Die Bybelse beskouing
Hoe kan jy ’n God van liefde vrees?
“WELGELUKSALIG IS DIE MAN WAT DIE HERE VREES.”—Psalm 112:1.
AS ‘God liefde is’, soos die Bybel hom beskryf, waarom is dit nodig om hom te vrees? (1 Johannes 4:16). Liefde en vrees word gewoonlik as teenstrydig beskou. Watter rol moet vrees dus in ons verhouding met God speel? Waarom ’n God van liefde vrees? ’n Nadere beskouing van hoe die woord “vrees” in die Bybel gebruik word, kan ons ’n beter begrip van hierdie saak gee.
In die meeste tale kan ’n enkele woord, na gelang van die konteks, verskillende betekenisse hê. In party tale kan ’n mens byvoorbeeld sê: “Ek is lief vir roomys” en ook: “Ek het my kinders lief.” Daar is ’n groot verskil in die intensiteit van en die soorte liefde wat uitgedruk word. Die Bybel praat eweneens van verskillende soorte vrees. Wanneer dit dié woord in verband met die aanbidding van God gebruik, verwys dit nie na angs, skrik of ’n gevoel van naderende straf nie. Die vrees van God dra eerder heilsame gevoelens oor—ontsag, eerbied en diep respek. Hierdie edele emosies gaan gepaard met liefde vir God en aangetrokkenheid tot hom, nie met ’n drang om vir hom te vlug of weg te kruip nie.
Die vrees van God verdring morbiede vrees wat ’n mens laat terugdeins. Die psalmis het aangaande die mens wat God vrees, geskryf: “Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE” (Psalm 112:7). Geen bedreiging van bose mense of van Satan self kan ons diep respek en eerbied vir Jehovah oorheers nie (Lukas 12:4, 5). Ons moet ook nie bang wees om God in gebed te nader nie. In hierdie konteks ‘werp liefde vrees eerder uit’.—Johannes 4:18.
Die hemelruim en God se grootsheid
Koning Dawid van die ou tyd was ’n godvresende man. Hy is met ontsag vervul toe hy die prag en ingewikkeldheid van die skepping bepeins het. Hy het uitgeroep: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:14). Hy het na die naghemel gekyk en uitgeroep: “Die hemele vertel die eer van God” (Psalm 19:2). Dink jy dat Dawid bang was ná hierdie ondervinding? Inteendeel, dit het hom beweeg om lofliedere tot Jehovah te sing.
Die uitgebreide kennis wat mense vandag van die hemelruim het, gee ons selfs groter rede om ontsag te hê. Onlangs het sterrekundiges die Hubble-ruimteteleskoop gebruik om dieper in die hemelruim in te kyk as enige mens voor hulle. Hulle het ’n deel van die lug gekies wat vir teleskope op die aarde leeg gelyk het en die Hubble op ’n gebied gefokus so groot soos ’n korreltjie sand wat ’n armlengte ver gehou word. Die foto daarvan was oortrek, nie met individuele sterre nie, maar met sterrestelsels—ontsaglike stelsels wat uit miljarde sterre bestaan—wat nog nooit voorheen deur die mens gesien is nie!
Die omvang, geheimsinnigheid en wonder van die heelal vervul ’n geesdriftige waarnemer met ontsag. Maar sulke wonders is bloot ’n weerspieëling van die Skepper se heerlikheid en krag. Die Bybel noem Jehovah God “die Vader van die hemelse ligte” en sê vir ons: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name”.—Jakobus 1:17; Psalm 147:4.
Die ontsaglike omvang van die heelal word ook gesien in die tydsduur van gebeure in die hemelruim. Die lig van die sterrestelsels wat deur die Hubble-ruimteteleskoop afgeneem is, het al miljarde jare deur die ruimte beweeg! Behoort ons onlangse verskyning en ons nietigheid in vergelyking met die blywendheid van die hemelruim nie te maak dat ons ontsag en groot eerbied het vir die Een wat die sterre gemaak het nie? (Jesaja 40:22, 26). Die wete dat die God wat dit alles geskep het ook ‘aan die sterflike mens dink en vir hom sorg’, laat ons agting vir ons Skepper toeneem en maak dat ons hom wil ken en behaag (Psalm 8:3, 4, NW). Sulke verhewe respek en waardering is wat die Bybel die vrees van God noem.
’n Vergewensgesinde God
Ons is almal onvolmaak. Selfs wanneer ons probeer doen wat reg is, sondig ons onopsetlik. Moet ons bang wees dat ons God se guns gaan verloor wanneer dit gebeur? Die psalmis het geskryf: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word” (Psalm 130:3, 4). Die feit dat die “Grootse Maker” so goedhartig en vergewensgesind is, boesem groot waardering en eerbied by sy aanbidders in.—Jesaja 54:5-8, NW.
Die vrees van God beweeg ons om goed te doen en ook om nie te doen wat God sê sleg is nie. Ons verhouding met ons hemelse Vader kan vergelyk word met dié van ’n goeie menslike vader met sy kinders. Soms onthou kinders dalk nie waarom hulle vader hulle verbied om in die straat te speel nie. En tog, wanneer hulle in die straat agter ’n bal aan wil hardloop, sal die gedagte aan hulle vader se verbod hulle terughou—en moontlik hulle lewe red. ’n Volwassene se vrees vir Jehovah sal hom eweneens daarvan weerhou om ’n daad te pleeg wat lewens kan verwoes—sy eie en dié van ander.—Spreuke 14:27.
Vrees vir God se oordeel
In teenstelling hiermee het iemand wie se gewete hom nie daarvan weerhou om God te mishaag nie rede om op ’n heel ander manier bevrees te wees. Net soos menseregerings kriminele elemente straf, het God die reg om teen moedswillige, onberouvolle oortreders op te tree. God se tydelike toelating van goddeloosheid het daartoe gelei dat party in ’n verkeerde weg verhard geraak het. Maar die Bybel toon duidelik dat hy binnekort alle bose elemente van die aarde af gaan verwyder (Psalm 37:9, 10; Prediker 8:11; 1 Timoteus 5:24). Die onberouvolle goddeloses het rede om straf van God te vrees. En tog is hierdie soort vrees nie die soort vrees wat die Bybel aanbeveel nie.
Die Bybel bring eerder die vrees van Jehovah in verband met die pragtige dinge in die lewe—sang, vreugde, vertroue, wysheid, langlewendheid, sekerheid, voorspoed, hoop en vrede, om maar net ’n paar te noem.a As ons in die vrees van Jehovah bly wandel, sal ons vir ewig sulke seëninge geniet.—Deuteronomium 10:12-14.
[Voetnoot]
a Sien Exodus 15:11, NW; Psalm 34:12, 13; 40:4; 111:10; Spreuke 10:27; 14:26; 22:4; 23:17, 18; Handelinge 9:31.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Met vergunning van Anglo-Australian Observatory, foto deur David Malin