Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 8/22 bl. 23-25
  • Smaak—’n geskenk van ’n liefdevolle Skepper

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Smaak—’n geskenk van ’n liefdevolle Skepper
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Smaak en wêreldgeskiedenis
  • Die rol van die tong
  • Hoe smaak werk
  • Hoe om ’n smaak aan te leer
  • Wanneer smaak afneem
  • ’n Godgegewe seën
  • Jou smaaksin
    Ontwaak!—2008
  • ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • Proe en sien dat Jehovah goed is
    Sing vir Jehovah
  • “Kom ondervind” Jehovah se goedheid – Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 8/22 bl. 23-25

Smaak—’n geskenk van ’n liefdevolle Skepper

“IN DIE ryk van die [vyf] sintuie”, het Linda Bartoshuk, ’n vooraanstaande smaaknavorser, gesê, “is smaak die koningin.” Smaak is ’n aangename ondervinding wat ons beskerm deur ons te help om te onderskei wat aanvaarbaar en wat skadelik is.

Die wonder van smaak stel ons in staat om die soetheid van ’n vars lemoen te geniet, asook die verfrissende koelheid van pepermentroomys, die verkwikkende bitter smaak van ’n koppie koffie in die oggend en die subtiele smaak in ’n kok se geheime sous. Smaak is so kragtig dat karaktertrekke al daarmee in verband gebring is.

Jy het dalk al gesê dat ’n kind soet is. Aan die ander kant, het jy iemand anders miskien as suur beskryf. Iemand wat ’n ander persoon vyandiggesind is, word moontlik bitter genoem. Die Bybel praat byvoorbeeld van “manne met ’n bitter gemoed” en verwys ook na “bitter woorde”.—Rigters 18:25; Psalm 64:4; 2 Samuel 17:8.

Smaak en wêreldgeskiedenis

Smaak was ’n vername faktor in die ontdekkingsreise gedurende die 15de en 16de eeu. Ongeveer 500 jaar gelede het Vasco da Gama om die punt van Afrika na Indië geseil en met ’n vrag speserye na Portugal teruggekeer. Gedurende die volgende drie eeue was Europese nasies in konflik gedompel omdat Frankryk, Groot Brittanje, Holland, Portugal en Spanje met mekaar meegeding het om beheer oor speserybronne te verkry.

‘Waarom’, wonder jy dalk, ‘sou nasies oor speserye veg en daarvoor sterf?’ Om smaak te bevredig! Ja, dit is hoe groot die Europeërs se liefde vir speserye was. Tot vandag toe bevredig die hedendaagse nywerheid, handel en wetenskap mense se smaak.

Presies wat is smaak? En hoe werk dit saam met ons ander sinne?

Die rol van die tong

Die tong speel ’n belangrike rol in ons smaaksin. Die meeste van ons smaakknoppies is daar geleë, hoewel party in ander monddele en in die slukderm gevind word. Bekyk nou jou tong van naderby in die spieël. Sien jy die talle klein uitsteeksels wat jou tong fluweelagtig laat voel? Hulle word papille genoem. Piepklein smaakknoppies is saamgepak in die papille op die tong se oppervlak. “Elke knoppie bevat sowat 100 smaakselle”, sê die tydskrif Science, “wat, wanneer dit gestimuleer word, ’n senusel prikkel wat die sein na die brein toe oordra.”

Die aantal smaakknoppies kan grootliks van mens tot mens verskil en beïnvloed dus ons smaak. Die mens se tong kan tot 10 000 smaakknoppies hê of maar net 500. Inglis Miller, wat die anatomie van smaakknoppies bestudeer het, het gesê: “Mense wat meer smaakknoppies het, proe meer; mense met minder smaakknoppies proe minder.”

Hoe smaak werk

Smaak is ’n baie ingewikkelde sin. Dit het streng gesproke met chemiese prosesse te doen. Opgeloste chemiese bestanddele van voedsel in ons mond stimuleer smaakreseptors wat deur die gaatjies in ons tong uitsteek. Die reseptorselle reageer en prikkel senuselle (neurone) om seine van die smaakknoppie na die brein te stuur.

Dit is verbasend dat een smaakknoppie baie verskillende neurone aan die gang kan sit, en een neuron kan boodskappe van verskeie smaakknoppies ontvang. Niemand weet presies hoe die smaakreseptors en hulle ingewikkelde stelsel dit alles uitwerk nie. The Encyclopedia Americana sê: “Die sensasies wat in die brein ontvang word, spruit klaarblyklik voort uit ’n ingewikkelde kodering van die elektriese impulse wat deur die reseptorselle gestuur word.”

Ander sintuie is ook betrokke by die sensasie wat ons as smaak identifiseer. The New Book of Popular Science het gesê: “Soms weet ’n mens nie eintlik of jy iets proe of ruik nie.” Ons stap byvoorbeeld verby ’n bakkery en kry die geur van brood wat warm uit die oond is. Ons mond begin water. En as ons dan die winkel binnestap en die brood sien en dalk aan die kors raak, word ons sinne nog meer gestimuleer. Ons kan nie wag om daardie eerste happie te vat nie!

Wat is hierdie smaaksin dus? Die tydskrif Omni verduidelik: “Wat die leek as smaak beskryf, is eintlik ’n kombinasie van ’n aantal sensasies: reuk, smaak, gevoel, tekstuur, gesig, chemiese irritasie (die branderigheid van ’n brandrissie, die koelheid van peperment) en temperatuur.”

Aan die ander kant, sê die artikel voorts, “is smaak . . . heel eenvoudig. Ons maak ’n onderskeid tussen vier (en net vier) smake: soet, sout, suur en bitter.” Hoewel dit voorheen iets algemeens was om die tong in gebiede te verdeel wat vir verskillende smake sensitief is, word daar nou gemeen dat ’n enkele smaakknoppie enige plek op die tong verskeie of al vier hierdie smake kan gewaar.

Maar daar is nog baie wat onbekend is oor die chemiese prosesse van smaak. Daar word byvoorbeeld nie verstaan waarom ’n paar druppels suurlemoensap wat by voedsel gevoeg word die souterige smaak daarvan sal verhoog nie. En dit is interessant dat soet, suur en souterige smake elektriese seine in die smaakselle aan die gang sit, maar dat ’n bitter smaak blykbaar veroorsaak dat hierdie selle ’n chemiese boodskap voortbring.

Hoe om ’n smaak aan te leer

Jy het waarskynlik ’n smaak aangeleer vir dinge wat jy aanvanklik nie geniet het nie. Dit is dalk die geval met dinge soos olywe, bloukaas, rape, sterk speserye en maagbitters. Van die vroegste tye af het “bitter kruie”, soos andyvie en sigorei, ’n spesiale geur aan maaltye en slaaie gegee. Maar jou smaak moet geleer word om bitterheid te geniet.—Exodus 12:8.

Studies toon dat die omstandighede waaronder ’n mens voedsel teëkom ’n groot rol daarin speel of jy ’n smaak daarvoor aanleer of nie. Een vrou het byvoorbeeld nooit Bologna-wors geproe nie. Selfs om dit te sien en te ruik, was vir haar baie onaangenaam omdat haar moeder so ’n weersin in Bologna-wors gehad het. Maar eendag, toe hierdie vrou in haar twintigerjare was, was sy baie honger en het sy niks gevind om te eet behalwe Bologna-wors nie. Sy het dus daarvan geëet en was verbaas dat sy werklik van die smaak gehou het!

As jy dus ’n smaak vir iets nuuts wil aanleer, moet jy dit probeer eet wanneer jy werklik honger is. En as jy ’n ouer is, moet jy onthou dat die manier waarop jy op sekere voedselsoorte reageer, sowel as die omstandighede waaronder jy dit vir die eerste keer voorsit, jou kinders kan beïnvloed. Skep ’n aangename milieu wanneer jy nuwe voedselsoorte voorsit. Betrek jou kind. Een skryfster het voorgestel:

“Hou jou baba of kleuter gedurende die voorbereiding van die maaltyd in die kombuis in ’n speelhok of sitplek. Hy sal die gesin se voedsel in ’n aangename, gemaklike omgewing sien en ruik—en daarvan leer selfs voordat hy oud genoeg is om dit te eet. ’n Paar maande later kan jy vir hom stukkies gee van wat jy voorberei, rou of gedeeltelik gaar.”

Sy het bygevoeg: “Dit sal dalk beplanning en ekstra tyd verg, maar jy kan af en toe met ’n maaltyd eenvoudige maniere vind waarop jou kind jou kan help om ’n nuwe gereg of ’n gereg waarvan hy nie hou nie voor te berei. Moedig hom aan om gedurende die voorbereiding daaraan te proe. Jou helper sal gelukkig en honger wees wanneer hy daaraan proe—volmaakte omstandighede vir ’n suksesvolle kennismaking met die voedselsoort.”

Wanneer smaak afneem

Ongelukkig kan smaak afneem namate ’n mens ouer word, soos koning Dawid se bejaarde vriend Barsillai aangedui het toe hy gesê het: “Ek is vandag tagtig jaar oud. . . . Sal u dienaar kan proe wat ek eet en wat ek drink?” (2 Samuel 19:35). Ander faktore kan ook betrokke wees by ’n afname in smaak of selfs ’n verlies daarvan.

Die probleem kan die gevolg wees van ’n kopbesering, ’n allergie, ’n infeksie, medisyne, blootstelling aan giftige chemikalieë of selfs ’n eenvoudige kopverkoue. Die absolute wanhoop van diegene sonder reuk en smaak is op aangrypende wyse beskryf deur iemand wat albei verloor het. Sy het geskryf: “Ons aanvaar die ryk geur van koffie en die soet smaak van lemoene as so vanselfsprekend dat die dag wanneer ons hierdie sinne verloor dit byna is asof ons vergeet het hoe om asem te haal.”

So genoemde skynsmaak is ’n hinderlike versteuring waarin iemand voortdurend iets proe wat nie daar is nie. Kankerpasiënte wat chemoterapie ondergaan, ondervind soms veranderinge in smaak en reuk.

’n Godgegewe seën

Wat ’n genot is dit tog wanneer ons smaak skerp is! Talle ouer mense dink met genoeë terug aan die smake wat hulle gedurende hulle jeug geniet het—van ryp vrugte wat hulle van die bome afgepluk het of van geregte wat spesiaal voorberei is. Ons kan sien dat ons Skepper graag wil hê dat ons hierdie vreugdes van smaak moet geniet uit sy belofte van ’n maaltyd “van vetspyse vol murg” in sy regverdige nuwe wêreld, wanneer lyding, bejaardheid en die dood nie meer daar sal wees nie.—Jesaja 25:6-9; Job 33:25; Openbaring 21:3, 4.

Smaak verryk waarlik ons lewe. Daarsonder sou etery so eentonig wees soos om brandstof in ’n motor te gooi. Dit is beslis ’n seën van die alwyse en liefdevolle Skepper!

[Prent op bladsy 24]

Leer jou kind om voedsame voedselsoorte te geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel