Die Bybelse beskouing
Kan ’n huwelik ná ontrouheid gered word?
“Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou egbreuk pleeg.”—MATTEUS 19:9.
MET hierdie woorde het Jesus Christus voorsiening gemaak vir ’n Christen om te besluit om van ’n ontroue maat te skei.a Maar gestel die onskuldige maat verkies om nie die huwelik te ontbind nie en die egpaar neem hulle voor om hulle verhouding te herbou; wat dan? Watter uitdagings lê vir die egpaar voor, en hoe kan hulle daardie uitdagings met welslae die hoof bied? Kom ons kyk hoe die Bybel ons help om hierdie vrae te beantwoord.
’n Gesloopte huis
Ons moet eers die omvang van die skade begryp wat deur ontrouheid veroorsaak word. Soos Jesus Christus verduidelik het, was dit die Insteller van die huwelik se voorneme dat ’n man en vrou ‘nie meer twee nie, maar een vlees’ moet wees. Hy het voorts gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” Ja, die huwelik is ontwerp om mense onafskeidelik te bind. Wanneer iemand die huweliksgelofte verbreek deur egbreuk te pleeg, is die gevolge baie pynlik.—Matteus 19:6; Galasiërs 6:7.
Die smart wat die onskuldige maat deurmaak, getuig hiervan. Die gevolge van egbreuk kan met dié van ’n orkaan vergelyk word wat huise vernietig. Dr. Shirley P. Glass het gesê: “Verskeie pasiënte met wie ek gewerk het, het vir my gesê dat dit vir hulle makliker sou gewees het as hulle huweliksmaat gesterf het.” Diegene wat hulle huweliksmaat aan die dood afgestaan het, sal weliswaar nie saamstem nie. Maar dit is duidelik dat egbreuk ondraaglike pyn veroorsaak. Party mense kom nooit werklik oor troubreuk nie.
Met die oog op hierdie smart vra iemand dalk: ‘Moet egbreuk ’n huwelik beëindig?’ Nie noodwendig nie. Jesus se woorde aangaande egbreuk toon dat die getroue maat die skriftuurlike keuse het om te skei, maar dat hy nie verplig is om dit te doen nie. Party egpare besluit om dit wat verpletter is, op te bou en te versterk, deur nodige veranderinge aan te bring—hoewel niks egbreuk natuurlik verskoon nie.
Dit is natuurlik beter om die nodige veranderinge in ’n huweliksverhouding aan te bring wanneer albei maats aan mekaar getrou is. Maar selfs wanneer een ontrou was, verkies party onskuldige maats om nie die huwelik te ontbind nie. Die onskuldige maat moet nie sommer goedgelowig so ’n besluit neem nie, maar moet eerder die gevolge oorweeg. Sy sal waarskynlik sowel haar as haar kinders se geestelike, emosionele, fisiese en finansiële behoeftes oorweeg.b Dit sal ook verstandig van haar wees om te oorweeg of haar huwelik gered kan word.
Kan die huwelik gered word?
Voordat ’n bouer ’n huis probeer herbou wat deur ’n orkaan vernietig is, moet hy vasstel of dit herstel kan word. Op dieselfde manier moet ’n egpaar—veral die getroue maat—die moontlikheid om die intimiteit en vertroue in die huwelik te herstel realisties oorweeg voordat hulle ’n verhouding kan probeer herbou.
Een faktor wat oorweeg moet word, is of die skuldige maat opregte berou toon en of hy, pleks daarvan, nog steeds besig is om egbreuk “in sy hart” te pleeg (Matteus 5:27, 28). Is hy, hoewel hy belowe om te verander, huiwerig om sy onsedelike verhouding sonder meer te beëindig? (Exodus 20:14; Levitikus 20:10; Deuteronomium 5:18). Het hy steeds dwalende oë? Blameer hy sy vrou vir die feit dat hy egbreuk gepleeg het? As dit die geval is, sal pogings om vertroue in die huwelik te herstel waarskynlik nie slaag nie. Aan die ander kant, as hy sy ongeoorloofde verhouding beëindig, verantwoordelikheid vir sy oortreding aanvaar en toon dat hy hom geheel en al daartoe verbind het om sy huwelik te herbou, sien sy vrou dalk ’n grondslag vir hoop dat ware vertroue wel eendag herstel sal kan word.—Matteus 5:29.
Kan die getroue maat dit daarbenewens regkry om te vergewe? Dit beteken nie dat sy nie haar diep seergemaakte gevoelens oor wat gebeur het, moet lug nie, of dat sy moet maak asof niks verander het nie. Dit beteken wel dat sy sal probeer om, mettertyd, nie meer diep gegrief te wees nie. Sulke vergifnis het tyd nodig, maar dit kan help om ’n vaste grondslag te lê waarop die huwelik herbou kan word.
Verwyder die “puin”
Watter stappe kan ’n egpaar volgende doen as die getroue maat besluit het om hulle huwelik te red? Net soos die puin verwyder moet word rondom ’n huis wat ernstig deur ’n orkaan beskadig is, moet die “puin” wat die huwelik omring, verwyder word. Dit kan in ’n mate gedoen word as die egpaar hulle gevoelens teenoor mekaar uitspreek. Spreuke 15:22 (NW) sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprek is nie.” Die Hebreeuse woord wat met “vertroulike gesprek” vertaal word, impliseer intimiteit en word in Psalm 89:7 (NW) met “intieme groep” weergegee. Dit sal gevolglik nie net ’n oppervlakkige gesprek behels nie, maar eerlike en innige kommunikasie waarin albei partye hulle diepste gevoelens openbaar.—Spreuke 13:10, NW.
In sommige gevalle kan die getroue maat byvoorbeeld nog vrae aan haar man wil stel. Hoe het die verhouding begin? Hoe lank het dit geduur? Wie anders weet daarvan? Dit sal weliswaar vir die egpaar pynlik wees om hierdie besonderhede te bespreek. Maar sulke kennis is dalk vir die getroue maat noodsaaklik om vertroue te herstel. As dit die geval is, sal dit die beste wees as die ontroue maat eerlik en taktvol antwoord. Hy moet die saak op ’n liefdevolle en saggeaarde manier verduidelik en in gedagte hou dat die doel van die gesprek is om te genees, nie om seer te maak nie (Spreuke 12:18; Efesiërs 4:25, 26). Albei sal oordeelkundigheid en selfbeheersing aan die dag moet lê en met empatie moet luister terwyl hulle hulle gevoelens uitspreek oor wat gebeur het.c—Spreuke 18:13; 1 Korintiërs 9:25; 2 Petrus 1:6.
Diegene wat Jehovah se Getuies is, wil dalk die hulp van die gemeentelike ouer manne inroep. Ernstige sondes soos egbreuk moet, in die geval van Christene, natuurlik onmiddellik bely word teenoor die ouer manne, wat oor die geestelike welsyn van die egpaar en die gemeente besorg is. Die egbreker het moontlik opregte berou getoon toe dit met die ouer manne bespreek is en is gevolglik toegelaat om in die gemeente te bly. In so ’n geval kan die ouer manne voortgesette hulp aan albei maats verleen.—Jakobus 5:14, 15.
Herbouing
Nadat die egpaar hulle gevoelens sover moontlik onder beheer gekry het, is hulle in ’n goeie posisie om noodsaaklike aspekte van hulle huwelik te herbou. Openhartige kommunikasie is steeds nodig. Waar hulle swakhede ontdek, moet daar gepaste veranderinge aangebring word.
Dit sal veral vir die skuldige maat nodig wees om veranderinge aan te bring. Maar die getroue maat moet haar deel doen om swak plekke in die huwelik te versterk. Dit beteken nie dat die egbreuk haar skuld was of dat dit verskoon kan word nie—daar is geen geldige verskoning om so ’n sonde te pleeg nie. (Vergelyk Genesis 3:12; 1 Johannes 5:3.) Dit beteken bloot dat daar dalk probleme in die huwelik was wat opgelos moes word. Herbouing is ’n gesamentlike projek. Is dit nodig dat gemeenskaplike waardes en doelwitte versterk moet word? Is geestelike bedrywighede afgeskeep? Hierdie proses waarin hulle ernstige swak plekke ontdek en die nodige veranderinge aanbring, is noodsaaklik vir die herbouing van ’n huwelik wat ernstig beskadig is.
Instandhouding
Selfs ’n goed geboude huis verg gereelde instandhouding. Hoe belangrik is dit dan tog om ’n herboude verhouding in stand te hou. Die egpaar moet nie toelaat dat die verloop van tyd hulle vasbeslotenheid om by hulle nuwe voornemens te bly, laat wankel nie. Pleks van mismoedig te raak as hulle klein terugslae ondervind, soos om weer in swak kommunikasiegewoontes te verval, moet hulle onmiddellik stappe doen om weer op dreef te kom en vooruitgang bly maak.—Spreuke 24:16; Galasiërs 6:9.
Bowenal moet die man en vrou se geestelike roetine die grootste voorkeur geniet en moet hulle nooit toelaat dat dít, of hulle huwelik, deur enige ander bedrywigheid oorskadu word nie. Psalm 127:1 sê: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.” Jesus het ook gewaarsku: “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en hulle nie doen nie, [sal] vergelyk word met ’n dwase man, wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en daardie huis getref en dit het ingestort, en sy instorting was groot.”—Matteus 7:24-27.
Ja, as Bybelbeginsels geïgnoreer word omdat dit moeilik is om toe te pas, sal die huwelik kwesbaar bly in die volgende stormagtige toets van getrouheid. Maar as die man en die vrou by Bybelstandaarde bly, sal God hulle huwelik seën. Hulle sal ook die kragtigste aansporing tot huwelikstrou hê—die begeerte om die Insteller van die huwelik, Jehovah God, te behaag.—Matteus 22:36-40; Prediker 4:12.
[Voetnote]
a Daar is geldige redes waarom iemand dalk besluit om van ’n owerspelige maat te skei. Sien “Die Bybelse beskouing: Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1995, vir ’n deeglike bespreking hiervan.
b Ons verwys na die ontroue maat as ’n man. Volgens een meningsopname is twee keer soveel mans as vrouens ontrou. Die beginsels wat bespreek word, is egter net soveel van toepassing as die Christenman die onskuldige huweliksmaat is.
c Sien die Ontwaak! van 22 Januarie 1994, bladsye 6-9, en 8 Desember 1994, bladsye 10-13, vir inligting oor hoe om goed te luister.