Jongmense vra . . .
Wat is fout daarmee om geld te maak?
“GELD is beslis die belangrikste ding in die wêreld.” So het die Britse dramaturg George Bernard Shaw beweer. Stem jy saam met hom? Miskien voel jy meer soos die 17-jarige Tanya, wat sê: “Ek wil nie ryk wees nie, ek wil net finansiële sekuriteit hê.” Die jong Avian sien geld ook, nie as die belangrikste ding in die wêreld nie, maar as ’n nuttige middel tot ’n doel. Hy sê: “Geld is nodig vir my behoeftes, soos klere en vervoer.”
Het jy geweet dat die Bybel iets soortgelyks sê? In Prediker 7:12 sê dit “geld is ’n beskutting”. Armoede is al beskryf as “’n groot vyand van die mens se geluk”. En genoeg geld kan jou—ten minste in ’n sekere mate—beskerm teen die probleme wat dikwels deur armoede veroorsaak word. Geld kan ook die gevolge van onverwagte rampe help verlig. “Die Bybel sê dat ‘tyd en lotgeval ons almal tref’”, sê die jong Phyllis. “Ons weet nooit wanneer ons dalk teëspoed gaan hê nie, daarom moet ons geld hê wat ons weggesit het” (Prediker 9:11). En hoewel dit dalk nou vir jou lyk of geld belangrik is, kan dit ’n selfs belangriker rol in jou toekoms speel.
Die “vloedgolf van materialisme”
Maar hoewel dit normaal en verstandig is om in ’n mate besorg te wees of ’n mens genoeg geld het, het geld vir sommige jeugdiges byna ’n obsessie geword. Toe meer as 160 000 jongmense gevra is: “Wat wil jy die graagste in die lewe hê?” het 22 persent gesê: “Om ryk te wees.”
Hierdie begeerte na geld word ongetwyfeld bevorder deur dit waarna die tydskrif Newsweek verwys het as die “vloedgolf van materialisme” wat oor die wêreld gespoel het. “Ek is ’n baie materialistiese mens en is baie bewus van etikette”, sê die 18-jarige Martin. “Ek glo vas dat jy kry waarvoor jy betaal. Daarom bestee ek baie geld aan die dinge wat ek wil hê.” Martin is nie die enigste jeugdige wat ‘baie geld bestee’ nie. U.S.News & World Report berig: “Verlede jaar het 12- tot 19-jariges [in die Verenigde State] op hulle grootste koopjol tot nog toe gegaan en altesaam $109 miljard [R483 miljard] se ware gekoop, ’n vermeerdering van 38 persent in vergelyking met 1990.”
Maar waar kry jongmense die geld vir al daardie nuwe klere, laserplate en rekenaarapparate? “Byna die helfte van alle 16- tot 19-jariges het ’n deeltydse werk”, volgens U.S.News & World Report. As ’n balans gehandhaaf word, kan ’n deeltydse werk wel voordele hê, soos om ’n jeugdige te leer om verantwoordelik te wees. Dit is egter duidelik dat sommige jeugdiges te ver gaan. Die tydskrif Newsweek sê: “Sielkundiges en onderwysers sien die spanning in [werkende] leerlinge. Hulle het min tyd vir huiswerk, en onderwysers wat gereeld sien hoe vermoeide leerlinge sukkel om hulle oë oop te hou, reageer ongelukkig alte dikwels hierop deur die standaarde te verlaag.”
Baie min werkende jeugdiges is egter bereid om hulle bron van inkomste prys te gee. “Skool is belangrik”, sê die jong Vanessa, “maar geld is ook. Jy kan nie geld maak met huiswerk nie.” Hoe belangrik is dit vir jou om geld te maak? Is die hoofdoel in jou lewe om baie geld te maak?
“Vasbeslote . . . om ryk te wees”
Die Bybel bespreek hierdie einste vrae. Die apostel Paulus het geskryf: “Dié wat egter vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.
Paulus het beslis geweet waarvan hy praat. Voor hy ’n Christen geword het, was hy een van die godsdiensleiers wat as “die Fariseërs” bekend gestaan het en wat die Bybel beskryf as “liefhebbers van geld” (Lukas 16:14). Die apostel het egter nie gesê dat dit verkeerd is om geld te maak nie. Hy het eerder diegene gewaarsku wat “vasbeslote is om ryk te wees” of, soos ’n ander vertaling dit stel, wat “hulle dit ten doel stel om ryk te wees” (Phillips). Maar wat is so verkeerd daarmee om dit te doen?
Soos Paulus verduidelik het, “val [sulke mense] in versoeking en ’n strik”. Spreuke 28:20 stel ’n soortgelyke punt wanneer dit sê: “Hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie.” Omdat sommige jeugdiges dink dat hulle nie genoeg het nie, het hulle begin steel.
Die meeste jeugdiges sal weliswaar nie daaraan dink om te steel nie. Maar sommige van hulle doen dalk dinge wat net so gevaarlik is. Christianity Today berig: “Sommige deskundiges glo dat probleemdobbelary die tienerverslawing is wat die vinnigste toeneem.” In een deel van Amerika “het byna 90 persent van tieners al teen hulle laaste jaar op skool onwettig loterykaartjies gekoop”. Sommige jeugdiges gaan selfs verder. “Dis moeilik om ’n goeie werk te kry”, sê die 16-jarige Matthew. “Daarom maak ek die meeste van my geld deur dinge te koop en te verkoop. . . . Ek [het] nou en dan [dwelms] verkoop.”
‘In die verderf gestort’
Om geld te hê, sal jou weliswaar ’n gevoel van vryheid gee. Maar soos Paulus verduidelik, kan die najaging van geld ’n mens in werklikheid op die lange duur ’n slaaf maak van “talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort”. Ja, wanneer die liefde vir geld eers sy tande in jou vasgeslaan het, kan hebsug, moorddadige jaloesie en ander skadelike begeertes jou oorheers. (Vergelyk Kolossense 3:5.) ’n Artikel in die tydskrif ’Teen het opgemerk dat sommige tieners so afgunstig kan raak op die motors en klere wat ander jeugdiges besit “dat hulle daardeur oorweldig raak”. Sulke afguns “gaan [soms] oor in selfveragting”, voeg die artikel by, “en die tiener kan aan niks anders dink as dit wat [hy of] sy nie het nie”.
Let dus op dat die begeerte na rykdom ’n mens nie net ‘in versoeking kan laat val’ nie, maar dit kan ook veroorsaak dat ’n mens jou “in vernietiging en verderf stort”. Bybelkommentator Albert Barnes sê: “Die beeld is dié van ’n wrak, waar ’n skip en alles daarin saam ondergaan. Dit is ’n algehele vernietiging. Daar is ’n algehele vernietiging van geluk, van deug, van reputasie en van die siel.”—Vergelyk 1 Timoteus 1:19.
Paulus sê dus tereg dat die allesverterende “liefde vir geld . . . ’n wortel van allerhande skadelike dinge” is. As gevolg daarvan is baie mense “van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor”. Neem byvoorbeeld ’n jeugdige wat ons Rory sal noem. Op 12 -jarige ouderdom het hy begin dobbel. “Dit was ’n manier om geld te maak sonder om enigiets te doen”, onthou hy. Kort voor lank het hy honderde rande se skuld gehad en het hy sy vriende, gesin en skoolwerk afgeskeep. “Ek het probeer ophou”, erken hy, maar hy het herhaaldelik misluk. Hy het voortgegaan om ‘homself oral met baie pyne te deurboor’, totdat op hy 19-jarige ouderdom hulp gekry het. Die skrywer Douglas Kennedy oordryf dus nie wanneer hy, in sy boek Chasing Mammon, die najaging van geld “’n traumatiese ondervinding” noem nie.
Hoe om ’n balans te vind
Salomo se raad is dus nog net so van pas as wat dit eeue gelede was: “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!” (Spreuke 23:4, 5). Materiële rykdom is tydelik, daarom is dit dwaas om die najaging van rykdom die hoofdoel in die lewe te maak. “Ek wil nie in suiwer materialistiese doelwitte verstrengel raak nie”, sê ’n jong Christen met die naam Maureen. “Ek weet net”, sê sy, “dat ek met my geestelikheid daarvoor sal betaal as ek daarmee behep raak om net geld te maak.”
Dit is waar dat geld noodsaaklik is. En ’n voldoende inkomste sal jou in staat stel om na jou behoeftes om te sien—en moontlik selfs ander van tyd tot tyd materieel by te staan (Efesiërs 4:28). Leer om hard te werk sodat jy geld op ’n eerlike wyse kan verdien. Leer ook om te spaar, te begroot en jou geld wyslik te bestee. Maar moet nooit geld die belangrikste ding in die lewe maak nie. Probeer die gebalanseerde beskouing hê wat die skrywer van Spreuke 30:8 uitgespreek het toe hy gebid het: “Gee my nie armoede of rykdom nie.” Deur geestelike belange eerste te stel, sal jy die beste soort rykdom kan bekom. Soos Spreuke 10:22 sê: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.”
[Prent op bladsy 13]
Baie jeugdiges wil geld hê sodat hulle met hulle portuurs kan tred hou