’n Seldsame ontmoeting met ’n vernuftige jagter
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
“KYK! Daar in die gras”, het ek opgewonde gefluister. Ek en my vrou was in ’n kano op die majestueuse Nechako-rivier in die sentrale deel van Brits-Columbië en het die ongerepte natuurskoon geniet. Skielik het ’n dier ’n niksvermoedende haas bespring. Die haas het die dier blitsvinnig ontduik. Toe die roofdier ons sien, het hy vir ’n oomblik stilgestaan. Hy het met koue oë na ons gekyk en gegrom asof hy wou sê: ‘Dankie dat julle my ontbyt bederf het.’ Toe het hy stilletjies in die donker bosse verdwyn. “Wat was dit?” wou my vrou weet. “’n Kanadese los”, het ek geantwoord. Op daardie oomblik het ons nog ’n skrikaanjaende gegrom in die koue oggendlug gehoor, maar hierdie keer was dit langer en harder.
’n Seldsame gesig
Dit was inderdaad ’n seldsame ontmoeting. Vroeër het die los oral in die woude en berge van die Noordelike Halfrond rondgeswerf, maar vandag word hy net in afgeleë wêrelddele gevind. Die kat is al in afgesonderde bergstreke van Eurasië en tot in die berge van Spanje in die suide gesien. Die meeste kom egter voor in Siberië en in die digte, ononderbroke woude van noordelike Kanada en Alaska. ’n Boek oor wilde katte sê: “Losse het twee soorte woudhabitats nodig: digbegroeide kolle ruigtewoud vir skuiling en lêplekke waar hulle geboorte kan gee, asook welige, groen grasvelde en jong bos waar hulle hase kan jag.”
Party volgroeide losse is sowat ses keer groter as ’n groot huiskat en staan so hoog soos ’n volwassene se bobeen. ’n Noord-Amerikaanse mannetjie kan tussen 10 en 15 kilogram weeg, en ’n wyfie tussen 5 en 10 kilogram. Hulle is ongeveer die helfte so groot as hulle Europese neef. Sommige van hierdie wildekatte kan tot ’n meter lank word.
Een van sy kenmerkende eienskappe is ’n lang wangbaard wat hom opmerklik anders maak as die meeste katsoorte. Sy gesig, wat breër en korter as dié van die meeste katte is, is misleidend, want dit laat die kat skaam en amper vriendelik lyk. In die winter kry die Noord-Amerikaanse los ’n digte, sagte pels van ongeveer tien sentimeter, wat gewoonlik liggrys is met donkergrys merke op sy gesig. Die Eurasiese los kan ’n ligbruin pels met donkerbruin merke hê. Die los het ook ’n kenmerkende stompstert met ’n swart punt, wat ongeveer tien sentimeter lank is. Jy sal sy groot driehoekige ore opmerk wat swart haarkwassies aan die punte het. Dit dien as antennas wat hom help om te bepaal uit watter rigting die geluide kom wat deur klein diertjies gemaak word.
Hierdie dier, wat gewoonlik alleen jag, se tydsberekening en kamoeflering stel hom in staat om sy prooi te vang. Omdat hy groot sneeuskoenagtige pote met kussinkies en intrekbare kloue het, kan hy maklik oor die sneeu hardloop. Die los se lang, kragtige agterbene stel hom in staat om blitsvinnig te versnel en hale van twee tot drie meter op ’n slag te gee. Hy is ook akrobaties en kan in die lug van rigting verander wanneer hy sy prooi agternasit. Maar enige jagtog is gewoonlik van korte duur. Die los sal die aftog blaas as hy sy prooi nie na vyf hale vang nie. Trouens, dit neem dikwels drie tot tien probeerslae voordat hy ’n haas vang. ’n Verbroude kans beteken dus ’n leë maag. Wanneer hy wel sy prooi vang, sal die los sy kragtige, kort kaak—met 28 tande, waarvan 4 vlymskerp slagtande is—gebruik om sy slagoffer in die nek dood te byt.
Hy jag hoofsaaklik kort voor sonsopkoms en net na sonsondergang. Soos met die meeste ander katte kan die los in die skemerlig sien. Om die waarheid te sê, hy het in vergelyking met mense net ’n sesde van die lig nodig om in die nag te sien. Katte se oë het ’n spesiale membraan agter elke retina wat soos ’n spieël werk om lig deur die retina terug te kaats vir maksimum stimulasie. Dit laat dit lyk of hulle oë soos glasalbasters in die donker gloei wanneer hulle direk na jou kyk. ’n Boek oor wildekatte van die wêreld sê: “Losse maak op hulle sig staat om prooi van ver af raak te sien. Hulle kan blykbaar ’n muis 75 meter ver raaksien en ’n wolpoothaas 300 meter ver—verder as die lengte van drie voetbalvelde.”
Die Kanadese los se gunstelingkos is die wolpoothaas, en hy maak gemiddeld twee elke drie dae dood. ’n Los wat gereeld eet, kan tot 15 jaar oud word. Hy is ’n opportunistiese jagter en sal ook muise, waterrotte, korhoenders, eende, bewers en eekhorings eet. Volgens verslae het party losse al selfs herte doodgemaak, wat hulle die reputasie as wrede en aggressiewe jagters gegee het.
Kennis en bewaring van die los
Wanneer ’n wyfielos bronstig raak, sal sy dit aandui deur haar gebied te merk en kermgeluide te maak. Nadat sy gepaar het, sal sy geboorte gee aan ’n werpsel van sowat vier katjies, en in buitengewone gevalle, wanneer daar baie kos is, sal sy tot sewe kleintjies hê. Interessant genoeg, wanneer kos skaars is, is die werpsels kleiner.
Omdat die los van nature sku is, sal hy gebiede vermy waar daar tekens is van menslike aktiwiteite. Pogings om die los te bewaar, het hulle gehelp om in baie dele van Brits-Columbië te floreer. Daarbenewens kan die moderne gebruik om bome selektief af te kap ook voordelig wees omdat die klein openinge wat dit in die woud laat, grasvelde word waar hase kan wei. Namate die haasbevolking toeneem, neem die aantal losse ook toe.
Hierdie fassinerende dier vorm ’n belangrike deel van ’n komplekse ekosisteem. Net soos ander roofdiere is hy van sy prooi afhanklik. Soos ’n natuurleweboek dit opsom, ‘is hulle ook afhanklik van die gras en takkies wat hulle prooi eet. Hulle is eweneens afhanklik van die organismes in die grond wat die plante voed wat deur die prooi geëet word.’ Ja, die kompleksiteit van die natuur leer ons hoe belangrik dit is om in harmonie met ons omgewing te lewe en dit te bewaar vir diere soos die los.