Jongmense vra . . .
Waarom moet ek sonder my ouers leef?
“Hoe was dit om sonder my ouers te leef? Ek moet erken dat dit om baie redes nogal hartseer was. Dit is baie moeilik om sonder die toegeneentheid en liefde van jou ouers groot te word.”—Joaquín.
“Die dae wanneer die ouers moes kom om die skoolrapporte te teken, was vir my die moeilikste. Ek het baie hartseer en eensaam gevoel. Soms voel ek nog steeds so.”—16-jarige Abelina.
DIT is ’n tragedie van ons tyd—miljoene jongmense word sonder ouers groot. In Oos-Europa het duisende hulle ouers weens oorloë verloor. In Afrika het die vigs-epidemie soortgelyke verwoesting aangerig. Sommige kinders is eenvoudig deur hulle ouers verwerp. Gesinne is as gevolg van oorlog of natuurrampe geskei.
Sulke situasies was selfs in Bybeltye algemeen. Die hartseer situasie van die weeskind word byvoorbeeld herhaaldelik in die Skrif gemeld (Psalm 94:6; Maleagi 3:5). Destyds het oorloë en ander tragiese omstandighede ook gesinslede geskei. Die Bybel praat van ’n dogtertjie wat weggeskeur is van haar ouers toe ’n Siriese bende haar weggevoer het.—2 Konings 5:2.
Miskien is jy een van die miljoene jongmense wat ook sonder ouers is. Indien wel, weet jy hoe pynlik hierdie situasie kan wees. Waarom het dit met jou gebeur?
Nie jou skuld nie
Wonder jy soms of God jou nie dalk om die een of ander rede straf nie? Of dalk voel jy bitter kwaad vir jou ouers omdat hulle gesterf het—asof hulle dit opsetlik gedoen het. Wees eerstens daarvan verseker dat God nie vir jou kwaad is nie. Jou ouers het jou ook nie met opset verlaat nie. Die dood is die tragiese lot van die onvolmaakte mensdom, en soms tref dit ouers wanneer hulle kinders nog jonk is (Romeine 5:12; 6:23). Jesus Christus self het klaarblyklik sy geliefde peetvader, Josef, aan die dood afgestaan.a Dit was beslis nie as gevolg van enige sonde aan Jesus se kant nie.
Jy moet ook besef dat ons in ‘kritieke tye lewe wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). In hierdie eeu het geweld, oorlog en misdaad miljoene mense sonder onderskeid gedood. Ander was slagoffers van “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse”, wat enigeen kan tref (Prediker 9:11, NW). Hoe pynlik jou ouers se dood ook al mag wees, dit is eenvoudig nie jou skuld nie. Put eerder vertroosting uit God se belofte van ’n opstanding as om jouself deur selfverwyt te kasty of deur droefheid oorweldig te word.b Jesus het voorspel: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Abelina, wat aan die begin gemeld is, sê: “My liefde vir Jehovah en die opstandingshoop het my baie gehelp.”
Gestel egter jou ouers lewe nog, maar het jou verlaat. God vereis dat ouers hulle kinders grootmaak en in hulle behoeftes voorsien (Efesiërs 6:4; 1 Timoteus 5:8). Dit is egter hartseer dat sommige ouers ’n skokkende gebrek aan “natuurlike geneentheid” vir hulle kinders toon (2 Timoteus 3:3). Ander verlaat hulle kinders as gevolg van volslae armoede, dwelmverslawing, tronkstraf of alkoholisme. Daar is weliswaar ook ouers wat bloot om selfsugtige redes hulle kinders verlaat. Hoe dit ook al sy, dit is verpletterend om van jou ouers geskei te wees. Maar dit beteken nie dat daar iets met jou verkeerd is of dat jy jouself met skuldgevoelens moet pynig nie. Inteendeel, dit is jou ouers wat voor God verantwoording sal moet doen vir hoe hulle jou behandel het (Romeine 14:12). As jou ouers natuurlik noodgedwonge van jou moes skei weens omstandighede buite hulle beheer, soos ’n natuurramp of siekte, is dit niemand se skuld nie! Daar is altyd die hoop om herenig te word, selfs al lyk daardie hoop met tye skraal.—Vergelyk Genesis 46:29-31.
’n Traumatiese ondervinding
Intussen ondervind jy dalk ’n aantal ernstige probleme. ’n Studie deur die Verenigde Nasies-kinderfonds, met die titel Children in War, bring die volgende aan die lig: “Die kwesbaarste kinders is kinders wat op hulle eie is—dié wat . . . voor die grootste struikelblokke in die weg van oorlewing te staan kom, wat geen ondersteuning het om normaal te ontwikkel nie en wat mishandel word. Dit kan een van die mees traumatiese verliese vir ’n kind wees om van sy ouers geskei te word.” Dalk bevind jy jou in dié situasie waar jy veg teen gevoelens van depressie en frustrasie.
Onthou jy Joaquín wat vroeër gemeld is? Sy ouers is uitmekaar en het hom en sy broers en susters verlaat. Hy was destyds maar net ’n jaar oud, en sy ouer susters het hom grootgemaak. Hy verduidelik: “Ek wou altyd weet waarom ons nie ouers het soos my maats nie. En wanneer ek gesien het hoe ’n pa met sy seun speel, het ek gewens dat hy my pa was.”
Hulp
Hoe moeilik dit ook al is om sonder ouers groot te word, dit beteken nie dat jy ’n mislukking gaan wees nie. Met hulp en ondersteuning kan jy probleme trotseer en boonop gedy. Dit is dalk vir jou moeilik om te glo, veral as jy oorweldig word deur hartseer en droefheid. Jy moet egter besef dat sulke gevoelens normaal is en dat dit jou nie vir ewig sal pynig nie. In Prediker 7:2, 3 lees ons: “Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd . . . Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart.” Ja, dit is normaal en goed om te huil en te treur wanneer ’n vreeslike tragedie plaasgevind het. Jy sal dit moontlik ook nuttig vind om ’n simpatieke vriend of ’n ryp gemeentelid in jou vertroue te neem en te praat oor die pyn wat jy ervaar.
Jy sal dalk wel in die versoeking kom om jou te onttrek en af te sonder. Maar Spreuke 18:1 waarsku: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.” Dit is beter om hulp te soek by iemand wat vriendelik en simpatiek is. Spreuke 12:25 sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.” Jy kan slegs daardie “vriendelike woord” ontvang as jy vir iemand van jou “bekommernis” vertel.
Met wie kan jy praat? Soek ondersteuning binne die Christengemeente. Jesus belowe dat jy daar “broers en susters en moeders” sal vind wat jou sal liefhê en oor jou besorg sal wees (Markus 10:30). Joaquín sê: “Assosiasie met Christenbroers het my ’n ander siening van die lewe gegee. Gereelde vergaderingbywoning het daartoe gelei dat ek liewer geword het vir Jehovah en hom wou dien. Ryp broers het geestelike hulp en raad aan ons gesin gegee. Vandag is party van my broers en susters voltydse bedienaars.”
Jy moet ook onthou dat Jehovah “’n vader van die wese” is (Psalm 68:6, 7). In Bybeltye het God sy volk aangespoor om barmhartig en regverdig teenoor die wese op te tree (Deuteronomium 24:19; Spreuke 23:10, 11). En hy is vandag net so besorg oor jongmense wat nie ouers het nie. Wend jou dus tot God in gebed met die sekerheid dat hy vir jou omgee en jou sal verhoor. Koning Dawid het geskryf: “My vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem. Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees!”—Psalm 27:10, 14.
’n Jong persoon sonder ouers kom nogtans voor talle daaglikse uitdagings te staan. Waar gaan jy bly? Hoe sal jy finansieel die mas opkom? ’n Toekomstige artikel sal maniere bespreek om van hierdie uitdagings met welslae die hoof te bied.
[Voetnote]
a Voor Jesus se dood het hy die sorg van sy moeder aan sy dissipel Johannes toevertrou, iets wat hy waarskynlik nie sou gedoen het as sy peetvader, Josef, nog geleef het nie.—Johannes 19:25-27.
b Sien die “Jongmense vra . . . ”-artikels wat in die Ontwaak! van 22 Augustus en 8 September 1994 verskyn het, vir inligting oor hoe om die dood van ’n ouer te verwerk.
[Lokteks op bladsy 24]
“My liefde vir Jehovah en die opstandingshoop het my baie gehelp”
[Prent op bladsy 24]
Soms kan gevoelens van eensaamheid jou oorweldig
[Prent op bladsy 25]
In die gemeente is daar vriende wat jou kan help en bemoedig