Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/8 bl. 3-4
  • Kinders in ’n krisis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kinders in ’n krisis
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kindersoldate en weeshuise
  • Deur die geswoeg van kinders
    Ontwaak!—1999
  • Seksuele uitbuiting van kinders—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—1997
  • Diskriminasie teen die vroulike geslag
    Ontwaak!—1998
  • Waarom kinders goeie soldate maak
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/8 bl. 3-4

Kinders in ’n krisis

“Tensy ons in ons kinders belê, sal die hele mensdom se mees basiese langtermynprobleme basiese langtermynprobleme bly.”—Verenigde Nasies-kinderfonds.

KINDERS oor die hele wêreld is in ’n krisis. Afdoende bewys van die omvang van hierdie tragedie is in 1996 by die Wêreldkongres teen Kommersiële Seksuele Uitbuiting van Kinders gelewer wat in Stockholm, Swede, gehou is en deur verteenwoordigers van 130 lande bygewoon is. Verslae het byvoorbeeld getoon dat daar in baie wêrelddele miljoene jong meisies is, waarvan party maar net tien jaar oud is, wat gedwing word om as prostitute te werk.

Die Melbourne University Law Review van Australië het gesê dat sulke gedwonge prostitusie al “een van die ergste hedendaagse vorme van slawerny” genoem is. Ná jare van fisiese, verstandelike en emosionele mishandeling sal hierdie meisies vir die res van hulle lewe die letsels dra. In die meeste gevalle onderwerp die meisies hulle aan hierdie wreedheid net omdat hulle wil eet om aan die lewe te bly. Die ander uitweg is om van die honger te sterf. Dit is hartseer dat baie van hierdie verwaarloosde kinders gedwing is om prostitute te word deur hulle eie armoedige ouers wat hulle vir geld verkoop het.

Die kwessie van kinderarbeid, wat dikwels tot vurige besprekings lei, het verder tot die ooglopende tragedie van kinders bygedra. In Asië, Suid-Amerika en elders, asook in sommige trekarbeidergemeenskappe in die Verenigde State, word kinders van net vyf jaar gedwing om werk te doen wat as “slawearbeid” beskryf kan word. Hulle werk soos klein robotte in haglike toestande wat hulle jong liggame en verstande verwoes. Die meeste gaan nie skool nie, ontvang geen ouerliefde nie, het nie ’n huis waar hulle veilig kan voel nie, het geen speelgoed nie, het geen parke om in te speel nie. Baie word hardvogtig deur hulle ouers uitgebuit.

Kindersoldate en weeshuise

Wat die tragedie selfs verder vererger, is dat al hoe meer kindersoldate in guerrillaleërs gebruik word. Kinders word ontvoer of word moontlik in slawemarkte gekoop en dan stelselmatig aan wreedheid blootgestel, soms deur toe te kyk hoe mense vermoor word. Party is selfs beveel om hulle eie ouers dood te maak of dwelms te neem om hulle moordlus te vergroot.

Die volgende is ’n voorbeeld van die gevolge van die breinspoeling waaraan duisende kindersoldate in Afrika blootgestel word. Hierdie ontstellende gesprek is gevoer tussen ’n maatskaplike werker en ’n seunsoldaat wat blykbaar sy bietjie onskuld probeer behou het:

“Het jy mense doodgemaak? ‘Nee.’

Het jy ’n geweer gehad? ‘Ja.’

Het jy die geweer op hulle gerig? ‘Ja.’

Het jy die sneller getrek? ‘Ja.’

Wat het gebeur? ‘Hulle het net neergeval.’”

Party van hierdie jongmense is nog blote kinders as ’n mens in ag neem dat die soldate maar ses jaar en ouer is. Volgens berig was daar reeds in 1988 ongeveer 200 000 kindersoldate regoor die wêreld.

Tussen 1988 en 1992 is daar in ’n weeshuis in ’n Asiatiese land na bewering 550 kinders, die meeste meisies, uitgekies om van honger te sterf. ’n Dokter berig: “Daardie weeskinders het nie pille gehad om hulle pyn te stil nie. Selfs terwyl hulle besig was om dood te gaan, is hulle aan hulle beddens vasgebind.”

Wat van Europa? ’n Land daar is geruk toe ’n internasionale kinderpornografiesindikaat ontdek is wat meisies vir seksuele uitbuiting ontvoer het. Party ongelukkige meisies is vermoor of het van honger omgekom.

Hierdie verslae toon ongetwyfeld dat talle lande ’n baie groot probleem met die mishandeling en uitbuiting van kinders het. Maar is dit ’n oordrywing om te sê dat dit ’n wêreldwye probleem is? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

[Prent op bladsy 4]

’n Kindersoldaat in Liberië

[Erkenning]

John Gunston/Sipa Press

[Prent op bladsy 4]

By ’n steenfabriek in Colombia dien kinders as menslike kruiwaens

[Erkenning]

UN PHOTO 148000/Jean Pierre Laffont

[Foto-erkenning op bladsy 3]

FAO photo/F. Botts

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel