Ek het my ongebore baba verloor
MAANDAG, 10 April 2000, was ’n warm, sonnige dag, en ek het uitgegaan om ’n paar dingetjies te doen. Ek het so pas die tweede trimester van my swangerskap begin, en hoewel ek nie baie energie gehad het nie, was ek bly om buite te wees. Toe, terwyl ek in die tou by ’n kruidenierswinkel gewag het, het ek gevoel dat daar iets verkeerd is met my.
My vrese is bevestig toe ek by die huis kom. Ek het gebloei—iets wat nie gedurende my twee vorige swangerskappe gebeur het nie—en dit het my baie bang gemaak! Ek het my dokter gebel, maar hy het voorgestel dat ek wag en die volgende dag inkom, aangesien ek in elk geval dan ’n afspraak gehad het. Voordat ek en my man daardie aand ons twee kinders in die bed gesit het, het ons saam gebid en Jehovah gevra om ons krag te gee waar ons dit ook al nodig sal hê. Ek het uiteindelik aan die slaap geraak.
Maar om en by tweeuur het ek met verskriklike pyn wakker geword. Die pyn het geleidelik verdwyn, maar net toe ek weer aan die slaap raak, het dit teruggekom, en hierdie keer met gereelde tussenposes. Die bloeding het ook vererger, en ek het besef dat ek besig was om kontraksies te kry. Ek het hard probeer dink of ek iets gedoen het wat dit veroorsaak het, maar ek kon aan niks dink wat ek verkeerd gedoen het nie.
Teen vyfuur daardie oggend het ek geweet dat ek by die hospitaal moes uitkom. Toe ek en my man daar opdaag, was ons verlig om in die sorg te wees van baie vriendelike, behulpsame en simpatieke personeel in die ongevalleafdeling. Toe, twee uur later, het die dokter ons die nuus gegee wat ons gevrees het: Ek het my baba verloor.
Weens my vroeëre simptome was ek hierop voorbereid en het ek die nuus redelik goed verwerk. Daarbenewens was my man die hele tyd aan my sy en was hy baie ondersteunend. Maar noudat ons sonder ’n baba huis toe sou gaan, het ons gewonder wat ons vir ons twee kinders, Kaitlyn, wat ses jaar oud was, en David, wat vier was, sou sê.
Wat sê ons vir ons kinders?
Die kinders het bed toe gegaan met die wete dat daar iets fout was, maar hoe sou ons vir hulle sê dat hulle boetie of sussie waarvoor hulle gewag het, gesterf het? Ons het besluit om openhartig en eerlik te wees. My ma het ons hiermee gehelp deur vir die kinders te sê dat die baba nie saam met ons huis toe sou kom nie. Toe ons by die huis aankom, het hulle ons tegemoetgehardloop en ons met drukkies en soentjies oorval. Hulle eerste vraag was: “Hoe gaan dit met die baba?” Ek kon hulle nie antwoord nie, maar my man, met sy arms styf om ons, het gesê: “Die babatjie is dood.” Ons het mekaar vasgehou en gehuil, wat ons gehelp het om dinge te begin verwerk.
Ons was egter nie heeltemal voorbereid op die manier waarop ons kinders later sou reageer nie. Ongeveer twee weke ná my miskraam is daar byvoorbeeld in ons plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies aangekondig dat ’n bejaarde Getuie, wat ook ’n intieme vriend van ons gesin was, gesterf het. David, ons vierjarige seuntjie, het onophoudelik begin huil sodat my man hom buitentoe moes neem. Nadat hy gekalmeer het, het David gevra waarom sy vriend doodgegaan het. Toe het hy gevra waarom die baba doodgegaan het. Daarna het hy vir sy pa gevra: “Gaan Pappa ook doodgaan?” Hy wou ook weet waarom Jehovah God nog nie vir Satan vernietig het en begin het “om dinge reg te maak” nie. Ons was werklik verbaas om te sien wat alles deur sy jong verstand gegaan het.
Kaitlyn het ook baie vrae gevra. Wanneer sy met haar poppe gespeel het, het sy dikwels gemaak asof een pop siek is, terwyl die ander poppe verpleegsters of gesinslede was. Sy het ’n kartondoos vir ’n poppehospitaal gebruik en het soms gemaak asof een van haar poppe doodgegaan het. Ons kinders se vrae en speletjies het ons baie geleenthede gegee om hulle belangrike lesse oor die lewe te leer, sowel as hoe die Bybel ons kan help om beproewinge die hoof te bied. Ons het hulle ook aan God se voorneme herinner om die aarde ’n pragtige paradys te maak waar alle vorme van lyding en pyn—selfs die dood—nie meer sal bestaan nie.—Openbaring 21:3, 4.
Hoe ek die verlies verwerk het
Toe ek van die hospitaal af gekom het, het ek aanvanklik emosioneel dood en verward gevoel. Daar was soveel dinge wat gedoen moes word, maar ek het nie geweet waar om te begin nie. Ek het ’n paar vriendinne gebel wat dieselfde ondervinding deurgemaak het, en hulle het my baie vertroos. Ons het blomme van ’n goeie vriendin ontvang, en sy het aangebied om vir die middag na die kinders te kyk. Ek het haar opregte besorgdheid en praktiese hulp so waardeer!
Ek het familiefoto’s gesorteer en dit in albums gesit. Ek het na die nuwe babakleertjies—die enigste tasbare herinnering van die baba wat ek verloor het—gekyk en dit vasgehou. Ek was weke lank op ’n emosionele wipplank. Sommige dae kon ek nie ophou huil nie—selfs met al die ondersteuning van familielede en vriende. Soms het dit vir my gevoel of ek besig was om van my verstand af te raak. Dit was veral moeilik om by vriendinne te wees wat swanger is. Voorheen het ek gedink dat ’n miskraam soos ’n hobbeltjie in die pad is, iets wat ’n vrou sonder veel moeite verwerk. Hoe verkeerd was ek tog!a
Liefde—die beste geneser
Die verloop van die tyd, asook die liefde van my man en mede-Christene het my werklik baie gehelp. Een Getuiesuster het ’n maaltyd voorberei en dit vir ons gebring. ’n Gemeentelike ouer man en sy vrou het blomme en ’n aanmoedigende kaartjie vir ons gebring, en hulle het daardie aand by ons gekuier. Ons het geweet hoe besig hulle is, en daarom het hulle bedagsaamheid ons hart geraak. Baie ander vriende het kaartjies of blomme gestuur. Die eenvoudige woorde “Ons dink aan julle” het so baie beteken! Iemand in die gemeente het geskryf: “Ons beskou lewe soos Jehovah dit beskou—as iets baie kosbaars. As hy weet wanneer ’n mossie op die grond val, weet hy beslis wanneer ’n menslike fetus sterf.” My niggie het geskryf: “Ons is so verstom oor die wonder van geboorte en die lewe, en ons is ook net so verslae wanneer dit nie uitwerk nie.”
’n Paar weke later, terwyl ek by die Koninkryksaal was, wou ek net huil en moes ek uitgaan kort voor die vergadering begin het. Twee dierbare vriendinne wat gesien het hoe ek met trane in my oë uitloop, het saam met my in die motor gesit, my hand vasgehou en my laat lag. Na ’n rukkie het al drie van ons weer ingegaan. Wat ’n vreugde is dit tog om vriende te hê wat ‘sterker as ’n broer’ aanhang!—Spreuke 18:24.
Namate die nuus versprei het, was ek verbaas om uit te vind hoeveel mede-Getuies dieselfde ondervinding deurgemaak het. Selfs party wat ek nie so goed geken het nie, kon my vertroos en aanmoedig. Hulle liefdevolle ondersteuning in my uur van nood het my herinner aan die Bybelse spreuk: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.
Vertroosting uit God se Woord
Die herdenking van Christus se dood was ’n week ná my miskraam. Een aand terwyl ons die Bybelverslae oor Jesus se laaste dae gelees het, het dit my skielik getref: ‘Jehovah ken die pyn wat deur ’n verlies veroorsaak word. Hy het sy eie seun verloor!’ Omdat Jehovah ons hemelse Vader is, vergeet ek soms hoe simpatiek hy is en hoeveel empatie hy vir sy knegte het—vir mans sowel as vir vroue. Op daardie oomblik het ’n gevoel van verligting oor my gekom. Ek het nader as ooit tevore aan Jehovah gevoel.
Ek het ook baie aanmoediging geput uit Bybelpublikasies, veral ouer nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! wat oor die verlies van ’n geliefde gehandel het. Byvoorbeeld, die artikels oor “Hoe om die dood van ’n kind te verwerk” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1987 was baie nuttig, sowel as die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf.b
’n Einde aan hartseer
Na verloop van tyd het ek geweet dat ek besig is om te herstel toe ek kon lag sonder om skuldig te voel en toe ek ’n gesprek kon hê sonder om oor die baba te praat wat ek verloor het. Maar ek het soms emosionele terugslae beleef, soos wanneer ek vriende gesien het wat nie van my miskraam gehoor het nie of wanneer ’n gesin met ’n nuwe baba ons Koninkryksaal besoek het.
Een oggend het ek egter wakker geword en gevoel dat die onweerswolke uiteindelik verdwyn het. Selfs voor ek my oë oopgemaak het, het ek gevoel asof ek genees is—’n vrede en kalmte wat ek maande lank nie ervaar het nie. Maar toe ek ongeveer ’n jaar nadat ek die baba verloor het weer swanger geraak het, het die moontlikheid van nog ’n miskraam by my opgekom. Ek was bly toe ek in Oktober 2001 geboorte gegee aan ’n gesonde babaseuntjie.
Ek treur nog steeds oor die baba wat ek verloor het. Maar hierdie hele ondervinding het my waardering vergroot vir die lewe, vir my gesin, vir mede-Christene en vir God—wat ons vertroos. Die ondervinding het ook die onbetwisbare feit beklemtoon dat God nie ons kinders van ons af wegneem nie, maar dat ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref’.—Prediker 9:11.
Hoe sien ek tog uit na die tyd wanneer God alle verdriet, angsgeroep en pyn sal verwyder, insluitende die fisiese en emosionele pyn van ’n miskraam! (Jesaja 65:17-23). Dan sal alle gehoorsame mense kan sê: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”—1 Korintiërs 15:55; Jesaja 25:8.—Bygedra.
[Voetnote]
a Navorsing toon dat elkeen anders op ’n miskraam reageer. Party voel verward, ander voel teleurgesteld en ander voel weer verskriklik hartseer. Dit is normaal om oor ’n ernstige verlies soos ’n miskraam te treur, sê navorsers, en dit is deel van die herstelproses.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster op bladsy 21]
Miskrame Hoe algemeen en waarom?
“Studies toon dat 15 tot 20 persent van alle bevestigde swangerskappe in ’n miskraam eindig”, sê The World Book Encyclopedia. “Maar die risiko van ’n miskraam is die hoogste gedurende die eerste twee weke ná bevrugting . . . , ’n tyd wanneer die meeste vroue nie eers weet dat hulle swanger is nie.” ’n Ander naslaanwerk sê dat meer as “80 persent van miskrame in die eerste 12 weke van swangerskap plaasvind”, waarvan ten minste die helfte blykbaar deur gebreke in die chromosome van die fetus veroorsaak word. Hierdie gebreke is nie die gevolg van soortgelyke gebreke in die chromosome van die moeder of vader nie.
Ander oorsake van ’n miskraam kan verband hou met die moeder se gesondheid. Volgens mediese deskundiges kan probleme met hormone of die immuunstelsel, infeksies en abnormaliteite in die serviks of die baarmoeder van die moeder moontlike oorsake wees. Chroniese siektes soos suikersiekte (as dit nie behoorlik onder beheer gehou word nie) en hoë bloeddruk kan ook faktore wees.
Volgens deskundiges word miskrame nie noodwendig deur oefeninge, die optel van swaar voorwerpe of geslagsomgang veroorsaak nie. Dit is onwaarskynlik dat ’n vrou ’n miskraam sal kry as sy val, ’n ligte stamp kry of skrik. Een naslaanwerk sê: “Die fetus sal waarskynlik nie deur ’n besering beskadig word nie tensy die besering ernstig genoeg is om jou eie lewe in gevaar te stel.” Wat ’n uitstekende getuienis lewer die ontwerp van die baarmoeder tog van ’n wyse en liefdevolle Skepper!—Psalm 139:13, 14.
[Venster/Prent op bladsy 23]
Hoe die gesin en vriende kan help
Soms is dit moeilik om te weet presies wat om te sê of te doen wanneer ’n gesinslid of ’n vriendin ’n miskraam het. Elke mens reageer anders op so ’n verlies, en daar is dus nie ’n vasgestelde manier waarop ’n mens vertroosting en hulp kan aanbied nie. Beskou egter die volgende voorstelle.c
Praktiese dinge wat jy kan doen om te help:
◆ Bied aan om na ouer kinders te kyk
◆ Berei ’n maaltyd voor en neem dit vir die gesin
◆ Wees ook daar vir die vader. Soos een vader gesê het: “Hulle maak nie baie kaartjies vir pa’s wat hulle in hierdie situasie bevind nie.”
Nuttige dinge om te sê:
◆ “Ek is so jammer om te hoor dat jy ’n miskraam gehad het.”
Hierdie eenvoudige woorde beteken baie, en dit kan jou die geleentheid gee om verdere woorde van vertroosting te bied.
◆ “Daar is niks mee verkeerd om te huil nie.”
In die eerste paar weke of selfs maande ná ’n miskraam huil ’n vrou dikwels maklik. Verseker haar dat jy geensins minder van haar dink omdat sy haar emosies wys nie.
◆ “Kan ek jou weer volgende week bel om te hoor hoe dit gaan?”
Aan die begin ontvang diegene wat ’n miskraam gehad het, dalk baie simpatie, maar met verloop van tyd en terwyl hulle nog pyn ervaar, voel hulle dalk dat ander van hulle vergeet het. Dit is goed vir hulle om te weet dat jy nog steeds daar is vir hulle. Gevoelens kan weke of maande lank voortduur. Dit kan selfs ná ’n suksesvolle swangerskap opwel.
◆ “Ek weet nie werklik wat om te sê nie.”
Dit is dikwels beter om dit te sê as om niks te sê nie. Jou eerlikheid en die feit dat jy daar is, wys dat jy omgee.
Wat om nie te sê nie:
◆ “Julle kan altyd nog ’n baba hê.”
Hoewel dit dalk waar is, kan dit die indruk skep dat jy ’n gebrek aan empatie het. Die ouers wou nie net enige baba hê nie, hulle wou daardie baba hê. Voordat hulle daaraan kan dink om nog ’n baba te hê, moet hulle waarskynlik eers treur oor die baba wat hulle verloor het.
◆ “Daar was waarskynlik iets verkeerd met die baba.”
Dit is dalk waar, maar dit is nie baie vertroostend nie. Die moeder glo dat sy ’n gesonde baba gedra het.
◆ “Ten minste het jy die baba nie werklik geken nie. Dit sou baie erger gewees het as dit later gebeur het.”
Die meeste vroue vorm vroeg reeds ’n emosionele band met hulle ongebore baba. Wanneer die baba dus sterf, treur sy gewoonlik. Hierdie droefheid word vererger deur die feit dat niemand anders die baba soos die moeder “geken” het nie.
◆ “Ten minste het julle julle ander kinders.”
Vir die ouers wat treur, is dit amper soos om vir iemand wat ’n ledemaat verloor het, te sê: “Ten minste het jy nog jou ander ledemaat.”
Daar moet natuurlik erken word dat selfs die liefdevolste en opregste mense soms die verkeerde ding sê (Jakobus 3:2). Oordeelkundige vroue wat ’n miskraam gehad het, sal dus Christelike liefde wil toon en nie kwade gevoelens wil koester teenoor diegene wat welmenende maar ondeurdagte opmerkings maak nie.—Kolossense 3:13.
[Voetnoot]
c Aangepas uit A Guide to Coping With Miscarriage, wat deur die Miskraamondersteuningsgroep van Wellington, Nieu-Seeland, voorberei is.