’n Aanwins vir die gemeenskap
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
SPAANSE stede sit al eeue lank grond opsy vir plekke van aanbidding. Stadsowerhede was van mening dat hulle gemeenskappe by godsdiens baat sou vind. Aangesien Katolisisme die staatsgodsdiens was, is munisipale eiendom volgens tradisie feitlik uitsluitlik aan die Katolieke Kerk geskenk. Maar die tye het verander.
In 1980 het ’n Spaanse wet wat godsdiensvryheid waarborg, verklaar dat “geen geloof die Amptelike Staatsgodsdiens sal wees nie”. Dit het party stadsamptenare beweeg om in die openbaar erkenning te verleen aan die werk van Jehovah se Getuies. As ’n blyk van hierdie erkenning het hulle grond vir die bou van Koninkryksale geskenk.
Verskillende stadsrade het die mening uitgespreek dat hierdie skenkings welverdiend is weens “die opvoedkundige aard van [die Getuies se] werk” sowel as die “openbare en maatskaplike waarde daarvan”. Ander het verwys na “die betekenisvolle bydrae wat Jehovah se Getuies in die stad lewer” en “die nie-winsgewende aard van hulle werk”.
Baie van die Koninkryksale is binne 48 uur gebou met behulp van ’n spesiale boumetode wat bouspanne van Getuie-vrywilligers gebruik. Die burgemeester van La Línea, in die suidweste van Spanje, het gesê: “Ek is baie beïndruk deur die onselfsugtigheid van die vrywilligers, en ek dink hulle verdien ons ondersteuning. Ons het hierdie soort gees baie nodig in vandag se verdeelde wêreld.” Hy het die nuwe Koninkryksaal “’n monument vir die gees van samewerking” genoem.
Bure het ook hierdie gees van samewerking opgemerk. Terwyl ’n dubbele Koninkryksaal gebou is in Vitoria, in die noorde van Spanje, het Marian, wat daar naby woon, gesê: “As almal hierdie soort liefde weerspieël, sal ons nie die probleme hê waarmee ons vandag te kampe het nie.” Nadat ’n plaaslike argitek gesien het hoe die gebou opgerig word, het hy gesê: “Ek wil graag een van Jehovah se Getuies wees om julle vreugde te kan ervaar!”
In die stad Zaragoza, in die noordooste van Spanje, het amptenare ’n terrein van 600 vierkante meter kosteloos vir die Getuies gegee. ’n Plaaslike koerant het die bouterrein beskryf as “’n miernes van Jehovah se Getuies, waar honderde miertjies saam werk”. Bure het die werkers hartlik verwelkom. Een van hulle het gesê: “Die priesters maak dat ek my geloof verloor, maar julle het dit vir my teruggegee.”
Getuies is dankbaar vir die hulp van bure sowel as plaaslike owerhede om hulle plekke van aanbidding te bou. Hulle is vasbeslote om hulle Koninkryksale te gebruik vir die heel beste opvoedkundige werk vir die gemeenskap—om die Woord van God te verkondig en aan ander te leer.
[Prent op bladsy 31]
La Línea, Cádiz, Spanje