Kan alle mense mekaar ooit liefhê?
’N WETGELEERDE het so pas gesê dat ons God heelhartig moet liefhê en ons naaste soos onsself moet liefhê om die “ewige lewe” te kan geniet. Jesus het die wetgeleerde geprys en vir hom gesê: “Jy het korrek geantwoord; ‘hou aan om dit te doen en jy sal die lewe verkry’” (Lukas 10:25-28; Levitikus 19:18; Deuteronomium 6:5). Maar die man, wat wou bewys dat hy regverdig is, het gevra: “Wie is dan my naaste?”
Die wetgeleerde het ongetwyfeld verwag dat Jesus sou sê: “Jou mede-Jode.” Maar Jesus het ’n verhaal van ’n barmhartige Samaritaan vertel, wat getoon het dat mense van ander nasionaliteite as ons ook ons naaste is (Lukas 10:29-37; Johannes 4:7-9). Gedurende sy bediening het Jesus beklemtoon dat liefde vir God en liefde vir ons naaste die belangrikste gebooie van ons Skepper is.—Matteus 22:34-40.
Maar het enige groep mense al ooit werklik hulle naaste liefgehad? Is dit werklik moontlik vir alle mense om mekaar lief te hê?
’n Eerste-eeuse wonderwerk
Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle herken sou word aan ’n liefde wat nie deur rasse-, nasionale of enige ander grense aan bande gelê sou word nie. Hy het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Toe het hy bygevoeg: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35; 15:12, 13.
Jesus se leringe oor liefde en die krag wat sy voorbeeld daaraan verleen het, het ’n eerste-eeuse wonderwerk tot gevolg gehad. Sy volgelinge het hulle Meester nagevolg en geleer om mekaar lief te hê op ’n manier wat oral aandag getrek en bewondering afgedwing het. Tertullianus, ’n skrywer van die tweede en derde eeu G.J., het nie-Christene aangehaal wat Jesus se volgelinge geprys het: ‘Kyk hoe lief het hulle mekaar en hoe gewillig is hulle om vir mekaar te sterf.’
Trouens, die apostel Johannes het geskryf: “Ons staan onder verpligting om vir ons broers van ons siele afstand te doen” (1 Johannes 3:16). Jesus het selfs sy volgelinge geleer om hulle vyande lief te hê (Matteus 5:43-45). Wat is die gevolg wanneer mense ander waarlik liefhet soos Jesus hulle geleer het?
’n Professor in staatsleer het klaarblyklik oor daardie vraag nagedink. Daarom het hy gevra, soos in The Christian Century opgeteken is: “Kan enigeen hom in alle erns voorstel dat Jesus handgranate na sy vyande sou gooi, ’n masjiengeweer sou gebruik, ’n vlamwerper sou hanteer, kernbomme sou neerwerp of ’n IBM [interkontinentale ballistiese missiel] sou afvuur wat duisende moeders en kinders sou doodmaak of vermink?”
In antwoord hierop het die professor gesê: “Die vraag is so absurd dat dit nouliks ’n antwoord verdien.” Hy het dus die vraag geopper: “As Jesus dit nie kon doen en aan sy karakter getrou bly nie, hoe kan ons dit dan doen en aan hom getrou bly?” Die neutraliteit van Jesus se vroeë volgelinge, wat goed deur baie geskiedenisboeke gedokumenteer is, behoort ons dus nie te verbaas nie. Kom ons kyk net na twee voorbeelde.
Our World Through the Ages, deur N. Platt en M. J. Drummond, sê: “Die gedrag van die Christene was baie anders as dié van die Romeine. . . . Aangesien Christus vrede verkondig het, het hulle geweier om soldate te word.” En The Decline and Fall of the Roman Empire, deur Edward Gibbon, sê: “[Vroeë Christene] het geweier om enigsins aktief deel te neem aan die burgerlike administrasie of die militêre verdediging van die ryk. . . . Dit was onmoontlik vir die Christene om soldate te word sonder om ’n heiliger plig te verloën.”
Wat van vandag?
Is daar enigiemand wat vandag soos Christus liefde beoefen? Die Encyclopedia Canadiana sê: “Die werk van Jehovah se Getuies is die herlewing en herstel van die oorspronklike Christelike geloof wat deur Jesus en sy dissipels beoefen is . . . Almal is broers.”
Wat beteken dit? Dit beteken dat Jehovah se Getuies nie toelaat dat enigiets—nie ras, nasionaliteit of etniese agtergrond—daartoe lei dat hulle hulle naaste haat nie. Hulle sal ook nie enigiemand doodmaak nie, want hulle het in figuurlike sin van hulle swaarde pikke gesmee en van hulle spiese snoeimesse, soos die Bybel voorspel het ware knegte van God sou doen.—Jesaja 2:4.
Dit is geen wonder nie dat ’n hoofartikel in Kalifornië se Sacramento Union gesê het: “Dit is voldoende om te sê dat daar ’n einde sou wees aan bloedvergieting en haat as die hele wêreld soos Jehovah se Getuies lewe, en liefde sou as koning heers”!
’n Skrywer in die Hongaarse tydskrif Ring het eweneens gesê: “Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat oorloë sou ophou as Jehovah se Getuies die enigstes was wat op die aarde lewe, en polisiemanne se enigste pligte sou wees om die verkeer te beheer en paspoorte uit te reik.”
In die Italiaanse kerkblad Andare alle genti het ’n Rooms-Katolieke non ook haar bewondering vir die Getuies uitgespreek: “Hulle verwerp enige vorm van geweld, en sonder om opstandig te raak, verduur hulle die talle beproewinge waaraan hulle onderwerp word weens hulle oortuiging . . . Hoe anders sal die wêreld tog wees as ons almal een oggend wakker word met die vaste voorneme om, net soos Jehovah se Getuies, nooit weer die wapen op te neem nie, ongeag die koste of die rede!”
Die Getuies is daarvoor bekend dat hulle die inisiatief neem om hulle naaste te help (Galasiërs 6:10). ’n Letlander het in haar boek Women in Soviet Prisons gesê dat sy baie siek geword het terwyl sy in die middel-sestigerjare by die Potma-strafkamp gewerk het. “Die hele tyd wat ek siek was, het [die Getuies] my ywerig verpleeg. Ek kon nie vir beter versorging gevra het nie, veral nie onder die kamptoestande nie.” Sy het bygevoeg: “Jehovah se Getuies beskou dit as hulle plig om almal te help, ongeag hulle godsdiens of nasionaliteit.”
Die openbare pers in die Tsjeggiese Republiek het onlangs kennis geneem van hierdie gedrag van die Getuies in konsentrasiekampe. Die koerant Severočeský deník het die volgende kommentaar gelewer oor die dokumentêre film “Die verlore tuiste”, wat in Brno vervaardig is: “Dit is opmerkenswaardig dat selfs hierdie betroubare tydgenote [Tsjeggiese en Slowaakse Joodse oorlewendes] met opmerklike bewondering ten gunste van gevangenes getuig het wat Jehovah se Getuies is. ‘Hulle was baie moedige mense wat ons altyd gehelp het waar hulle kon, hoewel hulle gevaar geloop het om tereggestel te word’, het baie gesê. ‘Hulle het vir ons gebid, asof ons deel van hulle gesin was; hulle het ons aangemoedig om nie moed op te gee nie.’”
Maar kan jy diegene liefhê wat jou haat? Is dit moontlik?
Liefde oorwin haat
Jesus se lering dat jy jou vyande moet liefhê, stem ooreen met die Bybelspreuk: “As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink” (Spreuke 25:21; Matteus 5:44). ’n Swart vrou wat onlangs een van Jehovah se Getuies geword het, het die volgende geskryf oor die positiewe uitwerking wat dit het as jy liefdevolle aandag ontvang van diegene wat jy vroeër as vyande beskou het: “Daar was al tye dat ek so ontroer was dat ek my trane nie kon keer nie omdat ek die opregte liefde van wit Getuies ondervind het, mense wat ek nie lank gelede nie sonder aarseling sou doodmaak om die revolusiestryd te bevorder.”
’n Franse Getuie het vertel dat ’n buurvrou haar moeder tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Gestapo aangegee het. “As gevolg daarvan het my ma twee jaar in Duitse konsentrasiekampe deurgebring, waar sy byna gesterf het”, het die dogter verduidelik. “Ná die oorlog wou die Franse polisie hê dat my ma ’n dokument teken waarin sy hierdie vrou as ’n Duitse medewerker moes beskuldig. Maar my ma het geweier.” Later het die buurvrou terminale kanker gekry. Die dogter het gesê: “My ma het ure daaraan bestee om die laaste maande van haar lewe so gemaklik moontlik te maak. Ek sal nooit hierdie oorwinning van liefde oor haat vergeet nie.”
Mense kan ongetwyfeld leer om mekaar lief te hê. Eertydse vyande—Tutsi’s en Hutu’s, Jode en Arabiere, Armeniërs en Turke, Japannese en Amerikaners, Duitsers en Russe, Protestante en Katolieke—is almal deur Bybelwaarheid verenig!
Aangesien miljoene mense wat mekaar voorheen gehaat het mekaar nou liefhet, kan ’n hele wêreld vol mense dit sekerlik ook doen. Maar ons moet erken dat ’n enorme verandering regoor die wêreld nodig sal wees as alle mense mekaar moet liefhê. Hoe sal daardie verandering plaasvind?
[Prente op bladsy 7]
Wit en swart mense in Suid-Afrika
Jode en Arabiere
Hutu’s en Tutsi’s
Getuies het in figuurlike sin van hulle swaarde pikke gesmee