Kolporteurs—Die wandelende boekwinkels
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK
AAN die voet van die Jandri-gletser, bokant die Deux-Alpe-skistasie in die suidooste van Frankryk, is ’n klein “museum” ’n paar jaar terug geopen. Een van die beeldhouwerke van ys wat ten toon gestel is, het ’n beroep herdenk wat in vroeër jare in die berge beoefen is—dit was ’n beeld van ’n kolporteur.
Kolporteurs het eeue lank van mark tot mark en van huis tot huis gegaan en die ware wat hulle om hulle nek (Frans: col) gedra (Frans: porter) het, te koop aangebied. Die meeste mense van vandag het nog nooit van hulle gehoor nie. Dié wat wel al van hulle gehoor het, dink moontlik dat hulle smouse van snuisterye was. In werklikheid raak die nalatenskap van kolporteurs tot vandag toe die lewens van miljoene mense.
Kolportasie van naderby beskou
Kolporteurs was beslis nie ellendige sukkelaars nie; baie van hulle was hoogs georganiseerde handelaars, wat die nuutste ware met behulp van uitgebreide Europese netwerke versprei het. Maar nie alle kolporteurs het hulle beroep vir materiële gewin beoefen nie. Sommige het dit gedoen om hulle geloof en oortuigings te versprei. Sommige het selfs hulle lewe as gevolg daarvan verloor.
Blykbaar het die werk van kolporteurs die een of ander tyd gedurende die laat Middeleeue begin. Die eerstes was bergbewoners van die Alpynse halfmaan, die Pireneë en die Skotse Hoogland. Baie was plaaswerkers wat nadat die oes ingesamel is, ’n bestaan as reisende verkoopsmanne gemaak het.
’n Fransman met die naam Jehan Gravier was een van hierdie reisende handelaars. In die 16de eeu het hy en sy gesin in die bergagtige gebied gewoon wat La Grave genoem is. Waarskynlik omdat die landbougrond onvrugbaar was, het hy besluit om te voorsien in die valleidorpies se aanvraag na produkte soos hout, leer, wol en sout—produkte uit die bergstreke. Kolporteurs soos Gravier het hierdie produkte dorp toe gebring en dit verruil vir huishoudelike artikels, kamme, brille, boeke, medisyne, tabak en graverings. Hierdie artikels is dan weer verkoop aan stedelinge of aan plattelanders wat ver van ’n winkel af gewoon het. Party kolporteurs het roetes gedek wat vereis het dat hulle 20 kilometer per dag reis! Terwyl hulle weg was, het familielede na hulle landerye en gesinne omgesien.
Gravier het egter nie net snuisterye verkoop nie. Volgens die geskiedblaaie was hy in die skuld by ’n sekere drukker met die naam Benoît Rigaud. Dit dui daarop dat Gravier, soos baie ander kolporteurs, boeke verkoop het. In sy dag het Europa die Renaissance beleef, en die boekhandel het gefloreer. Tussen 1500 en 1600 is 140 miljoen tot 200 miljoen boeke in Europa gemaak. ’n Kwart hiervan is in Frankryk gepubliseer. Lyon, die land se ekonomiese hoofstad, wat aan die voet van die Alpe lê, was ’n vername Europese uitgewersentrum en was die grootste uitgewer van Franse boeke. Gravier het dus oorgenoeg boeke vir sy bedryf gehad. Maar hoewel mense soos Gravier boeke bloot vir wins verkoop het, het daar ’n ander soort kolporteur verskyn wat boeke alleenlik om godsdiensredes versprei het.
‘Smokkelaars van die geloof’
Met die koms van die drukpers het mense godsdiensboeke, -brosjures en -traktate begin verslind. Die Bybel is eers in Latyn gedruk en toe in die gewone tale. Miljoene eksemplare is in Duitsland gedruk, en kolporteurs het gehelp om eksemplare vinnig onder mense op die platteland te versprei. Maar nie almal was ten gunste van hierdie verspreiding nie.
In 1525 het die Franse Parlement ’n verbod geplaas op die vertaling van die Bybel in Frans, en in die volgende jaar het hulle mense verbied om die Bybel in die landstaal te besit. Ten spyte hiervan is duisende Bybels op die drukperse gedruk en is baie daarvan deur die hele Frankryk gesmokkel, danksy vasbeslote kolporteurs. Een was ’n jong man met die naam Pierre Chapot. Hy is in 1546 in hegtenis geneem en om die lewe gebring.
In 1551 het Katolieke Frankryk uiteindelik streng maatreëls ingestel en kolporteurs verbied om boeke te verkoop, aangesien hulle “heimlik” boeke by hulle gehad het wat “van Genève kom”, dit wil sê van die Protestante af. Maar dit het nie die instroming gestuit nie. Bybels het Frankryk op elke denkbare manier binnegekom. Hulle was dikwels klein en is in wynvate met vals bome, in vate vol kastaiings of in skeepsruime versteek. ’n Moedige man met die naam Denis le Vair is in hegtenis geneem toe hy ’n hele vat vol Bybels vervoer het. Ook hy is tereggestel. Een Katoliek van daardie tyd, wat die kolporteurs vyandiggesind was, het erken dat dit deur hulle toedoen was dat “Frankryk binne ’n kort tydjie met Franse Nuwe Testamente gevul is”.
Deur die hele 16de eeu heen was hierdie ‘smokkelaars van die geloof’, soos een skrywer hulle noem, voortdurend in gevaar. Baie kolporteurs is in hegtenis geneem, na die gevangenis of galeie gestuur, verban of gemartel. Sommige kolporteurs is saam met hulle boeke verbrand. Hoewel geskiedenisbronne net ’n handjie vol van hulle name noem, was dit aan ’n menigte van hierdie moedige persone te danke dat die meeste Protestantse huisgesinne eksemplare van die Bybel kon bekom.
Reisende biblioteke
In die 17de eeu het die Katolieke Kerk sy pogings voortgesit om te keer dat die gewone mense toegang tot die Bybel verkry. Gelowiges is eerder getyeboeke en boeke met die lewensverhale van heiliges gegee—swak plaasvervangers!a In teenstelling hiermee het die Janseniste, Katolieke met “ketteragtige” beskouings, mense aangemoedig om die Heilige Skrif te lees. Kolporteurs het gevolglik gehelp met die verspreiding van die Janseniste se pas voltooide vertaling van die Griekse Geskrifte (“Nuwe Testament”) deur Le Maistre de Sacy.
Terselfdertyd het ’n nuwe, goedkoop soort lektuur in die kolporteur se knapsak begin verskyn. Hierdie boeke het baie mense in Frankryk leer lees en hulle onderrig en vermaak totdat dit in die 19de eeu van die toneel verdwyn het. Die Franse het dit die bibliothèque bleue, of blou biblioteek, genoem weens die kleur van die omslae. In Engeland is dit volksboeke (chapbooks) genoem, en in Spanje pliégos de cordel. Dit het verhale van Middeleeuse ridders, volksoorleweringe, lewensverhale van die heiliges, ensovoorts bevat. Soos ’n mens jou kan voorstel, het mense gretig gewag op die koms van die kolporteur, of hy nou in die somer gekom het, soos dié van die Pireneë af, en of hy in die winter gekom het, soos dié van die Dauphiné-Alpe af.
Interessant genoeg, kolporteurs het in die behoeftes van die geletterdes sowel as die ongeletterdes voorsien. ’n Studie in die 18de eeu van die landvolk uit die Guienne-streek in die suidweste van Frankryk het hierdie opmerking bevat: “Gedurende die lang winteraande lees [die landvolk] ’n halfuur lank die lewensverhale van die heiliges of ’n hoofstuk uit die Bybel vir die huismense wat byeenkom. . . . Wanneer hulle niks anders het nie, lees hulle . . . die blou biblioteek of ander onbenullige leesstof wat die kolporteurs jaarliks na die platteland bring.” Maar die Bybel was besonder gewild, en eksemplare daarvan kon selfs op beskeie plase gevind word.
Georganiseerde netwerke
Kolporteurnetwerke het ontstaan in die Franse en Italiaanse Alpe, die Pireneë en Normandië, in die noordweste van Frankryk. Die kolporteurs van die Dauphiné-Alpe alleen het ’n kwart van die boekmark van Suidelike Europa beheer. “Die boekhandel in Spanje en Portugal, sowel as in baie dorpe in Italië, word deur Franse beheer wat van dieselfde dorpie . . . in die Dauphiné-Alpe afkomstig is”, het ’n destydse boekhandelaar in Genève gesê.
Afgesien daarvan dat kolporteurs “bedrywig, hardwerkend en besonder ernstige mense” was, was hulle sukses ook toe te skryf aan hulle gehegtheid aan lede van hulle gesin, dorpie en godsdiens. Baie van hulle was Protestante wat in aanraking gebly het met dié wat gedurende vervolging in ballingskap gegaan het. Familielede, landgenote en geloofsgenote het derhalwe doeltreffende netwerke kruis en dwars oor Europa gevorm. Die Gravier-familie het byvoorbeeld ’n boekhandelnetwerk gehad wat oor Frankryk, Spanje en Italië gestrek het. Ander netwerke het selfs tot by Persië en die Amerikas gestrek.
’n Herlewing van die kolporteurwerk
In die 19de eeu het die Industriële Revolusie die kolporteurbedrywe wat geslagte lank deur families aan die gang gehou is, ’n nekslag gegee. Maar die stigting van Bybelgenootskappe het die verspreiding van die Bybel weer aangewakker soos nooit tevore nie. Die Katolieke Kerk was egter nog steeds gekant teen die verspreiding van die Bybel. Tot die laat 1800’s is Bybelkolporteurs nog geteister en geregtelik vervolg. Hulle het nietemin van 1804 tot 1909 sesmiljoen eksemplare van die Bybel in sy geheel of gedeeltelik in Frankryk alleen versprei.
Die werk om die publiek die Bybel te leer, was nog lank nie klaar nie. In 1881 het die tydskrif Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence (wat in die Verenigde State gedruk is) ’n beroep op Christene gedoen om evangelisasiewerk te begin doen. Hulle doelwit? “Om die waarheid te versprei, deur mense sover te kry om te lees.” Teen 1885 was ongeveer 300 evangeliste, wat op die oproep gereageer het, bedrywig in die veld. Party het wyd en syd gereis en na lande soos Barbados, Birma (nou Myanma), El Salvador, Finland, Guatemala en Honduras gegaan. Teen die tyd dat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het hierdie evangeliste Bybelkennis in China, Costa Rica, Duitsland, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland, Noorweë, Pole, Swede en Switserland versprei.
Interessant genoeg, in die vroeë jare is voltydse evangeliste onder hierdie Bybelstudente (nou bekend as Jehovah se Getuies) kolporteurs genoem. Later is die term nie meer gebruik nie, want dit het nie die hoofdoel van hulle werk—naamlik Bybelonderrig—akkuraat beskryf nie (Matteus 28:19, 20). Die term het ook nie aangedui dat daar geen winsoogmerk by hulle bedrywighede betrokke was nie. Gevolglik word voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies vandag pioniers genoem.
Verlede jaar het meer as 800 000 pioniers Bybels en Bybellektuur vryelik versprei. Hulle doen dit nie vir geldelike gewin nie, maar “uit opregtheid, ja, as van God af gestuur, ten aanskoue van God, in geselskap van Christus” (2 Korintiërs 2:17). Die pionierbedienaars van vandag is dus veel meer as die wandelende boekwinkels. Maar hulle is baie verskuldig aan daardie vroeë kolporteurs vir die voorbeeld van ywer en oortuiging wat baie van hulle gestel het.
[Voetnoot]
a ’n Getyeboek het gebede bevat wat opgesê moes word op die ure wat amptelik vasgestel is vir die verering van Maria.
[Prente op bladsy 24, 25]
Kolporteurs het die nuutste ware na mense se huise gebring
Mense het gretig op die koms van kolporteurs gewag
[Erkenning]
© Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris
[Prente op bladsy 26]
Die “Nuwe Testament” deur Le Maistre de Sacy, en ’n boek uit die blou biblioteek
[Erkenning]
Heel links: © Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris Links: © B.M.V.R de Troyes/Bbl.390/Photo P. Jacquinot
[Prent op bladsy 26, 27]
Evangeliste het Bybellektuur versprei
[Prent op bladsy 26]
Vandag bied voltydse evangeliste gratis Bybelonderrig aan