Harde woorde, verpletterde gees
“Jou onnosele draaikous!”a ’n Vrou in Japan onthou hierdie woorde alte goed—sy is dit dikwels toegesnou toe sy klein was. Deur wie? Skoolkinders? Broers of susters? Nee. Deur haar ouers. Sy sê: “Ek het terneergedruk geraak, want die neerhalende name het my diep seergemaak.”
’n Man in die Verenigde State onthou dat hy as kind altyd bevrees en angstig was wanneer sy pa by die huis gekom het. “Tot vandag toe kan ek nog die geluid van die bande op die oprit hoor”, vertel hy, “en dit laat my yskoud word. My sussie het gaan wegkruip. My pa was ’n perfeksionis en het ons alewig geroskam omdat ons nie al ons werk goed genoeg gedoen het nie.”
Hierdie man se suster voeg by: “Ek kan nie onthou dat een van my ouers ons ooit omhels, gesoen of iets gesê het soos ‘Ek is lief vir jou’ of ‘Ek is trots op jou’ nie. En as ’n kind nooit die woorde ‘Ek is lief vir jou’ hoor nie, is dit vir hom dieselfde as om te hoor ‘Ek haat jou’—elke dag van sy lewe.”
SOMMIGE sê dalk dat die ongelukkigheid wat hierdie mense as kinders ervaar het onbeduidend was. Dit is beslis nie ongewoon dat kinders harde, onvriendelike woorde en slegte behandeling moet verduur nie. Dit is nie die soort onderwerp wat groot opslae in die nuus maak en in sensasionele TV-programme bespreek word nie. Die skade is nie sigbaar nie. Maar as ouers hulle kinders dag ná dag so mishandel, kan die gevolge nietemin verwoestend wees—en lewenslange letsels laat.
Kyk byvoorbeeld na ’n opvolgstudie wat in 1990 gedoen is van ’n 1951-studie oor die maniere waarop ouers ’n groep vyfjarige kinders grootgemaak het. Navorsers kon baie van hierdie kinders, wat nou middeljariges is, opspoor om vas te stel wat die langtermynuitwerking was van die manier waarop hulle grootgemaak is. Die nuwe studie het tot die slotsom gekom dat die kinders wat uiteindelik die meeste probleme gehad het, wat emosioneel gesukkel het en wat probleme ondervind het in hulle huwelik, met vriendskappe en selfs by die werk, nie noodwendig die kinders was van arm ouers of ryk ouers of selfs van ouers wat duidelik probleme gehad het nie. Hulle was kinders wie se ouers afsydig en koel was en wat min of geen liefde betoon het.
Hierdie bevinding is slegs in beperkte mate ’n weerspieëling van ’n waarheid wat byna 2000 jaar gelede neergeskryf is: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Dit is beslis so dat uitskellery en emosionele mishandeling deur ouers kinders vertoorn, en dit kan ongetwyfeld daartoe lei dat hulle mismoedig word.
Volgens die boek Growing Up Sad het dokters nog tot onlangs toe gedink dat daar nie so iets soos kinderdepressie is nie. Maar tyd en ondervinding het die teendeel bewys. Vandag, sê die skrywers, word kinderdepressie erken en is dit glad nie so ongewoon nie. Van die oorsake daarvan is verwerping en mishandeling deur ouers. Die skrywers verduidelik: “In sommige gevalle het die ouer die kind aanhoudend gekritiseer en verneder. In ander gevalle is daar eenvoudig ’n leemte in die ouer-kind-verhouding: die ouer se liefde vir die kind word nooit betoon nie. . . . Die gevolg is veral tragies vir die kinders van sulke ouers, want liefde is vir ’n kind—trouens ook vir ’n volwassene—soos wat sonskyn en water vir ’n plant is.”
Deur ouerlike liefde, as dit duidelik en openlik betoon word, leer kinders ’n belangrike waarheid: Dat ander hulle kan liefhê; dat hulle waarde het. Baie verwar hierdie begrip met ’n vorm van verwaandheid, ’n liefde vir jouself bo ander. Maar in hierdie konteks is dit nie wat bedoel word nie. Een skrywer sê in haar boek oor die onderwerp: “Jou kind se opinie van homself beïnvloed die soort vriende wat hy kies, hoe hy met ander oor die weg kom, die soort persoon met wie hy trou en hoe produktief hy gaan wees.” Die Bybel erken hoe belangrik dit is om ’n gebalanseerde, beskeie beskouing van jouself te hê wanneer dit sê wat die tweede grootste gebod is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Matteus 22:38, 39.
Dit is moeilik om te dink dat enige normale ouer iets so belangriks en broos soos ’n kind se eiewaarde sou wou verpletter. Waarom gebeur dit dan so dikwels? En hoe kan dit voorkom word?
[Voetnoot]
a In Japannees, noroma baka!