Hoe is jou telefoon-maniere?
“Is daar naas gesinsliefde, gesondheid en liefde vir werk enigiets wat soveel tot die genot van die lewe bydra, ons gevoel van eiewaarde herstel en verhoog, soos vriendelike gesprekke met ander?”
MET daardie vraag het wyle Amerikaanse skryfster en opvoedkundige Lucy Elliot Keeler groot waarde geheg aan die persoonlike genot en voldoening wat uit mondelinge kommunikasie geput kan word, ’n vermoë wat uit liefde aan die mens gegee is toe hy geskep is.—Exodus 4:11, 12.
Iets wat oor die afgelope 12 dekades grootliks tot die toename in gesprekke tussen mense bygedra het, is Alexander Graham Bell se uitvinding van die telefoon. Vir miljarde mense op aarde is die telefoon vandag, hetsy dit vir sake of plesier gebruik word, ’n onontbeerlike skakel tussen mense.
Die telefoon en jy
Tot watter mate verbeter die gebruik van die telefoon die gehalte van jou lewe? Sal jy nie saamstem dat jou antwoord op daardie vraag meer afhang van die mense wat daarby betrokke is as van die toestel self nie? Dit is inderdaad tydig dat ons die vraag stel: Hoe is jou telefoonmaniere?
Telefoonmaniere sluit dinge in soos geestesgesindheid, spraakgebruik en die vermoë om te luister. Hoe om ’n telefoon te gebruik en lastige oproepe te hanteer, is ook ter sake.
Liefdevolle bedagsaamheid teenoor ander
Soos met alle interaksie tussen mense, spruit goeie telefoonmaniere voort uit mensliewendheid. Die apostel Paulus het geskryf: “Sien om na mekaar se belange en nie net na julle eie nie.”—Filippense 2:4, The New English Bible.
Toe ’n ervare telefoniste gevra is: “Wat is volgens jou die algemeenste voorbeelde van swak telefoonmaniere?” was die volgende hoog op haar lys: “Die persoon wat skakel en sê: ‘Marie hier’ (Hoeveel Maries ken jy?) of selfs erger: ‘Dis ek’ of ‘Raai wie praat.’” Sulke onbedagsame, miskien welmenende, benaderings kan verleentheid en ongeduld veroorsaak. Die telefoniste het voortgegaan: “Waarom nie die oproep op ’n gelukkige noot begin deur jou duidelik te identifiseer en ook, uit bedagsaamheid teenoor die persoon wat die oproep ontvang, te vra of dit geleë is om te gesels nie?”
Onthou, al kan jou gesigsuitdrukking nie gesien word nie, sal jou gesindheid duidelik wees. Hoe so? Deur jou stemtoon. Ongeduld, verveeldheid, woede, ’n gebrek aan belangstelling, opregtheid, opgeruimdheid, behulpsaamheid en hartlikheid—word almal geopenbaar. Verergdheid kan weliswaar ’n natuurlike reaksie wees wanneer ’n mens onderbreek word. Probeer om onder hierdie omstandighede ter wille van goeie maniere te pouseer en ’n “glimlag” in jou stem te sit voordat jy antwoord. Dit is moontlik om dit met iemand oneens te wees sonder om ’n onvriendelike stemtoon te hê.
’n Kombinasie van liefdevolle bedagsaamheid en ’n vriendelike stemtoon kan lei tot woorde wat “goed is vir opbouing na gelang van die behoefte” en die meedeling van “iets gunstigs aan die hoorders”.—Efesiërs 4:29.
Spraakgebruik
Ja, die manier waarop ons praat, is belangrik. Stem jy met die volgende reëls saam en gehoorsaam jy dit? Praat natuurlik, duidelik en verstaanbaar. Moenie mompel nie. Moenie skreeu nie—selfs met ’n langafstandoproep. Moenie jou woorde sleg uitspreek nie. Vermy slordige spraak wat lettergrepe afkap of weglaat; vermy ook “woordstertjies” en herhalings, wat verwarrend kan wees en ander irriteer. Vermy die gebruik van ’n eentonige stemtoon. Die regte beklemtoning en modulasie maak spraak betekenisvol, kleurvol en verkwikkend. Hou ook in gedagte dat dit nie ’n mens se spraak verbeter of van goeie maniere getuig as jy eet terwyl jy oor die telefoon praat nie.
Woordkeuse moet ook in ag geneem word. Onderskeidingsvermoë is nodig. Gebruik gewone, eenvoudige woorde wat maklik verstaan word. Woorde het betekenisse. Hulle kan vriendelik of hardvogtig wees, strelend of ongevoelig, bemoedigend of ontmoedigend. Daarbenewens kan ’n mens snaaks wees sonder om irriterend te wees, eerlik sonder om bot of onbeskof te wees en taktvol sonder om vaag te wees. Uitdrukkings van beleefdheid soos “asseblief” en “dankie” is altyd welkom. Die apostel Paulus het woorde wat vriendelik en bedagsaam is, asook woorde wat van goeie smaak getuig in gedagte gehad toe hy geskryf het: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee.”—Kolossense 4:6.
Wees ’n goeie luisteraar
Daar is die storie van ’n jong man wat vir sy vader gevra het om hom te vertel wat die geheim van ’n goeie gesprekvoerder is. “Luister, my seun”, was die antwoord. “Ek luister”, het die jong man gesê. “Vertel my meer.” “Daar is nie meer om te vertel nie”, het die vader geantwoord. Om ’n belangstellende, simpatieke luisteraar te wees, is inderdaad ’n onontbeerlike deel van goeie telefoonmaniere.
As jy versuim om ’n eenvoudige reël na te kom, kan dit daartoe lei dat jy as ’n telefoonlaspos beskou word. Watter reël is dit? Moenie die gesprek oorneem nie. Moet byvoorbeeld nie ’n eindelose, woordelikse verslag gee van die een of ander onbenullige gesprek wat jy gehad het of ’n uitgerekte relaas van jou skete nie. Ons het weer eens ’n toepaslike, bondige Bybelreël, hierdie keer van die apostel Jakobus. “Wees gou om te luister maar stadig om te praat.”—Jakobus 1:19, Jerusalem Bible.
Slotoorwegings
Kom ons skenk nou aandag aan twee laaste vrae wat met telefoonmaniere verband hou. Wat kan gesê word oor die gebruik van die telefoonapparaat? Is daar enige voorstelle met betrekking tot die hantering van onwelkome oproepe?
Het jy al ooit tydens ’n telefoongesprek gevind dat die stem aan die ander kant van tyd tot tyd wegraak? Dit behoort jou daaraan te herinner om reg in die mondstuk in te praat terwyl jy dit ongeveer twee sentimeter van jou lippe af hou. Daarbenewens is dit hoflik om agtergrondgeraas te beheer. Wanneer jy ’n oproep maak, moet jy versigtig skakel sodat jy nie die verkeerde nommer kry nie; en plaas die gehoorstuk saggies terug in sy mikkie wanneer jy jou oproep afsluit.
Was jy al die slagoffer van lastige oproepe? Ongelukkig is hulle blykbaar aan die toeneem. Onwelvoeglike, suggestiewe of vuil taal verdien net een reaksie—die beëindiging van die oproep. (Vergelyk Efesiërs 5:3, 4.) Dieselfde sal geld wanneer ’n persoon weier om hom te identifiseer. As ’n oproep vir jou verdag klink, stel die publikasie How to Write and Speak Better voor dat jy “nie moet antwoord as ’n vreemde stem vra: ‘Wie praat?’ nie” en dat jy nie jou planne met ’n vreemdeling moet bespreek nie.
Hoe goed is dit tog om te weet dat die toepassing van goeie telefoonmaniere op stuk van sake nie ’n lang lys reëls of regulasies vereis nie! Soos met alle handelinge tussen mense, spruit aangename en lonende verhoudings voort uit die toepassing van wat oor die algemeen die Gulde Reël genoem word. Jesus Christus het gesê: “Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Vir die Christen is daar ook die begeerte om die Een te behaag wat die gawe van spraak aan die mens gegee het. Die psalmis het gebid: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”—Psalm 19:15.