Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/8 bl. 18-20
  • Waarom godsdienseenheid in die huwelik belangrik is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom godsdienseenheid in die huwelik belangrik is
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die doel van die huwelik
  • ’n Beter huwelik
  • Aantrekkingskrag en gemeenskaplike waardes
  • Wat van die kinders?
  • Waarlik “in die Here”
  • Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Die huwelik – ’n Gawe van God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Wat sê die Bybel oor die huwelik?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Goddelike leiding om ’n huweliksmaat te kies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/8 bl. 18-20

Die Bybelse beskouing

Waarom godsdienseenheid in die huwelik belangrik is

’NGESIN sit aan vir aandete. Terwyl die vader ’n gebed doen, bid die moeder stil tot ’n ander god. In ’n ander gesin gaan die vrou na ’n kerk om te aanbid, maar haar man gaan na ’n sinagoge toe. Daar is gesinne waar een ouer die kinders van Kersvader leer, terwyl die ander ouer hulle van Hanukka vertel.

Volgens onlangse studies het sulke tonele algemeen geword, aangesien meer mense met iemand van ’n ander godsdiens trou. Een opname in die Verenigde State toon dat 21 persent van die Katolieke nou met iemand van ’n ander godsdiens trou; onder Mormone is die syfer 30 persent; vir Moslems 40 persent en vir Jode meer as 50 persent. In die lig van eeue lange godsdiensvyandigheid sien party mense huwelike tussen mense van verskillende godsdienste as ’n oorwinning oor onverdraagsaamheid. ’n Koerantrubriekskrywer het geskryf: “Gemengde huwelike van byna enige soort is iets wat gevier moet word.” Is dit die Bybelse beskouing?

Ons moet in gedagte hou dat die Bybel nie rasse- of etniese vooroordele ondersteun nie. God se Woord staan onbevooroordeeldheid ten opsigte van ras voor. Die apostel Petrus het onomwonde hieroor gesê: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Maar terselfdertyd leer die Bybel dat ware aanbidders van Jehovah “net in die Here” moet trou (1 Korintiërs 7:39). Waarom?

Die doel van die huwelik

Dit was God se voorneme dat die huwelik ’n besonder hegte band moet wees (Genesis 2:24). God het meer as net kameraadskap in gedagte gehad toe hy die huweliksreëling ingestel het. Toe Jehovah die eerste egpaar die taak opgelê het om kinders groot te maak en na hulle aardse tuiste om te sien, het hy getoon dat hulle ten nouste moes saamwerk om sy wil te doen (Genesis 1:28). As man en vrou sou saamwerk om God in hierdie opsig te dien, sou hulle nie bloot kameraadskap geniet nie, maar hulle sou ’n hegte en blywende verhouding hê.—Vergelyk Maleagi 2:14.

Jesus het indirek na hierdie verhouding verwys toe hy die volgende bekende woorde gesê het: ‘Hulle is nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie’ (Matteus 19:6). Jesus het beeldspraak gebruik en die huweliksband met ’n juk vergelyk wat twee trekdiere bymekaar hou sodat hulle ’n gemeenskaplike vrag kan trek of skuif. Stel jou net voor watter spanning daar op twee diere onder dieselfde juk is as hulle in teenoorgestelde rigtings beur! Diegene wat met iemand buite die ware geloof trou, bevind hulle dalk eweneens in ’n situasie waar hulle hulle inspan om volgens Bybelbeginsels te lewe terwyl hulle huweliksmaat teenstand bied. Die Bybel sê heel gepas: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie.”—2 Korintiërs 6:14.

’n Beter huwelik

Dit kan ’n huwelik grootliks versterk as die egpaar in ware aanbidding verenig is. Een skrywer het gesê: “Om saam te aanbid, is een van die belangrikste kenmerke van kerngesonde, gelukkige gesinne”. Prediker 4:9, 10 sê: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel.”

Wanneer ’n Christenegpaar hulle aanbidding die middelpunt van hulle lewe maak, word hulle nie net fisies nie, maar ook geestelik verenig. Namate hulle saam bid, God se Woord saam bestudeer, saam met mede-Christene vergader en ander van hulle geloof vertel, smee hulle ’n geestelike band wat hulle huwelik baie hegter maak. ’n Christenvrou het gesê: “Ware aanbidding is ’n lewenswyse. Ek kan nie dink dat ek iemand sal kies om mee te trou met wie ek nie die grondslag vir wie en wat ek is in gemeen het nie.”—Vergelyk Markus 3:35.

Diegene wat “in die Here” trou, kan verwag dat hulle huweliksmaat Jesus se gedrag sal navolg. Christenmans moet hulle vrouens behandel soos Jesus die gemeente liefdevol behandel het. Christenvroue moet hulle mans met respek behandel (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:25, 29, 33). Christene doen dit nie net omdat hulle graag hulle huweliksmaat gelukkig wil maak nie, maar ook om God gelukkig te maak, wat egpare aanspreeklik hou vir die manier waarop hulle mekaar behandel.—Maleagi 2:13, 14; 1 Petrus 3:1-7.

As Christenegpare dieselfde dinge glo en daarvolgens lewe, help dit ook om verskille vreedsaam op te los. Die Bybel raai Christene aan om hulle daarop toe te lê om “nie in persoonlike belangstelling ’n oog net op [hulle] eie sake [te] hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Huweliksmaats wat verenig is in geloof wend hulle, ongeag hulle persoonlike voorkeure, tot God se Woord as ’n gemeenskaplike bron van gesag om enige meningsverskille uit die weg te ruim (2 Timoteus 3:16, 17). Op hierdie manier volg hulle die Bybel se raad vir Christene om in “dieselfde denke” verenig te wees.—1 Korintiërs 1:10; 2 Korintiërs 13:11; Filippense 4:2.

Aantrekkingskrag en gemeenskaplike waardes

’n Verhouding behels weliswaar meer as ’n gemeenskaplike godsdiens. Wedersydse aantrekkingskrag speel ook ’n rol (Hooglied 3:5; 4:7, 9; 5:10). Maar gemeenskaplike waardes is van die allergrootste belang vir ’n suksesvolle huwelik. Volgens die boek Are You the One for Me? “het paartjies wat soortgelyke waardes het ’n baie groter kans om ’n gelukkige, eensgesinde en blywende verhouding op te bou”.

Ongelukkig bespreek mense wat tot mekaar aangetrokke voel dalk ernstige verskille eers nadat hulle getroud is. By wyse van vergelyking, verbeel jou jy koop ’n huis hoofsaaklik omdat jy hou van hoe dit lyk. Eers nadat jy ingetrek het, vind jy uit dat die fondament onstabiel is. Met ’n swak fondament beteken al die positiewe punte van die huis niks nie. Net so kan ’n mens aangetrokke voel tot iemand van ’n ander geloof wat lyk of hy by jou pas—maar ná die troue word dit dalk duidelik dat die verhouding ernstige gebreke het.

Dink byvoorbeeld aan sommige van die moeilike kwessies wat later in ’n huwelik tussen mense van verskillende godsdienste kan opduik: Waar sal die gesin aanbid? Watter godsdiensonderrig sal die kinders kry? Watter geloof sal die gesin finansieel ondersteun? Sal een huweliksmaat daarop aandring om mee te doen aan sekere godsdienstradisies en -vakansiedae wat die ander maat as heidens beskou? (Jesaja 52:11). Elke huwelik vereis dat albei huweliksmaats redelike veranderinge aanbring; maar om Bybelbeginsels prys te gee—selfs om ’n huwelik te red—is vir God onaanvaarbaar.—Vergelyk Deuteronomium 7:3, 4; Nehemia 13:26, 27.

Ten einde die vrede in die huwelik te bewaar, beoefen sommige egpare in godsdienstig verdeelde huwelike hulle godsdiens onafhanklik van mekaar. Maar ongelukkig skep dit ’n geestelike leemte in die huwelik as hulle onafhanklik van mekaar aanbid. Een Christenvrou wat met ’n man getroud was wat nie haar geloof gedeel het nie, het vertel: “Hoewel ons 40 jaar lank getroud was, het my man my nie regtig geken nie.” Aan die ander kant is God die middelpunt van ’n huwelik waar albei huweliksmaats “met gees en waarheid” aanbid. Soos die Bybel in digterlike taal sê: “’n Driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.”—Johannes 4:23, 24; Prediker 4:12.

Wat van die kinders?

Sommige wat dit oorweeg om met iemand van ’n ander godsdiens te trou, voel moontlik dat hulle hulle kinders aan albei gelowe kan blootstel en die keuse dan aan die kinders kan oorlaat. Dit is wel so dat albei ouers die wetlike en morele reg het om godsdiensonderrig te gee, en dat kinders uiteindelik self moet besluit.a

Die Bybel leer kinders om “in eenheid met die Here” aan albei hulle ouers gehoorsaam te wees (Efesiërs 6:1). Spreuke 6:20 stel dit só: “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Kinders wat deur twee ouers van dieselfde geloof grootgemaak word, word nie aan verskillende leerstellings blootgestel nie, maar word verenig in wat die Bybel “een Here, een geloof, een doop” noem.—Efesiërs 4:5; Deuteronomium 11:19.

Waarlik “in die Here”

As gemeenskaplike waardes ’n sleutel tot ’n gelukkige huwelik is, sou dit dan wys wees om sommer met enigeen te trou wat sê dat hy ’n Christen is? Die Bybel antwoord: “Hy wat sê dat hy in eenheid met [Jesus] bly, staan onder verpligting om self ook te bly wandel net soos daardie een gewandel het” (1 Johannes 2:6). ’n Christen wat dit oorweeg om te trou, sal dus ’n mede-Christen soek wat waarlik daarna streef om Jesus na te volg. So ’n voornemende huweliksmaat sal sy lewe aan God toegewy het en gedoop wees. Hy sal Jesus se liefdevolle persoonlikheid en sy ywerige verkondiging van God se Koninkryk navolg. Soos die geval was met Jesus, sal hy dit die middelpunt van sy lewe maak om God se wil te doen.—Matteus 6:33; 16:24; Lukas 8:1; Johannes 18:37.

Diegene wat dit oorweeg om te trou en geduldig op die regte maat binne God se gesin van aanbidders wag, skep ’n patroon waarvolgens hulle God se wil eerste in hulle lewe stel. So ’n patroon sal uiteindelik tot ’n gelukkiger, bevredigender huwelik bydra.—Prediker 7:8, NW; Jesaja 48:17, 18.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Moet kinders hulle eie godsdiens kies?” in die Ontwaak! van 8 Maart 1997, bladsye 26-7. Sien ook bladsye 24-5 van Jehovah se Getuies en opvoeding, uitgegee in 1995 deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

[Venster op bladsy 20]

Hulp vir godsdienstig verdeelde gesinne

Vandag is baie egpare om verskeie redes godsdienstig verdeeld. Sommige het dalk ’n huweliksmaat gekies wat aan ’n ander godsdiens behoort. Maar baie egpare het aanvanklik dieselfde geloof gehad en later godsdienstig verdeeld geraak toe een huweliksmaat ’n ander vorm van aanbidding aangeneem het. Daar kan ander omstandighede wees wat tot godsdiensverdeeldheid in ’n gesin lei. Maar ongeag die oorsake, die huweliksgeloftes mag nie verbreek of geringgeag word net omdat huweliksmaats nie oor die keuse van godsdiens saamstem nie. Die Bybel respekteer die heiligheid en permanensie van die huwelik, selfs wanneer die huweliksmaats nie in aanbidding verenig is nie (1 Petrus 3:1, 2). Die apostel Paulus het geskryf: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:12). As Bybelbeginsels toegepas word, kan dit enige egpaar help om vrede in ’n liefdevolle en eerbiedige verhouding te geniet.—Efesiërs 5:28-33; Kolossense 3:12-14; Titus 2:4, 5; 1 Petrus 3:7-9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel