Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/8 bl. 26-27
  • Moet kinders hulle eie godsdiens kies?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet kinders hulle eie godsdiens kies?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die keuse
  • Die ouers se verantwoordelikheid
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Sal jou kinders God dien wanneer hulle groot is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Moet kinders hulle eie godsdiens kies?

OUERS maak keuses vir hulle kind van sy geboorte af en regdeur sy adolessensie. ’n Verstandige ouer weet terselfdertyd wanneer om buigsaam te wees en neem wanneer moontlik in ag wat die kind sal verkies.

Tog bied die mate van keusevryheid wat ’n kind moet kry ’n uitdaging vir ouers. Hoewel dit waar is dat kinders regte keuses kan maak en by ’n mate van onafhanklikheid baat vind, is dit eweneens waar dat hulle verkeerde keuses kan maak, wat tragiese gevolge kan hê.—2 Konings 2:23-25; Efesiërs 6:1-3.

Kinders sal byvoorbeeld dikwels gemorskos bo voedsame kos verkies. Waarom? Omdat hulle nie verstandige besluite op hulle eie kan maak terwyl hulle nog jonk is nie. Sou dit verstandig van ouers wees om hulle kinders eenvoudig vrye teuels in dié saak te gee en te hoop dat hulle uiteindelik voedsame kos sal kies? Nee. Ouers moet eerder keuses vir hulle kinders maak met hulle toekomstige welsyn in gedagte.

Om dié rede maak ouers tereg keuses vir hulle kinders wat voedsel, klere, persoonsversorging en sedelikheid betref. Maar wat van godsdiens? Moet ouers ook hierdie keuse maak?

Die keuse

Party sal redeneer dat ouers nie hulle godsdiensoortuiging op hulle kinders moet afdwing nie. Trouens, meer as 160 jaar gelede het sommige wat Christelike opvattings bely het die idee bevorder dat “kinders nie godsdiens geleer moet word nie uit vrees dat dit hulle verstand bevooroordeeld ten opsigte van ’n bepaalde geloofsbelydenis sal maak, maar om hulle te laat begaan totdat hulle in staat is om ’n keuse te maak, en kies om een te maak”.

Maar hierdie idee strook nie met die Bybelse beskouing nie. Die Bybel beklemtoon die belangrikheid daarvan om godsdiensopvattings van geboorte af by kinders in te skerp. Spreuke 22:6 sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”

Die Hebreeuse woord wat met “seun” vertaal word, sluit die periode van kindsbeen tot adolessensie in. Dr. Joseph M. Hunt, van die Universiteit van Illinois, VSA, het die volgende oor die belangrikheid van vroeë opleiding gesê: “Dit is gedurende die eerste vier of vyf jaar van ’n kind se lewe dat sy ontwikkeling die vinnigste is en die meeste aan verandering blootgestel word. . . . Omtrent 20 persent van [sy] basiese vermoëns word voor sy eerste verjaarsdag ontwikkel en omtrent die helfte daarvan voor hy vier is.” Dit beklemtoon bloot die Bybel se geïnspireerde raad dat dit noodsaaklik vir ouers is om vroeg in ’n kind se lewe wyse leiding te gee deur hom in God se weë op te lei.—Deuteronomium 11:18-21.

Dit is opmerklik dat die Skrif godvresende ouers die opdrag gee om ’n liefde vir Jehovah by hulle kinders in te boesem. Deuteronomium 6:5-7 sê: “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Ons kursiveer.) Die Hebreeuse werkwoord wat met “inskerp” vertaal word, bevat die gedagte van ’n stuk gereedskap wat geslyp word, soos op ’n slypsteen. Dit kan nie met net ’n paar slypbewegings verrig word nie, maar moet vlytig, oor en oor, gedoen word. The New English Bible vertaal die Hebreeuse werkwoord as “herhaal”. “Inskerp” impliseer klaarblyklik dat ’n blywende indruk gelaat moet word.—Vergelyk Spreuke 27:17.

Ouers wat ware Christene is, behoort derhalwe hulle verpligting om hulle godsdiensoortuiging by hulle kinders in te skerp ernstig op te neem. Hulle kan nie met reg afstand doen van hierdie verantwoordelikheid deur hulle kinders toe te laat om vir hulleself te kies nie. Dit sal insluit dat hulle hulle “kinders” na vergaderinge neem. Daar kan die ouers langs hulle sit en hulle help om die geestelike voordele te waardeer wat ’n verenigde gesin daaruit kan put as hulle aan skriftuurlike besprekings aandag skenk en daaraan deelneem.—Deuteronomium 31:12, 13; Jesaja 48:17-19; 2 Timoteus 1:5; 3:15.

Die ouers se verantwoordelikheid

As ’n mens bloot vir ’n kind sê om iets te eet omdat dit voedsaam is, beteken dit nie dat die kind dit sal geniet nie. ’n Verstandige moeder weet dus hoe om hierdie noodsaaklike kossoorte so smaaklik moontlik te maak sodat die kind daarvan sal hou. En sy berei natuurlik die kos op so ’n manier voor dat die kind dit maklik kan verteer.

Net so sal ’n kind dalk aanvanklik nie van godsdiensonderrig hou nie, en ’n ouer vind moontlik dat dit nie help om oor die saak te probeer redeneer nie. Maar die Bybel se riglyne is duidelik—ouers moet hulle bes doen om hulle kinders van kleintyd af op te lei. Verstandige ouers gebruik dus ’n metode van godsdiensonderrig wat die kind aangenaam en interessant sal vind, en hulle hou rekening met sy begripsvermoë.

Liefdevolle ouers is terdeë bewus van die verpligting om hulle kinders van lewensbenodigdhede te voorsien, en in die meeste gevalle ken niemand ’n kind se behoeftes beter as die ouers nie. In ooreenstemming hiermee plaas die Bybel die verpligting om fisies sowel as geestelik te voorsien hoofsaaklik op die ouers—veral die vader (Efesiërs 6:4). Ouers moet dus nie hulle verantwoordelikheid versuim deur die verpligting op iemand anders te probeer afskuif nie. Hoewel hulle moontlik gebruik sal maak van hulp wat aangebied word, sal dit die godsdiensopvoeding van die ouers af aanvul, nie vervang nie.—1 Timoteus 5:8.

Elke individu besluit op die een of ander stadium in sy lewe volgens watter godsdiensoortuiging, indien enige, hy wil lewe. As Christenouers persoonlik die verantwoordelikheid aanvaar om vir hulle kinders van kleins af godsdiensonderrig te gee en as hulle hierdie tyd gebruik om hulle te leer om op grond van gesonde beginsels te redeneer, sal die keuse wat die kinders later in die lewe maak heel waarskynlik die regte wees.—2 Kronieke 34:1, 2; Spreuke 2:1-9.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel