Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 8/22 bl. 3-4
  • Afknouery—’n Wêreldwye probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Afknouery—’n Wêreldwye probleem
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wêreldwye verskynsel
  • Die werksplek
  • Afknouery—’n Paar oorsake en gevolge
    Ontwaak!—2003
  • Sê nou ek word afgeknou?
    Jongmense vra
  • Hoe om afknouery die hoof te bied
    Ontwaak!—2003
  • Sê nou ek word by die skool geboelie?
    Antwoorde op 10 vrae wat jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 8/22 bl. 3-4

Afknouery—’n Wêreldwye probleem

“As jy môre skool toe kom, maak ons jou dood.”—Kristen, ’n Kanadese leerling, het hierdie dreigement van ’n ongeïdentifiseerde meisie oor die telefoon ontvang.a

“Ek is nie ’n emosionele persoon nie, maar ek het die punt bereik waar ek nie skool toe wou gaan nie. My maag was seer, en ek het elke oggend ná ontbyt opgegooi.”—Hiromi, ’n tienderjarige leerling in Japan, vertel hoe sy gevoel het toe sy afgeknou is.

HET jy al ooit met ’n afknouer te doen gehad? Die meeste van ons het al op die een of ander stadium. Moontlik was dit op skool of by die werk of moontlik selfs by die huis—waar sulke magsmisbruik deesdae so algemeen voorkom dat dit kommerwekkend is. ’n Britse bron skat byvoorbeeld dat 53 persent van volwassenes slagoffers is van mondelinge afknouery deur ’n huweliksmaat of ’n saamblymaat. Afknouers en hulle slagoffers kan manlik of vroulik wees en uit enige agtergrond of wêrelddeel kom.b

Presies wat is afknouery? Dit is nie heeltemal dieselfde as teistering of aanranding nie. Dit sluit dikwels talle klein voorvalle in wat oor ’n tydperk plaasvind eerder as een of ’n paar voorvalle. Die sielkundige Dan Olweus, wat baanbrekerswerk in die stelselmatige studie van afknouery gedoen het, identifiseer gemeenskaplike elemente van hierdie gedrag, soos opsetlike aggressiwiteit en ’n opvallende ongelykheid wat krag of gesag betref.

Geen enkele definisie dek moontlik alle aspekte van afknouery nie, maar dit is al gedefinieer as “’n opsetlike, bewuste begeerte om iemand seer te maak en hom/haar onder druk te plaas”. Die druk word nie net veroorsaak deur wat werklik gebeur nie, maar ook deur vrees vir wat kan gebeur. Taktieke kan wrede tergery, aanhoudende kritiek, beledigings, skinderpraatjies en onredelike eise insluit.—Sien die venster op bladsy 4.

Kristen, die tiener wat aan die begin gemeld is, is gedurende die grootste deel van haar skooljare afgeknou. Toe sy op laerskool was, het afknouers kougom in haar hare gesit, haar oor haar voorkoms gespot en gedreig om haar te slaan. Op hoërskool het die situasie net vererger—totdat sy selfs doodsdreigemente oor die telefoon ontvang het. Sy is nou 18 en sê: “Die skool is ’n plek waar ’n mens veronderstel is om te leer, nie ’n plek waar jy met die dood gedreig en hardhandig behandel word nie.”

Een geestesgesondheidsdeskundige sê: “Dit is ’n hartseer maar algemene aspek van menseverhoudings. Party mense voel beter wanneer hulle ander verkleineer.” Wanneer sulke gedrag vererger, kan dit ’n gewelddadige reaksie uitlok en selfs tot ’n tragedie lei. Byvoorbeeld, ’n werker by ’n openbare vervoermaatskappy met ’n spraakgebrek is so gespot en afgeknou dat hy uiteindelik vier van sy medewerkers doodgemaak het en homself toe geskiet het.

’n Wêreldwye verskynsel

Afknouery onder skoolkinders vind wêreldwyd plaas. Volgens ’n opname wat in Pediatrics in Review gepubliseer is, is 14 persent van die kinders in Noorweë óf afknouers óf slagoffers. In Japan sê 15 persent van laerskoolkinders dat hulle afgeknou word, terwyl dit ’n probleem onder 17 persent van die leerlinge in Australië en Spanje is. Volgens een kenner se berekeninge is daar 1,3 miljoen kinders in Brittanje wat by afknouery betrokke is.

Professor Amos Rolider van Emek Yizre’el-universiteit het ’n opname onder 2 972 leerlinge by 21 skole gedoen. Volgens The Jerusalem Post het die professor gevind dat “65% van hulle gekla het dat ander leerlinge hulle geklap, geskop, gestoot of getreiter het”.

’n Nuwe neiging wat besig is om kop uit te steek, is digitale afknouery—wanneer dreigemente in die vorm van selfoon- en rekenaarteksboodskappe gestuur word. Jongmense skep ook met kwaadwillige bedoelings webblaaie oor ’n slagoffer, wat ook persoonlike inligting insluit. Volgens dr. Wendy Craig van die Queen’s-universiteit in Kanada doen hierdie soort afknouery “baie skade aan die kinders wat die slagoffers daarvan is”.

Die werksplek

Afknouery by die werksplek is een van die redes vir klagtes in verband met geweld by die werksplek wat die vinnigste toeneem. Trouens, volgens verslae uit sommige lande is dit algemener as rassediskriminasie of seksuele teistering. Elke jaar word 1 uit 5 persone in die Amerikaanse arbeidsmag afgeknou.

Volgens ’n verslag in Brittanje wat in 2000 deur die Universiteit van Manchester se Instituut vir Wetenskap en Tegnologie uitgegee is, het 47 persent van 5 300 werknemers in 70 organisasies genoem dat hulle gevalle van afknouery in die laaste vyf jaar gesien het. ’n Opname deur die Europese Unie in 1996 wat op 15 800 onderhoude in sy 15 lidstate gebaseer is, het getoon dat 8 persent—sowat 12 miljoen werkers—geïntimideer of afgeknou is.

Hetsy op skool of by die werksplek, dit lyk of alle afknouery een ding in gemeen het—die gebruik van krag of gesag om ander seer te maak of te verneder. Maar waarom knou party mense ander af? Wat is die gevolge daarvan? En wat kan daaromtrent gedoen word?

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Hoewel hierdie artikels dikwels “hy” gebruik om na die afknouer te verwys, is die beginsels oor die algemeen ook op meisies en vroue van toepassing.

[Venster op bladsy 4]

Soorte afknouers

◼ Fisiese afknouers: Hulle word die maklikste geïdentifiseer. Hulle gee uiting aan hulle woede deur hulle slagoffer te slaan, te stamp of te skop—of deur sy slagoffer se eiendom te beskadig.

◼ Mondelinge afknouers: Hulle gebruik woorde om hulle slagoffer seer te maak en te verneder deur hom byname te gee, te beledig of aanhoudend en wreed te terg.

◼ Verhoudingsafknouers: Hulle versprei gemene gerugte oor hulle slagoffer. Hierdie vorm van afknouery word hoofsaaklik deur meisies of vroue gebruik.

◼ Reaktiewe slagoffers: Hulle is slagoffers wat self afknouers word. Die feit dat hulle slagoffers was, verskoon natuurlik nie hulle gedrag nie; dit help slegs om dit te verklaar.

[Erkenning]

Bron: Take Action Against Bullying, deur Gesele Lajoie, Alyson McLellan en Cindi Seddon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel