Van ons lesers
Tabakbedryf Die reeks “Miljoene word doodgemaak om miljoene te maak” (22 Mei 1995) was insiggewend en goed beredeneerd. Die skildery op die voorblad (“Skedel met sigaret”) deur Vincent van Gogh was skrikwekkend! Hierdie prent alleen sal dalk genoeg wees om sommige mense te laat ophou rook of ten minste te keer dat ander begin rook.
M. B., Verenigde State
Aangesien ek vir die Amerikaanse Kankervereniging werk, was ek besonder gretig om hierdie artikels te lees. Ek het ’n eksemplaar gestuur aan die vrou wat die voorsitter is van die plaaslike tak van ’n tabakvrye-vereniging. Sy was beïndruk deur die uitstekende inhoud en navorsing en het 35 eksemplare vir haar kollegas aangevra.
J. O., Verenigde State
Ek en my man het byna drie maande lank nie meer gerook nie, maar ek was nog steeds lus vir ’n sigaret. Toe het ek hierdie artikel gelees, en dit het my laat besef dat party van die bestanddele in ’n sigaret so giftig is dat dit onwettig is om dit op ’n stortterrein te stort! Dit het my versterk om te haat wat sleg is.
L. T., Suid-Afrika
Lupuslyer Baie dankie vir die inligting oor lupus in die artikel “Nou is dit net Mia en Jehovah” (22 Februarie 1995). Ek is 18 jaar oud, en ek ly al byna twee jaar aan hierdie siekte. Dit is bemoedigend om uit te vind hoe ander broers en susters in verskillende wêrelddele in staat is om lyding te verduur en om te sien hoe ons Skepper ons altyd op liefdevolle wyse ondersteun.
J. A. Y., Italië
Probleemouers Ek het gebid om ’n artikel soos “Jongmense vra . . . Sê nou my ouer skiet te kort?” (22 Mei 1995). Toe my ma uit die Christengemeente gesit is, was ek ontsettend hartseer en seergemaak! Ek het byna die pionierdiens, voltydse evangeliesasiewerk, verlaat. Die artikel het my versterk om eerder my “eie redding met vrees en bewing te bewerk” as om uitermate bekommerd te wees oor my ma se posisie voor Jehovah (Filippense 2:12). Baie dankie.
J. P., Filippyne
Ek is ’n gedoopte Christen, maar dit was vir my baie moeilik om my pa wat elke dag dronk huis toe kom te eerbiedig. Terwyl ek hierdie artikel gelees het, kon ek nie ophou huil nie. Noudat ek dit gelees het, het ek heelwat minder negatiewe gevoelens en gedagtes oor my pa, en my gemoed is rustiger.
N. M., Japan
Christian Science In die artikel “Seminare om verhoudinge tussen dokters en Jehovah se Getuies te verbeter” (22 Maart 1995) is daar ’n opmerking oor Christian Science se beskouing oor siekte. Ter bevordering van ’n verstandhouding tussen ons gelowe wil ek graag julle lesers daarvan verseker dat Christian Scientists, deur hulle op geestelike genesing te verlaat, menselewe kosbaar ag en beskerm soos ons glo Christus Jesus ons getoon het om te doen. ’n Verslag van bevestigde genesings wat al langer as ’n eeu in ons tydskrifte gepubliseer word, toon dat ons beweegrede diens aan God en nie martelaarskap is nie. Geestelike, sedelike en liggaamlike welstand is altyd die gevolg.
M. V. W., Bestuurder, Publiseringskomitees, The First Church of Christ, Scientist, Verenigde State
Dankie vir hierdie opmerkings. Die rede waarom ons ’n mediese dokter se woorde aangehaal het, was om die feit te beklemtoon dat Jehovah se Getuies wel mediese behandeling aanvaar. Hoewel ons ander se reg respekteer om te glo soos hulle goeddink, het Jesus Christus in werklikheid gesê dat ‘die gesondes nie ’n geneesheer nodig het nie, maar die siekes wel’ (Matteus 9:12). En toe Paulus Timoteus se “herhaalde gevalle van siekte” bespreek het, het hy nie geestelike genesing aanbeveel nie, maar ’n algemene vorm van mediese behandeling voorgestel (1 Timoteus 5:23). Die Bybel se beskouing van mediese behandeling is dus in stryd met die leringe van Christian Science.—RED.