Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 2/8 bl. 25-27
  • Die Groot Artesiese Bekken—Wat is dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Groot Artesiese Bekken—Wat is dit?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Droog bo
  • Nat onder
  • Deurweking van ’n massiewe spons
  • Die reservoir word gedreineer
  • Reusagtig maar kwesbaar
  • Wanneer sout ’n plaag word
    Ontwaak!—2004
  • Wat het van al die water geword?
    Ontwaak!—2001
  • Waar die krisis ernstiger is
    Ontwaak!—1997
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 2/8 bl. 25-27

Die Groot Artesiese Bekken—Wat is dit?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

TERWYL ons wes vlieg oor die laaste uitgestrekte dele van Australië se groot bergreeks langs die kus, ontvou ’n asemrowende uitsig voor ons. Bo ons maak die wolklose blou lug ’n boog tot by die horison. Die grond strek plat en eentonig uit so ver as wat die oog kan sien. Weldra hou die lappieskombers van groen velde en goue grasvlaktes op en sien ’n mens net ’n kaal landskap van rooi grond met kolle bruin gras hier en daar.

Hoewel dit ongelooflik klink, is daar ’n watermassa twee derdes die grootte van die Middellandse See onder die grond. Hierdie massiewe ondergrondse reservoir staan bekend as die Groot Artesiese Bekken.

Hierdie ondergrondse oseaan is onontbeerlik vir diegene wat diep in die snikhete binneland ’n bestaan maak. As ons wil begryp waarom hierdie ondergrondse skat so belangrik is en hoe dit ontstaan het, moet ons verstaan hoe Australië gevorm is.

Droog bo

Australië word tereg ’n verskroeide land genoem. Hierdie vasteland, wat die kleinste van die wêreld se vyf vastelande is, het die wêreld se tweede grootste woestyn. Dit het ook een van die wêreld se langste riviere, die Darlingrivier. En tog is daar min water in Australië se riviere. In die Verenigde State vloei daar elke jaar byna 60 persent meer water in die see uit die Mississippirivier alleen as uit al die riviere en strome in Australië saam. Waarom is daar so min reën in hierdie land?

Weens die vasteland se ligging op die aardbol—al langs 30 grade suiderbreedte—word die weer deur groot hoëdrukstelsels oorheers. Hierdie selle mooiweer voer warm lug in oor die land se sentrale deel. Dié winde beweeg oor die plat, uitgestrekte oppervlak, maar waai nie teen hoë bergreekse vas om vog uit die lug te trek nie. Die enigste noemenswaardige bergreeks lê reg teenaan die ooskus van die vasteland. Sy hoogste piek is maar 2 228 meter hoog, ’n baba volgens wêreldstandaarde. Enige reëndraende winde wat van die Stille Oseaan in die ooste na die binneland inbeweeg, waai teen hierdie berge vas en laat hulle lewegewende vrag al langs ’n nou kusstrook uitsak. Die gebrek aan hoogte, die hoë gemiddelde temperature en die ligging van die berge span alles saam om Australië die droogste vasteland op aarde te maak—ten minste op sy oppervlak.

Nat onder

Onder Australië se verdorde kors lê 19 groot grondwaterbekkens. Die grootste, die Groot Artesiese Bekken, lê onder een vyfde van die vasteland. Hierdie bekken is 1,7 miljoen vierkante kilometer groot en strek van die punt van Kaap York in die noorde af na Eyre-meer in Suid-Australië. Dit bevat 8 700 kubieke kilometer water, genoeg om die Michigan- en Huron-meer in Noord-Amerika tot oorlopens toe vol te maak.

Maar anders as die Groot Mere van Noord-Amerika is die water in die Groot Artesiese Bekken nie maklik bereikbaar nie. Dit loop in die bekken in wanneer reën in die grond insak en waterhoudende lae sandsteen deurweek. Sowat 300 miljoen liter water loop per dag op hierdie manier in die bekken in. Wat word van al hierdie water?

Deurweking van ’n massiewe spons

Die Groot Artesiese Bekken is soos ’n spons—maar ’n reusespons. Sponsagtige lae sandsteen, wat van 100 meter tot ongeveer drie kilometer dik is, lê tussen lae watervaste rots. Hierdie geboë plate lê skuins af na die weste toe, met hulle oostelike rand blootgestel al langs die Groot Skeidingsgebergte. Reën wat al langs hierdie rand insak, sypel stadig in en vloei weswaarts teen net vyf meter per jaar.

