In die ore van ’n klein kindjie
OP ’N dag, toe ek ’n klein dogtertjie was, het ’n man ons by ons huis in Coeburn, Virginië, VSA, besoek, en terwyl hy met my pa gepraat het, het sy vriend met my gesels om my besig te hou. Sy woorde het ’n prentjie van ’n paradysaarde geskilder, waar ek met wilde diere sou kon speel wat my nie sou seermaak nie (Jesaja 11:6-9). Hy het verduidelik dat ek nie eens sou hoef te sterf nie, maar vir ewig reg hier op die aarde kon woon. Die toekoms het wonderlik geklink! Wat die man gesê het oor ’n lewe hier op aarde het ’n diep indruk op my gemaak.—Jesaja 25:8; Openbaring 21:3, 4.
’n Begeerte om God te dien
My ouers, wat baie huweliksprobleme gehad het, is ’n paar jaar later geskei, en ek het by my ma gebly. Sy het glad nie in godsdiens belanggestel nie. Ek het dus alleen Sondagskool toe gegaan by enige kerk wat binne loopafstand van ons huis af was. Ma is gou weer getroud, en ons het saam met my stiefpa Indiana toe verhuis. Maar ek het elke somer teruggegaan Virginië toe om by my pa te kuier.
Kort ná die egskeiding het Pa ’n Mormoon geword, en hy het my sy nuutgevonde godsdiens probeer leer. Gedurende die somer van 1960, toe ek agt jaar oud was, het hy my gedoop. Maar wanneer ek in Indiana was, het ek enige kerk bygewoon wat naby die huis was. Hulle het almal geleer dat ons hemel toe sal gaan as ons goed is en, as ons sleg is, hel toe sal gaan waar ons gepynig sal word. Aangesien ek nie gedink het dat enigiemand sou verstaan dat ek eerder op die aarde as in die hemel wou woon nie, het ek niemand ooit van my gevoelens vertel nie.
Toe ek 11 was, het my pa Oregon toe verhuis. Ek was verpletter en erg gegrief. My stiefpa was ’n ateïs en ’n alkoholis, en hy het my lewe moeilik gemaak as gevolg van my godsdiens. Hy het my Juffrou Heilig genoem, en wanneer ek begin huil het, het hy gesê: “Hoekom vra jy nie jou God om jou te help nie?” Niemand by die huis het blykbaar in God belanggestel nie. Dit was donker, moeilike jare. Ek is mishandel, beledig en seksueel misbruik. Ek het vertroosting gevind deur met God te praat omdat dit baie kere vir my gevoel het dat hy die enigste een is wat vir my omgee.
My ma het my stiefpa verlaat, en die mishandeling het opgehou. Maar ons was baie arm, en dit was moeilik vir my ma om die pot aan die kook te hou. Toe ek 13 was, het ons teruggegaan Virginië toe om by my tante te kuier. Sy was ’n goedhartige, opregte vrou wat aan die Baptistekerk behoort het. Ek was baie lief vir haar. Toe sy my gevra het om saam met haar kerk toe te gaan, het ek ja gesê. My ma het selfs saamgegaan, en ek onthou hoe wonderlik dit gevoel het om my familie saam met my daar te hê. Teen die einde van ons besoek wou ek nie huis toe gaan nie. Ek was bang dat ek by onsedelikheid betrokke sou raak as ek teruggaan. Ek het my tante dus gesmeek om my by haar te laat bly, en my ma het my toegelaat om daar te bly.
My tante het vir my ’n King James-vertaling van die Bybel gekoop. Ek was baie trots daarop en het elke aand ’n gedeelte daaruit gelees. In die laaste hoofstuk van die Bybel het ek gelees: “As enigiemand by hierdie dinge byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg wat in hierdie boek geskryf is” (Openbaring 22:18, 19, King James Version). Daarom het ek geredeneer: ‘Hoe kan ek glo dat Die Boek van Mormon deel van die heilige Geskrifte is?’ Ek het dus besluit om ’n Baptis te word.
Hoewel ek seker is dat my pa gekrenk gevoel het toe ek geskryf en hom van my besluit vertel het, was sy enigste kommentaar dat hy bly was dat ek kerk toe gaan. Ek het dikwels ons Baptistepredikant na die huise van die mense vergesel om hulle na ons opwekkingsdienste in ’n tent te nooi. Ek het gevoel dat ek God se wil doen deur mense by hulle huise te besoek en met hulle te praat soos Jesus gedoen het.
Ek het egter nog steeds die begeerte gehad om eerder in ’n paradys op aarde te lewe as in die hemel. Maar toe lees ek die volgende verse in die Bybel, en dit het my hoop gegee: “Vra, en dit sal vir julle gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word: want elkeen wat vra, ontvang; en hy wat soek, vind en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”—Matteus 7:7, 8, KJ.
Die huwelik en ’n gesin
Die volgende jaar het ek weer Indiana toe getrek om by my ma te woon. Toe ek maar nog net 15 was, was ek getroud, swanger en op ’n bus op pad na Suid-Kalifornië. Ek het nie my man se familie goed geken nie, maar ek wou hê dat hulle my moes aanvaar. Hulle het aan die Pinksterkerk behoort en my man se suster het my vertel van die gawe van talespraak. Toe ek dus een aand saam met hulle na hulle biddiens toe gegaan het, het ek gebid dat ek toegelaat moet word om in tale te praat.
By die diens het ’n snaakse gevoel my skielik oorweldig. Ek het van kop tot tone begin bewe en onbeheerbaar begin brabbel. Die predikant het geskreeu dat ek die gees ontvang, en hy het my op die rug begin klop. Agterna het almal my omhels en my vertel hoe wonderlik dit was dat God my op hierdie manier gebruik het. Maar ek was verward en bang. Ek het glad nie geweet wat ek gesê het nie.
Kort daarna was daar komplikasies gedurende die geboorte van ons eerste kind. Die pastoor van die kerk het vir my man gesê dat God my geboortepyne vermeerder omdat hy nie ’n Christen is nie. My man het met trane in sy oë na my toe gekom en gesê dat hy hom sal laat doop as ek dink dat dit sal help. Ek het vir hom gesê dat ek doodseker is dat God nie mense afpers om hom te dien nie.
Ek verlaat die kerk
Een Sondag het die pastoor, ná sy preek, bydraes van die gemeente gevra. Daar moes herstelwerk aan die kerk gedoen word as gevolg van skade wat kort tevore deur ’n aardbewing veroorsaak is. Toe die kollektebord verbykom, het ek al die geld wat ek gehad het daarin gesit. Nadat die pastoor die geld getel het, het hy, in plaas van die gemeente te bedank, hulle vermaan om hulle sakke en hulle harte oop te maak vir hierdie goeie saak. Toe het hy weer die bord omgestuur. Ek het niks meer geld gehad nie en het dus baie verleë die bord vinnig aangegee. Die pastoor het gou weer die geld getel en het weer, sonder om hulle te bedank, gesê dat dit eenvoudig nie genoeg was nie. “Niemand sal loop totdat ons die geld het om God se werk te doen nie”, het hy gesê.
My man het buite gewag, en ek het geweet dat hy ongeduldig begin raak het. Hy was nie die enigste een nie. Ek het ongeduldig geraak met die pastoor se gebrek aan dankbaarheid. Met my baba in my arms en met trane wat oor my wange stroom, het ek dus voor almal by die kerk uitgeloop. Ek het net daar besluit dat ek nooit weer by ’n kerk betrokke sou raak nie. Hoewel ek opgehou het om kerk toe te gaan, het ek nie opgehou om in God te glo nie. Ek het steeds my Bybel gelees en probeer om ’n goeie vrou vir my man te wees.
Ek leer Bybelwaarheid
Ná die geboorte van ons tweede kind het vriende van ons wat besig was om na Texas te verhuis die eienaar van die huis waarin hulle gewoon het, oorreed om dit aan ons te verhuur. Met haar vertrek het my vriendin Pat gesê dat ’n vrou haar geld skuld en dat sy dit sou bring. Pat het my gevra om dit vir haar per pos Texas toe te stuur. ’n Paar dae later het twee vroue aan die deur geklop. Omdat ek gedink het dat hulle die geld bring, het ek hulle onmiddellik ingenooi. Ek het verduidelik dat Pat verhuis het, maar dat sy vir my gesê het dat hulle sou kom. “Wel, dit was gaaf van Pat”, het Charlene Perrin, een van die vroue, gesê. “Ons het dit regtig geniet om met haar te studeer.”
“Wat?” het ek gevra. “Studeer? Julle maak seker ’n fout.” Charlene het verduidelik dat hulle ’n Bybelstudie met Pat begin het. Nadat Charlene uitgevind het dat Pat verhuis het, het sy my gevra of ek daarvan sal hou om die Bybel te bestudeer. “Sekerlik”, het ek vol selfvertroue geantwoord. “Ek sal julle enigiets leer wat julle wil weet.” Ek was trots op die Bybellees wat ek gedoen het, en ek het gevoel dat ek hulle kon bemoedig.
Charlene het vir my die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gewys, en ons het Psalm 37:9 gelees: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.” Ek was geskok. Daar, in my eie Bybel, het dit gesê dat mense die aarde sal besit. Daarna het baie vrae tegelykertyd uitgeborrel. Charlene het geglimlag en gesê: “Haai, stadig! Ons sal dit stap vir stap doen.” Sy het verduidelik dat ’n gereelde, stelselmatige Bybelstudie belangrik is. Sy het my onmiddellik uitgenooi na die Koninkryksaal, die naam van Jehovah se Getuies se vergaderplekke.
Ek het vir Charlene vertel van my ondervinding met die kollektebord en dat ek nie weer kerk toe wou gaan nie. Sy het vir my Matteus 10:8 gelees, wat sê: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.” Sy het verduidelik dat geen kollektebord by Jehovah se Getuies se vergaderinge omgestuur word nie en dat alle bydraes vrywillig is. Sy het ook gesê dat daar ’n bydraebus in die saal is en dat mense wat wil, bydraes daarin kan sit. Ek het besluit om godsdiens nog één kans te gee.
Terwyl ek gestudeer het, het ek uitgevind waarom ek so ongemaklik gevoel het toe ek by die Pinksterkerk in tale gepraat het. God se gawe om in verskillende tale te praat, is aan vroeë Christene gegee as bewys dat hulle sy heilige gees gehad het. Hierdie wonderdadige gawe het ook ’n praktiese doel gedien deurdat dit mense van verskillende lande wat tydens Pinkster 33 G.J. bymekaargekom het die geleentheid gebied het om Bybelwaarhede te hoor (Handelinge 2:5-11). Die Bybel sê egter dat God se gawe van talespraak sou ophou, wat toe wel ná die dood van die apostels gebeur het (1 Korintiërs 13:8). Maar om mense se verstande te verblind, laat Satan en sy demone mense onsamehangend brabbel, op ’n manier wat baie laat glo dat hierdie mense God se heilige gees het.—2 Korintiërs 4:4.
Teenstand van familie
Ek het gou geleer wat God se voorneme met die aarde is en dat ek geen deel van die bose wêreld moet wees nie (Johannes 17:16; 18:36). Ek het ook geleer dat ek alle bande moet verbreek met Babilon die Grote, wat in die Bybel as ’n simbool vir die wêreldryk van valse godsdiens gebruik word (Openbaring 18:2, 4). Toe ek my pa vertel het dat ek gedoop gaan word, hierdie keer as ’n Getuie van Jehovah, was hy verpletter. Hy het my gesmeek om nie ’n Getuie te word nie. Dit was die heel eerste keer dat ek hom sien huil het. Ek het saam met hom gehuil omdat ek hom werklik nie wou seermaak nie. Maar ek het geweet dat ek die waarheid gevind het en dat ek nooit Jehovah kon verloën nie.
My hele familie was daarteen gekant dat ek ’n Getuie van Jehovah word. ’n Ruk lank het ek opgehou om vergaderinge by te woon. Dit het die teenstand van familielede verlig, maar ek was baie ongelukkig. Ek het geweet dat ek nooit vrede sal hê solank ek nie Jehovah se wil doen nie. Op ’n dag het ek tydens my etensuur by Charlene se huis aangegaan en vir haar gesê dat ek gedoop moet word. “Dink jy nie dat jy eers weer die vergaderinge moet begin bywoon nie?” het sy gevra. Ek het vir haar gesê dat ek hierdie keer vasbeslote was dat niks tussen my en Jehovah sou kom nie. Ek is op 19 September 1973 gedoop.
Dit is nou al meer as 23 jaar gelede. Gelukkig het my familie sedertdien geleer om my besluit te respekteer, en nie een van hulle oefen druk op my uit om die waarheid te verlaat nie, wat ek baie waardeer. En tog is my oudste dogter, Kim, die enigste een wat tot dusver ’n Getuie geword het. Haar getroue diens aan Jehovah was deur die jare heen ’n groot bron van aanmoediging vir my.
’n Onvergeetlike ontmoeting
In 1990, toe ek vir ’n besoek na Coeburn, Virginië, teruggekeer het, het ek my ma gevra om by die Koninkryksaal stil te hou sodat ek kon sien hoe laat die vergaderinge Sondag sou begin. Toe ons by die oprit inry, het sy gesê dat ons op ’n tyd in ’n huis reg agter die saal aan die oorkant van die spoorlyn gebly het. Die huis het lank gelede al afgebrand en daar was slegs ’n skoorsteen oor. “Jy was toe maar ’n klein dogtertjie”, het sy gesê, “niks ouer as drie of vier jaar nie.”
Die Sondag is ek hartlik verwelkom by die Koninkryksaal. Toe ek met Stafford Jordan gesels het, het ek toevallig gemeld dat ek as kind in die huis gewoon het wat eens agter die Koninkryksaal gestaan het. Hy het stip na my gekyk. “Ek onthou jou!” het hy uitgeroep. “Jy was ’n vaalhaardogtertjie van omtrent so hoog [het hy met sy hand beduie]. Ons het hierdie gebied gewerk toe my maat ’n gesprek met jou pa begin het. Ek het jou probeer besig hou deur met jou oor die Paradys te praat.”
Ek was sprakeloos. Ek het ’n knop in my keel gehad terwyl ek hom vertel het van my soeke na Bybelwaarheid. “Toe ek maar ’n klein kindjie was, het jy saadjies van waarheid in my hartjie geplant!” het ek gesê. Hy het my toe vertel dat ek ’n familielid, Stephen Dingus, aan my oupa se kant gehad het, wat ’n getroue Getuie was. Die familie het nooit van hom gepraat nie omdat hulle baie gekant was teen die Getuies. “Hy sou baie trots op jou gewees het!” het broer Jordan gesê.
Wanneer ek terugkyk op my jare in Jehovah se organisasie is ek waarlik dankbaar vir die liefde en goedhartigheid wat aan my betoon is. Ja, daar is steeds tye wanneer ek ’n bietjie hartseer voel as ek by die Koninkryksaal sien hoe gesinne Jehovah saam dien, want ek is dikwels alleen daar. Maar ek onthou onmiddellik dat Jehovah met my is. Hy het my nooit vergeet nie, en toe my hart die waarheid kon aanvaar wat soveel jare tevore in die ore van ’n klein kindjie gespreek is, het hy dit toegelaat om te ontkiem en te groei.
“Dankie, broer Jordan”, het ek gesê, “dat jy die tyd geneem het om met ’n woelige klein dogtertjie oor die Paradys te praat!”—Soos vertel deur Louise Lawson.
[Prent op bladsy 13]
Saam met Stafford Jordan toe ek hom weer in 1990 ontmoet het