Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 1/22 bl. 11-13
  • ’n Wêreld waar elkeen sy eie plek sal hê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Wêreld waar elkeen sy eie plek sal hê
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Veilig maar nie tevrede nie
  • Is repatriasie die antwoord?
  • ’n Wêreld waar almal veilig sal wees
  • Help die “inwonende vreemdelinge” om Jehovah met blydskap te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Wat is die oplossing?
    Ontwaak!—1996
  • Toenemende getalle vlugtelinge
    Ontwaak!—1996
  • Op soek na ’n plek wat hulle hulle eie kan noem
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 1/22 bl. 11-13

’n Wêreld waar elkeen sy eie plek sal hê

“Aangesien vlugtelinge ’n wêreldwye probleem is, moet daar ook wêreldwyd na oplossings gesoek word.”—Gil Loescher, professor in internasionale betrekkinge.

DIE jong paartjie het in die donker vertrek. Die man, wat oor hulle veiligheid besorg was, het geen tyd gemors nie, selfs al het hulle ’n jong kindjie gehad. Hy het gehoor dat die land se wrede diktator ’n moordaanslag op die dorp beplan het. Ná ’n moeilike reis van meer as honderd-en-sestig kilometer het die gesin uiteindelik die grens na veiligheid oorgesteek.

Hierdie nederige gesin het later wêreldbekend geword. Die naam van die kindjie was Jesus, en sy ouers was Maria en Josef. Hierdie vlugtelinge het nie hulle land verlaat om materiële rykdom te soek nie. Hulle situasie was eerder lewensgevaarlik. Hulle kind was immers die rede vir die aanval!

Soos baie ander vlugtelinge, het Josef en sy gesin uiteindelik na hulle vaderland teruggekeer toe die politieke situasie verbeter het. Maar hulle tydige vertrek het ongetwyfeld gehelp om die lewe van hulle jong kindjie te red (Matteus 2:13-16). Egipte, hulle nuwe land, was bekend daarvoor om politieke sowel as ekonomiese vlugtelinge te aanvaar. Jesus se voorvaders het baie eeue vroeër in Egipte skuiling gevind toe ’n hongersnood die land Kanaän geteister het.—Genesis 45:9-11.

Veilig maar nie tevrede nie

Skriftuurlike sowel as hedendaagse voorbeelde toon dat dit die verskil tussen lewe en dood kan beteken om na ’n ander land te vlug. Dit is nietemin nog steeds vir enige gesin ’n traumatiese ondervinding om hulle huis te verlaat. Hoewel ’n huis dalk eenvoudig is, is jare se tyd en geld waarskynlik daaraan bestee. Dit is dalk ook iets wat hulle geërf het en wat hulle met hulle kultuur en land verbind. Daarbenewens kan vlugtelinge net ’n paar, indien enige, besittings saam met hulle neem. Vlugtelinge word dus sonder uitsondering in armoede gedompel, ongeag hulle vorige omstandighede.

Die aanvanklike gevoel van verligting wanneer ’n mens veiligheid bereik, kan vinnig verdwyn as dit lyk of die toekoms niks meer as lewe in ’n vlugtelingkamp inhou nie. En hoe langer die vlugtelingsituasie voortduur, hoe meer neerdrukkend raak dit, veral as daar geen integrasie met die plaaslike mense is nie. Vlugtelinge wil, soos enigiemand anders, voel dat hulle wel êrens hoort. ’n Vlugtelingkamp is nouliks ’n geskikte plek om ’n gesin groot te maak. Sal die tyd uiteindelik aanbreek wanneer elkeen ’n plek sal hê wat hy sy huis kan noem?

Is repatriasie die antwoord?

Gedurende die 1990’s het ongeveer negemiljoen ontwortelde mense uiteindelik na hulle huise toe teruggekeer. Vir party van hierdie mense was dit ’n vreugdevolle geleentheid, en hulle het gretig begin om hulle lewe te herbou. Maar vir ander was dit iets waarin hulle hulle moes berus. Hulle het slegs teruggekeer omdat hulle situasie ondraaglik geword het in die land waar hulle toevlug gesoek het. Die probleme wat hulle daar ondervind het, was so erg dat hulle besluit het dat hulle beter daaraan toe sal wees as hulle huis toe gaan, ondanks die onveiligheid wat hulle ongetwyfeld sou ondervind.

Selfs onder die beste omstandighede behels repatriasie ontberinge, want dit beteken dat jy ’n tweede keer heeltemal ontwortel word. “Elke hervestiging gaan gepaard met ’n verlies aan middele vir lewensonderhoud, soos grond, werk, huise en vee”, verduidelik The State of the World’s Refugees 1997-98. “En elke hervestiging is die begin van ’n moeilike herstelproses.” Een studie van gerepatrieerde vlugtelinge in die sentrale deel van Afrika het getoon dat “die terugkeer vir die vlugtelinge wat as ontworteldes hulp ontvang het, moeiliker kan wees as die ondervinding om ’n ontwortelde te wees”.

Wat egter ontstellender is, is die situasie van miljoene vlugtelinge wat gedwing word om teen hulle sin na hulle vaderland terug te keer. Watter toestande wag daar op hulle? “Dié wat terugkeer, moet dalk in ’n situasie aan die lewe bly waar regsorde nouliks bestaan, waar struikrowery en geweldsmisdade iets algemeens is, waar gedemobiliseerde soldate op die burgerlikes toeslaan en waar ligte wapens aan die grootste deel van die bevolking beskikbaar is”, het ’n Verenigde Nasies-verslag gesê. Klaarblyklik voorsien sulke vyandige omgewings nie eers in die basiese veiligheidsbehoeftes van hierdie ontworteldes nie.

’n Wêreld waar almal veilig sal wees

Gedwonge of onwillige repatriasies sal nooit vlugtelingprobleme oplos as daar nie aan die onderliggende oorsake aandag gegee word nie. Mev. Sadako Ogata, die voormalige Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge van die Verenigde Nasies, het in 1999 gesê: “Die gebeure van hierdie dekade—en, inderdaad, dié van die afgelope jaar—toon baie duidelik dat vlugtelingkwessies nie bespreek kan word sonder om van veiligheid melding te maak nie.”

En ’n ernstige gebrek aan veiligheid teister miljoene mense regoor die wêreld. Kofi Annan, die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, verduidelik: “In party dele van die wêreld het state ineengestort as gevolg van interne en gemeenskapskonflikte, waardeur hulle burgers enige doeltreffende beskerming ontneem word. Op ander plekke is mense se veiligheid in gevaar gestel deur regerings wat weier om in die gemeenskaplike belang op te tree, wat hulle teenstanders vervolg en onskuldige lede van minderheidsgroepe straf.”

Oorloë, vervolging en etniese geweld—die basiese oorsake van onveiligheid wat Kofi Annan beskryf het—spruit gewoonlik voort uit haat, vooroordeel en ongeregtigheid. Hierdie euwels sal nie maklik uitgeroei word nie. Beteken dit dat die vlugtelingprobleem noodwendig sal vererger?

As dit aan mense oorgelaat sou word, sou dit ongetwyfeld die eindresultaat wees. Maar in die Bybel belowe God dat hy “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde” (Psalm 46:10). Deur middel van sy profeet Jesaja beskryf hy eweneens ’n tyd wanneer mense “huise [sal] bou en bewoon, en wingerde [sal] plant en die vrug daarvan [sal] eet . . . Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle” (Jesaja 65:21-23). Sulke toestande sal inderdaad die vlugtelingprobleem oplos. Kan dit bereik word?

“Aangesien oorloë in die verstande van mense begin, moet vredespogings ook in die verstande van mense begin”, sê die inleiding tot die handves van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur. Ons Skepper weet alte goed dat ’n verandering in denke nodig is. Dieselfde profeet verduidelik waarom almal op aarde eendag in veiligheid sal woon: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9.

Jehovah se Getuies het reeds uitgevind dat die kennis van Jehovah vooroordeel en haat kan oorkom. In hulle internasionale predikingswerk streef hulle daarna om Christelike waardes te bevorder, wat selfs in oorloggeteisterde lande liefde inboesem en nie haat nie. Hulle help vlugtelinge ook sover as wat hulle redelikerwys kan.

Aan die ander kant besef hulle dat die algehele oplossing vir die vlugtelingprobleem by God se aangestelde Koning, Jesus Christus, lê. Hy verstaan beslis hoe maklik haat en geweld mense se lewens kan verwoes. Die Bybel verseker ons dat hy die geringes met regverdigheid sal oordeel (Jesaja 11:1-5, NW). Onder sy hemelse regering sal die wil van God op die aarde geskied, net soos in die hemel (Matteus 6:9, 10). Wanneer daardie dag aanbreek, sal niemand ooit ’n vlugteling hoef te word nie. En elkeen sal ’n plek hê wat hy sy huis kan noem.

[Venster op bladsy 12]

Wat is nodig om die vlugtelingprobleem op te los?

“Om te voorsien in die behoeftes van die wêreld se ontworteldes—beide vlugtelinge en die mense wat in hulle eie land ontwortel is—is baie meer gekompliseerd as om net tydelike veiligheid en bystand te verleen. Dit behels dat die vervolging, geweld en konflik wat ontworteling in die eerste plek veroorsaak, aangespreek word. Dit behels die erkenning van die menseregte van alle mans, vroue en kinders om vrede, veiligheid en waardigheid te geniet sonder om uit hulle huise te vlug.”—The State of the World’s Refugees 2000.

[Venster/Prente op bladsy 13]

Watter oplossing bied God se Koninkryk?

“Maar in woestyn en in vrugteboord sal reg geskied en reg gedoen word. Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. My volk sal in rustige velde woon, in veilige wonings, op plekke waar daar rus is en geen sorge nie.”—Jesaja 32:16-18, NAV.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel