Jongmense vra . . .
Sê nou my ouers staan my huwelik teë?
Lakesha en haar kêrel dink daaraan om te trou, maar haar ma keur dit nie goed nie. “Ek word vanjaar 19”, sê Lakesha, “maar my ma dring daarop aan dat ons wag totdat ek 21 is.”
AS JY beplan om te trou, is dit net natuurlik om te wil hê dat jou ouers daaroor moet bly wees. Dit kan werklik seermaak as jou ouers nie jou keuse van ’n maat goedkeur nie. Wat moet jy doen? Hulle wense ignoreer en met julle huweliksplanne voortgaan?a
Dit kan ’n versoeking wees as jy mondig is en wettig sonder jou ouers se toestemming kan trou. Maar die Bybel sê nie dat ’n mens jou ouers net tot op ’n sekere ouderdom hoef te eer en te respekteer nie (Spreuke 1:8). En as jy hulle gevoelens ignoreer, kan jy blywende skade aan jou verhouding met hulle aanrig. Daarbenewens is daar ook die moontlikheid—selfs dalk ’n waarskynlikheid—dat jou ouers goeie redes het om jou huwelik teë te staan.
Hoe jonk is te jonk?
Sê jou ouers byvoorbeeld vir jou dat jy te jonk is om te trou? Wel, die Bybel gee nie ’n minimum ouderdom vir dié wat wil trou nie. Maar dit beveel wel aan dat ’n mens, voordat jy trou, “verby die bloei van die jeug” moet wees—die jare ná puberteit wanneer die geslagsdrange die sterkste is (1 Korintiërs 7:36). Waarom? Omdat sulke jongmense nog net begin om die emosionele volwassenheid, selfbeheersing en geestelike eienskappe te ontwikkel wat nodig is om die huwelikslewe met welslae aan te pak.—Vergelyk 1 Korintiërs 13:11; Galasiërs 5:22, 23.
Toe die 20-jarige Dale besluit het om te trou, was hy ontsteld oor sy ouers se teenstand. “Hulle het gesê dat ek te jonk en onervare is”, sê hy. “Ek het gedink dat ons gereed is en met verloop van tyd kon leer, maar my ouers wou seker wees dat ek nie net volgens emosies handel nie. Hulle het baie vrae gevra. Is ek gereed om die daaglikse besluite te neem, die finansies te behartig, asook om daadwerklik op ’n materiële, emosionele en geestelike manier na ’n gesin om te sien? Is ek gereed om ’n ouer te word? Het ek werklik al geleer hoe om te kommunikeer? Verstaan ek waarlik die behoeftes van ’n maat? Hulle het gedink dat ek myself beter moes leer ken as ’n volwassene voordat ek na ’n ander volwassene kon begin omsien.
“Hoewel ons nie wou wag nie, het ons ons huwelik uitgestel om ons die tyd te gee om volwasse te word. Toe ons uiteindelik getrou het, het ons die verhouding op ’n beter grondslag begin, en ook met meer om mekaar te bied.”
Wanneer godsdiensverskille die probleem is
Toe Terri romantiese gevoelens ontwikkel het vir ’n man wat nie dieselfde godsdiensoortuiging as sy gehad het nie, het sy in die geheim met hom uitgegaan. Nadat sy hulle trouplanne bekend gemaak het, was Terri ontsteld toe sy uitvind dat haar ma die huwelik teëstaan. “Ek wil nie hê dat my ma so oor my moet voel nie”, het Terri gekla. “Ek wil hê dat ons nog daardie moeder-en-dogter-verhouding moet hê.”
Maar wie het werklik daardie verhouding ondermyn? Was Terri se ma gemeen of onredelik? Nee, sy het bloot gebly by die Bybel se raad aan Christene om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Trouens, die Bybel maan: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14, 15). Waarom nie?
In die eerste plek is godsdiensharmonie ’n baie belangrike faktor in ’n gelukkige en suksesvolle huwelik. Deskundiges sê dat die druk en spanning wat algemeen voorkom in huwelike waar die huweliksmaats aan verskillende godsdienste behoort dikwels tot egskeiding lei. Maar ’n groter bekommernis is die moontlikheid dat jy onder druk geplaas sal word om party van jou godsdiensoortuigings prys te gee—of om heeltemal daarvan afstand te doen. Selfs al meng ’n ongelowige maat nie met jou aanbidding in nie, sou jy nog die hartseer daarvan moet verduur om nie jou diepste oortuigings met hom of haar te kan deel nie. Klink dit soos die resep vir huweliksgeluk?
Terri moes dus ’n moeilike besluit neem. “Ek het Jehovah God lief”, het Terri gesê, “maar ek wil nie my kêrel verloor nie.” Jy moet eenvoudig een van die twee kies. Jy kan nie God se standaarde verontagsaam en nog sy guns en seën geniet nie.
Maar dalk is jou ouers nie ten gunste daarvan dat jy met ’n sekere mede-Christen trou nie. Is dit moontlik om saam met ’n gelowige onder ’n ongelyke juk te kom? Ja, as daardie persoon nie dieselfde geestelike doelwitte of toegewydheid aan God het as jy nie. As dit die geval is of as daardie persoon nie “gunstig vermeld” word deur die broers in sy of haar gemeente nie, is jou ouers dalk tereg besorg oor die feit dat jy met daardie persoon wil trou.—Handelinge 16:2.
Wat van rasse- of kulturele verskille
Lynn se ouers het om ’n ander rede beswaar gemaak: Sy wou met ’n man van ’n ander ras trou. Wat leer die Bybel in hierdie verband? Dit sê vir ons dat “God nie partydig is nie” en dat hy “uit een mens elke nasie van die mense gemaak” het (Handelinge 10:34, 35; 17:26). Mense het ’n gemeenskaplike oorsprong en het ’n gelyke waarde in God se oë.
Terwyl alle egpare “verdrukking in hulle vlees” het, kan diegene in ’n gemengde huwelik nietemin bykomende uitdagings ondervind (1 Korintiërs 7:28). Waarom? Omdat baie mense in die hedendaagse wêreld vol haat nie God se beskouing oor rasse aanvaar nie. Terwyl gemengde huwelike al hoe alledaagser raak in party Westerse lande, is daar nog gebiede waar gemengde egpare sterk vooroordeel ondervind. Jou ouers is dalk bevrees dat jy nie toegerus is om sulke druk te hanteer nie.
“My ouers het gedink dat dit vir ons baie moeilik sou wees”, erken Lynn. Lynn het wyslik hulle gevoelens gerespekteer en nie haastig getrou nie. Namate haar ouers gesien het hoe volwasse Lynn is en die man vir wie sy lief is beter leer ken het, het hulle geleidelik meer oortuig geraak dat sy die druk van hierdie huwelik kon hanteer. Lynn sê: “Toe hulle gemeen het dat ons saam waarlik gelukkig kon wees, was hulle ook gelukkig daaroor.”
Soms is die kwessie egter nie ras nie, maar kultuur. Jou ouers is dalk besorg dat jy dit op die lange duur moeilik sal vind om die lewe te geniet saam met iemand wie se lewenswyse, verwagtinge en smaak in kos, musiek en vermaak so anders is as joune. In ieder geval kan dit groot uitdagings bied om met iemand van ’n ander ras of van ’n ander kultuur te trou. Sal jy dit werklik die hoof kan bied?
Wanneer ’n ouer se teenstand onredelik lyk
Maar sê nou jy voel dat jou ouers se teenstand heeltemal onredelik is? ’n Jong vrou met die naam Faith sê van haar moeder: “My ma is al ’n paar keer geskei. Sy sê dat jy nooit werklik die persoon met wie jy trou, kan leer ken totdat dit te laat is nie. Sy is oortuig dat ek nie gelukkig sal wees as ek getroud is nie.” Dikwels kan ouers wat self ongelukkige huwelike gehad het nie hulle kind se huwelik objektief beskou nie. In party gevalle het ouers twyfelagtige beweegredes waarom hulle hulle kind se huwelik teëstaan, soos ’n begeerte om in beheer van die kind se lewe te bly.
Wat kan jy doen as jou ouers nie gewillig is om na rede te luister nie? Onder Jehovah se Getuies kan gemeentelike ouer manne om hulp gevra word om gesinsprobleme op te los. Sonder om kant te kies, kan hulle gesinslede help om die saak op ’n kalm, vreedsame en produktiewe manier uit te praat.—Jakobus 3:18.
Streef vrede na
Baie ander faktore kan natuurlik veroorsaak dat jou ouers jou huwelik teëstaan, soos finansiële kwellinge of ’n toekomstige huweliksmaat se persoonlikheid. En in die eeu van vigs en ander seksueel oordraagbare siektes is jou ouers moontlik tereg besorg oor jou gesondheid as jou verloofde ’n onsedelike lewe gelei het voordat hy of sy ’n Christen geword het.b
So lank as wat jy in jou ouers se huis woon, is jy verplig om hulle gesag oor jou te erken (Kolossense 3:20). Maar selfs as jy op jou eie woon en oud genoeg is om jou eie besluite te neem, moet jy nog jou ouers se besorgdhede in ag neem. Wees gewillig om te luister (Spreuke 23:22). Oorweeg versigtig die moontlike gevolge daarvan om te trou.—Vergelyk Lukas 14:28.
Nadat jy dit gedoen het, sal jy moontlik wel besluit dat jy nog wil trou. Jy sal natuurlik die volle verantwoordelikheid vir so ’n besluit moet dra (Galasiërs 6:5). As jy alles in jou vermoë gedoen het om jou ouers se standpunt in ag te neem, sal hulle dalk beweeg word om jou besluit te ondersteun, al doen hulle dit teësinnig. Maar as hulle aanhou om besware te opper, moet jy probeer om nie bitter of kwaad te word nie. Onthou: Jou ouers het jou lief en is besorg oor jou toekomstige geluk. Hou aan om met hulle vrede te probeer maak. Namate jy in jou huwelik sukses behaal, sal hulle gesindheid miskien versag.
Aan die ander kant, as jy werklik alles oorweeg wat jou ouers te sê het en jouself sowel as die persoon met wie jy so graag wil trou goed in oënskou neem, moet jy nie verbaas wees as jy tot die verrassende gevolgtrekking kom dat jou ouers dalk op die ou end reg is nie.
[Voetnote]
a Die inligting in hierdie artikel is gerig op jongmense in lande waar dit gebruiklik is dat iemand sy eie huweliksmaat kies.
b Sien die artikel “Hulp aan diegene met vigs” in die Ontwaak! van 22 Maart 1994.
[Prent op bladsy 21]
Jou ouers meen dalk dat jy te jonk is om te trou