Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/22 bl. 4-8
  • Peste in die 20ste eeu

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Peste in die 20ste eeu
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ou siektes word dodeliker
  • Siekte en armoede
  • Onlangs geïdentifiseerde siektes
  • Faktore wat die mikrobe begunstig
  • Weerwraak van die mikrobes
    Ontwaak!—1996
  • ’n Wêreld sonder siektes
    Ontwaak!—2004
  • Die wêreldwye gesondheidsituasie—’n groeiende gaping
    Ontwaak!—1995
  • Suksesse en mislukkings in die stryd teen siektes
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/22 bl. 4-8

Peste in die 20ste eeu

DIE Swart Dood wat Europa in die 14de eeu geteister het, het nie tot die einde van die wêreld gelei soos baie voorspel het nie. Maar wat van ons tyd? Dui die epidemies en siektes van ons dag aan dat ons in die tyd lewe wat die Bybel “die laaste dae” noem?—2 Timoteus 3:1.

‘Tog sekerlik nie’, dink jy dalk. Vandag het mediese en wetenskaplike vooruitgang meer gedoen om ons te help om siektes te verstaan en te beveg as in enige ander tyd in die mens se geskiedenis. Mediese wetenskaplikes het ’n wye verskeidenheid antibiotika en entstowwe ontwikkel—kragtige middels teen siektes en die mikrobes waardeur hulle veroorsaak word. Verbeterde hospitaalsorg sowel as waterbehandeling, sanitasie en voedselvoorbereiding het ook gehelp in die stryd teen besmetlike siektes.

’n Paar dekades gelede het baie gedink dat die stryd amper gewonne was. Pokke is uitgeroei, en daar is beoog om ook ander siektes uit te roei. Geneesmiddels het tallose kwale met welslae onder beheer gebring. Gesondheidsdeskundiges het optimisties na die toekoms gekyk. Besmetlike siektes sou oorwin word; die een oorwinning sou op die ander volg. Die mediese wetenskap sou seëvier.

Maar dit het nie geseëvier nie. Vandag is besmetlike siektes nog steeds die wêreld se vernaamste doodsoorsaak, en dit het in 1996 alleen meer as 50 miljoen lewens geëis. ’n Groeiende besorgdheid oor die toekoms is besig om die optimisme van die verlede te vervang. The World Health Report 1996, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) opgestel is, waarsku: “Baie van die vooruitgang wat in onlangse dekades gemaak is in verband met die verbetering van mense se gesondheid, word nou bedreig. Ons staan op die randjie van ’n wêreldwye krisis wat besmetlike siektes betref. Geen land is veilig nie.”

Ou siektes word dodeliker

Een rede tot kommer is dat bekende siektes, wat mense vroeër gedink het oorwin is, weer kop uitsteek in vorme wat dodeliker is en moeiliker is om te genees. ’n Voorbeeld is tering, ’n siekte wat mense gedink het feitlik onder beheer is in die ontwikkelde wêreld. Maar tering het nie verdwyn nie; elke jaar sterf ongeveer driemiljoen mense daaraan. As beheermaatreëls nie verbeter word nie, sal ongeveer 90 miljoen mense gedurende die negentigerjare na verwagting die siekte opdoen. Tering wat teen geneesmiddels bestand is, versprei in baie lande.

Nog ’n voorbeeld van ’n siekte wat weer te voorskyn kom, is malaria. Veertig jaar gelede het dokters gehoop om malaria vinnig uit te roei. Vandag eis die siekte jaarliks omtrent tweemiljoen lewens. Malaria is endemies, of altyd teenwoordig, in meer as 90 lande en bedreig 40 persent van die wêreld se bevolking. Muskiete wat die malariaparasiete dra, het ’n weerstand teen insekdoders opgebou, en die parasiete self het so bestand geword teen geneesmiddels dat dokters vrees dat party vorme van malaria binnekort ongeneesbaar sal wees.

Siekte en armoede

Ander siektes gaan meedoënloos voort om mense dood te maak ondanks die feit dat doeltreffende teenmiddels bestaan. Beskou byvoorbeeld rugmurgvliesontsteking. Daar is entstowwe om rugmurgvliesontsteking te voorkom en middels om dit te genees. Vroeg in 1996 het hierdie siekte in Afrika suid van die Sahara uitgebreek. Jy het waarskynlik nie veel daarvan gehoor nie; tog het meer as 15 000 mense daaraan gesterf—meestal arm mense, meestal kinders.

Infeksies van die onderlugweë, onder andere longontsteking, eis jaarliks viermiljoen lewens, waarvan die meeste kinders is. Eenmiljoen kinders sterf jaarliks aan masels en ’n verdere 355 000 aan kinkhoes. Baie van hierdie sterfgevalle kan eweneens deur goedkoop entstowwe voorkom word.

Nagenoeg agtduisend kinders sterf elke dag aan diarreïese ontwatering. Byna al hierdie sterfgevalle kan deur goeie sanitasie of skoon drinkwater of deur die toediening van ’n mondelike rehidrasieoplossing voorkom word.

Die meeste van hierdie sterfgevalle kom voor in die ontwikkelende wêreld, waar armoede algemeen is. Ongeveer 800 miljoen mense—’n groot deel van die wêreld se bevolking—het geen toegang tot gesondheidsorg nie. The World Health Report 1995 het gesê: “Die wêreld se grootste doder en die grootste wêreldwye oorsaak van slegte gesondheid en lyding is amper heel onderaan die lys van die Internasionale Klassifikasie van Siektes. Die kode hiervan is Z59.5—uiterste armoede.”

Onlangs geïdentifiseerde siektes

Nog ander is nuwe siektes wat maar onlangs geïdentifiseer is. Die WGO het onlangs gesê: “Gedurende die afgelope 20 jaar het ten minste 30 nuwe siektes te voorskyn gekom wat nou honderdmiljoene mense se gesondheid bedreig. Vir baie van hierdie siektes is daar geen behandeling, geneesmiddel of entstof nie, en die moontlikheid om dit te voorkom of onder beheer te hou, is beperk.”

Neem byvoorbeeld HIV en vigs. Net sowat 15 jaar gelede was dit onbekend, en nou teister dit mense op elke vasteland. Tans is sowat 20 miljoen volwassenes met HIV besmet, en meer as 4,5 miljoen het vigs ontwikkel. Volgens die Human Development Report 1996 is vigs nou die vernaamste doodsoorsaak by volwassenes onder 45 in Europa en Noord-Amerika. Daar word elke dag ongeveer 6000 mense regoor die wêreld besmet—een elke 15 sekondes. Skattings dui daarop dat die aantal vigs-gevalle drasties sal bly toeneem. Teen die jaar 2010 sal die lewensverwagting in lande in Afrika en Asië wat die swaarste deur vigs getref is na verwagting tot 25 jaar afneem, volgens een Amerikaanse agentskap.

Is vigs ’n unieke siekte, enig in sy soort, of kan epidemies van ander siektes ontstaan om soortgelyke of selfs erger verwoesting te saai? Die WGO antwoord: “Daar bestaan geen twyfel nie dat siektes wat nou onbekend is, maar wat die potensiaal het om môre se vigs te wees, in die skaduwees skuil.”

Faktore wat die mikrobe begunstig

Waarom is gesondheidsdeskundiges besorg oor toekomstige siekte-epidemies? Een rede is die groei van stede. Eenhonderd jaar gelede het net sowat 15 persent van die wêreld se bevolking in stede gewoon. Maar volgens skattings sal meer as die helfte van die wêreld se bevolking teen die jaar 2010 in stedelike gebiede woon, veral in die megastede van minderontwikkelde lande.

Besmetlike agense floreer in digbevolkte gebiede. As ’n stad goeie behuising sowel as voldoende riool- en waterstelsels en goeie gesondheidsorg het, word die gevaar van epidemies verminder. Maar die stede wat die vinnigste groei, is dié in arm lande. Sommige stede het slegs een toilet vir elke 750 of meer mense. In baie stedelike gebiede is daar ook ’n gebrek aan goeie behuising en veilige drinkwater sowel as mediese fasiliteite. Wanneer honderdduisende mense dig opmekaar onder vuil toestande woon, vergroot dit die kanse grootliks dat siektes aan ander oorgedra sal word.

Beteken dit dat die epidemies van die toekoms tot oorbevolkte, armoedige megastede beperk sal word? Die tydskrif Archives of Internal Medicine antwoord: “Ons moet goed verstaan dat selle van volslae armoede, ekonomiese wanhoop en die gevolge daarvan die vrugbaarste omgewing skep om besmetting te versprei en die tegnologie van die res van die mensdom te oorweldig.”

Dit is nie maklik om siektes tot een gebied te beperk nie. Groot getalle mense is aan die beweeg. Elke dag steek ongeveer eenmiljoen mense internasionale grense oor. Elke week reis eenmiljoen tussen ryk en arm lande. Wanneer mense reis, neem hulle dodelike mikrobes saam met hulle. The Journal of the American Medical Association sê: “Ongeag waar siekte uitbreek, dit moet nou as ’n bedreiging vir die meeste lande beskou word, en veral vir dié wat as groot sentrums van internasionale verkeer dien.”

Ondanks die mediese vooruitgang van die 20ste eeu gaan peste dus voort om ’n oes van menselewens in te samel, en baie vrees dat die ergste nog voorlê. Maar wat sê die Bybel oor die toekoms?

[Lokteks op bladsy 4]

Besmetlike siektes bly die wêreld se vernaamste doodsoorsaak en het meer as 50 miljoen lewens in 1996 alleen geëis

[Venster op bladsy 6]

Weerstand teen antibiotika

Talle besmetlike siektes word moeiliker om te genees omdat hulle ’n weerstand teen antibiotika opgebou het. Dit is wat gebeur: Wanneer bakterieë iemand besmet, vermenigvuldig hulle voortdurend en dra hulle hulle genetiese eienskappe aan hulle nageslag oor. Elke keer wanneer ’n nuwe bakterie voortgebring word, is daar ’n kans dat dit ’n mutasie kan wees—’n klein fout in die replisering wat die nuwe bakterie ’n nuwe eienskap sal gee. Die kanse dat ’n bakterie op ’n manier sal muteer wat dit teen ’n antibiotikum bestand sal maak, is uiters klein. Maar bakterieë vermenigvuldig by die miljarde en bring soms drie geslagte in ’n uur voort. Die onwaarskynlike gebeur dus wel—elke nou en dan verskyn ’n bakterie wat moeilik is om met ’n antibiotikum te vernietig.

Wanneer die besmette persoon dus ’n antibiotikum neem, word die nieweerstandbiedende bakterieë vernietig, en die persoon voel waarskynlik beter. Maar die weerstandbiedende bakterieë hou aan lewe. Maar nou hoef hulle nie meer met ander mikrobes mee te ding om voedingstowwe en gebied nie. Hulle kan ongehinderd vermenigvuldig. Aangesien ’n enkele bakterie in een dag tot meer as 16 miljoen bakterieë kan vermenigvuldig, is dit nie lank voordat die persoon weer siek word nie. Nou is hy of sy egter met ’n soort bakterie besmet wat bestand is teen die geneesmiddel wat veronderstel was om dit te vernietig. Hierdie bakterieë kan ook ander mense besmet en mettertyd weer muteer om bestand te word teen ander antibiotika.

Die hoofartikel in die tydskrif Archives of Internal Medicine sê: “Die feit dat bakterieë, virusse, swamme en parasiete so vinnig weerstand opbou teen ons huidige terapeutiese middels, laat ’n mens nie wonder of ons hierdie oorlog van die mens teen die mikrobiese wêreld sal verloor nie, maar wanneer ons dit sal verloor.”—Ons kursiveer.

[Venster op bladsy 7]

’n Paar nuwe besmetlike siektes sedert 1976

Waar

Jaar gevalle eers verskyn

geïdentifiseer Naam van siekte of het geïdentifiseer is

1976. Legionellasiekte Verenigde State

1976. Kriptosporidiose Verenigde State

1976. Ebola-hemoragiesekoors Zaïre

1977. Hantavirus Korea

1980. Hepatitis D (Delta) Italië

1980. Menslike T-limfotropiese virus 1 Japan

1981. Vigs. Verenigde State

1982. E. coli O157:H7. Verenigde State

1986. Sponsvormige enkefalopatie by beeste* Verenigde Koninkryk

1988. Salmonella enteritidis PT4. Verenigde Koninkryk

1989. Hepatitis C. Verenigde State

1991. Venezolaanse hemoragiese koors. Venezuela

1992. Vibrio cholerae O139. Indië

1994. Brasiliaanse hemoragiese koors. Brasilië

1994. Morbillivirus by mense en perde. Australië

*Gevalle slegs by diere.

[Erkenning]

Bron: WGO

[Venster op bladsy 8]

Ou siektes steek weer kop uit

Tering: Na verwagting sal meer as 30 miljoen mense gedurende hierdie dekade aan tering sterf. Weens ondoeltreffende behandeling van die siekte in die verlede is tering wat weerstand teen geneesmiddels opgebou het nou ’n wêreldwye bedreiging. Party soorte is tans immuun teen geneesmiddels wat in die verlede altyd die bakterieë vernietig het.

Malaria: Hierdie siekte teister jaarliks tot 500 miljoen mense en 2 miljoen sterf daaraan. Beheer is deur die gebrek aan geneesmiddels of misbruik daarvan belemmer. Gevolglik het malariaparasiete bestand geword teen die geneesmiddels waardeur hulle voorheen vernietig is. Die feit dat muskiete ’n weerstand teen insekdoders opbou, vererger die probleem.

Cholera: Cholera eis 120-000 lewens per jaar, meestal in Afrika, waar epidemies meer wydverspreid geword het en meer dikwels voorkom. Cholera was dekades lank onbekend in Suid-Amerika, maar het Peru in 1991 getref en het sedertdien regoor die vasteland versprei.

Dengue: Hierdie virus wat deur muskiete oorgedra word, teister na raming 20 miljoen mense elke jaar. Gedurende 1995 het die ergste dengue-epidemie in 15 jaar minstens 14 lande in Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande getref. Dengue-epidemies neem toe weens groeiende stede, die verspreiding van dengue-draende muskiete en die grootskaalse beweging van besmette mense.

Witseerkeel: Grootskaalse immuniseringsprogramme wat 50 jaar gelede begin het, het hierdie siekte uiters seldsaam in nywerheidslande gemaak. Maar sedert 1990 het witseerkeelepidemies in 15 lande in Oos-Europa en die voormalige Sowjetunie gewoed. Tot 1 uit 4 mense wat die siekte opgedoen het, het gesterf. Gedurende die eerste helfte van 1995 is ongeveer 25 000 gevalle gerapporteer.

Builepes: Gedurende 1995 is ten minste 1400 gevalle van hierdie pes onder mense aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gerapporteer. In die Verenigde State en op ander plekke het die siekte na gebiede versprei wat dekades lank pesvry was. Bron: WGO

[Erkenning]

WGO-foto deur J. Abcede

[Prent op bladsy 5]

Ondanks verbeteringe in gesondheidsorg kon die mediese wetenskap nie die verspreiding van besmetlike siektes keer nie

[Erkenning]

WHO photo by J. Abcede

[Prent op bladsy 7]

Siektes versprei maklik wanneer mense dig opmekaar onder vuil toestande woon

[Prent op bladsy 8]

Ongeveer 800 miljoen mense in die ontwikkelende wêreld het geen toegang tot gesondheidsorg nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel