Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/22 bl. 14-16
  • Die eerste in Mali

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die eerste in Mali
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Groot uitdaging
  • ’n Gewoel en gewerskaf
  • ’n Roerende toewyding
  • Verdere hartlike omgang
  • Koninkryksale—oop vir almal
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Reëlings vir plekke van aanbidding
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Toon jy respek vir julle Koninkryksaal?
    Ons Koninkryksbediening—1989
  • Dit is ons plek van aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/22 bl. 14-16

Die eerste in Mali

MY MAN dien as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies in Mali, ’n yl bevolkte land in Wes-Afrika. Die noordelike deel bestaan uit die Sahara, en die res van die land is hoofsaaklik golwende graslande. Mali is groter as Engeland, Frankryk en Spanje tesame. Hoewel hierdie lande meer as 140 miljoen inwoners het, het Mali ’n bevolking van net sowat tienmiljoen—waarvan ongeveer 150 Getuies is.

Ons tuisbasis is Ziguinchor, ’n kleinerige stad in naburige Senegal. In November 1994 het ons daarvandaan na Dakar gevlieg, toe na die hoofstad van Mali, Bamako, ’n groot stad met ver oor ’n halfmiljoen inwoners. Van Bamako af het ons per bostaxi, bus of trein na kleiner stede soos Ségou, San en die ou stad Mopti gereis. Ons het omtrent ’n week in elk van hierdie plekke gebly om saam met die paar Getuies daar aan die Christelike bediening deel te neem.

In Desember het ons na Bamako teruggekeer om die streekbyeenkoms by te woon, wat ’n opkomshoogtepunt van 273 gehad het. Hoe verheug was ons tog om te sien dat 14 nuwelinge gedoop word! Die dag ná die byeenkoms het ons per bus na die dorpie Sikasso vertrek, waar die eerste Koninkryksaal wat in Mali deur Jehovah se Getuies gebou is die volgende naweek toegewy sou word.

’n Groot uitdaging

Die gemeente in Sikasso bestaan uit net 13 Getuies, waarvan 5 pioniers, oftewel voltydse bedienaars, is. Toe ons Maandag daar aankom, was ons gretig om te hoor wat hulle planne vir die toewyding was. Hulle het vir ons gesê dat hulle op my man, Mike, staatmaak om dit te reël! Nadat ons dus ons bagasie uitgepak het, het ons na die Koninkryksaal gaan kyk. Toe ons dit sien, was ons verheug dat hierdie handjievol Getuies so ’n gebou kon oprig. Maar daar was nog baie wat gedoen moes word. Daar was nie gordyne nie, die buitekant was nie geverf nie en daar was geen naambord, “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies”, nie.

Ons het besef dat ten minste 50 besoekers binne die volgende paar dae van Bamako af sou kom om die toewyding by te woon. Plaaslike mense is ook uitgenooi. Die gemeente het net een ouer man, Pierre Sadio. Toe ons hom vra hoe hy verwag om die saal voor Saterdag, die toewydingsdag, te voltooi, het die broers nader gestaan om sy antwoord te hoor. “Ek dink Jehovah sal ons help om betyds klaar te maak”, het hy geantwoord.

Soveel moes in so ’n kort tydjie gedoen word! Ek het huiwerig gevra of ek met die gordyne kon help. ’n Groot glimlag van verligting het op die gesigte om my verskyn. Toe het Mike aan die hand gedoen dat ons ’n naambord vir die voorkant van die saal laat maak. Dit was nie lank nie of ons het almal tegelyk gepraat. Almal was so opgewonde. Dit sou ’n groot uitdaging wees om die finale afrondingswerk aan die saal betyds te voltooi!

’n Gewoel en gewerskaf

Ons, die Christensusters, het ons na die plaaslike mark gehaas om die materiaal te kies. Daarna het ons ’n kleremaker gekry om die gordyne te maak. “Jy het vier dae om dit klaar te maak”, het ons aan hom gesê. Mike het aangebied om ’n lieflike macramé te maak waarin ’n potplant kon hang om die voorkant van die saal te versier. Ons is dus toe weer weg, hierdie keer om tou vir die macramé sowel as ’n blompot te kry.

Daar is ook gereël dat iemand die Koninkryksaalnaambord maak. Daar was ’n gewoel en gewerskaf binne en buite die saal. ’n Groep inwoners het saamgedrom om te kyk wat aangaan. Daar was soveel om te doen! Hoe sou ons die 50 besoekers van voedsel voorsien? Waar sou hulle slaap? Ons het die hele week rondgehardloop met al die voorbereidsels, maar dit was asof niks glad wou verloop nie.

Vrydag, die dag voor die toewyding, het ons vroeg opgestaan. Daar was groot opgewondenheid omdat die besoekers van Bamako af verwag is. Omstreeks twaalfuur is die Koninkryksaalnaambord afgelewer. Toe Mike dit oopmaak, het die broers na hulle asem gesnak van bewondering. Selfs die nuuskierige toeskouers het met waardering toegekyk. Ons het ongeduldig gewag terwyl dit teen die voorste muur vasgemaak is. Nou was dit duidelik dat dit nie sommer net ’n gewone gebou is nie. Dit is die “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies”.

Daar naby, by ’n pionier se huis, was die susters besig om te kook. ’n Groot, swart pot was propvol kos. Ons was skaars klaar met die opruiming van die verfemmers en besems wat aan die kant van die saal gestaan het of die uitroepe het weerklink: “Hulle is hier! Hulle is hier!” Die broers het van die saal af aangehardloop gekom, ander van die huis af. Die inwoners het hulle verstom oor alles. Die broers het van opgewondenheid rondgedans. Hoe hartlik is die Getuies tog ontvang toe hulle van die bus afgeklim het! Ek was so trots om een van Jehovah se Getuies te wees!

Ek het na die besoekers gekyk—broers van plaaslike stamme sowel as van Burkina Faso en Togo. Amerikaners, Kanadese, Franse en Duitsers het ook gekom. Daardie aand het ons ’n groot fees gehad. Ons het ’n yslike vuur aangepak om die werf te verlig. Ek wou myself knyp om seker te maak dat ek werklik die voorreg het om aan die geleentheid deel te hê. Later die aand het ons teësinnig na ons onderskeie verblyfplekke begin teruggaan.

In een huis is tot 20 gehuisves. Ek het besef dat dit vir party moeilik is. Ek het gesien hoe ’n plaaslike suster ’n Franse besoekster help om by die buitetoilet te kom. Sy is ’n familielid van een van die sendelinge, maar is self nie ’n Getuie nie. Terwyl hulle teruggestap het, het sy gesê: “Julle is so arm, maar julle is werklik baie liefdevol en goedhartig.” Ek het lus gevoel om te sê: “Nee, hulle is nie arm nie. Jehovah se volk is almal ryk!” Ja, waar anders sal ’n mens so ’n uiteenlopende groep mense in vrede en harmonie sien saamwoon?

’n Roerende toewyding

Die nag was kort, en die toewydingsdag het spoedig aangebreek. Ná ’n velddiensvergadering by die Koninkryksaal het die Getuies uitgegaan en die dorpsmense na die toewyding genooi. Ek het agtergebly om die blomme en plante te rangskik. Die plaaslike susters was druk besig om vir die aand te kook.

Uiteindelik, om vieruur, het die tyd vir die toewyding aangebreek. Altesaam 92 was teenwoordig; tog was die saal nie oorvol nie. Ek was so opgewonde dat dit moeilik was om stil te sit. Pierre Sadio het die geskiedenis van die werk in Sikasso vertel. Toe hy hier toegewys is, was dit net hy en sy vrou en hulle twee kinders. Hulle het dit baie moeilik gehad, maar mettertyd het Jehovah hulle diens geseën. Die eerste persoon in Sikasso wat ’n Getuie geword het, is nou ’n spesiale pionier. Toe het Pierre verduidelik hoe dit vir die paar Getuies moontlik was om die bouwerk te doen. Hulle het ’n messelaar gehuur, en elke Sondag het die hele gemeente heeldag aan die projek gewerk.

Daarna het Mike onderhoude gevoer met die Getuies wat aan die saal gewerk het. Hy het hulle een vir een gevra of hulle ooit gedink het dat hierdie dag sou aanbreek en hoe hulle voel wanneer hulle na die Koninkryksaal vol mense kyk. Die meeste het so bewoë geraak dat hulle skaars klaar kon praat. Daar was nie ’n droë oog onder die Getuies wat daar teenwoordig was nie.

Vervolgens het Ted Petras van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Senegal die toewydingstoespraak gehou. Die toewydingsgebed is gedoen, en die broers het lank hande geklap. Daarna het Mike almal wat met die bou van die saal gehelp het na vore genooi. Hulle het daar gestaan met hulle stralende gesigte, en trane van vreugde het oor hulle wange gerol. Terwyl ons die slotlied gesing het, het ek innige vreugde ervaar. As ’n sendeling kan ek deel hê aan die wonderlikste ondervindinge. Ons sou soveel gemis het as ons in die Verenigde State gebly het.

Verdere hartlike omgang

Ná die toewyding is verversings voorsien. Die susters het die een na die ander ingekom met groot borde waatlemoen op hulle kop. Hulle is deur twee broers gevolg wat koksmusse vir die geleentheid opgehad het en skinkborde met koeke ingedra het. Die plat koeke was vrolik versier met lemoen- en suurlemoenskyfies. Die hele atmosfeer was baie feestelik.

Die besoekers het vertrek nadat hulle bedien is. Daarna het die Getuies vir aandete na ’n huis daar naby gegaan. Ons het almal buite onder die volmaan gesit, met ’n knetterende vuur wat die werf verlig het. Ek was so opgewonde en uitgeput weens die dag se bedrywighede dat ek nie al my kos kon eet nie. Ek het ’n halfgeëte hoenderboudjie vir ’n dogtertjie gegee. Die plaaslike pioniers het ons borde dopgehou, en enigiets wat oorgebly het, het hulle geëet. By hulle bestaan daar nie iets soos oorskietkos nie. In die Verenigde State is ons baie bederf.

Toe ons aand ten einde loop, het ’n broer diegene wat van Bamako af gekom het daaraan herinner dat die bus hulle teen 9:15 vm. sou kom haal. Die volgende oggend het die broers oral op die werf vir die bus gesit en wag. Toe het ons vir oulaas ’n lied gesing, “Ons dank u, Jehovah”. Die trane het begin rol, en net toe ons aan die einde van die lied gekom het, het die bus in sig gekom. Al die broers en susters het mekaar omhels.

Ons het daar gestaan en waai terwyl die bus stadig weggetrek het. Almal in die bus het gewaai totdat ons dit nie meer kon sien nie. Daarna het ons wat agtergebly het almal omgedraai en na mekaar gekyk. Dit was waarlik ’n wonderlike toewyding en ’n wonderlike week.—Bygedra.

[Prent op bladsy 15]

Eerste Koninkryksaal wat in Mali deur Jehovah se Getuies gebou is

[Prent op bladsy 16]

Hierdie vrolike groep het per bus gereis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel