Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 6/8 bl. 18-20
  • Waarom moet jy jou woede beheers?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet jy jou woede beheers?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer onvolmaakte mense kwaad word
  • Christene is aanspreeklik
  • Wat sê die Bybel oor woede?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Is dit altyd verkeerd om kwaad te word?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe om woede—joune en ander s’n—die hoof te bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die probleem met woede
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 6/8 bl. 18-20

Die Bybelse beskouing

Waarom moet jy jou woede beheers?

DIT was ’n ongelukkige begin. “Noudat ek die hoof van hierdie huis is, gaan jy my nie in die verleentheid stel deur laat te wees nie”, het John vir sy jong bruid, Ginger, geskreeu.a Hy het meer as 45 minute lank op haar geskreeu terwyl hy haar beveel het om op die rusbank te bly sit. Smadende taal het die norm in hulle huwelik geword. Ongelukkig het John se toornige gedrag erger geword. Hy het deure toegeslaan, op die kombuistafel gehamer en wild bestuur terwyl hy op die stuurwiel geslaan het, en het sodoende ander se lewe in gevaar gestel.

Ongelukkig, soos jy ongetwyfeld goed weet, word sulke tonele alte dikwels herhaal. Was hierdie man se woede geregverdig of het hy sy selfbeheersing verloor? Is alle woede verkeerd? Wanneer is woede onbeheers? Wanneer het dit te ver gegaan?

Beheerste woede kan geregverdig wees. God se woede het byvoorbeeld opgevlam teen die eertydse, onsedelike stede Sodom en Gomorra (Genesis 19:24). Waarom? Omdat die inwoners van daardie stede gewelddadige en verdorwe seksuele gebruike beoefen het, soos in die hele streek bekend was. Toe engeleboodskappers byvoorbeeld die regverdige man Lot besoek het, het ’n gepeupel jong manne tesame met ou manne as ’n groep Lot se gaste probeer verkrag. Jehovah God was tereg vertoornd oor hulle growwe onsedelikheid.—Genesis 18:20; 19:4, 5, 9.

Soos sy Vader, was daar tye toe die volmaakte man Jesus Christus kwaad was. Die tempel in Jerusalem was veronderstel om die sentrum van aanbidding vir God se uitverkore volk te wees. Dit moes “’n huis van gebed” wees waar mense persoonlike offerandes aan God kon bring en waar hulle in sy weë onderrig en hulle sondes vergewe kon word. By die tempel kon hulle as ’t ware met Jehovah kommunikeer. Maar die godsdiensleiers van Jesus se dag het die tempel in “’n handelshuis” en “’n rowerspelonk” verander (Matteus 21:12, 13; Johannes 2:14-17). Hulle het persoonlik wins gemaak uit die verkoop van diere wat as offerandes gebruik is. Hulle het werklik die kudde gemelk. Die Seun van God was dus heeltemal geregverdig toe hy daardie bedrieërs uit sy Vader se huis uitgedryf het. Dit is te verstane waarom Jesus kwaad was!

Wanneer onvolmaakte mense kwaad word

Onvolmaakte mense kan ook soms tereg ontstoke wees. Kyk byvoorbeeld na wat met Moses gebeur het. Die nasie Israel is kort tevore wonderdadig uit Egipte verlos. Jehovah het op dramatiese wyse sy krag oor die valse gode van Egipte getoon deur die Egiptenaars met tien plae te tref. Toe het hy dit vir die Israeliete moontlik gemaak om te ontsnap, deur die Rooi See te skei. Daarna is hulle na die voet van die berg Sinai gelei, waar hulle in ’n nasie georganiseer is. Moses het as middelaar opgetree en in die berg opgegaan om God se wette te ontvang. Saam met al die ander wette het Jehovah vir Moses die Tien Gebooie gegee, wat met “die vinger van God” geskryf is op kliptafels wat God self uit die berg uitgesny het. Maar wat het Moses gesien toe hy van die berg afgekom het? Die volk het die beeld van ’n goue kalf begin aanbid! Hoe gou het hulle tog nie vergeet nie! Net ’n paar weke het verbygegaan. “Die toorn van Moses” het tereg “ontvlam”. Hy het die kliptafels verbrysel en toe die beeld van die kalf vernietig.—Exodus 31:18; 32:16, 19, 20.

By ’n latere geleentheid het Moses sy humeur verloor toe die volk oor die tekort aan water gekla het. Omdat hy erg ontstoke was, het hy vir ’n oomblik sy sagmoedigheid, of saggeaardheid, waarvoor hy bekend was, vergeet. Dit het tot ’n ernstige fout gelei. In plaas van Jehovah as Israel se Voorsiener te verheerlik, het Moses die volk hard aangespreek en die aandag op hom en sy broer Aäron gevestig. God het dit dus goed geag om Moses te dissiplineer. Hy sou nie toegelaat word om die Beloofde Land binne te gaan nie. Ná hierdie voorval by Meriba word daar nie weer gesê dat Moses sy humeur verloor het nie. Blykbaar het hy sy les geleer.—Numeri 20:1-12; Deuteronomium 34:4; Psalm 106:32, 33.

Daar is dus ’n verskil tussen God en die mens. Jehovah kan ‘sy toorn bedwing’ en word tereg beskryf as iemand wat “stadig [is] om toornig te word”, want liefde, nie toorn nie, is sy oorheersende eienskap. Sy toorn is altyd regverdig, altyd geregverdig, altyd beheers (Exodus 34:6, NW; Jesaja 48:9, NAV; 1 Johannes 4:8). Die volmaakte man Jesus Christus was altyd in staat om sy toorn te beheers; daar is van hom gesê dat hy “saggeaard” was (Matteus 11:29). Aan die ander kant het onvolmaakte mense, selfs manne van geloof soos Moses, dit soms moeilik gevind om hulle toorn te beheers.

Mense versuim ook oor die algemeen om behoorlik oor die gevolge na te dink. Dit kan ’n mens duur te staan kom as jy jou humeur verloor. Wat is byvoorbeeld die vanselfsprekende gevolge as ’n man so kwaad word vir sy vrou dat hy ’n gat in die muur slaan met sy vuis? Eiendom word beskadig. Hy maak dalk sy hand seer. Maar selfs belangriker, hoe sal sy woedeaanval sy vrou se liefde en respek vir hom beïnvloed? Die muur kan in ’n paar dae herstel word, en sy hand kan in ’n paar weke genees; maar hoe lank sal dit hom neem om die vertroue en respek van sy vrou te herwin?

In werklikheid is die Bybel vol voorbeelde van manne wat nie hulle woede beheers het nie en die gevolge daarvan moes dra. Beskou maar net ’n paar. Kain is verdryf nadat hy sy broer Abel vermoor het. Simeon en Levi is deur hulle vader vervloek omdat hulle die manne van Sigem doodgemaak het. Jehovah het Ussia met melaatsheid getref omdat Ussia kwaad geword het vir die priesters wat hom probeer teregwys het. Toe Jona “kwaad geword” het, het Jehovah hom bestraf. Hulle almal moes verantwoording doen vir hulle woede.—Genesis 4:5, 8-16; 34:25-30; 49:5-7; 2 Kronieke 26:19; Jona 4:1-11.

Christene is aanspreeklik

Vandag moet Christene eweneens teenoor God en, in sekere mate, teenoor hulle medegelowiges verantwoording doen vir hulle dade. Dit kan duidelik gesien word uit die Bybel se gebruik van die Griekse woorde wat woede aandui. Een van die twee woorde wat meer dikwels gebruik word, is or·geʹ. Dit word gewoonlik met “gramskap” vertaal en bevat ’n element van bewustheid en selfs oorweging, dikwels met die doel om wraak te neem. Daarom het Paulus Romeinse Christene vermaan: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap [or·geʹ]; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’” Hulle moes nie ’n wrok teenoor hulle broers koester nie, maar hulle is aangemoedig om eerder “die kwaad met die goeie te oorwin”.—Romeine 12:19, 21.

Die ander woord wat dikwels gebruik word, is thi·mosʹ. Die grondwoord “dui oorspronklik op ’n hewige beweging van lug, water, die grond, diere of mense”. Die woord word dus onder meer beskryf as ’n “driftige uitbarsting van vyandige gevoelens”, “woedeuitbarstings” of “onstuimige drifte wat die gemoedsrus versteur en huislike en burgerlike twis en onrus veroorsaak”. Soos ’n vulkaan wat sonder waarskuwing kan uitbars en warm as, klip en lawa uitspu wat mense kan beseer, vermink en doodmaak, so is ’n man of ’n vrou wat nie sy of haar humeur in toom kan hou nie. Die meervoudsvorm van thi·mosʹ word in Galasiërs 5:20 gebruik, waar Paulus “vlae van toorn” saam met ander “werke van die vlees” (vers 19), soos hoerery, losbandige gedrag en dronkenskap, opnoem. John se gedrag—wat aan die begin beskryf is—is ongetwyfeld ’n tipiese voorbeeld van “vlae van toorn”.

Hoe moet die Christengemeente dus persone beskou wat daaraan verbonde is en hulle herhaaldelik skuldig maak aan geweld teen ander of hulle eiendom? Onbeheerste woede is vernietigend en lei maklik tot geweld. Jesus het dus tereg gesê: “Ek sê . . . vir julle dat elkeen wat toornig bly op sy broer aan die geregshof rekenskap sal moet gee” (Matteus 5:21, 22). Mans word gemaan: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie.” Iemand wat “geneig [is] tot toorn” kwalifiseer nie om ’n opsiener in die gemeente te wees nie. Persone wat nie hulle woede kan beheers nie, moet gevolglik nie as ’n voorbeeld vir die gemeente beskou word nie (Kolossense 3:19; Titus 1:7; 1 Timoteus 2:8). Trouens, nadat die gesindheid, die gedragspatroon en die erns van die skade aan ander se lewe oorweeg is, kan iemand wat aan onbeheerste vlae van toorn toegee uit die gemeente gesit word—inderdaad ’n verskriklike gevolg.

Het John, wat vroeër gemeld is, dit ooit reggekry om sy emosies te beheers? Kon hy ooit sy vinnige, onbeheerste woede in toom hou? Ongelukkig het sy geskreeu vererger tot ’n gestoot en ’n gestamp. Vingerwysery het tot letterlike, pynlike, kneusende steke met die vinger gelei. John was versigtig om nie plekke te kneus wat maklik gesien kon word nie en het sy gedrag probeer wegsteek. Maar uiteindelik het hy haar begin skop, slaan, haar hare getrek en erger dinge gedoen. Ginger het John verlaat.

Dit hoef nie te gebeur het nie. Baie in soortgelyke omstandighede kon hulle woede tem. Hoe noodsaaklik is dit dus om die volmaakte voorbeeld van Jesus Christus na te volg. Hy was nooit skuldig aan selfs een onbeheerste woedeuitbarsting nie. Sy woede was altyd regverdig; dit was nooit onbeheers nie. Paulus het ons almal tereg aangeraai: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Aangesien ons nederig erken dat ons as mense beperkinge het en dat ons sal maai wat ons saai, het ons dus goeie rede om nie te vinnig kwaad te word nie.

[Voetnoot]

a Die name is verander.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Saul maak ’n aanslag op Dawid se lewe/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel