Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/8 bl. 5-12
  • Is daar enige grondslag vir evolusie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is daar enige grondslag vir evolusie?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onvereenvoudigbare kompleksiteit—Evolusie se struikelblok?
  • Die onvereenvoudigbare kompleksiteit van bloedstolling
  • “’n Onheilspellende en algehele stilte”
  • Die probleme met betrekking tot die begin van lewe
  • Waarom glo die meerderheid daaraan?
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Is enige lewensvorm werklik eenvoudig?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Twee vrae om oor na te dink
    Ontwaak!—2015
  • Hoe het lewe begin?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/8 bl. 5-12

Is daar enige grondslag vir evolusie?

WAT is die kern van Darwin se evolusieteorie? “In die volle, biologiese sin daarvan . . . beteken evolusie ’n proses waardeur lewe uit nielewende materie ontstaan het en daarna geheel en al vanself ontwikkel het.” Darwinistiese evolusie veronderstel dat “feitlik alle lewe, of ten minste al die interessantste kenmerke daarvan, die gevolg is van natuurlike teeltkeuse wat volgens willekeurige afwyking werk”.—Darwin’s Black Box—The Biochemical Challenge to Evolution,a deur Michael Behe, adjunk-professor in biochemie aan die Lehigh-universiteit, Pennsilvanië, VSA.

Onvereenvoudigbare kompleksiteit—Evolusie se struikelblok?

Toe Darwin sy teorie ontwikkel het, het wetenskaplikes min of geen kennis van die verbasende kompleksiteit van die lewende sel gehad. Moderne biochemie, die studie van lewe op die molekulêre vlak, het van daardie ingewikkeldheid onthul. Dit het ook ernstige vrae en twyfelgedagtes oor Darwin se teorie geopper.

Selle se komponente bestaan uit molekules. Selle is die boustene van alle lewende wesens. Professor Behe is Rooms-Katoliek en glo aan evolusie as ’n verduideliking vir die latere ontwikkeling van diere. Maar of evolusie die bestaan van die sel kan verklaar, is iets waaroor hy ernstige bedenkinge opper. Hy praat van molekulêre masjiene wat “’n vrag van een plek in die sel na ’n ander vervoer langs ‘hoofweë’ wat uit ander molekules bestaan . . . Selle swem met behulp van masjiene, dupliseer hulleself met behulp van masjinerie, neem voedsel op met behulp van masjinerie. Kortom, elke sellulêre proses word deur hoogs gesofistikeerde molekulêre masjiene beheer. Die besonderhede van die lewe is dus baie fyn gekalibreer en die masjinerie van die lewe ontsaglik ingewikkeld.”

En op watter skaal vind al hierdie bedrywighede nou eintlik plaas? ’n Tipiese sel is slegs 0,03 millimeter in deursnee! In daardie oneindig klein spasie vind ingewikkelde funksies plaas wat onontbeerlik is vir lewe. (Sien diagram, bladsye 8-9.) Geen wonder nie dat daar al gesê is: “Die kern van die saak is dat die sel—die grondslag vir lewe—ongelooflik kompleks is.”

Behe redeneer dat die sel slegs as ’n volmaakte eenheid kan werk. Daarom kan dit nie lewensvatbaar wees terwyl dit gevorm word deur stadige, geleidelike veranderinge wat deur evolusie veroorsaak word nie. Hy gebruik die voorbeeld van ’n muisval. Hierdie eenvoudige toestel kan slegs werk wanneer al sy komponente inmekaargesit is. Elke komponent op sigself—platform, veer, arm, vanghamer, haak—is nie ’n muisval nie en kan nie die werk van ’n muisval doen nie. Al die dele is tegelykertyd nodig en moet inmekaargesit wees voordat daar ’n werkende val is. Net so kan ’n sel slegs as ’n sel werk wanneer al die komponente inmekaargesit is. Hy gebruik hierdie illustrasie om wat hy “onvereenvoudigbare kompleksiteit” noem te verduidelik.b

Dit lewer ’n groot probleem op vir die beweerde evolusieproses, wat die verskyning van geleidelik verwerfde, nuttige eienskappe behels. Darwin het geweet dat sy teorie van geleidelike evolusie deur middel van natuurlike teeltkeuse voor ’n groot uitdaging te staan sou kom toe hy gesê het: “As daar bewys kan word dat enige komplekse orgaan bestaan, wat hoegenaamd nie deur middel van talle, opeenvolgende, klein veranderings gevorm kon gewees het nie, sal my teorie heeltemal in duie stort.”—Origin of Species.

Die onvereenvoudigbare komplekse sel is ’n groot struikelblok vir geloof in Darwin se teorie. Evolusie kan eerstens nie die sprong van lewelose na lewende materie verduidelik nie. Dan is daar die probleem van die eerste komplekse sel, wat met een slag as ’n afgeronde eenheid moet ontstaan. Met ander woorde, die sel (of die muisval) moet uit die niet verskyn, inmekaargesit en werkend!

Die onvereenvoudigbare kompleksiteit van bloedstolling

’n Ander voorbeeld van onvereenvoudigbare kompleksiteit is ’n proses wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar wanneer ons ons raaksny—bloedstolling. Gewoonlik sal enige vloeistof in ’n houer met ’n gaatjie onmiddellik uitlek totdat die houer leeg is. Maar wanneer ons ons vel stukkend steek of sny, word die lek gou verseël deurdat daar ’n klont vorm. Soos die dokters egter weet, “is bloedstolling ’n baie komplekse, fyn saamgestelde stelsel wat uit ’n duisternis onderling afhanklike proteïendeeltjies bestaan”. Dit sit ’n proses aan die gang wat ’n stollingwaterval genoem word. “Die tyd van die verskillende reaksies en die spoed waarteen dit plaasvind, is kritiek” vir hierdie delikate genesingsproses. Anders kan dit gebeur dat al jou bloed stol, of aan die ander kant, dat jy jou doodbloei. Tydsberekening en spoed is die lewensbelangrike sleutels.

Biochemiese navorsing het getoon dat daar talle faktore by bloedstolling betrokke is, waarvan almal teenwoordig moet wees vir die proses om suksesvol te verloop. Behe vra: “Wanneer die bloed begin stol, wat verhinder dat die proses nie aanhou totdat al die bloed . . . gestol het nie?” Hy verduidelik dat “die vorming, beperking, versterking en verwydering van ’n bloedklont” ’n ineengeskakelde biologiese stelsel uitmaak. As enige deel faal, faal die hele stelsel.

Russell Doolittle, ’n evolusionis en professor in biochemie aan die Universiteit van Kalifornië, vra: “Hoe op aarde het hierdie ingewikkelde en fyn gebalanseerde proses geëvolueer? . . . Die paradoks was: As elke proteïen deur ’n ander geaktiveer moes word, hoe kon die stelsel ooit ontstaan het? Van watter nut sou enige deel van die stelsel wees sonder die geheel?” Doolittle gebruik evolusionistiese argumente om die oorsprong van die proses te probeer verduidelik. Maar professor Behe wys daarop dat daar ’n “ontsaglike hoeveelheid geluk nodig [sal wees] om die regte geendele op die regte plekke te kry”. Hy toon dat Doolittle se verduideliking en eenvoudige taalgebruik yslike probleme verberg.

Een van die groot besware teen die evolusionistiese model is dus die onoorkomelike hindernis van onvereenvoudigbare kompleksiteit. Behe sê: “Ek beklemtoon dat natuurlike teeltkeuse, die instrument van Darwinistiese evolusie, slegs werk as daar iets is om te kies—iets wat nóú nuttig is, nie in die toekoms nie.”

“’n Onheilspellende en algehele stilte”

Professor Behe sê dat sommige wetenskaplikes ’n studie gemaak het van “wiskundige modelle van evolusie of nuwe wiskundige metodes om volgordedata te vergelyk en te vertolk”. Hy kom egter tot dié gevolgtrekking: “Die wiskunde neem aan dat werklike evolusie ’n geleidelike, willekeurige proses is; dit bewys dit nie (en kan dit ook nie bewys nie).” (Ons kursiveer laaste frase.) Hy het vroeër gesê: “As jy die wetenskaplike lektuur oor evolusie ondersoek, en jou soektog toespits op die vraag oor hoe molekulêre masjiene—die grondslag vir lewe—ontwikkel het, is daar ’n onheilspellende en algehele stilte. Die grondslag van lewe is so kompleks dat dit die wetenskap se poging om dit te verklaar, lamgelê het; molekulêre masjiene opper ’n hindernis wat tot nou toe nog verhinder het dat Darwinisme algemeen aanvaar word.”

