Maak jou werksomgewing veilig
ONDANKS wette oor beroepsgesondheid en -veiligheid is beserings en sterftes by die werk nog steeds ’n groot probleem. Dit spreek dus vanself dat die werksplek nie bloot deur wetgewing veilig gemaak kan word nie. Werkgewers en werknemers moet in ’n sekere mate die verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid en dié van ander op hulle neem.
Daarom sal dit verstandig wees as al die werkers hulle werksomgewing en hulle werksgewoontes noukeurig ondersoek. Het jy byvoorbeeld al gekyk of jou werksplek werklik veilig is? Werk jy met enige gifstowwe? Indien wel, is jy goed genoeg beskerm? Is jy voortdurend onder druk? Aanvaar jy werkroosters wat wettig vasgestelde beperkings of ure oorskry?
Antwoorde op hierdie vrae kan baie onthul oor hoe veilig jy by die werk is.
Bewus van gevare
Dit kan gevaarlik wees om by ’n onredelike werkrooster te probeer bly. Nadat professor Lawson Savery van Australië se Curtin-universiteit die resultate van ’n opname onder 3,6 miljoen werkers en 37 200 werksplekke ondersoek het, het hy, saam met ’n navorser, ’n navorsingstuk uitgegee met die titel “Long Hours at Work: Are They Dangerous and Do People Consent to Them?” Die antwoord op albei dele van daardie vraag was in werklikheid ja.
Moeë werkers is inderdaad minder produktief en maak meer foute. Professor Savery het volgens ’n berig in Australië se koerant The Sun-Herald gesê: “Baie maatskappye het werkverslaafdheid aangemoedig en werkslawe daadwerklik gesoek en beloon.” Dit kan verwoestende gevolge hê. Hierdie probleem is miskien die opvallendste in die vervoerbedryf, waar voertuigbestuurders soms aangespoor of selfs gedwing word om lang ure sonder onderbreking te bestuur—’n gebruik wat in party lande onwettig is.
Slegte werksgewoontes, wat onnetheid en morsigheid kan insluit, hou nog ’n gevaar in. Gereedskap wat op die vloer rondlê of gelaaide elektriese drade wat oop gelos word, het dikwels ongelukke, selfs sterftes, tot gevolg. Dit is ook die geval as veiligheidsmaatreëls verontagsaam word wanneer kraggereedskap en masjinerie gebruik word. Nog iets wat beserings en die dood veroorsaak, is vloeistowwe—veral giftiges—wat gemors en nie opgevee word nie. Baie werkers het al beserings opgedoen wanneer hulle op olierige of nat vloere gegly het. Ons kan dus sê dat die eerste wet van goeie werkverrigting is om skoon en ordelik te wees.
Tog kom baie in die versoeking om veiligheidsmaatreëls te verontagsaam. Die tydskrif Monthly Labor Review het gesê: “Werkdrukte kan idees laat ontstaan dat dit nodig is om kortpad te kies om aan die eise te voldoen.” Gevolglik redeneer party dalk wanneer dit by ’n veiligheidsvoorskrif kom: ‘Dit het nog nooit ’n probleem veroorsaak wanneer ek dit verontagsaam het nie.’ ’n Ervare fabrieksbestuurder het in verband met hierdie kwessie gesê: “Een van die ergste dinge wat jy by die werk kan doen, is om veiligheidsmaatreëls te verontagsaam sonder om enige slegte gevolge te ondervind!” Waarom? Omdat ’n mens dan te veel selfvertroue kry en agterlosig raak, wat meer ongelukke tot gevolg het.
Die ontploffing van die Tjernobil-aanleg in 1986 in die Oekraïne word dikwels as “die wêreld se ergste kernongeluk” beskryf. Wat het verkeerd geloop? ’n Verslag oor die ramp meld ’n “lys van roekelose bedryfsmetodes” en “die herhaalde verontagsaming van veiligheidsmaatreëls”.
Die werkgewer sowel as die werknemer kan saamwerk om op moontlike veiligheidsgevare bedag te wees. ’n Wyse Bybelspreuk sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Ja, die verstandige mens sien wat tot ’n gevaarlike situasie kan lei en soek na maniere om homself en ander te beskerm.
