Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 1/22 bl. 21-23
  • Waak teen ageletterdheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waak teen ageletterdheid
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voordele van lees
  • ’n Gebalanseerde beskouing
  • Hoe ouers kan help
  • Die Bybel—’n uitstekende hulpmiddel
  • Hoekom dit belangrik is dat kinders moet lees – Deel 1: Lees of kyk?
    Hulp vir die gesin
  • Lê jou daarop toe om beter te lees
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Bybellees—nuttig en aangenaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 1/22 bl. 21-23

Waak teen ageletterdheid

’NNUWE soort leesprobleem het ’n verreikende uitwerking op ons wêreld. Dit word ageletterdheid genoem. Dit word omskryf as “die eienskap of toestand wanneer ’n mens in staat is om te lees, maar nie belangstel om dit te doen nie” (Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary, Tenth Edition).a Ja, lees—wat mense vroeër genot verskaf het—word nou dikwels as ’n taak versmaai. “Jy moet werk om te lees”, het ’n 12-jarige meisie gekla, “en dis geen pret nie.”

Baie volwassenes is ook ageletterd. Die Verenigde State spog byvoorbeeld met ’n geletterdheidsyfer van 97 persent; tog lees ongeveer die helfte van Amerikaanse volwassenes selde boeke of tydskrifte! Klaarblyklik ewenaar die begeerte om te lees nie altyd die vermoë om te lees nie. Dit is selfs onder geleerdes die geval. “Wanneer ek ná ’n lang dag moeg tuiskom”, sê ’n gegradueerde van Harvard-universiteit, “skakel ek die TV aan pleks van ’n boek op te tel. Dis makliker.”

Wat het van lees geword? In onlangse dekades het die gewildheid daarvan gewyk voor die media wat die aandag boei. “Noudat ons ons MTV het—en ons videobandopnemer en Nintendo en Walkman—lyk die vooruitsig om deur ’n boek te worstel nie meer so maklik soos in eenvoudiger tye nie”, skryf Stratford P. Sherman in die tydskrif Fortune. Televisie is moontlik die tydrowendste mededinger van lees. Trouens, teen die tyd dat die gemiddelde Amerikaner 65 is, sal hy nege jaar van sy lewe aan TV-kykery bestee het!

Aangesien die belonings van lees so dikwels aan die flikkerende skerm opgeoffer word, sal dit goed wees om die volgende te oorweeg.

Die voordele van lees

Lees prikkel die verbeelding. Televisie dink vir jou. Alles word uitgespel: gesigsuitdrukkings, stembuigings en tonele.

Maar wanneer jy lees, kies jy die spelers, rig jy die tonele in en lei jy die spel. “Jy het soveel vryheid”, sê ’n 10-jarige seun. “Jy kan elke karakter laat lyk presies soos jy wil hê hy moet lyk. Jy het meer beheer oor dinge wanneer jy ’n boek lees as wanneer jy iets op TV sien.” Soos dr. Bruno Bettelheim opgemerk het, “gryp televisie die verbeelding aan, maar dit stel dit nie vry nie. ’n Goeie boek stimuleer en bevry die verstand tegelykertyd.”

Lees ontwikkel spraakvaardighede. “Geen kind of volwassene word bedrewener in televisiekykery deur dit meer te doen nie”, sê Reginald Damerall van die Universiteit van Massachusetts. “Die vaardighede wat nodig is, is so elementêr dat ons nog van ’n televisiekykgebrek moet hoor.”

In teenstelling hiermee vereis en ontwikkel lees spraakvaardighede; dit is onlosmaaklik met spraak en skryf gekoppel. Een Engelse onderwyser by ’n hoërskool sê: “Jou sukses as ’n leerling hang sonder twyfel grootliks van jou woordeskat af, in wat jy kan verstaan terwyl jy lees sowel as in hoe jy redeneer terwyl jy skryf, en ’n goeie woordeskat kan net opgebou word deur te lees—daar is net nie ’n ander manier nie.”

Lees bevorder geduld. Meer as duisend beelde kan in net een uur oor die TV-skerm flits, en dit gee die kyker min tyd om na te dink oor wat hy sien. “Hierdie tegniek programmeer letterlik ’n kort konsentrasieperiode”, sê dr. Matthew Dumont. Dit is nie verbasend dat sommige studies uitermatige TV-kykery met impulsiewe besluitneming en rusteloosheid—in kinders sowel as volwassenes—verbind nie.

Lees vereis geduld. “Sinne, paragrawe en bladsye ontvou stadig, in volgorde en volgens ’n logika wat alles behalwe intuïtief is”, skryf die kommunikasiedeskundige Neil Postman. Die leser moet dít wat op die bladsy staan teen sy eie pas vertolk, beoordeel en daaroor nadink. Lees is ’n ingewikkelde ontsyferingsproses wat geduld verg—en ontwikkel.

’n Gebalanseerde beskouing

Ondanks die voordele van lees moet daar erken word dat televisie ook verdienste het. Dit kan lees oortref in die oordraging van sekere soorte inligting.b ’n Boeiende TV-aanbieding kan selfs belangstelling in lees aanwakker. “Daar word berig dat TV-programme wat kinderliteratuur en wetenskap dramatiseer kinders beïnvloed om boeke oor hierdie en verwante onderwerpe te lees”, sê The Encyclopedia Americana.

’n Gebalanseerde beskouing is noodsaaklik. Die gedrukte bladsy en televisie is twee verskillende mediums. Elkeen het inherente sterk en swak punte. Elkeen kan gebruik—of misbruik—word. Ja, oordadige lees in so ’n mate dat ’n mens jou afsonder, kan net so nadelig soos oordadige TV-kykery wees.—Spreuke 18:1; Prediker 12:12.

Tog word lees dikwels ten gunste van visuele afleiding versmaai. Een Japannese koerantman kla: “Ons gaan van ’n leeskultuur oor na ’n kykkultuur.” Dit word veral onder jongmense opgemerk. Gevolglik word baie van hulle ageletterd groot en dra later die gevolge. Hoe kan ouers dus hulle kinders help om ’n begeerte om te lees aan te kweek?

Hoe ouers kan help

Stel die voorbeeld. ’n Newsweek-artikel met die opskrif “Hoe om goeie lesers groot te maak” gee hierdie reguit waarskuwing: “As jy ’n TV-verslaafde is, sal jou kind waarskynlik ook een wees. As jou kinders aan die ander kant sien dat jy heel gelukkig ’n goeie boek sit en lees, sal hulle die idee kry dat jy nie net sê dat ’n mens moet lees nie, maar dat jy dit ook doen.” Selfs nog beter, party ouers lees hardop vir hulle kinders. Sodoende skep hulle ’n innige band—iets wat ongelukkig vandag in baie gesinne ontbreek.

Begin ’n biblioteek. “Daar moet boeke beskikbaar wees—baie boeke”, beveel dr. Theodore Isaac Rubin aan. “Ek onthou dat ek hulle gelees het omdat hulle daar was en omdat al die ander hulle ook gelees het.” Kinders sal lees as boeke geredelik beskikbaar is. Die aansporing om te lees, sal selfs groter wees as die boeke deel uitmaak van hulle eie persoonlike biblioteek.

Maak lees genotvol. Daar is al gesê dat die stryd om te leer halfpad gewen is as ’n kind van lees hou. Maak lees dus vir jou kind ’n genotvolle ondervinding. Hoe? Eerstens moet jy televisietyd beperk; dit sal feitlik altyd voorkeur bo lees kry. Tweedens moet jy ’n atmosfeer skep wat vir lees bevorderlik is; stil tye en plekke, soos ’n persoonlike biblioteek met goeie beligting, maak lees aanloklik. Derdens moet jy jou kinders nie dwing om te lees nie. Stel die leesstof en geleenthede om te lees beskikbaar, maar laat die kind die begeerte aankweek.

Party ouers begin vir hulle kinders lees wanneer hulle nog baie jonk is. Dit kan voordelig wees. Party deskundiges sê dat ’n kind teen die tyd dat hy drie is grotendeels die taal verstaan wat hy in gewone volwasse gesprekke sal gebruik−selfs al kan hy hierdie woorde nog nie vlot uitspreek nie. “Kinders begin ’n taal vroeër en vinniger leer verstaan as wat hulle dit mondeling leer gebruik”, sê die boek The First Three Years of Life. Die Bybel sê van Timoteus: ‘Van kleintyd af het jy die heilige geskrifte geken’ (2 Timoteus 3:15). Die woord wat hier met “kleintyd” vertaal word, is verwant aan ’n woord wat letterlik “wanneer iemand nog nie praat nie” beteken. Ja, Timoteus het skriftuurlike woorde gehoor lank voordat hy hulle kon sê.

Die Bybel—’n uitstekende hulpmiddel

“Die Bybel is ’n ontsagwekkende versameling letterkundige werke”, sê die boek The Bible in Its Literary Milieu. Sy 66 boeke bevat inderdaad poësie, liedere en geskiedkundige verslae waaruit oud en jonk kan leer (Romeine 15:4). Die Bybel is boonop “deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer”.—2 Timoteus 3:16.

Ja, die noodsaaklikste leesstof wat beskikbaar is, is God se Woord, die Bybel. Daar is tereg van elke Israelitiese koning vereis dat hy sy eie afskrif van die Skrif moes hê en “al die dae van sy lewe daarin lees” (Deuteronomium 17:18, 19). En Josua is beveel om die Skrif “dag en nag met ’n gedempte stem”—dit wil sê met ’n sagte stem vir homself—te lees.—Josua 1:8, NW.

Dele van die Bybel is weliswaar nie maklike leesstof nie. Dit verg moontlik konsentrasie. Onthou, Petrus het geskryf: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort” (1 Petrus 2:2). Met oefening kan ’n geneigdheid tot die “melk” van God se Woord so natuurlik word soos ’n kindjie se instinktiewe hunkering na sy moeder se melk. Waardering vir die lees van die Bybel kan aangekweek word.c Dit is beslis die moeite werd. “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad”, het die psalmis geskryf (Psalm 119:105). Het ons nie almal sulke leiding in ons moeilike tye nodig nie?

[Voetnote]

a Ageletterdheid moenie met “ongeletterdheid” verwar word nie, wat die “onvermoë om te lees of skryf” is.

b Ter erkenning hiervan het die Wagtoringgenootskap in onlangse jare sy produksie van gedrukte materiaal aangevul met videokassette oor verskeie onderwerpe wat met die Bybel verband hou.

c Om kinders te help om ’n verlange na Bybelkennis te ontwikkel, het die Wagtoringgenootskap vereenvoudigde Bybelstudiehulpe geproduseer, soos My boek met Bybelverhale en Luister na die Groot Onderwyser. Albei die boeke is ook op kassette beskikbaar.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel