Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 9/22 bl. 20-22
  • Waarom het my ouer my nie lief nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom het my ouer my nie lief nie?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verstaan jou ouer
  • Hoe om jou gevoelens te verwerk
  • Jy kan suksesvol wees
  • Hoe moet ek my ouer behandel wat die huis verlaat het?
    Ontwaak!—1990
  • Sê nou my ouer is verslaaf aan dwelms of alkohol?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Hoe kan ek dit verwerk noudat my pa ons verlaat het?
    Ontwaak!—2000
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 9/22 bl. 20-22

Jongmense vra . . . 

Waarom het my ouer my nie lief nie?

“Voordat my pa van my ma geskei het, het ons strand toe gegaan, uitgeëet en in sy motor rondgery. Toe het dit heeltemal opgehou. My pa het verander. Hy het seker van my ook geskei.”—Karen.a

VEELS te veel jongmense voel so. Soos Karen kry hulle die gevoel dat ’n ouer hulle nie meer liefhet nie—of nooit liefgehad het nie. Ons bedoel nie hier die verbygaande negatiewe gevoelens wat dalk ontstaan as gevolg van tydelike wrywing tussen jongmense en hulle ouers nie; en ons verwys ook nie na die gegriefdheid wat jongmense soms voel wanneer hulle ouers hulle dissiplineer nie. Nee, in sommige gevalle is ouers skuldig aan werklike verwaarlosing en gee hulle hulle kinders nie die nodige aandag en dissipline nie. In ander gevalle is daar ’n patroon van slegte, hardvogtige behandeling, wat moontlik harde woorde of fisiese mishandeling insluit.

Daar is min dinge wat ’n kind dieper seermaak as wanneer hy deur ’n ouer verwerp word. “Dit het my verstote en verwaarloos laat voel”, sê Karen. As jy al ooit in so ’n moeilike posisie was, kan jy gerus kyk na ’n paar wenke in hierdie artikel wat jou kan help om jou gevoelens te verwerk. Wees daarvan verseker dat jy wel suksesvol in die lewe kan wees, al het jy nie jou ouer se ondersteuning nie!

Verstaan jou ouer

In die eerste plek is dit reg dat jy van jou ouer verwag om jou lief te hê. ’n Ouer se liefde vir ’n kind moet so natuurlik en betroubaar soos die opkoms van die son wees. God verwag van ouers om hierdie liefde te betoon (Kolossense 3:21; Titus 2:4). Waarom verwaarloos, verlaat of mishandel ouers dan soms hulle kinders?

Hulle eie lewensondervindinge kan ’n bydraende faktor wees. Vra jou af: ‘Waar het my ouers geleer om kinders groot te maak?’ In baie gevalle kon ouers net leer uit wat hulle as kinders by hulle ouers ondervind het. En in ons wrede hedendaagse wêreld, waarin daar meer mense “sonder natuurlike geneentheid” is as ooit te vore, is sulke opleiding dikwels baie gebrekkig (2 Timoteus 3:1-5). Soms is die gevolg ’n verskriklike kettingreaksie waarin ouers hulle kinders mishandel net soos hulle voorheen mishandel is.

Daarbenewens kan ouers om verskeie redes diep ongelukkig wees. Party probeer hulle ongelukkigheid en frustrasie ontvlug deur hulle in hulle werk te verdiep of hulle aan alkohol of dwelms te vergryp. William en Joan se pa was byvoorbeeld ’n alkoholis. “Dit was vir my pa moeilik om ons te prys”, sê Joan. “Maar die ergste was sy woedeuitbarstings wanneer hy begin drink het. Hy het dan die hele aand op my ma geskreeu. Ek was dikwels bang.” Selfs al mishandel ouers hulle kinders nie as sodanig nie, het hulle moontlik as gevolg van hulle gedrag nie veel energie oor om hulle kinders die nodige liefde en aandag te gee nie.

William meen dat hy verstaan wat sy pa se wisselvallige gedrag veroorsaak het. “My pa het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Berlyn, in Duitsland, grootgeword”, verduidelik hy. “As kind het hy tallose afgryslike dinge ondervind en baie keer gesien hoe mense doodgaan. Hy moes elke dag sukkel net om ’n stukkie kos in die hande te kry om aan die lewe te bly. Ek voel dat my pa ernstig aangetas is deur sy ervaringe.” Ja, die Bybel erken dat mense wat hewige verdrukking verduur, irrasioneel kan optree.—Prediker 7:7.

Voel William en Joan dat hulle pa se ervaringe ’n verskoning is vir die manier waarop hy hulle behandel het? “Nee”, sê William. “Sy agtergrond is glad nie ’n verskoning vir die strawwe drinkery en slegte gedrag nie. Maar omdat ek daarvan bewus is, het dit my gehelp om my pa se optrede beter te verstaan.”

As jy die feit aanvaar dat jou ouers onvolmaak is en iets omtrent hulle agtergrond probeer uitvind, kan dit jou baie help om hulle te verstaan. Spreuke 19:11 sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.”

Hoe om jou gevoelens te verwerk

Daar is ander negatiewe gevoelens wat jou dalk teister as gevolg van die situasie by die huis. Patricia het byvoorbeeld gevoel dat sy “nikswerd is en dat niemand [haar] kan liefhê nie” omdat nie een van haar ouers aandag aan haar gegee het nie. LaNeisha het dit moeilik gevind om mans oor die algemeen te vertrou nadat haar pa hulle verlaat het toe sy net agt jaar oud was. En Shayla het aandag gesoek by feitlik enigiemand wat sy ontmoet het, net om die leemte te vul wat gelaat is deur ’n moeder wie se lewe “deur dwelms beheer” is.

Woede en jaloesie kan ook probleme wees. Toe Karen sien hoe haar pa, wat weer getroud is, aan sy nuwe gesin die liefde betoon waarna sy gesmag het, het dit haar “op een stadium baie jaloers” laat voel. Soms het Leilani selfs gevoel dat sy haar ouers haat. “Ek het heeltyd met hulle baklei”, sê sy.

Al hierdie gevoelens is verstaanbaar as ’n mens die omstandighede in ag neem. Maar hoe kan jy sulke negatiewe emosies op ’n konstruktiewe manier verwerk? Kyk na die volgende wenke.

• Kom nader aan Jehovah God (Jakobus 4:8). Jy kan dit doen deur die Bybel te lees en gereeld met sy volk om te gaan. Wanneer jy sien hoe Jehovah ander behandel, sal jy besef dat hy lojaal is. Jy kan hom vertrou. “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie?” het Jehovah die Israeliete gevra. “Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie”, het hy belowe (Jesaja 49:15). Bid dus gereeld tot God. Moenie bekommerd wees dat jy presies die regte woorde moet gebruik nie. Hy verstaan jou (Romeine 8:26). Jy moet besef dat Jehovah jou liefhet selfs wanneer dit lyk of niemand anders jou liefhet nie.—Psalm 27:10.

• Praat met ’n volwassene wat jy vertrou. Maak vriende met diegene wat geestelik volwasse is. Praat openhartig met hulle oor jou gevoelens en bekommernisse. In die Christengemeente van Jehovah se Getuies kan jy geestelike vaders en moeders vind (Markus 10:29, 30). Maar jy sal dalk die inisiatief moet neem om openhartig met hulle te praat. Ander sal nie weet wat jy voel tensy jy vir hulle sê nie. Die verligting wat dit bring wanneer jy jou hart uitpraat, kan vir jou ’n ware vertroosting wees.—1 Samuel 1:12-18.

• Bly besig deur dinge vir ander te doen. Om die gevaar van selfbejammering te vermy, moet jy probeer om nie oor die negatiewe aspekte van jou situasie te tob nie. Leer eerder om te waardeer wat jy het. Skep geleenthede deur ‘nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net jou eie sake te hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander’ (Filippense 2:4). Stel geestelike doelwitte, en lê jou dan daarop toe om dit met ’n positiewe gesindheid na te streef. Om in die behoeftes van ander in die Christelike bediening te voorsien, is ’n uitstekende manier om jou aandag op ander toe te spits en nie net op jouself nie.

• Betoon voortdurend respek aan jou ouers. Onthou altyd om by Bybelbeginsels en -standaarde te bly. Dit sluit in dat jy eer aan jou ouers moet bewys (Efesiërs 6:1, 2). Sulke eer sal voorkom dat jy wraaksugtig word. Onthou: Geen skynbare oortreding van ’n ouer kan ooit oortreding van jou kant regverdig nie. Laat sake dus aan Jehovah oor (Romeine 12:17-21). Hy “het geregtigheid lief” en is baie beskermend teenoor kinders (Psalm 37:28; Eksodus 22:22-24). Terwyl jy voortdurend die gepaste respek aan jou ouers betoon, moet jy die vrugte van God se gees probeer aankweek—veral liefde.—Galasiërs 5:22, 23.

Jy kan suksesvol wees

Daar bestaan geen twyfel dat die gebrek aan ’n ouer se liefde kan seermaak nie. Maar ’n ouer se versuim hoef nie te bepaal watter soort persoon jy gaan word nie. Jy kan kies om ’n gelukkige, suksesvolle lewe te hê deur die voorgaande Bybelbeginsels in jou lewe toe te pas.

William, wat vroeër aangehaal is, is ’n voltydse vrywilliger by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies. Hy sê: “Jehovah het ons baie voorsienings gegee om ons te help om hierdie tragiese situasies die hoof te bied. Wat ’n voorreg is dit tog om so ’n liefdevolle en goedhartige hemelse Vader te hê!” Sy suster, Joan, is ’n voltydse pionierbedienaar wat dien waar daar ’n groter behoefte aan evangeliedienaars is. “Terwyl ons grootgeword het, het ons ’n duidelike onderskeid gesien ‘tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie’”, sê sy (Maleagi 3:18). “Ons ondervindinge het ons vasbeslote gemaak om vir die waarheid te stry en dit ons eie te maak.”

Dit kan ook in jou geval waar wees. “Dié wat met trane saai, sal met vreugdegeroep maai”, sê die Bybel (Psalm 126:5). Hoe is hierdie vers van toepassing? Wel, as jy jou daarop toelê om die regte beginsels onder moeilike omstandighede toe te pas, sal jou trane uiteindelik met vreugde vervang word wanneer jy God se seën ontvang.

Lê jou dus voortdurend daarop toe om nader aan Jehovah God te kom (Hebreërs 6:10; 11:6). Al het jy jare lank angs, frustrasie en skuldgevoelens ondervind, kan hierdie gevoelens geleidelik verlig en vervang word met “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”.—Filippense 4:6, 7.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Venster op bladsy 21]

Voel jy . . . 

• dat jy nie veel werd is nie?

• dat dit nie veilig of verstandig is om ander te vertrou nie?

• dat jy voortdurend gerusgestel moet word?

• dat jou woede of jaloesie buite beheer is?

As jou antwoord op hierdie vrae ja is, moet jy so gou as moontlik met ’n vertroude ouer, ouer man of geestelik volwasse vriend hieroor praat.

[Prente op bladsy 22]

Neem positiewe stappe om jou gevoelens te verwerk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel