Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/22 bl. 18-20
  • Hoe kan ek as aangenome kind my situasie suksesvol hanteer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek as aangenome kind my situasie suksesvol hanteer?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is hulle my “regte” ouers?
  • Eer jou vader en moeder
  • Versterk jou verhouding met jou aanneemouers
  • Versterk jou verhouding met jou hemelse Vader
  • Aanneming—Hoe pas ek in?
    Ontwaak!—1996
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Waarom moes ék ’n aangenome kind wees?
    Ontwaak!—2003
  • “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/22 bl. 18-20

Jongmense vra . . . 

Hoe kan ek as aangenome kind my situasie suksesvol hanteer?

“Ek weet eintlik niks van my biologiese ouers nie, en dit maak my baie ongelukkig.” —Barbara, 16 jaar oud.

“Ek het nie die vaagste benul waar ek gebore is of wie my ouers is nie. Soms dink ek in die aand daaraan.” —Matt, 9 jaar oud.

“Wanneer ek en my ouers oor iets stry, dink ek dat my ‘regte’ ouers my dalk beter sou verstaan. Dit is verskriklik om so iets te dink, en ek het nog nooit enigiets daaroor gesê nie.”—Quintana, 16 jaar oud.

DIT ly geen twyfel nie—die lewe as ’n aangenome kind kan uitdagings bied. Heelwat jongmense worstel met gevoelens soos dié wat hierbo beskryf word. Baie wonder of hulle moet uitvind wie hulle biologiese ouers is, of hulle wonder of die lewe saam met hulle gelukkiger sou wees. En dit is nie die enigste uitdagings nie.

In die vorige artikel van hierdie reeks het ons ’n paar negatiewe veronderstellings bespreek wat party aangenome jongmense dalk oor hulleself maak.a Dit is baie belangrik om teen sulke ontmoedigende gedagtes te stry as jy as ’n aangenome kind geluk in die lewe wil vind. Maar wat is sommige van die ander uitdagings waarvoor jy dalk te staan sal kom, en watter praktiese stappe kan jy doen om dit die hoof te bied?

Is hulle my “regte” ouers?

Die 13-jarige Jake sê dat hy baie oor sy biologiese ma gewonder het. Dit het tot probleme met sy aanneemouers gelei. Hy vertel: “Wanneer ek kwaad geword het, het ek gesê: ‘Ag, jy is nie my regte ma nie—jy kan my nie so straf nie!’”

Soos jy kan sien, het Jake voor ’n belangrike vraag te staan gekom: Wie is sy “regte” ma? As jy aangeneem is, worstel jy moontlik met dieselfde vraag, veral as jy wonder of jou biologiese ouers jou dalk beter as jou aanneemouers sou behandel. Maar is die geboorteproses, wat twee mense jou biologiese ouers maak, die enigste manier waarop mense jou “regte” ouers kan word?

Jake se aanneemma het nie so gedink nie. Hy sê: “My ma het altyd gesê: ‘Ja, ek is jou regte ma. Al het jy ’n biologiese ma, is ek nou jou regte ma.’” Wanneer volwassenes ’n kind in hulle huis inneem en instem om vir hom te sorg en hom groot te maak, word hulle in werklikheid sy “regte” ouers (1 Timoteus 5:8). Dit is waarskynlik hoe die regsowerheid van die land waar jy woon dit beskou. Hoe beskou God dit?

Kyk byvoorbeeld na wat moontlik die bekendste geval van aanneming in die geskiedenis is—dié van Jesus Christus. Jesus was nie Josef, die timmerman, se biologiese seun nie, maar Josef het die kind as sy seun aangeneem (Matteus 1:24, 25). Het Jesus teen Josef se gesag in opstand gekom terwyl hy grootgeword het? Nee, Jesus het geweet dat dit God se wil is dat hy sy aanneempa gehoorsaam. Jesus was vertroud met ’n wet wat Jehovah aan die kinders van Israel gegee het. Watter wet was dit?

Eer jou vader en moeder

Die Skrif sê vir jongmense: “Eer jou vader en jou moeder” (Deuteronomium 5:16). In die Bybel verwys die woord “eer” dikwels na respek, agting en bedagsaamheid. Jy kan jou wettige voogde eer deur goedhartig teenoor hulle te wees, hulle waardigheid te respekteer, na hulle mening te luister en bereid te wees om aan enige redelike versoek te voldoen.

Maar wat van die tye wanneer dit lyk of jou aanneemouers onredelik is? Ja, dit sal gebeur. Alle ouers is onvolmaak, hetsy hulle aanneem- of biologiese ouers is. Hulle tekortkominge kan dit baie moeilik maak om hulle te gehoorsaam. En onder sulke omstandighede is dit nie ongewoon om te dink aan die feit dat jy ’n aangenome kind is en te wonder of jy nie dalk die reg het om minder gehoorsaam te wees nie. Maar is dit werklik die geval?

Dit sal jou dalk help as jy aan Jesus se situasie dink. Onthou dat hy volmaak was (Hebreërs 4:15; 1 Petrus 2:22). Maar sy aanneempa en sy biologiese ma was nie. Daar was dus heel waarskynlik tye wanneer Jesus kon sien dat sy ouers verkeerd was. Het hy teen Josef se onvolmaakte hoofskap of Maria se leiding as ’n onvolmaakte moeder in opstand gekom? Nee. Die Bybel sê vir ons dat Jesus aan sy ouers “onderdanig gebly” het terwyl hy grootgeword het.—Lukas 2:51.

