Die Bybel se beskouing
Seën God ons met rykdom?
“Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—SPREUKE 10:22.
BETEKEN die Bybelteks wat hierbo aangehaal word dat God sy knegte met materiële rykdom seën? Party mense dink so. Kyk byvoorbeeld na wat ’n Australiese Pinksterleraar en skrywer gesê het: “In [my] boek gaan ek jou vertel waarom jy meer geld nodig het en tweedens hoe jy meer geld kan kry . . . As jy jou denkwyse kan verander en die regte gesindheid teenoor geld kan ontwikkel, is ek seker dat jy God se seën en voorspoed sal geniet en nooit weer ’n probleem met geld sal hê nie.”
Hierdie woorde gee egter te kenne dat arm mense nie God se guns geniet nie. Is materiële voorspoed werklik ’n bewys van God se seën?
Geseën met ’n doel
Die Bybelverslag bevat gevalle waar God sy getroue knegte met rykdom geseën het. Jakob het byvoorbeeld sy huis verlaat met net sy staf, maar 20 jaar later teruggekeer met soveel skape, beeste en esels dat dit twee kampe gevorm het. Volgens die Bybel was Jakob se voorspoed ’n gawe van God (Genesis 32:10). Nog ’n voorbeeld: Job het al sy besittings verloor, maar Jehovah het hom later geseën met “veertienduisend skape en sesduisend kamele en duisend spanne beeste en duisend eselinne” (Job 42:12). Jehovah het koning Salomo soveel rykdom gegee dat hy vandag nog daarvoor beroemd is.—1 Konings 3:13.
Die Bybel bevat daarenteen baie verslae van getroue, gehoorsame aanbidders van God wat arm was. God het tog nie party met armoede gestraf terwyl hy ander met voorspoed geseën het nie. Met watter doel het God mense dan in party gevalle met rykdom geseën?
Die antwoord verskil van geval tot geval. Jakob se materiële seëninge het ’n grondslag gelê vir die bou van ’n nasie ter voorbereiding van die koms van die beloofde Saad (Genesis 22:17, 18). Job se voorspoed het enige twyfel uit die weg geruim oor wie rampspoed oor Job gebring het en sodoende Jehovah se naam geheilig (Jakobus 5:11). En Salomo het baie van sy godgegewe rykdom gebruik om ’n luisterryke tempel te bou (1 Konings 7:47-51). Dit is interessant dat Jehovah Salomo ook gebruik het om uit persoonlike ondervinding te skryf oor die beperkte waarde van rykdom.—Prediker 2:3-11; 5:10; 7:12.
Hoe God ons seën
Jesus het sy volgelinge geleer om die regte gesindheid teenoor geld te hê toe hy gesê het dat hulle moet ‘ophou om hulle te kwel’ oor besittings. Hy het met hulle geredeneer dat nie eers Salomo in al sy heerlikheid so goed soos die lelies van die veld geklee was nie. Maar Jesus het gesê: “As God dan die plantegroei van die veld . . . so klee, sal hy julle nie veel eerder klee nie, julle kleingelowiges?” Jesus het Christene verseker dat voedsel, klere en onderdak vir sy volgelinge bygevoeg sal word as hulle eers die Koninkryk en God se regverdigheid soek (Matteus 6:25, 28-33). Hoe word hierdie belofte nagekom?
Wanneer die Bybel se raad gevolg word, lei dit veral tot geestelike seëninge (Spreuke 10:22). Maar dit bring ook ander voordele. God se Woord sê byvoorbeeld vir Christene: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk” (Efesiërs 4:28). Dit sê ook: “Wie met ’n trae hand werk, sal arm wees, maar die hand van die vlytige sal ryk maak” (Spreuke 10:4). Eerlike, hardwerkende Christene wat hierdie raad volg, word dikwels as werknemers verkies. Dit kan ’n seën wees.
Die Bybel leer Christene ook om weg te bly van dobbelary, ’n tydverdryf wat uit gierigheid voortspruit, van die rookgewoonte, wat ’n mens verontreinig, en van dronkenskap, wat ’n vernietigende gewoonte is (1 Korintiërs 6:9, 10; 2 Korintiërs 7:1; Efesiërs 5:5). Mense wat hierdie raad volg, het minder uitgawes en geniet beter gesondheid.
Waardevoller as silwer of goud
Maar materiële voorspoed kan nie as die enigste aanduiding van God se goedkeuring en seën beskou word nie. Jesus het byvoorbeeld die geestelike arm toestand van party Christene in Laodisea blootgelê toe hy vir hulle gesê het: “Jy sê: ‘Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie’, maar jy . . . weet [nie] dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openbaring 3:17). In teenstelling hiermee het Jesus vir die materieel arm, maar geestelik gesonde Christene in Smirna gesê: “Ek ken jou verdrukking en armoede—maar jy is ryk” (Openbaring 2:9). Hierdie Christene is waarskynlik weens hulle getrouheid vervolg en het gevolglik geldelike verliese gely, en tog het hulle rykdom gehad wat baie waardevoller as silwer of goud was.—Spreuke 22:1; Hebreërs 10:34.
Jehovah God seën die pogings van diegene wat daarna streef om sy wil te doen (Psalm 1:2, 3). Hy voorsien hulle van die krag en die middele om beproewinge die hoof te bied, om vir hulle gesin te sorg en om sy Koninkryk eerste te soek (Psalm 37:25; Matteus 6:31-33; Filippense 4:12, 13). Gevolglik beskou ware Christene nie materiële dinge as die vernaamste manier waarop God mense seën nie, maar hulle streef daarna om “ryk te wees in goeie werke”. As Christene ’n hegte verhouding met die Skepper opbou, is hulle besig om “vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar”.—1 Timoteus 6:17-19; Markus 12:42-44.