Kan enigiemand vertrou word?
“Hy was een van die min mense buite die gesin in wie my ouers volle vertroue gestel het. . . . Hy het hom voorgedoen as ’n goeie en liefdevolle mens wat nooit enigiets sou doen om ons seer te maak nie. . . . Hy was een van die min mense in my lewe wat ek volkome vertrou het.”
DIT is hoe een jong vrou die vertroue beskryf het wat sy in haar huisdokter gestel het. Ongelukkig was dit ’n erg misplaaste vertroue. Vandat sy 16 jaar oud was, het hierdie dokter haar seksueel gemolesteer. “Hy het vir my gelieg en my bedrieg”, het sy vir die hofowerheid gesê wat toe reg laat geskied het.—The Toronto Star.
Vertroue word oral vernietig
Vertroue kan, soos ’n pragtige maar brose blom, maklik ontwortel en vertrap word. Dit word oral vernietig! Michael Gaine, wat die sekretaris van twee kardinaal-aartsbiskoppe in Engeland was, het gesê: “Daar was ’n tyd toe almal ’n priester vertrou het. Toe gesinne hulle kinders aan sy sorg toevertrou het. Ek sou dit nie nou verwag nie. Ons is vir ewig van daardie vertroue afgesny.”—The Guardian Weekend.
Sakelui verkul mededingers. Geslepe adverteerders mislei verbruikers en buit hulle uit. Een gevoellose amptenaar het sy eie maatskappye se pensioenfondse gesteel en sodoende sy werknemers van hulle neseier beroof. Werknemers steel gereeld by hulle werkgewers. ’n Verslag het byvoorbeeld gesê dat “Kanadese sakeondernemings elke jaar ongeveer $20 miljard [R55 miljard] weens interne diefstal verloor”.—Canadian Business.
Nie alle politici is onbetroubaar nie. Maar verslae soos die volgende verbaas baie min mense: “Twee weke ná die sluipmoord op een van Frankryk se mees omstrede vrouepolitici skeur die polisie die sluiers van politieke bedrog en strafbare sameswering aan flarde wat lank die werksaamhede van die regering aan die Middellandse kus verdoesel het.”—The Sunday Times, Londen.
In hegte verhoudings word vertroue dikwels geskend. Mans en vrouens verkul hulle huweliksmaats. Ouers mishandel kinders. Kinders bedrieg ouers. Toe die argief van die Stasi, die geheime polisie in die voormalige Oos-Duitsland, geopen is, het dit ’n “deurlopende stelsel van bedrog” geopenbaar deur mense wat as vriende beskou is. In ’n netwerk van verraad, sê een verslag, “het Stasi-invloed na die klaskamer, die preekstoel, die slaapkamer, selfs die bieg uitgebrei”.—Time.
In Ierland het ’n rubriekskrywer geskryf: “Ons is belieg, ons is mislei en ons is gebruik en uitgebuit en is verag deur diegene wat deur ons in magsposisies geplaas is” (The Kerryman). Omdat hulle so dikwels verraai is, vertrou baie mense niemand nie. Wat kan ons doen om te verseker dat ons vertroue nie misplaas is nie? Die volgende twee artikels sal hierdie vraag ondersoek.