Dit opper ’n reeks vrae wat nougesette wetenskaplikes in ag moet neem: “Hoe het fotosintetiese reaksiesentrums ontwikkel? Hoe het intermolekulêre vervoer begin? Hoe het die biosintese van cholesterol begin? Hoe het retineen by die gesigsvermoë betrokke geraak? Hoe het fosfoproteïen-seinweë ontwikkel?”c Behe sê voorts: “Die blote feit dat nie een van hierdie probleme eers aangespreek word nie, wat nog te sê opgelos word, is ’n baie sterk aanduiding dat Darwinisme ’n onvoldoende raamwerk is om die oorsprong van komplekse biochemiese stelsels te verstaan.”

As Darwin se teorie nie die ingewikkelde molekulêre grondslag van selle kan verduidelik nie, hoe kan dit dan ’n bevredigende verduideliking wees vir die bestaan van die miljoene spesies wat hierdie aarde bewoon? Evolusie kan per slot van rekening nie eens nuwe soorte voortbring deur die gapings tussen een soort en ’n ander te oorbrug nie.—Genesis 1:11, 21, 24.

Die probleme met betrekking tot die begin van lewe

Ongeag hoe geloofwaardig Darwin se evolusieteorie dalk in die oë van sommige wetenskaplikes lyk, op die lange duur moet hulle hierdie vraag beantwoord: Selfs al neem ons aan dat vorme van lewende dinge deur middel van natuurlike teeltkeuse geëvolueer het, hoe het lewe begin? Met ander woorde, die probleem lê nie in die oorlewing van die geskikste nie, maar in die aankoms van die geskikste en die eerste! Maar soos Darwin se opmerkings oor die evolusie van die oog toon, was hy nie besorg oor die probleem van hoe lewe begin het nie. Hy het geskryf: “Hoe ’n senuwee sensitief geraak het vir lig is vir ons van net so min belang as hoe lewe self ontstaan het.”

Die Franse wetenskapskrywer Philippe Chambon het geskryf: “Darwin het self gewonder hoe die natuur ontwikkelende vorme gekies het voordat hulle in volle werking was. Die lys evolusionistiese geheime is eindeloos. En hedendaagse bioloë moet nederig erken, saam met prof. Jean Génermont van die Universiteit van Suid-Parys in Orsay, dat ‘die sintetiese evolusieteorie nie maklik die oorsprong van komplekse organe kan verklaar nie’.”

Is dit vir jou, in die lig van die ontsaglike kanse teen so ’n eindelose verskeidenheid en kompleksiteit van lewensvorme, moeilik om te glo dat dit alles per toeval in die regte rigting geëvolueer het? Wonder jy hoe enige wesens in die stryd van die geskikstes kon oorleef het terwyl hulle oë nog besig was om te evolueer? Of terwyl hulle kwansuis besig was om primitiewe vingers aan ’n amper menslike liggaam te ontwikkel? Wonder jy hoe selle oorleef het as hulle in ’n onvoltooide en onvoldoende toestand bestaan het?

Robert Naeye, ’n skrywer vir die tydskrif Astronomy en ’n evolusionis, het geskryf dat lewe op aarde die gevolg is van “’n lang reeks onwaarskynlike gebeure [wat] op net die regte manier plaasgevind het om ons bestaan teweeg te bring, asof ons ’n miljoendollar-lotery ’n miljoen keer in ’n ry gewen het”. Hierdie redenasie kan waarskynlik toegepas word op elke enkele wese wat vandag bestaan. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die evolusieteorie waar is. Tog word daar van ons verwag om te glo dat evolusie ook per ongeluk ’n mannetjie en ’n wyfie gelyktydig voortgebring het sodat die nuwe spesie kan voortbestaan. Om dit nog onwaarskynliker te maak, moet ons ook glo dat die mannetjie en die wyfie nie net op dieselfde tyd geëvolueer het nie, maar ook op dieselfde plek! Geen ontmoeting, geen voortplanting!

Dit neem liggelowigheid beslis tot sy uiterste toe om te glo dat die lewe in sy miljoene vervolmaakte vorme bestaan as gevolg van miljoene waagkanse wat suksesvol was.

Waarom glo die meerderheid daaraan?