As ’n boorgat onderkant die bergreeks deur die boonste laag watervaste rots en in die sandsteen in geboor word, dwing swaartekrag die vasgekeerde water na die oppervlak. Omdat die water onder druk styg, word dit ’n artesiese boorgat genoem, ’n uitdrukking wat van die eertydse Franse provinsie Artois afgelei is, waar die eerste boorgat van hierdie soort geboor is. Toe Australië se artesiese skat ontdek is, is duisende boorgate in die antieke waterloop gesink.

Die reservoir word gedreineer

In die laat 1800’s het nedersetters wat gretig was om die uitgestrekte vlaktes van Queensland en Nieu-Suid-Wallis te ontgin, ywerig water getap uit wat hulle gedink het ’n onbeperkte watervoorraad is. Teen 1915 het ongeveer 1 500 boorgate tweemiljard liter (1 000 Olimpiese swembaddens) water per dag uit die Groot Artesiese Bekken laat uitborrel. Dit het die reservoir vinniger gedreineer as wat dit vol geraak het; baie van die boorgate het dus opgedroog.

Net 3 000 van die 4 700 artesiese boorgate wat al gesink is, loop vandag nog natuurlik. ’n Verdere 20 000 boorgate tap water uit hierdie groot spons, water wat na die oppervlak gepomp word deur middel van die windpompe wat oral onder ons op die landskap gesien kan word. Besorgde regerings werk daaraan om hierdie reservoir te bewaar, want 95 persent van al die artesiese water wat tans na die oppervlak gebring word, word vermors—dit gaan verlore weens verdamping.

Dit is duidelik waarom dit belangrik is om hierdie hulpbron te bewaar, aangesien grondwater die enigste betroubare bron van water in 60 persent van Australië is. Baie dorpe en nywerhede in die binneland maak geheel en al op hierdie voorraad staat. Hoe proe die water? Jason, wat grootgeword het op ’n plaas in Queensland wat artesiese water gebruik, sê: “Dit proe effens brak, en ek verkies reënwater wanneer dit beskikbaar is; maar die beeste hou baie daarvan.” Die smaak kom van opgeloste minerale wat in die water vergaar wanneer dit deur die rotslae sypel. Aan die kant van die bekken is die water amper suiwer, maar in die middel kan dit baie brak wees—net geskik vir skape en beeste om te drink. Water wat nie deur die mens opgevang en gebruik word nie, bly weswaarts vloei na die droë binneland toe.

Reusagtig maar kwesbaar

Terwyl ons in die rigting van die ondergaande son vlieg, sien ons ver onder ons klein, blink poeletjies water wat soos knope in die woestyn versprei lê. Nadat die reënwater oor duisende jare honderde kilometer ver ondergrond gevloei het, bereik dit uiteindelik die suidwestelike rand van die Groot Artesiese Bekken en stoot dit na die oppervlak op, wat hierdie natuurlike fonteine onder ons vorm. Water wat van die fonteine verdamp, laat ’n ophoping van minerale afsaksels agter. Hierdie afsaksels vang sand op wat deur die wind daarheen gewaai word en laat die fontein stadig bo die omliggende landskap styg.

Selfs hierdie afgeleë veilige hawens vir plante en diere word deur die mens bederf. Die boek Discover Australia sê: “Die invoering van beeste, hase en, in onlangser tye, die oopstelling daarvan vir toeriste het daartoe gelei dat baie van die kwesbare fonteine vernietig is. . . . Wat moontlik die meeste skade aangerig het, is die hoeveelheid water wat vir vee uit die boorgate getap word wat die vloeitempo van baie fonteine wesenlik verminder het, in party gevalle tot slegs straaltjies water.”

Hierdie antieke waterloop is reusagtig, maar kwesbaar—sy grootte maak hom nie bestand teen menslike invloed nie. Soos met al die wêreld se hulpbronne, moet dit sorgvuldig bestuur word om die enorme ondergrondse waterstelsel te bewaar wat die Groot Artesiese Bekken is.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GROOT ARTESIESE BEKKEN

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 25]

’n Simbool van die agterveld van Australië, die windpomp wat lewe gee aan die woestyn

[Prent op bladsy 26]

Soos die bewoners van hierdie afgeleë plaas, is 60 persent van Australië heeltemal afhanklik van grondwater

[Prent op bladsy 26]

Natuurlike fonteine laat water uitborrel wat duisende jare oud is

[Erkenning]

Courtesy of National Parks and Wildlife South Australia

[Prent op bladsy 26]

’n Soutmeer op die suidwestelike rand van die Groot Artesiese Bekken

[Prent op bladsy 26]

Die stadige ophoping van minerale afsaksels om die fonteine het hulle tot 15 meter verhoog

[Erkenning]

Courtesy of National Parks and Wildlife South Australia

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel