Van ’n lewe van misdaad tot ’n lewe van hoop
SOOS VERTEL DEUR COSTA KOULLAPIS
EK HET NA DIE VUIL MURE VAN MY TRONKSEL GESTAAR EN BESLUIT DAT EK ’N MANIER MOES VIND OM ’N KLOMP GELD IN DIE HANDE TE KRY SODAT EK KON LOSBREEK UIT DIE KRINGLOOP VAN MISDAAD WAARIN EK VASGEVANG WAS EN ’N NUWE LEWE KON BEGIN.
TERWYL ek daar gesit het—ellendig en neerslagtig—het ek daaraan gedink dat 11 van my vriende gedurende die vorige jaar gesterf het. Een is gehang vir moord, ’n ander een het selfmoord gepleeg terwyl hy verhoorafwagtend was vir moord, drie het oordosisse dwelms geneem, twee is in straatgevegte doodgeslaan en vier het in motorongelukke omgekom. Daarbenewens was ’n hele paar van my ander vriende in verskillende tronke waar hulle vonnisse vir ernstige misdade uitgedien het.
Gevolglik het ek daar in my somber tronksel wanhopig gebid tot God, wie hy ook al was, om my ’n weg uit daardie doolhof van misdaad te wys. My gebed is eers ’n hele ruk later verhoor. Intussen het ek daarin geslaag om die ernstige aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer vry te spring. ’n Strafverminderingsooreenkoms het gehelp, en ek kon met ’n minder ernstige aanklag en ’n ligter vonnis afkom. Maar laat ek eers verduidelik hoe ek in daardie penarie beland het.
Ek is in 1944 in Pretoria gebore en het daar grootgeword. My kinderjare was ongelukkig, en ons gesinslewe is dikwels baie onaangenaam gemaak deur my pa se verskriklike woedebuie, wat vererger is omdat hy hom gereeld aan drank vergryp het. Hy was ook ’n gewoontedobbelaar, en sy luimwisselinge het daartoe gelei dat hy ons almal, maar veral my ma, uitgeskel en liggaamlik mishandel het. Om van die voortdurende bakleiery weg te kom, het ek die strate ingevaar.
My pad na misdaad
Gevolglik was ek op ’n baie jong ouderdom al wêreldwys. Toe ek agt jaar oud was, het ek byvoorbeeld twee lesse geleer. Die eerste was toe ek gevang is met speelgoed wat ek uit een van die bure se huis gesteel het. My pa het my ’n vreeslike pak slae gegee. Ek kan nog steeds sy woedende dreigement hoor: “As ek jou ooit weer met gesteelde goed vang, breek ek jou nek!” Ek het my nie noodwendig voorgeneem dat ek nooit weer sou steel nie, maar dat ek nooit weer gevang sou word nie. ‘Volgende keer sal ek dit wegsteek en nie betrap word nie’, het ek gedink.
Die tweede les wat ek geleer het toe ek nog redelik jonk was, het iets heel anders behels. In ’n Bybelklas op skool het ons onderwyseres ons geleer dat God ’n persoonlike naam het. “God se naam is Jehovah”, het sy tot ons verbasing gesê, “en hy sal na enige gebed luister, solank julle dit in die naam van sy Seun, Jesus, bid.” Dit het ’n groot indruk op my jong verstand gemaak, al het dit nie gekeer dat ek in ’n lewe van misdaad verval het nie. Trouens, teen die tyd wat ek hoërskool toe gegaan het, was ek ’n bedrewe winkeldief en inbreker. My skoolvriende het nie juis gehelp nie, aangesien baie van hulle weens verskeie misdade alreeds tyd in verbeteringskole deurgebring het.
Met verloop van jare het ek ’n gewoontemisdadiger geword. Ek was telkemale by straatroof, inbraak, motordiefstal en gewelddadige aanranding betrokke terwyl ek nog in my tienderjare was. Aangesien ek gedurig in biljartkamers en kroeë rondgehang het en vir koppelaars, prostitute en misdadigers boodskappe gedra het, het ek nie eers my eerste jaar aan ’n tegniese hoërskool voltooi nie.
Ek het gereeld met geharde misdadigers omgegaan, wat nie geaarsel het om enigeen wat hulle verraai het te vermink nie. Ek het geleer dat dit beter is om my mond te hou en nooit oor my prestasies of my geld te spog nie. Om dit te doen, sou net die feit verkondig dat ’n misdaad gepleeg is, wat die polisie se aandag kon trek en tot ongemaklike vrae kon lei. Nog erger, dit kon lei tot onverwagse besoeke van ander misdadigers wat ook in die buit wou deel.
Maar selfs met daardie voorsorgmaatreëls het die polisie my soms dopgehou omdat hulle my daarvan verdink het dat ek by onwettige bedrywighede betrokke was. Ek het egter gesorg dat ek nooit enigiets by my het wat my met ’n misdaad kon verbind of my daarin kon betrek nie. Die polisie het eenkeer drie-uur in die oggend ’n klopjag op ons huis uitgevoer. Hulle het die hele huis twee keer vir elektriese ware deurgesoek—’n plaaslike groothandelaar se voorraad is gesteel. Hulle het niks gekry nie. Ek is na die polisiestasie toe geneem sodat hulle my vingerafdrukke kon neem, maar ek is nie aangekla nie.
Ek raak met dwelms deurmekaar
Vandat ek 12 jaar oud was, het ek gereeld breinwysigende dwelms gebruik. My gesondheid het onder hierdie misbruik begin ly, en ek het ’n hele paar keer byna ’n oordosis geneem. Kort voor lank het ek met ’n dokter kennis gemaak wat sterk bande met georganiseerde misdaad gehad het. Dit het daartoe gelei dat ek ’n dwelmhandelaar geword het, en ek het gou geleer dat dit ’n baie kleiner risiko vir my ingehou het om ’n paar verspreiders van dwelms te voorsien omdat ek my kon skaars hou terwyl ander hulle aan die risiko’s blootgestel het.
Van die mense met wie ek dwelmtransaksies aangegaan het, het ongelukkig weens oordosisse gesterf of ernstige misdade gepleeg terwyl hulle onder die invloed van dwelms was. ’n “Vriend” van my het ’n vooraanstaande dokter vermoor. Dit was regdeur die land voorbladnuus. Hy het toe probeer om die skuld op my te pak, maar ek het eers van die voorval gehoor toe die polisie by my huis opgedaag het. Trouens, die polisie het my dikwels kom ondervra oor verskeie misdade wat gepleeg is.
Eendag het ek egter ’n baie dom ding gedoen. Nadat ek my ’n week lank aan dwelms en drank vergryp het, het ek in ’n woedebui twee mense weens ’n misverstand aangeval en hulle ernstig beseer. Die volgende oggend het hulle my as hulle aanvaller uitgeken, en ek is in hegtenis geneem op die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Dit is hoe ek in die tronk beland het.
Word ryk, dan eerlik
Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek gehoor dat daar ’n vakante pos vir ’n voorraadkontroleur by ’n farmaseutiese maatskappy was. Ek het aansoek gedoen en die werkgewer oortuig dat ek die regte persoon vir die werk was. Met ’n aanbeveling van ’n vriend wat alreeds by die maatskappy gewerk het, het ek die werk gekry. Dit, het ek gedink, was die manier waarop ek baie geld sou maak en na ’n ander plek kon gaan om van voor af te begin. Ek het my dus daarop toegelê om so gou moontlik alles omtrent die onderneming te leer en het elke nag tot laat wakker gebly en die name van al die middels geleer. Ek was seker dat dit die weg tot ’n nuwe lewe sou wees.
Ek het beplan om my kans af te wag en die vertroue van my werkgewers te wen. Dan, op ’n geleë tyd, sou ek inbreek en ’n groot hoeveelheid van die spesifieke middels steel wat ek geweet het baie waardevol op die swartmark was, dit verkoop en oornag ’n taamlike ryk man word. Ek het ’n alibi uitgedink wat ek gemeen het goed genoeg was om my vryheid en ’n nuwe lewe te verseker.
Die tyd het aangebreek om my plan uit te voer. Een nag, nadat ek die pakhuis versigtig binnegegaan het, het ek gekyk na die rakke vol middels wat honderdduisende rande werd was. Daar het ek my kans gesien om ’n lewe vry van misdaad en geweld te begin. Maar vir die heel eerste keer het my gewete my begin pla. Wat het hierdie skielike gewetenswroeging veroorsaak terwyl ek al byna vergeet het dat ek ’n gewete het? Laat ek jou vertel hoe dit gebeur het.
’n Paar weke tevore het ek en die bestuurder oor die betekenis van die lewe gepraat. In antwoord op iets wat hy gesê het, het ek gesê dat ’n mens as ’n laaste uitweg kon bid. “Tot wie?” het hy gevra. “Tot God”, het ek geantwoord. “Maar daar is baie gode wat mense aanbid”, het hy gesê, “tot watter een sal jy dus bid?” Ek het gesê: “Tot die almagtige God.” “O”, het hy verder gesê, “en wat is sy naam?” “Wat bedoel jy?” het ek gevra. “Wel, soos ek en jy en enigiemand anders het die almagtige God ’n persoonlike naam”, was sy antwoord. Dit het logies geklink, maar ek het my begin vererg. Ek het dus geïrriteerd gevra: “Wel, wat is God se naam?” “Die naam van die almagtige God is Jehovah!” het hy geantwoord.
Skielik het die jare tussenin verdwyn, en ek het daardie les in die klas toe ek net agt jaar oud was, onthou asof dit net gister gebeur het. Tot my verbasing het die gesprek met die bestuurder ’n geweldige indruk op my gemaak. Ons het ure lank gesit en ernstig gesels. Die volgende dag het hy die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewea vir my gebring. Ek het daardie aand die hele boek deurgelees en was onmiddellik oortuig dat ek die waarheid en die ware betekenis van die lewe gevind het. Die volgende twee weke het ons byna al ons tyd daaraan bestee om die verskillende onderwerpe in daardie verbasende blou boek te bespreek.
Terwyl ek dus in die donker, stil pakhuis gesit het, het my gewete my laat besef dat my planne om die middels te steel en te verkoop heeltemal verkeerd was. Ek is stilletjies daar uit en het huis toe gegaan, vasbeslote om van daardie oomblik af nie meer te steel nie.
’n Algehele verandering
In die daaropvolgende dae het ek vir my gesin gesê dat ek besluit het om ’n nuwe lewe te begin, en ek het hulle begin vertel van die Bybelwaarhede wat ek geleer het. My pa wou my uit die huis gooi. Maar my broer John het vir my opgekom en vir my pa gesê: “Dit is die heel eerste keer in sy lewe dat Costa by iets betrokke is wat nie met misdaad te doen het nie, en pa wil hom uitgooi? Ek gaan meer hieroor uitvind.” Ek was aangenaam verras toe John my gevra het om die Bybel met hom te studeer. Van toe af het almal wat na my toe gekom het vir dwelms eerder ’n Waarheid-boekie gekry! Kort voor lank het ek 11 Bybelstudies in daardie boek gehou.
Toe vind ek uit dat die bestuurder van die maatskappy nie self ’n Getuie was nie. Sy vrou was al sowat 18 jaar lank ’n Getuie, maar hy het “nooit die tyd gehad om iets omtrent die waarheid te doen nie”. Hy het dus gereël dat ’n ervare Getuie gereeld die Bybel met my studeer. Ek het gou uit my studies gesien dat dit nodig was om ander kwessies in die lewe die hoof te bied, en dit was nie lank voordat die waarheid van God se Woord my van my wêreldse weë begin vrymaak het nie.—Johannes 8:32.
Maar ek het skielik oorweldig begin voel omdat alles so vinnig in net ’n paar weke gebeur het. Ek moes groot veranderinge maak, en ek het begin besef dat ’n groot stryd tussen die vlees en die gees op my wag as ek sou voortgaan op die weg wat my studie van die Bybel my gewys het om te gaan. Aan die ander kant het ek besef dat ek waarskynlik sou sterf, of ten minste die grootste deel van my lewe in die tronk sou deurbring, as ek sou voortgaan met die soort lewe wat ek tot op daardie stadium gelei het. Nadat ek dus baie daaroor nagedink en vurig gebid het, het ek besluit om die weg van die waarheid te volg. Ses maande later, op 4 April 1971, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.
Belonings van ’n eerlike lewe
Wanneer ek terugkyk, is ek soms diep ontroer wanneer ek dink aan al die seëninge wat ek geniet het sedert ek besluit het om die weg van misdaad te verlaat. Vyf van die 11 persone met wie ek gedurende daardie eerste paar onstuimige weke begin studeer het, wandel nog steeds op die weg van die waarheid. My ma het ook tot ’n Bybelstudie ingestem en ’n gedoopte Getuie geword, en sy het voortgegaan om God getrou te dien totdat sy in 1991 oorlede is. My twee broers het hulle lewe aan Jehovah toegewy en dien nou as ouer manne. Ek het ook my tannie gehelp om die waarheid te leer, en sy dien al die afgelope 15 jaar in die voltydse bediening.
Die bestuurder van die farmaseutiese maatskappy waar ek gewerk het, is so aangemoedig deur die veranderinge in my lewe dat hy Bybelwaarheid ernstiger begin opneem het. ’n Jaar nadat ek gedoop is, het hy ook sy toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Later het hy jare lank as ’n ouer man gedien in een van die Pretoria-gemeentes van Jehovah se Getuies.
Ek is nou met ’n toegewyde Christensuster getroud. Ek en Leonie het in 1978 na Australië toe getrek. Ons twee seuns, Elijah en Paul, is daar gebore. My gesin se aanmoediging was vir my ’n groot bron van krag. Ek het die voorreg om as ’n ouer man te dien in Canberra, Australië se hoofstad. Ek is elke dag dankbaar teenoor Jehovah, wat my gered het van ’n leë lewe van misdaad wat op ellende en die dood afgestuur het. Wat meer is, hy het betekenis aan my lewe gegee deur my en my geliefdes van ’n ware hoop te voorsien.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 18]
Toe ek 12 was
[Prent op bladsy 18]
Vandag saam met my vrou en twee seuns