Wanneer alle gebreke sal verdwyn
’N KWADRUPLEEG het eenkeer gesê dat die meeste mense net “tydelik ’n gesonde liggaam” het. Hoe waar is dit tog nie, want vroeër of later het almal van ons met ’n liggaamlike gebrek te kampe! Gevolglik is daar ’n florerende mark vir brille, kontaklense, kunstande, gehoortoestelle, elektroniese pasaangeërs en knie-inplantings. Dit is soos Romeine 8:22 sê: ‘Die hele skepping kreun voortdurend saam en ly voortdurend saam pyn tot nou toe.’
Ons kan dus almal vertroos word deur God se belofte dat hy gehoorsame mense weer volmaakte gesondheid in ’n regverdige “nuwe aarde” sal gee (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Jesaja 35:5, 6 sê: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. . . . Die lamme [sal] spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”
Die Bybel voorspel dat “’n groot skare” die vernietiging van hierdie goddelose stelsel van vandag sal oorleef (Openbaring 7:9, 14; Psalm 37:10, 11, 29). Diegene met ernstige gebreke en gesondheidsprobleme sal ongetwyfeld kort ná daardie vernietiging die oombliklike herstel van hulle gebreke ondervind! (Jesaja 33:24). As ’n voorskou van die genesing wat in God se nuwe aarde gaan plaasvind, het Jesus soortgelyke gebreke genees toe hy op aarde was. (Vergelyk Markus 5:25-29; 7:33-35.) ’n Mens kan nie eens probeer om die ekstase te beskryf en die trane van vreugde wat mense sal stort wanneer diegene wat ’n ledemaat verloor het hulle prosteses, krukke en rolstoele sal weggooi nie! Met gesonde liggame sal hulle dan hulle godgegewe opdrag kan uitvoer om die aarde in ’n paradystuiste te help omskep.—Lukas 23:43.
Intussen voer gestremdes vandag nog ’n opdraande stryd. Nelson, ’n gestremde in Kanada, sê: “Wanneer ek myself begin bejammer, dink ek aan Jesus se woorde in Matteus 24:13: ‘Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.’” Ten spyte van hulle beperkings kan gestremdes heel en gesond wees in die allerbelangrikste sin—in geestelike sin—deur in die Christelike geloof te volhard.—Jakobus 1:3, 4.
Jehovah se Getuies het miljoene al gehelp om hierdie geloof aan te neem. Dell, ’n gestremde man wat in die vorige artikel aangehaal is, sê: “Dit is byna onmoontlik vir my om te beskryf hoe ek gevoel het toe ek uitgevind het dat liggaamlike probleme soos myne in werklikheid net tydelik is.” Ja, versterk deur so ’n hoop kan Dell—en baie ander soos hy—beswaarlik gestremd genoem word.
[Prent op bladsy 10]
Die gebreke van mense wat die komende vernietiging oorleef, sal op wonderdadige wyse genees word