Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/8 bl. 24-25
  • Geheime van diereslaap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geheime van diereslaap
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Slaapkampioene
  • Diere wat ‘in die vlug’ slaap?
  • Onderwatersiësta
  • Ligte slapers
  • Waarom jou liggaam slaap nodig het
    Ontwaak!—1995
  • Hoe kan ek genoeg slaap kry?
    Jongmense vra
  • Slaap—Luukse of noodsaaklikheid?
    Ontwaak!—2003
  • Slaap—Hoe belangrik is dit?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/8 bl. 24-25

Geheime van diereslaap

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

SLAAP—ons bring omtrent ’n derde van ons lewe in hierdie rustige toestand deur. Slaap is nie ’n verkwisting van tyd nie, inteendeel, dit voorsien blykbaar in ’n aantal belangrike fisiologiese en sielkundige behoeftes. Slaap kan dus as ’n kosbare gawe van God beskou word.—Vergelyk Psalm 127:2, NW.

Dit is nie verbasend dat slaap ook ’n belangrike rol in die dierewêreld speel nie. Trouens, baie diere knip ’n uiltjie op maniere wat fassinerend, soms snaaks en dikwels ongewoon is. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

Slaapkampioene

Enigiemand wat al ooit ’n leeu in Afrika se warm middagson op die naat van sy rug met sy pote in die lug sien slaap het, het moontlik gedink dat hierdie gevaarlike lid van die katfamilie so mak soos ’n huiskatjie is. Maar moenie mislei word nie. Die 17de-eeuse skrywer Thomas Campion het geskryf: “Wie sal dit waag om ’n slapende leeu te tart?” Ja, selfs die magtige leeu het slaap nodig—ongeveer 20 uur per dag—om sy lewe as roofdier voort te sit.

Beskou ook die tuatara, ’n slaperige akkedisagtige dier in Nieu-Seeland. Hy bring omtrent die helfte van die jaar in ’n ligte winterslaap deur. Die tuatara is in werklikheid so slaperig dat hy selfs aan die slaap raak terwyl hy sy kos kou! Maar al daardie slaap is blykbaar goed vir hom, want wetenskaplikes skat dat party tuataras ongeveer 100 jaar kan lewe!

Soos die sprokieskarakter Rip van Winkle slaap ander diere ook vir lang tye. Dit is hoe baie van hulle koue winters oorleef. Ter voorbereiding hiervoor bou die dier dik vetlae op wat hom gedurende sy lang slaap aan die lewe sal hou. Maar wat voorkom dat die slapende dier doodvries? Soos die boek Inside the Animal World verduidelik, veroorsaak die brein chemiese veranderinge in die dier se bloed, wat as ’t ware ’n natuurlike vriesweringsmiddel skep. Wanneer die dier se liggaamstemperatuur tot net bokant vriespunt daal, neem sy hartklop af tot net ’n fraksie van sy normale tempo; sy asemhaling neem af. ’n Diep slaap volg dan, en dit kan baie weke lank duur.

Diere wat ‘in die vlug’ slaap?

Sommige diere slaap op uiters ongewone maniere. Kyk byvoorbeeld na die seevoël wat die roetsterretjie genoem word. Wanneer ’n jong roetsterretjie sy nes verlaat, vlieg hy see toe en bly hy die volgende paar jaar voortdurend in die lug! Aangesien sy vere nie waterdig is nie en hy nie gewebde voete het soos die ander seeswaeltjies wat in die water kan land nie, vermy hy dit om in die water te land. Hy jag deur klein vissies van die oppervlak van die water af te skep.

Maar wanneer slaap hy? Die boek Water, Prey, and Game Birds of North America sê: “Dit lyk onwaarskynlik dat hulle op die water slaap, want hulle vere sal deurweek word. Party wetenskaplikes meen dat hierdie voëls moontlik in die lug slaap.”

Onderwatersiësta

Slaap visse? By werweldiere, sê The World Book Encyclopedia, “is dit slegs reptiele, voëls en soogdiere wat werklik slaap en veranderinge in die brein se golfpatrone ondervind”. Tog geniet visse rusperiodes wat soortgelyk aan slaap is—hoewel die meeste nie hulle oë kan toemaak nie.

Sommige visse slaap op hulle sy; ander slaap onderstebo of regop. Party platvisse, soos die botvis, bly op die seebodem terwyl hulle wakker is. Wanneer hulle slaap, dryf hulle ’n paar sentimeter bo die bodem.

Die kleurvolle papegaaivis het ’n unieke slapenstydroetine: Hy trek ’n “nagjapon” aan. Wanneer sy rustyd naderkom, skei hy mukus, of slym, af wat hom heeltemal omhul. Die doel? “Vermoedelik om te voorkom dat roofdiere [hom] sien”, sê die natuurskrywer Doug Stewart. Hy kom uit sy slymerige kleed te voorskyn wanneer hy wakker word.

Robbe het ook ’n interessante slapenstydroetine. Hulle blaas hulle keel soos ’n ballon op en skep ’n soort natuurlike reddingsbaadjie. Omdat hulle op hierdie manier drywend gehou word, kan hulle slaap terwyl hulle regop in die water dryf met hulle neus wat bo die oppervlak uitsteek om asem te haal.

Ligte slapers

In die natuur loop ’n dier wat slaap natuurlik groter gevaar om deur roofdiere gevang te word. Baie diere slaap dus as ’t ware met een oog oop. Hulle brein handhaaf ’n mate van waaksaamheid terwyl hulle slaap, wat hulle in staat stel om op enige geluide te reageer wat gevaar kan beteken. Ander diere doen weer ’n gereelde inspeksie om hulle veiligheid te verseker. Voëls wat byvoorbeeld in ’n groep slaap, sal van tyd tot tyd ’n oog oopmaak en vlugtig kyk of gevaar dreig.

Troppe wildsbokke en sebras in Afrika hou eweneens wag oor mekaar gedurende hulle rusperiodes. Soms sal die hele trop op die grond lê met hulle koppe in die lug, almal waaksaam. Nou en dan sal een dier op sy sy rol en in ’n diep slaap bewegingloos op die grond lê. Ná ’n paar minute is dit ’n ander lid van die trop se beurt.

Olifante slaap ook as ’n trop. Maar die volwassenes bly gewoonlik staan en slaap lig terwyl hulle van tyd tot tyd hulle oë oopmaak en hulle groot ore lig en uitsprei om enige teken van gevaar te kan hoor. Onder die skadu van hierdie groot wagte kan die kleiner kalfies plat op hulle sy lê en vas aan die slaap raak. In haar boek Elephant Memories sê die skryfster Cynthia Moss dat sy gesien het hoe ’n hele trop aan die slaap raak: “Eers was dit die jong en toe die ouer kalfies, en uiteindelik het die volwasse wyfies almal gaan lê en aan die slaap geraak. In die maanlig het hulle soos groot grys rotse gelyk, maar hulle diep, rustige gesnork het dié beeld weerspreek.”

Ons moet nog baie omtrent die slaapgewoontes van diere leer. Maar beweeg dit jou nie om na te dink oor die ontsagwekkende wysheid van die Een wat “alles geskep” het wanneer jy kyk na die bietjie wat ons wel weet nie?—Openbaring 4:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel