Die oorsake van smadende taal
“Uit die oorvloed van die hart spreek die mond.”—MATTEUS 12:34.
ONGEVEER twee millenniums gelede het Jesus Christus die woorde hierbo gesê. Ja, iemand se woorde weerspieël dikwels sy diepste gevoelens en beweegredes. Dit is dalk lofwaardig (Spreuke 16:23). Aan die ander kant is dit dalk verraderlik.—Matteus 15:19.
Een vrou het van haar huweliksmaat gesê: “Dit lyk of hy sommer ewe skielik kwaad word, en die lewe saam met hom is dikwels soos om deur ’n mynveld te stap—jy weet nooit wat tot ’n uitbarsting aanleiding sal gee nie.” Richard beskryf ’n soortgelyke situasie met sy vrou. “Lydia is altyd reg om te baklei”, sê hy. “Sy praat nie net nie; sy vaar op so ’n uitdagende wyse teen my uit en wys met die vinger na my asof ek ’n kind is.”
Rusies kan natuurlik selfs in die beste huwelike ontstaan, en alle mans en vrouens sê dinge waaroor hulle later spyt is (Jakobus 3:2). Maar smadende taal in die huwelik is meer as dit; dit behels vernederende en kritiese taal waardeur ’n mens oor jou huweliksmaat wil heers, of beheer uitoefen. Soms word skadelike taal met ’n skyn van vriendelikheid verbloem. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld ’n man beskryf wat ’n vriendelike stemtoon gehad het, maar innerlik venynig was: “Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde” (Psalm 55:22; Spreuke 26:24, 25). Hetsy skeltaal openlik kwaadwillig is of vermom word, dit kan ’n huwelik verwoes.
Hoe dit begin
Wat maak dat iemand smadende taal gebruik? Gewoonlik kan die gebruik van sulke taal teruggevoer word na wat iemand sien en hoor. In baie lande word sarkasme, beledigings en afjakke as aanvaarbaar en selfs as iets grappigs beskou.a Mans veral kan deur die media beïnvloed word, omdat dit dikwels “ware” mans as oorheersend en aggressief uitbeeld.
Net so het baie wat ander afkraak in huise grootgeword waar ’n ouer gereeld aan sy woede, bitterheid en veragting uiting gegee het. Hulle het dus van jongs af geleer dat hierdie soort gedrag normaal is.
’n Kind wat in so ’n milieu grootword, sal moontlik nie net ’n manier van praat aanleer nie; hy sal moontlik ook ’n verwronge beskouing van homself en ander verkry. As skeltaal byvoorbeeld teenoor die kind gebruik word, sal hy dalk wanneer hy groot is nutteloos voel, selfs tot woede gedryf wees. Maar sê nou die kind hoor bloot hoe sy vader sy moeder uitskel? Al is die kind baie jonk, kan hy sy vader se minagting vir vroue aanleer. ’n Seun kan uit ’n vader se optrede leer dat ’n man vroue onder beheer moet hê en dat hy beheer kan kry deur hulle bang of seer te maak.
’n Woedende ouer maak moontlik ’n woedende kind groot, wat op sy beurt “’n meester van woede” word en “baie oortredings” begaan wanneer hy groot is (Spreuke 29:22, voetnoot in NW). Die erfenis van skeltaal kan sodoende van een geslag na die ander oorgedra word. Paulus het vaders tereg vermaan: “Moenie julle kinders vertoorn nie” (Kolossense 3:21). Dit is noemenswaardig dat die Griekse woord wat as “vertoorn” vertaal word, volgens die Theological Lexicon of the New Testament, kan beteken “om vir die stryd voor te berei en op te sweep”.
Ouerlike invloed regverdig natuurlik nie dat ’n mens mondeling of andersins teen ander uitvaar nie; maar dit help verduidelik hoe ’n neiging tot skeltaal diepgewortel kan wees. ’n Jong man mishandel sy vrou dalk nie fisies nie, maar treiter hy haar met sy woorde en sy buie? Selfondersoek sal moontlik vir iemand aan die lig bring dat hy sy vader se minagting vir vroue aangeleer het.
Die beginsels hierbo kan natuurlik ook op vrouens van toepassing wees. As ’n moeder haar man uitskel, sal ’n dogter haar man moontlik net so behandel wanneer sy getroud is. ’n Bybelspreuk sê: “Dit is beter om in ’n woeste land te woon as by ’n twisgierige vrou en ergernis” (Spreuke 21:19). Maar ’n man moet in hierdie opsig veral versigtig wees. Waarom?
Die mag van verdrukkers
Die man het gewoonlik groter mag in ’n huwelik as die vrou. Hy is feitlik altyd fisies sterker, en daarom is enige dreigemente van fisiese leed selfs skrikwekkender.b Daarbenewens het die man dikwels beter werkvaardighede, meer vaardighede om ’n onafhanklike bestaan te voer en groter finansiële voordele. Daarom sal ’n vrou wat uitgeskel word waarskynlik vasgekeer en alleen voel. Sy stem moontlik saam met wat wyse koning Salomo gesê het: “Weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie.”—Prediker 4:1.
’n Vrou is moontlik verward as haar man van die een uiterste na die ander oorslaan—een oomblik beleefd en die volgende oomblik krities. (Vergelyk Jakobus 3:10.) As haar man op materiële gebied genoeg voorsien, voel ’n vrou wat die teiken van skeltaal is dalk ook skuldig omdat sy dink dat daar iets in die huwelik skort. Sy kan selfs dink dat sy die skuld dra vir haar man se optrede. “Net soos ’n vrou wat fisies mishandel word”, erken een vrou, “het ek altyd gedink dat dit iets met my te doen het.” ’n Ander vrou sê: “Ek is wysgemaak dat ek vrede sou vind as ek net harder sou probeer om hom te verstaan en ‘geduldig’ met hom sou wees.” Ongelukkig duur die uitskellery dikwels voort.
Dit is inderdaad ’n jammerte dat baie mans hulle mag misbruik deur oor die vrou te heers wat hulle moontlik plegtig belowe het dat hulle sou liefhê en koester (Genesis 3:16). Maar wat kan omtrent so ’n situasie gedoen word? “Ek wil nie my man verlaat nie”, sê een vrou, “ek wil net hê hy moet ophou om my uit te skel.” Ná nege jaar van getroude lewe erken ’n man: “Ek besef dat ek in ’n verhouding is waar iemand uitgeskel word en dat ek die uitskeller is. Ek wil beslis eerder verander en nie my vrou verlaat nie.”
Daar is hulp vir dié wie se huwelik weens kwetsende woorde aan groot spanning onderwerp is, soos die volgende artikel sal toon.
[Voetnote]
a Dit was klaarblyklik ook in die eerste eeu die geval. The New International Dictionary of New Testament Theology sê dat “dit vir die Griek een van die lewenskunste was om te weet hoe om ander te beledig of self beledigings te verdra”.
b Uitskellery kan tot gesinsgeweld oorgaan. (Vergelyk Exodus 21:18.) ’n Raadgewer vir mishandelde vrouens sê: “Elke vrou wat kom vir ’n beskermingshofbevel teen die slanery, stekery of wurgings wat haar lewe in gevaar stel, het boonop ’n lang en pynlike geskiedenis van uitskellery gehad.”
[Lokteks op bladsy 6]
Dit is ’n jammerte dat baie mans hulle mag misbruik deur oor die vrou te heers wat hulle moontlik plegtig belowe het dat hulle sou liefhê en koester
[Prent op bladsy 7]
’n Kind word beïnvloed deur die manier waarop sy ouers mekaar behandel