Waarom is evolusie so gewild en glo so baie mense dat dit die enigste verduideliking vir lewe op aarde is? Een rede is dat dit die ortodokse beskouing is wat in skole en universiteite geleer word, en die hemel bewaar jou as jy dit waag om enige twyfel daaroor uit te spreek. Behe sê: “Baie studente leer uit hulle studieboeke hoe om die wêreld uit ’n evolusionistiese oogpunt te beskou. Hulle leer egter nie hoe Darwinistiese evolusie enige van die merkwaardig ingewikkelde biochemiese stelsels kon voortgebring het wat in daardie boeke beskryf word nie.” Hy voeg by: “Om die sukses van Darwinisme as ortodoksie sowel as die mislukking daarvan as wetenskap op die molekulêre vlak te verstaan, moet ons die studieboeke ondersoek wat gebruik word om voornemende wetenskaplikes te leer.”

“As ’n meningsopname onder al die wetenskaplikes in die wêreld gedoen moes word, sal die oorgrote meerderheid sê hulle glo dat Darwinisme waar is. Maar soos die res van ons baseer wetenskaplikes die meeste van hulle opvattings op wat ander mense sê. . . . Ongelukkig is kritiek ook al deur die wetenskaplike gemeenskap verwerp uit vrees dat aanhangers van die skeppingsleer dit teen hulle sal gebruik. Dit is ironies dat skerp wetenskaplike kritiek op natuurlike teeltkeuse geïgnoreer is onder die voorwendsel dat die wetenskap beskerm word.”d

Watter redelike en betroubare alternatief is daar vir Darwin se evolusieteorie? Die laaste artikel in hierdie reeks sal hierdie vraag bespreek.

[Voetnote]

a Daar word voortaan na hierdie boek verwys as Darwin’s Black Box.

b “Onvereenvoudigbare kompleksiteit” beskryf “’n enkele stelsel wat bestaan uit verskeie dele wat goed bymekaar pas, op mekaar reageer en tot die basiese funksie bydra, waarin die verwydering van enigeen van die dele veroorsaak dat die stelsel vir praktiese doeleindes ophou werk” (Darwin’s Black Box). Dit is dus die eenvoudigste vlak waarop ’n stelsel kan werk.

c Fotosintese is die proses waardeur plantselle, met behulp van lig en chlorofil, koolhidrate uit koolstofdioksied en water maak. Sommige mense noem dit die belangrikste chemiese reaksie wat in die natuur plaasvind. Biosintese is die proses waardeur lewende selle ingewikkelde chemiese stowwe vervaardig. Retineen is betrokke by die ingewikkelde gesigstelsel. Fosfoproteïen-seinweë is onontbeerlike funksies van die sel.

d Die skeppingsleer behels die opvatting dat die aarde in ses letterlike dae geskep is of, in sommige gevalle, dat die aarde slegs ongeveer tienduisend jaar gelede gemaak is. Hoewel Jehovah se Getuies aan die skepping glo, is hulle nie aanhangers van die skeppingsleer nie. Hulle glo dat die Genesis-verslag in die Bybel wel die moontlikheid insluit dat die aarde miljoene jare oud kan wees.

[Lokteks op bladsy 6]

“As daar bewys kan word dat enige komplekse orgaan bestaan, wat hoegenaamd nie deur middel van talle, opeenvolgende, klein veranderings gevorm kon gewees het nie, sal my teorie heeltemal in duie stort.”

[Lokteks op bladsy 10]

Binne-in die sel is daar “’n wêreld van die gevorderdste tegnologie en verbysterende kompleksiteit”.—Evolution: A Theory in Crisis

Die instruksies in die DNS van die sel “sal duisend boeke met 600 bladsye elk vul as dit uitgeskryf sou word”.—National Geographic

[Lokteks op bladsy 11]

“Die wiskunde neem aan dat werklike evolusie ’n geleidelike, willekeurige proses is; dit bewys dit nie (en kan dit ook nie bewys nie).”

[Lokteks op bladsy 12]

“Dit is ironies dat skerp wetenskaplike kritiek op natuurlike teeltkeuse geïgnoreer is onder die voorwendsel dat die wetenskap beskerm word.”

[Venster op bladsy 8]

Die molekule en die sel

Biochemie—“die studie van die grondslag van lewe: die molekules waaruit selle en weefsel bestaan, wat die chemiese reaksies van spysvertering, fotosintese, immuniteit, ensovoorts kataliseer”.—Darwin’s Black Box.

Molekule—“die kleinste deeltjie waarin ’n element of ’n verbinding verdeel kan word sonder om die chemiese en fisiese eienskappe daarvan te verander; ’n groep van eenderse of verskillende atome wat deur chemiese kragte bymekaargehou word”.—The American Heritage Dictionary of the English Language.

