Van ons lesers
Einde van armoede Baie dankie vir die reeks “Die einde van armoede kom nader” in die Ontwaak! van 8 Junie 1998. Dit het dinge werklik in perspektief gebring en my bewus gemaak van my eie klaery. Ek is werkloos en het min ekstra geld. Ek het gedink ek leef in armoede. Maar dit is nie so erg nie! Hierdie artikel toon dat daar ander is wat swaarder kry as ek. Ek moet dankbaar wees vir wat ek reeds het—kos, klere, goeie gesondheid en, die belangrikste van alles, Jehovah. Ek sien so uit na die einde van armoede. Dit is my voorneme om Jehovah se Koninkryk voortdurend te soek en op te hou kla.
C. W., Nieu-Seeland
Die selibaat Ek is al ’n hele paar jaar ’n leser van julle tydskrifte. Ek moet beswaar maak teen julle eensydige beriggewing oor die leerstellings van die Katolieke Kerk in die artikel: “Die Bybelse beskouing: Is die selibaat ’n vereiste vir Christenbedienaars?” (8 Junie 1998). Daar is geen “gedwonge selibaat” in die Katolieke Kerk nie! Daar is net ’n vrywillig gekose selibaat wat ’n voorvereiste vir ’n sekere beroep is. Wie ook al beweer dat die selibaat op hom afgedwing is, vertel leuens.
R. G., Duitsland
Ons glo dat daar ’n belangrike onderskeid is tussen die uitdrukking gedwonge selibaat en die gedagte dat mense tot die selibaat gedwing word. As ’n maatskappy byvoorbeeld streng vereistes vir kleredrag instel en net mense in diens neem wat instem om daarby te bly, maar diegene afdank wat dit nie nakom nie, kan daar gesê word dat die maatskappy se vereistes vir kleredrag ‘afgedwing’ word. Dit is insgelyks redelik om te sê dat daar “gedwonge selibaat” in die Katolieke priesterdom is. Ons artikel het egter hoofsaaklik gewys op die gebrek aan ’n skriftuurlike grondslag om die selibaat ’n voorvereiste vir Christenbedienaars te maak (1 Timoteus 3:2). Die artikel het nie diegene gekritiseer wat die ongetroude lewe as ’n lewenswyse kies nie, maar het eerder gesê dit kan “’n lonende en geestelik bevredigende lewensweg vir sommige wees”.—RED.
My keuse tussen twee vaders Ek het die waarheid van God se Woord by ’n skoolvriend geleer toe ek 14 jaar oud was. My ouers, veral my pa, het my studie teëgestaan. Gelukkig het hy nooit enige van sy dreigemente om my uit die huis te sit, deurgevoer nie. Ek het volhard en is vyf jaar gelede gedoop. Soos die broer in die artikel (8 Junie 1998) hoop ek dat my ouers eendag dieselfde hoop as ek sal hê om in Jehovah se regverdige nuwe wêreld te lewe.
W. S. L., Brasilië
Ek kry trane in my oë wanneer ek die artikel lees. My pa is ’n vasbeslote teenstander van my opvattings. Selfs al kan ons soms op ’n redelike wyse met mekaar praat, is ek bang vir sy woedeuitbarstings wanneer die Bybel of Jehovah se Getuies ter sprake kom. Hy het my al verskeie kere fisies aangeval. Maar die artikel was ’n liefdevolle aanmoediging vir my om standvastig te bly, selfs te midde van sulke druk.
I. H., Duitsland
Die artikel het my diep geraak. Omdat ek in ’n godsdienstig verdeelde gesin grootgeword het, kan ek die emosionele lyding van die jong man verstaan wat gedwing is om so ’n moeilike keuse te maak.
A. M., Italië
Fibromialgie Baie dankie vir die artikel “Fibromialgie—Verstaan dit en leef daarmee saam” (8 Junie 1998). Ek ly al ses jaar aan fibromialgie. Die artikel is deeglik en akkuraat. Die tekste in die venster het my ook baie aangemoedig.
N. M., Verenigde State
Die artikel het baie reaksie uitgelok. Ons hoop om meer kommentare in toekomstige nommers te plaas.—RED.