan onverwagte beperkings op die geloof van gelowiges geplaas word as gevolg van onverskilligheid en ’n gebrek aan begrip.” Hoewel die regering of gemeenskap ’n godsdiens dalk nie opsetlik onderdruk nie, kan daar gevalle wees waar godsdiens onbewustelik onderdruk word.
Waarom is sulke “onverwagte beperkings” op die regte van die minderheid geplaas? “Omdat die Japannese gemeenskap ’n maatskaplike stelsel tot stand gebring het wat die minderheid dwing om hulle na die meerderheid te skik”, antwoord professor Hitosji Serizawa van die Aojama Gakoein-universiteit. Die druk om by die gemeenskap in sy geheel aan te pas, is in Japan voorwaar sterk.
Dit is nie vir jongmense maklik om in ’n skoolstelsel te wees wat diegene verstoot wat anders is nie. Maar dit is nie net ’n saak van belang vir ’n godsdiensminderheid nie. Kom ons beskou die saak van sy begin af en sien wat die geskil was en hoe hierdie beslissing die gewone publiek raak.
Die reg van die minderheid word bevestig
Voor 1990 het Kobe-kollege nie vereis dat sy leerlinge die verweerkuns leer nie. Maar ná die voltooiing van ’n gimnasium met ’n verweerkunsoefensaal het die skool van sy leerlinge begin vereis om kendo-oefeninge te doen. In 1990 het die skool se departement van liggaamsopvoeding ’n streng standpunt ingeneem teen Jehovah se Getuies wat op die ouderdom van 16 na Kobe-kollege gekom het. Toe hulle vra om van kendo-oefeninge verskoon te word, het een onderwyser gesê: “Gee pad uit die skool as julle nie kan doen wat die skool vir julle sê om te doen nie!”
Vir die Getuiejongmense wat ’n ferm standpunt vir hulle oortuiging ingeneem het, was die kanse skraal om na die volgende standerd bevorder te word. ’n Ander onderwyser het gesê: “Julle sal geen punte kry nie, selfs al werk julle hard in ander oefeninge.” Vyf leerlinge het getrou gebly aan die Bybel se lering en het nie die swaard opgeneem nie, al was dit van bamboes gemaak. Drie van hulle was gedoopte Getuies van Jehovah en twee was ongedoop, maar hulle het almal hulle geloof in die Bybel bevestig. Hulle was bereid om enigiets anders te doen wat die onderwysers van hulle sou verwag.
As gevolg van hulle standpunt is hulle nie na die volgende standerd bevorder nie. Toe die volgende skooljaar in 1991 begin het, het die liggaamsopvoedingonderwysers die vyf leerlinge wat geweier het om aan kendo-oefeninge deel te neem en nege nuwe leerlinge wat dieselfde oortuiging gehad het, bymekaargekry en gesê: “Julle sal belaglik hoë punte moet kry as julle na die volgende standerd bevorder wil word. Min van julle sal sulke punte kry.” Die onderwysers het verder vir hulle gesê: “Hierdie is nie verpligte opvoeding nie. [In Japan is verpligte opvoeding van sub A tot standerd 7.] Ons kan vir julle sê ‘julle moet loop’.”
Die vyf leerlinge het ’n saak by die Kobe-distrikshof teen die skool aanhangig gemaak en het aangevoer dat die skool se optrede inbreuk gemaak het op hulle grondwetlike reg op godsdiensvryheid en opvoeding. Die vyf leerlinge het terselfdertyd die Kobe-distrikshof en later Osaka se Hoër Hof versoek om tussenbeide te tree sodat hulle na die volgende standerd bevorder kon word en met hulle klasse kon voortgaan terwyl die saak verhoor is. Die versoeke is egter deur albei howe geweier.
Twee van die vyf leerlinge het die volgende skooljaar weer nie punte vir liggaamsopvoeding gekry nie en is met uitsetting gedreig. Een van hulle het gevolglik op aandrang van die skool besluit om die skool te verlaat. Die ander een het geweier om die skool se voorstel te aanvaar dat hy die skool verlaat. Daardie leerling, Koenihito Kobajasji, is uit die skool gesit.
Volgens die skoolreëls moet ’n leerling wat ’n standerd twee keer druip onmiddellik uitgesit word as “iemand met beperkte vermoëns en wat geen vooruitsig het om sy skoolloopbaan suksesvol te voltooi nie”. Maar het Koenihito “beperkte vermoëns” gehad? Selfs met liggaamsopvoeding bygereken, wat hy as gevolg van die kendo-geskil met ’n punt van 48 uit 100 gedruip het, was sy gemiddelde vir al sy vakke 90,2 punte. Hy het heel eerste in sy klas van 42 leerlinge gestaan! Hy was goed gemanierd en gewillig om te leer.
Versoeke is aan die Kobe-distrikshof en later aan Osaka se Hoër Hof gerig om die toepassing van hierdie uitsettingsaksie te verhoed. Maar albei howe het die versoek geweier.
Die distrikshof se beslissing
Op 22 Februarie 1993, amper twee jaar ná die vyf leerlinge die regsgeding aanhangig gemaak het, het die Kobe-distrikshof ’n beslissing ten gunste van die skool gelewer. “Dit kan nie ontken word dat die eisers se godsdiensvryheid ietwat beperk is deur die skool se vereiste om aan kendo-oefeninge deel te neem nie”, het die presiderende regter, Tadao Tsoedji, erken. Maar sy gevolgtrekking was dat “die skool se optrede nie die grondwet geskend het nie”.
Die leerlinge het onmiddellik na Osaka se Hoër Hof geappelleer. Die distrikshof se beslissing het egter baie denkende mense ontstel. Een persoon het hom in die lesersrubriek van die Mainitsji Sjimboen-koerant uitgespreek en gesê: “Die beslissing was hierdie keer gegrond op die uitspraak dat ‘dit inbreuk maak op godsdiensneutraliteit om verdraagsaam te wees teenoor niedeelname aan kendo-lesse om godsdiensredes’. Neutraliteit beteken egter om nie kant te kies vir enige party wat by ’n geskil betrokke is nie. En wanneer dit by godsdiensneutraliteit kom, is die geskil die beskerming van die minderheid se geloof teen die meerderheid. Daarom ontneem hierdie beslissing ons feitlik van godsdiensvryheid, en die hof self het inbreuk gemaak op godsdiensneutraliteit.”
Baie is verontrus en is beweeg om hulle mening uit te spreek. Dr. Takesji Kobajasji, ’n professor in Staatsreg aan die Nanzan-universiteit, het sy mening omtrent hierdie saak na Osaka se Hoër Hof gestuur en gesê: “Die saak in geskil vra beslis die howe van ons land hoe hulle die uitdaging om minderheidsregte te beskerm, sal hanteer. . . . Die kollege, onder die dekmantel van die skeiding van godsdiens en die Staat sowel as die neutrale standpunt van openbare onderwys, het botweg geweier om verdraagsaam te wees teenoor die godsdiensstandpunt van ’n minderheid op grond van die algemene beskouing van die meerderheid. Die beslissing van die laer hof het sodanige optrede as wettig en grondwetlik goedgekeur. Maar al word die oortuiging van ’n minderheid dalk nie verstaan uit die oogpunt van wat algemeen as godsdienstig aanvaar word nie, moet sulke opvattings gerespekteer word as dit opreg is. Daar word veral van die hof verwag om uitspraak te lewer met die bewustheid dat dit die primêre verdediger van die minderheid is.”
Nog ’n regskenner, professor Tetsoeo Sjimomoera van die Tsoekoeba-universiteit, het gesê: “Wat in hierdie saak verontrustend is, is die steeds diepgewortelde tirannieke neigings aan die kant van die skool.” Hy het in ’n televisie-onderhoud gesê dat dit ’n tekortkoming aan die kant van opvoeders openbaar om ’n leerling uit te sit sonder om hom enige alternatiewe te bied, en dit openbaar ’n gebrek aan inagneming van die welsyn van leerlinge.
Op 22 Februarie 1994 het die Kobe-regsassosiasie ’n amptelike aanbeveling aan die hoof van Kobe-kollege gedoen om Koenihito terug te neem. Dit het verklaar dat die skool se optrede om Koenihito bevordering te weier en om hom uit te sit skendings was van sy godsdiensvryheid en reg op opvoeding.
’n Onbevooroordeelde beslissing
Terwyl die appèlverhore aan die gang was, het die ander vier eisers buiten Koenihito besluit om hulle saak terug te trek. Die rede hiervoor was dat drie van hulle reeds na die volgende standerd bevorder is en die ander een gedwing is om die skool te verlaat. Dit het daartoe gelei dat die manier waarop die skool Koenihito behandel het nou die middelpunt van die geskil geword het.
Koenihito se vier gewese klasmaats het hom egter morele ondersteuning gegee deur altyd by die verhore te probeer wees. Deur sy klein inkomste van sy deeltydse werk te spaar, het die leerling wat gedwing is om die skool te verlaat altesaam 100 000 jen (R4000) geskenk om Koenihito te help om die regstryd voort te sit.
Op 22 Desember 1994 het Koenihito saam met die ander leerlinge op die woorde van hoofregter Reisoeke Sjimada van Osaka se Hoër Hof gewag.
“Die oorspronklike beslissing word herroep”, het regter Sjimada beslis.
Regter Sjimada het, in sy epogmakende uitspraak, beslis dat die rede waarom Koenihito kendo-oefeninge geweier het opreg was. Die regter het gesê dat Kobe-kollege, as ’n opvoedkundige instelling wat vir die publiek oop is, die verpligting het om sy leerlinge op opvoedkundige gebied in ag te neem. Hy het ook gesê dat Koenihito besonders benadeel is omdat hy geweier het om kendo-oefeninge te doen en dat die optrede om hom uit te sit hom in werklikheid beroof het van alle geleenthede om ’n opvoeding te ontvang.
Regter Sjimada het beslis dat die skool alternatiewe maatreëls moet tref. Om sulke alternatiewe maatreëls te tref, het hy gesê, bevorder of ondersteun geensins die appellant se godsdiens nie en dit onderdruk ook nie ander leerlinge nie. “Daar is geen getuienis dat die Verweerder [die skool] alternatiewe maatreëls oorweeg het nie”, het die regter gesê. “Die Verweerder het . . . hom eerder onversetlik gehou by die beleid om nie verdraagsaam te wees teenoor die weiering van kendo-oefeninge nie en het die moontlikheid van alternatiewe maatreëls nie eers begin oorweeg nie.”
Hoe die beslissing jou raak
Waarom moet jy belangstel in hierdie oorwinning van ’n jong man wat aan ’n minderheidsgroep behoort? In sy boek The Court and the Constitution het Archibald Cox, die voormalige spesiale aanklaer in die Watergate-saak, ’n soortgelyke vraag oor Jehovah se Getuies in die vlagsalueringsgeskil in die Verenigde State gestel: “Waarom moet ons bekommerd wees oor die geestelike vryheid van daardie klein minderheid?”
In antwoord op hierdie vraag het Cox gesê: “’n Deel van die antwoord lê in die uitgangspunt van individuele waardigheid waarop ons gemeenskap gegrond is, ’n waardigheid wat aan ortodokse sowel as nonkonformistiese lede van die gemeenskap behoort. ’n Deel lê in die wete dat as die Staat Jehovah se Getuies stilmaak . . . ons volgende kan wees.”
Professor Takesji Hirano van die Rjoekokoe-universiteit het hom by Cox aangesluit en het die volgende oor die kendo-saak gesê: “Denkers is van mening dat hulle die godsdiensvryheid wat hulle nou in die Verenigde State geniet te danke het aan Jehovah se Getuies, wat in baie hofsake vir hulle regte gestry het. Ons hoop dat godsdiensvryheid ook in ons land [Japan] deur sake soos hierdie tot stand gebring en bevorder sal word.”
