Die pyn om afskeid te neem
“Die dag toe ons eerste baba gebore is, het my man my gewaarsku—‘Om kinders groot te maak, Skat, is een lang afskeid.’”—Ourselves and Our Children—A Book by and for Parents.
DIE meeste ouers is gelukkig—selfs in ekstase—wanneer hulle eerste kind gebore word. Ten spyte van al die ongerief, gesukkel, moeite, frustrasies en bekommernisse wat ouerskap meebring, kan kinders ’n bron van groot vreugde wees. Ongeveer drieduisend jaar gelede het die Bybel gesê: “Kinders is ’n gawe van die HERE; hulle is ’n ware seën.”—Psalm 127:3, Today’s English Version.
Die Bybel maak nietemin ook hierdie voorspelling wat ’n mens tot nugter denke stem: “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat” (Genesis 2:24). Volwasse kinders verlaat gewoonlik die huis om verskeie redes—om opleiding of ’n beroep na te streef, om hulle Christelike bediening uit te brei, om te trou. Maar vir party ouers is hierdie werklikheid net te pynlik. Hulle laat toe dat hulle kinders se natuurlike strewe na onafhanklikheid hulle—soos ’n skrywer dit gestel het—“te na gekom, verontwaardig, verleë, bedreig of verwerp” laat voel. Dit lei dikwels tot eindelose onenigheid en spanning in die gesin. Omdat party ouers weier om te aanvaar dat hulle kinders eendag die huis sal verlaat, versuim hulle om hulle kinders vir die volwasse lewe voor te berei. Hierdie versuim kan verskriklike gevolge hê: volwassenes wat nie goed voorbereid is om ’n huishouding te behartig, vir ’n gesin te sorg of selfs ’n werk te behou nie.
Die pyn van skeiding kan veral in enkelouergesinne erg wees. Karen, ’n enkelouer, sê: “Ek en my dogter is baie geheg aan mekaar; ons het ’n ware vriendskapsband ontwikkel. Ek het haar oral met my saamgeneem.” Hegte ouer-kind-verhoudings is algemeen in enkelouergesinne. Dit is te verstane dat die gedagte aan die verlies van sulke gehegtheid verpletterend kan wees.
Maar die boek Traits of a Healthy Family herinner ouers hieraan: “Dít is wat gesinslewe in werklikheid behels: die versorging van ’n afhanklike kindjie totdat hy of sy ’n onafhanklike volwassene is.” Dit waarsku dan: “Talle probleme in die gesin spruit uit die ouers se onvermoë om afskeid te neem.”
Wat van jou? Is jy ’n ouer? Indien wel, is jy voorbereid op die dag wanneer jy van jou kinders sal moet afskeid neem? En wat van jou kinders? Berei jy hulle voor om op hulle eie reg te kom?