Die ontsagwekkende heelal
‘Iets ontbreek’—Wat is dit?
NADAT ons op ’n wolklose, donker nag na die sterre gekyk het, gaan ons terug in die huis in, koud en effens verblind, terwyl ons nog die ontsagwekkende skoonheid voor ons kan sien en ’n menigte vrae deur ons gedagtes maal. Waarom is die heelal hier? Waar het dit vandaan gekom? Waarheen is dit op pad? Dit is die vrae wat baie mense probeer beantwoord.
Wetenskapskrywer Dennis Overbye het ná vyf jaar van navorsing oor die kosmologie, wat hom na wetenskaplike konferensies en navorsingsentrums regoor die wêreld geneem het, ’n gesprek met die wêreldberoemde fisikus Stephen Hawking beskryf: “Op die ou end is wat ek by Hawking wou weet wat ek nog altyd by Hawking wou weet: Waarheen ons gaan wanneer ons sterf.”
Hoewel hierdie woorde ’n tikkie ironie bevat, onthul dit baie oor ons eeu. Die vrae is nie soseer oor die sterre en die teorieë en botsende beskouings van die kosmoloë wat hulle bestudeer nie. Mense hunker vandag nog na antwoorde op die basiese vrae wat die mensdom al duisende jare lank kwel: Waarom is ons hier? Is daar ’n God? Waarheen gaan ons wanneer ons sterf? Waar is die antwoorde op hierdie vrae? Kan dit in die sterre gevind word?
’n Ander wetenskapskrywer, John Boslough, het gesê dat, namate mense godsdiens verlaat, wetenskaplikes soos kosmoloë “die volmaakte priesterstand vir ’n wêreldlike eeu [geword het]. Húlle, nie godsdiensleiers nie, was die mense wat al die geheime van die heelal nou bietjie vir kosbare bietjie sou onthul, nie in ’n skyn van ’n geestelike openbaring nie, maar in die vorm van wiskundige vergelykings wat vir almal behalwe die uitverkorenes onverstaanbaar is.” Maar sal hulle al die geheime van die heelal onthul en al die vrae beantwoord wat die mensdom eeue lank al kwel?
Wat word nou deur die kosmoloë onthul? Die meeste van hulle is voorstanders van die een of ander weergawe van die oerknal-“teologie”, wat die wêreldlike godsdiens van ons tyd geword het, al is hulle alewig besig om hare te kloof oor die besonderhede. “Maar”, het Boslough gesê, “die oerknalteorie begin, in die konteks van nuwe en teenstrydige waarnemings, al hoe meer lyk soos ’n oordrewe simplistiese model op soek na ’n oomblik van skepping. Teen die vroeë negentigerjare was die oerknalteorie . . . al hoe minder in staat om die eenvoudigste vrae te beantwoord.” Hy het bygevoeg dat “meer as ’n paar teoretici van mening is dat dit nie eens die negentigerjare sal oorleef nie”.
Miskien sal dit blyk dat van die huidige kosmologiese raaiwerk korrek is, en miskien nie—net soos daar miskien werklik planete is wat besig is om in die spookagtige gloed van die Orion-newel saam te smelt, en miskien nie. Die onbetwisbare feit is dat niemand op hierdie aarde werklik vir seker weet nie. Teorieë is volop, maar eerlike waarnemers stem saam met Margaret Geller se skerpsinnige opmerking dat daar ten spyte van die gladde praatjies ’n basiese beginsel in die wetenskap se huidige begrip van die kosmos ontbreek.
Wat ontbreek?—Die gewilligheid om onaangename feite te aanvaar
Die meeste wetenskaplikes—en dit sluit die meeste kosmoloë in—ondersteun die evolusieteorie. Hulle vind dit onaanvaarbaar dat intelligensie en ’n voorneme ’n rol in die skepping kon gespeel het, en hulle sidder by die blote gedagte aan God as die Skepper. Hulle weier om sulke kettery selfs te oorweeg. Psalm 10:4 praat neerhalend van die verwaande persoon wat ‘geen ondersoek instel nie; al sy idees is: “Daar is geen God nie”’ (NW). Sy skepper en god is die Toeval. Maar namate kennis toeneem en die toeval onder die groeiende vrag ineenstort, begin die wetenskaplike hom al hoe meer tot sulke taboes soos intelligensie en ontwerp wend. Beskou die volgende voorbeelde:
“Daar het blykbaar ’n komponent ontbreek in kosmologiese studies. Die oorsprong van die Heelal, soos die oplossing van die Rubik-kubus, vereis intelligensie”, het astrofisikus Fred Hoyle in sy boek The Intelligent Universe, bladsy 189, gesê.
“Hoe meer ek die heelal ondersoek en die besonderhede van sy argitektuur bestudeer, hoe meer getuienis vind ek dat die heelal in sekere sin moes geweet het dat ons kom.”—Disturbing the Universe, deur Freeman Dyson, bladsy 250.
“Watter kenmerke van die Heelal was noodsaaklik vir die verskyning van wesens soos ons, en is dit deur die toeval, of om die een of ander dieperliggende rede, dat ons Heelal hierdie kenmerke het? . . . Is daar die een of ander groter plan wat verseker dat die Heelal pasklaar gemaak is vir die mens?”—Cosmic Coincidences, deur John Gribbin en Martin Rees, bladsye xiv, 4.
Fred Hoyle lewer ook kommentaar oor hierdie eienskappe op bladsy 220 van sy boek wat hierbo aangehaal word: “Dit lyk asof sulke eienskappe soos ’n draad gunstige toevallighede deur die struktuur van die sigbare wêreld geweef is. Maar daar is soveel van hierdie vreemde toevallighede wat ’n voorvereiste vir lewe is dat ’n verduideliking blykbaar nodig is om dit te verklaar.”
“Dit is nie net dat die mens by die heelal aangepas is nie. Die heelal is by die mens aangepas. Stel jou ’n heelal voor waarin party van die basiese dimensielose konstantes van die fisika op die een of ander manier met ’n paar persent verander is? Die mens sou nooit in so ’n heelal tot stand kon kom nie. En dit is die kern van die antropiese beginsel. Volgens hierdie beginsel is daar ’n lewegewende faktor in die middel van hierdie hele meganisme en ontwerp van die wêreld.”—The Anthropic Cosmological Principle, deur John Barrow en Frank Tipler, bladsy vii.
God, ontwerp en die konstantes van die fisika
Wat is party van hierdie konstantes van die fisika wat noodsaaklik is vir lewe in die heelal? ’n Berig in The Orange County Register van 8 Januarie 1995 het ’n paar van hierdie konstantes genoem. Dit het beklemtoon hoe fyn hierdie kenmerke ingestel moet wees en gesê: “Die kwantitatiewe waardes van talle basiese fisiese konstantes wat die heelal definieer—byvoorbeeld, die lading van ’n elektron of die vasgestelde snelheid van lig, of die verhouding van die kragte van basiese magte in die natuur—is ongelooflik presies, sommige tot 120 desimale. Die ontwikkeling van ’n heelal wat lewe voortbring, is uiters sensitief vir hierdie spesifikasies. Die kleinste afwyking—’n nanosekonde hier, ’n ångström daar—en die heelal kon heel moontlik dood en onvrugbaar gewees het.”
Die skrywer van hierdie verslag het toe die gewoonlik onnoembare gemeld: “Dit is blykbaar redeliker om aan te neem dat die een of ander geheimsinnige invloed binne-in die proses verskuil is, miskien in die handeling van ’n intelligente of doelbewuste mag wat die heelal haarfyn ingestel het ter voorbereiding vir ons koms.”
George Greenstein, professor in sterrekunde en kosmologie, het ’n langer lys van hierdie fisiese konstantes gegee in sy boek The Symbiotic Universe. Op daardie lys was daar konstantes wat so fyn ingestel is dat geen atome, geen sterre, geen heelal ooit moontlik sou wees as hulle tot die geringste mate afgewyk het nie. Die besonderhede van hierdie verhoudinge word in die meegaande venster genoem. Die fisiese lewe is slegs moontlik as hulle bestaan. Hulle is kompleks en sal miskien nie deur al ons lesers verstaan word nie, maar hulle word, saam met baie ander, erken deur astrofisici wat in hierdie gebiede opgelei is.
Namate hierdie lys langer geword het, is Greenstein oorweldig. Hy het gesê: “So baie toevallighede! Hoe meer ek gelees het, hoe meer oortuig het ek daarvan geraak dat sulke ‘toevallighede’ nouliks per toeval kon ontstaan het. Maar namate hierdie oortuiging gegroei het, het iets anders ook gegroei. Dit is nou nog moeilik om hierdie ‘iets’ in woorde uit te druk. Dit was ’n sterk weersin, en met tye was dit amper fisies van aard. Ek het letterlik ineengekrimp van ongemak. . . . Het ons dalk onverwags, sonder dat ons wou, op wetenskaplike bewys van die bestaan van ’n Opperwese afgekom? Was dit God wat tussenbeide getree het en sodoende die kosmos in sy voorsienigheid ter wille van ons ontwerp het?”
Met walging en afgryse vervul deur die gedagte het Greenstein vinnig sy woorde teruggetrek, sy wetenskaplik-godsdienstige ortodoksie herwin en gesê: “God is nie ’n verklaring nie.” Geen rede nie—die gedagte was net so onaangenaam dat hy dit nie kon verdra nie!
’n Normale menslike behoefte
Hierdie dinge word beslis nie genoem om die harde werk van opregte wetenskaplikes, met inbegrip van kosmoloë, af te kraak nie. Jehovah se Getuies waardeer veral hulle baie ontdekkings aangaande die skepping wat die mag en die wysheid en die liefde van die ware God, Jehovah, openbaar. Romeine 1:20 sê: “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is.”
Die ondersoeke en werk van wetenskaplikes is die natuurlike menslike reaksie op ’n behoefte wat net so fundamenteel tot die mensdom is soos die behoefte aan kos, onderdak en klere. Dit is die behoefte om die antwoorde op sekere vrae aangaande die toekoms en die doel van die lewe te ken. God het “die ewigheid in die harte van mense geplaas; tog kan hulle die dinge wat God van die begin tot die einde gedoen het, nie verstaan nie”.—Prediker 3:11, The Holy Bible—New International Version.
Dit is nie sulke slegte nuus nie. Dit beteken dat die mens nooit alles sal weet nie, maar hulle sal ook nooit ’n tekort hê aan nuwe dinge om te leer nie: ‘Ek het al die werk van God gesien, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan—hy sal dit nie kan uitvind nie.’—Prediker 8:17.
Party wetenskaplikes maak die beswaar dat daar geen aansporing tot verdere navorsing is as God die “oplossing” van ’n probleem gemaak word nie. Iemand wat God as die Skepper van die heelal en die aarde erken, het egter ’n oorvloed van verdere fassinerende besonderhede om te ontdek en interessante geheime om te ondersoek. Dit is asof hy toestemming het om op ’n heerlike avontuur te gaan waartydens hy nuwe dinge kan leer en ontdek!
Wie kan die uitnodiging in Jesaja 40:26 weerstaan? “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk.” Ons het ons oë in hierdie paar bladsye in die hoogte opgeslaan, en wat ons gesien het, is daardie ‘iets wat ontbreek’ wat die kosmoloë ontwyk het. Ons het ook die basiese antwoorde opgespoor op daardie vrae wat deur die eeue heen in die mens se verstand bly maal het.
Die antwoorde word in ’n boek gevind
Die antwoorde was nog altyd daar, maar net soos die godsdiensyweraars van Jesus se dag het baie mense hulle oë verblind, hulle ore gesluit en hulle harte verhard vir die antwoorde wat nie met hulle menslike teorieë of hulle verkose lewenstyl ooreengestem het nie (Matteus 13:14, 15). Jehovah het vir ons vertel waar die heelal vandaan gekom het, hoe die aarde hier gekom het en wie daarop gaan woon. Hy het vir ons gesê dat die menslike bewoners van die aarde dit moet bewerk en liefdevol moet sorg vir die plante en diere wat dit met hulle deel. Hy het ook vir ons vertel wat gebeur wanneer mense sterf, dat hulle weer opgewek kan word en wat hulle moet doen om vir ewig op die aarde te lewe.
As jy daarin belangstel om die antwoorde in die taal van God se geïnspireerde Woord, die Bybel, te kry, lees asseblief die volgende tekste: Genesis 1:1, 26-28; 2:15; Spreuke 12:10; Matteus 10:29; Jesaja 11:6-9; 45:18; Genesis 3:19; Psalm 146:4; Prediker 9:5; Handelinge 24:15; Johannes 5:28, 29; 17:3; Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:3-5.
Lees hierdie tekste gerus een aand in jou eie huis saam met jou gesin of saam met ’n buurman of saam met ’n groep van jou vriende. Wees verseker dat dit tot ’n leersame en lewendige bespreking sal lei!
Interesseer die geheime van die heelal jou, en word jy geraak deur die prag daarvan? Leer die Een wat dit geskep het gerus beter ken. Ons nuuskierigheid en verwondering beteken niks vir die lewelose hemele nie, maar Jehovah God, hulle Skepper, is ook ons Skepper en hy gee om vir sagmoediges wat belangstel om van hom en sy skeppingswerke te leer. Die uitnodiging word nou regoor die aarde gerig: “‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.
Wat ’n hartverblydende uitnodiging van Jehovah is dit tog! Die heelal is geskep deur ’n God van oneindige wysheid en bepaalde voornemens wat jou van die begin af in gedagte gehad het, nie deur ’n verstandelose, doellose ontploffing nie. Sy matelose energie word versigtig beheer en is altyd beskikbaar om sy bedienaars te onderhou (Jesaja 40:28-31). As jy hom leer ken, sal jou beloning net so groot soos die majestueuse heelal self wees!
“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” —Psalm 19:2.
[Venster op bladsy 13]
’n Lys van sommige van die fisiese konstantes wat nodig is vir lewe
Die ladings van protone en elektrone moet gelyk en teenoorgesteld wees; die neutron moet ’n klein persentasie swaarder as die proton wees; die temperatuur van die son en die absorberende eienskappe van chlorofil moet by mekaar aanpas voordat fotosintese kan plaasvind; as die sterk krag ’n bietjie swakker was, sou die son nie energie deur kernreaksies kon produseer nie, maar as dit ’n bietjie sterker was, sou die brandstof wat nodig is om energie te produseer geweldig onstabiel wees; sonder twee merkwaardige resonansies tussen nukleï in die kerne van rooi reuse sou geen element buiten helium gevorm kon word nie; as die ruimte minder as drie dimensies gehad het, sou die interkonneksies vir bloedvloei en die senustelsel onmoontlik wees en as die ruimte meer as drie dimensies gehad het, sou planete nie in ’n stabiele baan om die son kon wentel nie.—The Symbiotic Universe, bladsye 256-7.
[Venster op bladsy 14]
Het enigiemand my vermiste massa gesien?
Soos alle ander spiraalgalaksies, draai die Andromeda-galaksie, op majestueuse wyse in die ruimte asof dit ’n reuse-orkaan is. Sterrekundiges kan die rotasietempo van baie galaksies uitwerk deur middel van die ligspektrums, en wanneer hulle dit doen, ontdek hulle iets raaiselagtigs. Die rotasietempo’s lyk onmoontlik! Dit lyk asof alle spiraalgalaksies te vinnig roteer. Hulle tree op asof die sigbare sterre van die galaksie vassit in ’n baie groter skyf donker materie, wat onsigbaar is vir die teleskoop. “Ons weet nie in watter vorms die donker materie is nie”, erken sterrekundige James Kaler. Kosmoloë meen dat daar nie rekenskap gegee kan word van 90 persent van die vermiste massa nie. Hulle soek naarstiglik daarna, hetsy in die vorm van massiewe neutrino’s of die een of ander onbekende maar oorvloedige soort materie.
Laat weet asseblief dadelik jou plaaslike kosmoloog as jy die vermiste massa opspoor!