Sel—die grondeenheid van alle lewende organismes. “Elke sel is ’n hoogs georganiseerde struktuur wat verantwoordelik is vir die vorm en werking van ’n organisme.” Uit hoeveel selle bestaan ’n volwasse mens? Eenhonderdbiljoen (100 000 000 000 000)! Ons het ongeveer 155-000 selle in elke vierkante sentimeter vel, en die mensebrein het ongeveer 10 miljard tot 100 miljard neurone. “Die sel is die sleutel tot biologie omdat dit op hierdie vlak is wat ’n versameling water, soute, makromolekules en membrane waarlik begin lewe.”—Biology.

[Venster op bladsy 9]

Die “ongeëwenaarde kompleksiteit” van die sel

“Om die werklikheid van die lewe te verstaan soos dit deur molekulêre biologie onthul is, moet ons ’n sel ’n miljard keer vergroot totdat dit twintig kilometer in deursnee is en soos ’n reuselugskip lyk wat groot genoeg is om ’n groot stad soos Londen of New York te bedek. Wat ons dan sal sien, sal ’n voorwerp van ongeëwenaarde kompleksiteit en aanpassende ontwerp wees. Op die oppervlak van die sel sal ons miljoene openinge sien, soos die kajuitvensters van ’n ontsaglike ruimteskip, wat oop- en toemaak om ’n voortdurende stroom materiale in en uit te laat vloei. As ons by een van hierdie openinge sou ingaan, sal ons ons in ’n wêreld van die gevorderdste tegnologie en verbysterende kompleksiteit bevind. Ons sal tallose hoogs georganiseerde gange en pypleidings sien wat in alle rigtings weg van die buiterand van die sel af vertak, waarvan sommige na die sentrale geheuebank in die kern lei en ander na monteeraanlegte en verwerkingseenhede. Die kern self sal ’n ontsaglike bolvormige struktuur wees van meer as ’n kilometer in deursnee, wat soos ’n koepelwoning lyk waarin ons die myle opgerolde kettings van die DNS-molekules sal sien, almal netjies bymekaargestapel in ordelike rye. ’n Groot verskeidenheid produkte en rou materiale sal op ’n hoogs georganiseerde wyse met die baie pypleidings langs van en na al die verskillende monteeraanlegte in die buitewyke van die sel beweeg.

“Ons sal ons verwonder oor die kontrole wat betrokke is by die beweging van so baie voorwerpe langs soveel skynbaar eindelose pypleidings, almal in volmaakte eenheid. Ons sal oral om ons, waar ons ook al kyk, allerhande robotagtige masjiene sien. Ons sal sien dat die eenvoudigste werkende komponente van die sel, die proteïenmolekules, verbasend ingewikkelde molekulêre masjiene is, wat elk uit ongeveer drieduisend atome bestaan wat in hoogs georganiseerde driedimensionele ruimtelike strukture gerangskik is. Ons sal ons selfs meer verwonder terwyl ons die vreemd doelgerigte bedrywighede van hierdie eienaardige molekulêre masjiene dophou, veral wanneer ons besef dat, ten spyte van ons opgegaarde kennis van fisika en chemie, die werk om een so ’n molekulêre masjien te ontwerp—dit wil sê een enkele werkende proteïenmolekule—heeltemal buite ons huidige vermoë sou wees en waarskynlik nie tot ten minste die begin van die volgende eeu verwesenlik sal word nie. Tog is die lewe van die sel afhanklik van die geïntegreerde bedrywighede van duisende, beslis tienduisende, en heel moontlik honderdduisende verskillende proteïenmolekules.”—Evolution: A Theory in Crisis.

[Venster op bladsy 10]

Feite en mites

“Vir iemand wat nie verplig voel om sy soeke tot onintelligente oorsake te beperk nie, is dit maklik om tot die eenvoudige gevolgtrekking te kom dat talle biochemiese stelsels ontwerp is. Hulle is nie deur die natuurwette ontwerp nie, nie deur toeval en behoefte nie; hulle is eerder beplan. . . . Lewe op aarde op sy eenvoudigste vlak, in sy belangrikste komponente, is die produk van intelligente werk.”—Darwin’s Black Box.

“Daar kan geen twyfel bestaan dat bioloë ná ’n eeu van intensiewe pogings nie daarin kon slaag om [die Darwinistiese evolusieteorie] in enige betekenisvolle sin te staaf nie. Feit is dat die natuur nie verlaag is tot die aaneenlopendheid wat die Darwinistiese teorie vereis nie, en dat die geloofwaardigheid van toeval as die skeppende middel van die lewe ook nog nie bevestig is nie.”—Evolution: A Theory in Crisis.

“Die invloed van die evolusieteorie op gebiede wat niks met biologie te doen het nie, is een van die treffendste voorbeelde in die geskiedenis van hoe ’n hoogs spekulatiewe idee waarvoor daar geen vasstaande wetenskaplike getuienis is nie ’n hele gemeenskap se denke kan vorm en ’n era se opvattings kan oorheers.”—Evolution: A Theory in Crisis.

“Enige wetenskap van die verlede . . . wat vooraf die moontlikheid van ontwerp of skepping uitsluit, is nie meer ’n soektog na die waarheid nie, en word die dienskneg (of slaaf) van ’n twyfelagtige filosofiese dogma, naamlik, naturalisme.”—Origins Research.

“Dit is ’n mite . . . dat Charles Darwin die probleem van die oorsprong van biologiese kompleksiteit opgelos het. Dit is ’n mite dat ons ’n goeie of selfs ’n redelike begrip van die oorsprong van lewe het, of dat behoorlike verduidelikings slegs na so genoemde natuurlike oorsake verwys. Trouens, hierdie en ander mites met betrekking tot filosofiese naturalisme het ’n sekere status. ’n Mens kritiseer hulle nie te skerp in goeie geselskap nie. Maar ’n mens moet hulle ook nie kritiekloos aanvaar nie.”—Origins Research.

“Dit is talle wetenskaplikes se persoonlike beskouing dat die wetenskap nie ’n verduideliking het vir hoe lewe begin het nie. . . . Darwin het nooit besef watter ontsettende kompleksiteit selfs op die eenvoudigste vlakke van die lewe bestaan nie.”—Darwin’s Black Box.

“Molekulêre evolusie is nie op wetenskaplike gesag gegrond nie. . . . Daar is bewerings dat sulke evolusie plaasgevind het, maar nie een van hulle word deur pertinente eksperimente of berekeninge ondersteun nie. Aangesien niemand deur middel van direkte ondervinding kennis van molekulêre evolusie het nie, en aangesien daar geen gesag is waarop bewerings van kennis gegrond kan word nie, kan daar waarlik gesê word dat . . . die bewering van Darwinistiese molekulêre evolusie slegs grootpratery is.”—Darwin’s Black Box.

[Venster op bladsy 12]

Evolusie—“’n Gelukspel”

Die evolusieteorie is beslis ’n dobbelaar se droom. Waarom? Want volgens die evolusionis wen dit selfs wanneer die kanse oneindig klein is.

Robert Naeye skryf: “Omdat evolusie hoofsaaklik ’n gelukspel is, kon enige skynbaar onbeduidende gebeurtenis in die verlede ’n bietjie anders verloop het, wat ons evolusionêre lyn sou knip voordat die mens geëvolueer het.” Maar nee, ons is veronderstel om te glo dat elke dobbelspel suksesvol was, miljoene kere. Naeye erken: “Die lang reeks knelpunte maak dit duidelik dat die verskyning van intelligente lewe baie moeiliker is as wat wetenskaplikes eers gedink het. Daar is waarskynlik nog struikelblokke wat wetenskaplikes nog nie eens teëgekom het nie.”

[Diagram op bladsy 8, 9]

Vereenvoudigde diagram van ’n sel

Ribosome

Strukture waarin proteïene vervaardig word

Sitoplasma

Deel tussen die kern en die selmembraan

Endoplasmiese retikulum

Membraanlae wat sorg vir die berging en vervoer van die proteïene wat gemaak is deur die ribosome wat aan hulle vasgeheg is

Kern

Dit is die beheersentrum wat die sel se funksies rig

Nukleolus

Die plek waar die ribosome gemaak word

Chromosome

Bevat die sel se DNS, die genetiese meesterplan

Vakuool

Berg water, soute, proteïene en koolhidrate

Lisosome

Berg ensieme vir vertering

Golgi-liggaampie

’n Groep membraansakke wat die proteïene wat deur die sel vervaardig is, verpak en versprei

Selmembraan

Die omhulsel wat beheer wat die sel binnegaan en verlaat

Sentriool

Belangrik by selvoortplanting

Mitochondrion

Produksiesentrums vir ATP, die molekules wat energie aan die sel verskaf

[Prent op bladsy 7]

Die afsonderlike dele maak nie ’n muisval nie—dit moet volledig wees om as ’n muisval te werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel