Die vergete glorie van die Bisantynse Ryk
AS JY DIE WOORD “BISANTYNS” IN PARTY TALE GEBRUIK, SINSPEEL JY OP KNOEIERY, GEHEIMSINNIGHEID EN VERRAAD. MIN MENSE BESEF EGTER DAT HIERDIE BYVOEGLIKE NAAMWOORD AFGELEI IS VAN DIE NAAM VAN ’N UITGESTREKTE RYK WAT BYNA 12 EEUE LANK GEFLOREER HET.
VAN die Kaukasus tot die Atlantiese Oseaan, van die Krim tot Sinai, van die Donau tot die Sahara—dit was die gebied waaroor die Bisantynse Ryk gedurende sy bloeitydperk regeer het. Baie geskiedkundiges sê dat dit vanaf die 4de tot die 15de eeu G.J. bestaan het. Hierdie ryk het nie net die Grieks-Romeinse kultuur bewaar nie, maar het ook baie te doen gehad met die verspreiding van die sogenaamde Christelike godsdiens. Dit het politieke, sosiale en godsdiensgebruike ingestel en opgeteken—gebruike wat vandag nog bestaan.
Hierdie magtige ryk het nietemin ’n besonder beskeie begin gehad. Die geskiedenis toon dat die Bisantynse Ryk ’n voortsetting van die Romeinse Ryk in die Ooste was. Die tyd van sy ontstaan is nog steeds ’n geskilpunt. Sommige geskiedkundiges beskou Diokletianus (ca. 245-ca. 316 G.J.) as die eerste Bisantynse keiser; ander beskou Konstantyn die Grote (ca. 275-337 G.J.) as die eerste en ander weer Justinianus I (483-565 G.J.). Maar die meeste stem saam dat die Bisantynse Ryk as ’n onderskeibare entiteit verskyn het toe keiser Konstantyn in 330 G.J. sy hoofstad van Rome na Bisantium verskuif het. Hy het die stad na homself vernoem—Konstantinopel (die hedendaagse Istanboel).
Dit is interessant dat die heersers of die burgers van die ryk hulleself nooit Bisantyne genoem het nie. Hulle het hulleself as Romeine, of Romaioi, beskou. Die woord “Bisantyns” is eers ná die 14de eeu gebruik.
’n Luisterryke hoofstad
Een geskiedkundige beskryf eertydse Konstantinopel as “’n stad wat groot roem en selfs groter rykdom gehad het”. Konstantinopel het gelê waar Europa en Asië ontmoet—by die Bosporus—en het onder meer bestaan uit ’n uiters verdedigbare skiereiland en ’n beskutte hawe, die Goue Horing. In 657 v.G.J. het Griekse setlaars die plek Bisantium genoem, na hulle legendariese leier Byzas. Meer as tien eeue later is dit as die Nuwe Rome beskou, en gedurende sy glorietydperk tussen die 6de en 11de eeu G.J. het ’n halfmiljoen mense daar gewoon.
Besoekers uit die Weste was beïndruk deur hierdie groot stad en vername sentrum op die wêreldhandelsroetes. Die hawe was vol skepe. Die markte het sy, pels, edelstene, geurige hout, ivoorsnywerk, goud, silwer, juwele van emaljewerk en speserye gebied. Dit is te verstane dat ander moondhede afgunstig was op Konstantinopel en herhaaldelik deur sy mure probeer breek het. Voor die Ottomaanse verowering van 1453 het aanvallers dit net een keer reggekry om die stad in te neem—naamlik “Christene” van die Vierde Kruistog. “Sedert die skepping van die wêreld is daar nog nooit so ’n groot skat gesien of verower nie”, het die kruisvaarder Robert van Clari gesê.
’n Blywende nalatenskap
Glo dit as jy wil, die Bisantynse regeringsvorm, wette, godsdiensidees en seremoniële prag het vandag nog ’n invloed op die lewe van miljarde mense. Justinianus se beroemde versameling van regsbeginsels wat die Corpus Juris Civilis (kode van burgerlike reg) genoem word, het byvoorbeeld die grondslag van die hedendaagse Romeinse reg op die Europese vasteland geword. Deur middel van die Napoleontiese Kode is Bisantynse regsbeginsels na Latyns-Amerika en ander lande oorgedra, waar dit nog steeds ’n groot invloed uitoefen.
Bisantynse argitekte het boonop geleer hoe om ’n groot koepel oor ’n vierkantige ruimte te bou—’n styl wat tot in Rusland gebruik is. Party sê selfs dat dit die Bisantyne was wat die gebruik van vurke aan die etenstafel gewild laat word het. Toe ’n Bisantynse prinses in die 11de-eeuse Venesië ’n tweetandvurk in plaas van haar hand gebruik het om te eet, was die mense geskok! Maar eeue later het die vurk onder die welgesteldes gewild begin raak. Roomse pouse het ook voor Bisantynse invloed geswig en ’n tiara gedra wat soortgelyk aan die Bisantynse keiser s’n was. Konings in Engeland het eweneens ’n ryksappel en septer soos die keiser s’n gebruik.
Wet en orde
Die Bisantynse Ryk het ook ’n fassinerende versameling staatsbeleide agtergelaat. Die behoeftiges het byvoorbeeld in staatsbakkerye en -groentetuine gewerk. Keiser Leo III (ca. 675-741 G.J.) het geglo dat ‘ledigheid tot misdaad lei’. Kroeë het om 8:00 nm. gesluit omdat daar geglo is dat dronkenskap wanorde en opstand veroorsaak. Volgens die National Geographic “kon iemand onthoof, aan ’n paal gehang—of saam met ’n vark, ’n haan, ’n slang en ’n aap in ’n sak verdrink word—as hy bloedskande of moord gepleeg het, purper materiaal (wat uitsluitlik vir die koninklikes was) privaat gemaak en verkoop het of vyande die skeepsboukuns geleer het. Die kruidenier wat met valse weegskale gewerk het, het sy hand verloor. Brandstigters is verbrand.”
Interessant genoeg, die Bisantynse Ryk het ook heelwat van die lewenslange sorg voorsien wat vandag deur welsynstate voorsien word. Keisers en welgestelde burgers het groot moeite gedoen om hospitale, armhuise en weeshuise te finansier. Daar was huise vir berouvolle prostitute—waarvan party “heiliges” geword het—en selfs ’n verbeteringsgestig vir gevalle edelvroue.
’n Ryk wat danksy die handel gefloreer het
Sulke vrygewigheid was ’n aanduiding van die voorspoed wat die ryk geniet het. Die Staat het pryse, lone en huurgeld beheer. Koring is opgeberg om vir misoeste voorsiening te maak. Amptenare het winkels geïnspekteer om mate en gewigte, grootboeke en die gehalte van handelsware na te gaan. Opgaarders, smokkelaars, bedrieërs, vervalsers en belastingontduikers is swaar gestraf.
Die keiser self was die vernaamste handelaar en vervaardiger in die ryk en het die alleenreg gehad om munte te slaan en om wapentuig en beroemde Bisantynse luukseartikels te vervaardig. Justinianus het self die ryk se beroemde synywerheid begin met sywurmeiers wat uit China gesmokkel is.
Versekerings- en kredietdienste is ook ingestel. Banksake is noukeurig geouditeer. Die goue solidus, die muntstuk wat deur Konstantyn bekend gestel is, het sy waarde tien eeue lank behou! Dit was die bestendigste geldeenheid in die geskiedenis.
Die Bisantynse hof
Waarom word die woord “Bisantyns” dan in party tale met knoeiery, geheimsinnigheid en verraad geassosieer? Volgens die geskiedskrywer William Lecky was daar agter die glans van die Bisantynse hof “’n voortdurende verhaal van die knoeiery van priesters, eunugs en vroue, van vergiftigings, van sameswerings, van alomteenwoordige ondankbaarheid en algemene broedermoorde”.
Die skrywer Merle Severy sê: “Geen onbekwame keiser het lank as God se verteenwoordiger op aarde gedien nie, omdat hy deur voornemende verdringers en sluipmoordenaars omring was. Van die 88 keisers van Konstantyn I tot XI het 13 by ’n klooster aangesluit. Dertig het ’n gewelddadige dood gesterf—hulle is verhonger, vergiftig, verblind, doodgeslaan, verwurg, doodgesteek, vermink, onthoof. Die skedel van Nikeforus I het uiteindelik ’n drinkbeker geword wat aan die binnekant versilwer was en waarmee goewerneur Krum van die Bulgare heildronke op sy bojare [edelmanne] ingestel het.”
Selfs die “geheiligde” Konstantyn die Grote het gereël dat sy oudste seun vermoor en sy eie vrou in haar bad versmoor word. Omdat die keiserin Irene (ca. 752-803 G.J.) so graag haar mag wou behou, het sy haar seun laat verblind en sy titel as keiser oorgeneem.
Die ondergang van die ryk
Dit was egter nie politieke knoeiery wat tot die ondergang van die ryk gelei het nie. Veranderinge het geleidelik in Wes-Europese lande plaasgevind as gevolg van die Renaissance, die Hervorming en die Verligting, asook die bloei van die wetenskap. Maar in Bisantium is enige verandering nie net as kettery beskou nie, maar uiteindelik ook as ’n misdaad teen die Staat.
Daarbenewens het die veranderende politieke klimaat ’n skadelike uitwerking begin hê. In die sewende eeu het Islam tot in Antiogië, Jerusalem en Aleksandrië versprei. Slawiese invalle in die Balkan en die Lombarde se verowerings in Italië het ’n wig tussen Rome en Konstantinopel ingedryf. Rome, wat nou nie meer keiserlike ondersteuning geniet het nie, het hom by die opkomende Germaanse Weste geskaar. Konstantinopel se kwynende ryk het al hoe meer vergrieks. In 1054 het die Grieks-Ortodokse patriarg en die Rooms-Katolieke pous mekaar weens teologiese geskille geëkskommunikeer, en dit het ’n skeuring tussen die Ortodokse en Katolieke Kerk veroorsaak wat vandag nog bestaan.
Die jaar 1204 het verdere rampspoed vir die ryk meegebring. Op 12 April het die leërs van die Vierde Kruistog wat onderweg na Jerusalem was, volgens die geskiedkundige sir Steven Runciman “die ergste misdaad in die geskiedenis” gepleeg—die plundering van Konstantinopel. Die kruisvaarders, wat in die naam van Christus brande gestig, geroof en verkrag het, het die stad vernietig en die buit na Venesië, Parys, Turyn en ander plekke in die Weste geneem.
Meer as 50 jaar het verloop voordat Konstantinopel uiteindelik herower is. Teen daardie tyd was die ryk ’n blote skaduwee van wat dit was. Die Venesiërs en Genuese het ’n wurggreep op sy handel gehad. Kort voor lank het Islamitiese Ottomane druk op die Bisantynse Ryk uitgeoefen.
Hierdie druk het tot die onvermydelike ondergang van die ryk gelei. Op 11 April 1453 het sultan Mehmet II die hoofstad beleër en 100 000 troepe en ’n kragtige vloot ontplooi. ’n Skrale 8 000 verdedigers van Konstantinopel het sewe weke lank uitgehou. Toe, op 28 Mei, het invallende troepe deur ’n swak bewaakte poort in die stad se grag ingestroom. Teen die volgende dag was die hoofstad onder nuwe gesag. Mehmet—wat toe ’n veroweraar was—het na bewering gehuil en gesê: “Wat ’n stad het ons tog nie geplunder en verwoes nie!” Die Bisantynse Ryk het geval. Maar die invloed daarvan word vandag nog gevoel.
[Venster/Prent op bladsy 13]
DIE BISANTYNSE RYK EN DIE BYBEL
Die kloosterwese was een van die kragtigste godsdienstendense in die ryk. Kloosters het as sentrums gedien waar duisende Bybelmanuskripte gekopieer en bewaar is. Drie van die belangrikste en volledigste bestaande Bybelmanuskripte—die Vaticanus 1209, die Sinaiticus (inlasfoto) en die Alexandrinus (agtergrond)—is moontlik in die kloosters en godsdiensgemeenskappe van Bisantium gekopieer of bewaar.
[Erkenning]
Albei manuskripte: Photograph taken by courtesy of the British Museum
[Venster/Prent op bladsy 15]
GODSDIENS IN DIE BISANTYNSE RYK
Norman Davies lewer kommentaar oor die noue band wat daar tussen die Kerk en die Staat bestaan het en skryf in sy boek Europe—A History: “Die staat en die kerk het tot een onverdeelbare geheel saamgesmelt. Die Keiser . . . en die Patriarg is as die sekulêre en kerklike pilare van Goddelike gesag beskou. Die Ryk het die Ortodokse Kerk verdedig, en die Kerk het die Ryk geloof. Hierdie ‘Caesaropapisme’ het glad nie in die Weste bestaan nie.”
[Prent]
Die Hagia Sophia, Istanboel—wat vroeër die grootste Bisantynse kerk was, is in 1453 in ’n moskee en in 1935 in ’n museum omskep
[Tabel op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BELANGRIKE GEBEURE
286 Diokletianus begin uit Nikomedia, Klein-Asië, regeer
330 Konstantyn maak Bisantium die hoofstad van die ryk en noem die stad Konstantinopel
395 Die Romeinse Ryk word permanent in ’n oostelike en westelike ryk verdeel
1054 ’n Kerkskeuring verdeel die Grieks-Ortodokse en die Rooms-Katolieke Kerk
1204 Leërs van die Vierde Kruistog plunder Konstantinopel
1453 Konstantinopel en die ryk word deur die Turke ingeneem
[Kaart op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SWART SEE
KONSTANTINOPEL
Nikomedia
Nicea
Efese
Antiogië
Jerusalem
Aleksandrië
MIDDELLANDSE SEE
Die ingekleurde deel toon die ryk gedurende sy bloeitydperk (527-565 G.J.)
[Prente op bladsy 12]
’n Geskilpunt onder geleerdes is of die eerste Bisantynse keiser (1) Diokletianus, (2) Konstantyn die Grote of (3) Justinianus I was
[Erkenning]
Musée du Louvre, Paris
[Prent op bladsy 15]
’n Illustrasie in ’n manuskrip, wat die beleëring van Konstantinopel in 1204 uitbeeld
[Erkenning]
© Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris
[Prent op bladsy 15]
’n Goue solidus, 321 G.J., wat in die middel van ’n hangertjie geset is
[Erkenning]
Photograph taken by courtesy of the British Museum