Jehovah se Getuies het geen moeite ontsien om hulle oortuigings wetlik te verdedig nie, en hulle het grootliks tot die bevestiging van basiese menseregte in die 20ste eeu bygedra. In baie lande het Jehovah se Getuies aan die spits gestaan van regsgeskille ten gunste van die pasiënt se reg tot ingeligte keuse, mense se reg om te besluit hoe hulle eerbied vir die landsvlag sal toon en die individu se reg om sy oortuiging aan ander mee te deel. Die oorwinning in Osaka se Hoër Hof voeg nog ’n hoofstuk by die geskiedenis van Jehovah se Getuies se bydrae tot die bevestiging van minderheidsregte.
Respekteer mense met ander waardes
Benewens die voordeel dat dit menseregte bevorder, raak die kwessie oor verdraagsaamheid teenoor die oortuiging van die minderheid jou lewe op nog ’n manier. Professor Kaname Saroeja van die Komazawa-universiteit vir Vroue het na hierdie saak verwys en gesê: “Godsdiensvryheid wat deur die grondwet erken word, is verontagsaam net omdat [die leerling] anders is. In Japan is dit algemeen om enigiets wat anders is uit te sluit.”
In vandag se samelewing is daar baie groot druk om wat anders is, of wat afwyk van die reël, uit te roei. Afknouery, wat in skole in Japan sowel as in ander lande baie algemeen is, is ’n voorbeeld van hierdie neiging om diegene wat anders is uit die gemeenskap te verstoot. Toe hy kommentaar gelewer het oor die probleem van afknouers by die skool, het Hirosji Josjino, die superintendent-generaal van Tokio se Metropolitaanse Polisie, gesê dat ’n opname wat deur die Nasionale Navorsingsinstituut van Polisiewetenskap gedoen is, bevind het dat baie van die redes vir afknouery, van die afknouer se kant gesien, te doen gehad het met persoonlikhede en optredes van die afgeknoudes wat anders was. Sy gevolgtrekking was: “Ek dink ’n morbiede element wat diep verskuil is in die Japannese samelewing, die verwerping van eienaardighede of dit wat fisies en verstandelik anders is, is nou besig om kop uit te steek.”
Die neiging om dit wat anders is uit die gemeenskap uit te sluit, word oral gesien, nie net in Japan nie. Tog is die vermoë om verdraagsaam te wees teenoor verskillende waardes die sleutel tot vreedsame naasbestaan. In verband hiermee het ’n hoofartikel in die Asahi Sjimboen gesê dat die beslissing van die Kobe-distrikshof “’n skerp teenstelling gevorm het” met dié van Osaka se Hoër Hof. “Die twee beslissings”, het die koerant gesê, “lyk asof dit twee denkwyses verteenwoordig”, een van bestuursgeoriënteerde tirannie en die ander van verdraagsaamheid teenoor ander waardes.
Is jy gereed om verdraagsaam te wees teenoor ander waardes? Is jy bereid om die geldigheid van die standpunt van ander te ondersoek? Dit is interessant dat Archibald Cox, wat vroeër in hierdie artikel genoem is, nog ’n rede by die besorgdheid oor die minderheid gevoeg het: “’n Deel lê in die bewustheid dat die een of ander vreemde minderheid dalk die waarheid kan vind—’n waarheid wat uitgestel of vir ewig verlore sal wees as dit onderdruk word.”
Kobe-kollege stel klaarblyklik nie belang in die waarheid wat hulle dalk onderdruk het nie, en hulle het ook nie ’n verdraagsame gesindheid getoon nie. Hulle het eerder na Japan se hooggeregshof geappelleer. Hoe sal die hooggeregshof in hierdie saak beslis? Ons sal moet wag en sien.
[Prent op bladsy 14]
Koenihito (middel) en die ander vier oorspronklike eisers