Wanneer werkgewers dit doen, bevoordeel dit hulle sowel as hulle werknemers. ’n Maatskappy wat hulle kantoor herontwerp het om die “siekgebousindroom” te voorkom, het byvoorbeeld gevind dat dit nie lank was voordat produktiwiteit toegeneem en tevredenheid onder die personeel opvallend verbeter het nie. Daar is ook gevind dat minder mense met siekteverlof was. Wanneer ander se gesondheid so in ag geneem word, skep dit nie net vir die werkgewer en werknemer ’n vriendeliker atmosfeer nie, maar, soos ons in hierdie geval gesien het, kan dit ook winsgewend wees.
Soos in die vorige artikel gemeld is, het geweld na die werksplek versprei. Wat kan jy doen om jou te beskerm?
Wat gedoen kan word
Daar is al gevind dat selfs voorvalle van ligte aggressie by werksplekke tot ernstige gevalle van teistering gelei het. Harvard Business Review gee hierdie verstandige raad: “As jy ’n einde aan geweld by die werksplek wil maak, moet jy weet dat mense wat minder ernstige dade van aggressie pleeg, hulle later dikwels aan ernstiger dade skuldig maak.”
’n Vrou bedoel dalk nie om die aandag van werksmaats te trek nie, maar as haar kleredrag, spraak en optrede nie beskeie is nie, kan ander die indruk kry dat sy losse sedes het. In onlangse tye het gedrag wat nie bedoel was om ongepaste aandag te trek nie, soms tot ernstige probleme gelei, waaronder sluipjagtery (stalking), verkragting of selfs moord. Wees dus bewus van die uitwerking wat jou kleredrag en optrede op ander het. Gee ag op die Bybelraad: ‘Versier julle met goed versorgde kleredrag, met beskeidenheid en gesonde verstand.’—1 Timoteus 2:9.
Die Monthly Labor Review wys op nog ’n situasie wat gevaarlik kan wees en sê: “Kommer ontstaan oor werknemers wat saans alleen in verlate gebiede werk.” Dink dus hieraan: Is dit verstandig om jou bloot te stel aan die moontlike gevare wat dikwels ontstaan wanneer ’n mens alleen werk, veral laat in die aand? Is die geld werklik so ’n risiko werd?
Dit is ook noodsaaklik om te let op hoe ons reageer as medewerkers wat onder spanning verkeer, ons irriteer of vyandig is. Wat kan gedoen word om ’n plofbare situasie te ontlont? ’n Bybelspreuk sê: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). Ja, as jy vriendelik en eerbiedig in jou benadering is, kan jy baie daartoe bydra om spanning te verlig en onenigheid te voorkom.
In vandag se drukpotwerksomgewing is irriterende en vyandige gedrag iets alledaags. Al lyk dit dalk of dit teen ons gerig is, gee die persoon miskien net uiting aan sy eie onderdrukte spanning en frustrasie. Ons is moontlik net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Hoe ons reageer, is dus belangrik. Dit kan die situasie ontlont of dit vererger.
Maar miskien is daar wesenlike meningsverskille. Die boek Resolving Conflicts at Work maak die nuttige opmerking: “Wanneer ons ’n geskil met iemand het, . . . praat ons selde openhartig oor hoe ons werklik, in alle eerlikheid, voel.” Wat kan die rede wees? Die boek het verder gesê: “Ons geskille kan ons verwar en verblind, en ons begin dink dat ’n geveg die enigste uitweg is.”
Wat is die oplossing? LUISTER! Die boek wat hierbo aangehaal word, sê: “As ons werklik luister na mense met wie ons verskil . . . , kan ons ophou om emosioneel betrokke te wees by die voortsetting van die struweling en oplossings vind.” Dit is goeie raad as jy wil voorkom dat meningsverskille of misverstande tot groot botsings lei.
Dit is dus verstandig om ’n praktiese benadering tot veiligheid te volg. Dit beteken onder andere dat ’n mens plaaslike veiligheidsvoorskrifte nougeset volg. As dit gedoen word, sal dit baie help om die werksplek veiliger te maak.
Dit is ook waar dat ons gesindheid teenoor die lewe, werk en vrye tyd ’n uitwerking kan hê op die soort werk wat ons kies en ons gesindheid teenoor veiligheid. Die volgende artikel kan ons help om in hierdie opsig goeie keuses te maak.
[Prent op bladsy 5]
Maak deeglik skoon waar olie gemors is
[Prent op bladsy 7]
’n Sagte antwoord kan ’n gespanne situasie ontlont