Wanneer jy en jou aanneemouers nie oor iets saamstem nie, is jy dalk daarvan oortuig dat hulle verkeerd is. Jy moet egter erken dat jy ook onvolmaak is. Daar is dus altyd die moontlikheid dat jy verkeerd is. Hoe dit ook al sy, is dit dan nie raadsaam om Jesus se voorbeeld te volg nie? (1 Petrus 2:21). Dit sal jou help om gehoorsaam te wees. Maar daar is selfs ’n belangriker rede om jou ouers te gehoorsaam.

Die Bybel sê: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here” (Kolossense 3:20). Ja, dit maak jou hemelse Vader gelukkig as jy gehoorsaam is (Spreuke 27:11). En hy wil hê dat jy gehoorsaamheid moet leer, omdat hy wil hê dat jy ook gelukkig moet wees. Sy Woord moedig jongmense aan om gehoorsaam te wees en voeg by: “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly.”—Efesiërs 6:3.

Versterk jou verhouding met jou aanneemouers

Baie meer as eer en gehoorsaamheid is daarby betrokke om ’n goeie verhouding met jou aanneemouers te hê. Jy wil waarskynlik ’n gemoedelike en liefdevolle atmosfeer in die huis hê. Dit is jou aanneemouers se verantwoordelikheid om so ’n atmosfeer te skep. Maar jy kan ook ’n belangrike bydrae lewer. Hoe?

Soek eerstens na maniere om nader aan jou ouers te kom. Vra hulle uit oor hulle agtergrond, hulle lewe en die dinge waarin hulle belangstel. Vra hulle raad oor ’n probleem wat jou kwel en kies ’n tyd wanneer hulle ontspanne en in ’n gemoedelike luim is (Spreuke 20:5). Kyk tweedens hoe jy kan hand bysit met die huishouding, soos deur met die huiswerk en ander takies te help sonder dat jy gevra hoef te word.

Maar wat van jou biologiese ouers? Sal dit noodwendig jou verhouding met jou aanneemouers in gevaar stel as jy besluit om na jou biologiese ouers te soek of as hulle besluit om na jou te soek? In die verlede het aannemingsagentskappe dikwels geweier om inligting te verstrek wat ouers of kinders kan help om hulle biologiese gesinslede op te spoor. Vandag is beleide in sommige lande nie so beperkend nie, en baie aangenome kinders het al hulle biologiese ouers ontmoet wat hulle glad nie kan onthou nie. Aannemingsbeleide kan natuurlik verskil waar jy woon.

Hoe dit ook al sy, dit is ’n persoonlike besluit of jy jou biologiese ouers wil opspoor of nie, en dit is moontlik nie ’n maklike besluit nie. Aangenome jongmense voel nie almal dieselfde oor die saak nie. Party wil baie graag hulle biologiese ouers opspoor; ander is vasbeslote om dit nie te doen nie. Jy kan egter daarvan seker wees dat baie aangenome jongmense al hulle biologiese ouers ontmoet het sonder dat hulle goeie verhouding met hulle aanneemouers in die slag gebly het.

Vra raad by jou aanneemouers en miskien by ervare vriende in die Christengemeente (Spreuke 15:22). Oorweeg jou opsies sorgvuldig, en gee jouself tyd voordat jy enigiets doen. Dit is soos Spreuke 14:15 sê: “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”

As jy besluit om met jou biologiese ouers in aanraking te kom, moet jy jou aanneemouers verseker dat jy hulle nog steeds liefhet en respekteer. Sodoende sal jy jou goeie verhouding met die ouers wat jou grootgemaak en opgevoed het, behou terwyl jy jou biologiese ouers wat jou lank gelede laat aanneem het, beter leer ken.

Versterk jou verhouding met jou hemelse Vader

Baie aangenome jongmense is bang dat hulle ouers hulle sal verwerp. Hulle is bekommerd dat hulle moontlik hulle aanneemgesin sal verloor soos hulle hulle biologiese gesin verloor het. Dit is te verstane dat hulle so voel. Maar onthou hierdie wyse woorde: “Daar is geen vrees in die liefde nie, maar volmaakte liefde werp vrees uit” (1 Johannes 4:18). Moenie toelaat dat ’n morbiede vrees om jou geliefdes te verloor, jou oorheers nie. Versterk eerder jou liefde vir ander, insluitende almal in jou huisgesin. Maar versterk bowenal jou liefde vir jou hemelse Vader, Jehovah God. Hy is volkome betroubaar en laat nooit sy getroue kinders in die steek nie. Hy kan jou vrese stil.—Filippense 4:6, 7.

Catrina, wat as kind aangeneem is, sê dat Bybellees haar baie gehelp het om nader aan God te kom en ’n gelukkige, produktiewe lewe te lei. Sy sê dat ’n hegte verhouding met Jehovah “baie belangrik is omdat ons hemelse Vader weet hoe ons voel”. Catrina se gunstelingteks is Psalm 27:10, wat sê: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.”

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Waarom moes ék ’n aangenome kind wees?” in die Ontwaak! van 22 April 2003.

[Prent op bladsy 20]

Soek na maniere om nader aan jou aanneemouers te kom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel