Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 4/8 bl. 18-21
  • Die opvang van reënwater—Destyds en vandag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die opvang van reënwater—Destyds en vandag
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die behoefte vandag
  • Daadwerklike optrede
  • Die permanente oplossing
  • Die waterkrisis—Wat word daaromtrent gedoen?
    Ontwaak!—2009
  • Op soek na die water van die lewe
    Ontwaak!—2001
  • Wat het van al die water geword?
    Ontwaak!—2001
  • Water wat opborrel om die ewige lewe te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 4/8 bl. 18-21

Die opvang van reënwater—Destyds en vandag

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

DUISENDE jare lank al word dieselfde water herbenut, danksy die natuurlike kringloop van verdamping vanaf die aarde en see, wolkvorming en reën. Hierdie doeltreffende stelsel voorsien meer as genoeg water vir almal op aarde. Waarom ondervind die mensdom dan sulke enorme waterprobleme? Watter moontlike oplossings is daar? In antwoord hierop kan ons kyk na die watersituasie in Indië.

Met ’n bevolking van meer as eenmiljard, is Indië se watervoorraad vinnig besig om uitgeput te raak. Waar kom Indië se water vandaan? In die verre noorde smelt sneeu en gletsers in die Himalajagebergte tydens die lente, en dit vul die riviere aan. Maar die grootste deel van die Indiese subkontinent maak staat op jaarlikse moesonreëns om die droë aarde te deurweek en putte en mere sowel as die magtige riviere wat die land deurkruis, te vul. Die moeson in Indië is temperamenteel en word beskryf as “een van die wispelturigste, verwarrendste verskynsels” wat, “ondanks al die vooruitgang in moderne tegnologie, van satelliete tot kragtige superrekenaars . . . , verbasend moeilik kan wees om te voorspel”.

’n Normale moesonseisoen duur van drie tot vier maande, maar pleks dat die reën eweredig oor die hele periode versprei word, is die neerslag meestal in die vorm van wolkbreuke. Gevolglik word damme vol en moet water uitgelaat word. Riviere oorstroom hulle walle, asook landerye en huise. Omdat hedendaagse industrialisasie en verstedeliking tot grootskaalse ontbossing gelei het, is daar dikwels nie genoeg bome om die kosbare reën in hulle wortels te bewaar en dit geleidelik in die aarde te laat insink nie. Die strome spoel dus die bogrond weg en laat die grond onbeskermd. Slyk bou op in mere en poele, sodat dit vlak word en minder water hou. In werklikheid gaan ’n groot deel van die kosbare reënwater verlore.

Dan is die moesonseisoen verby. Die res van die jaar skyn die son elke dag en is dit maande lank bloedig warm! Die grond verdor vinnig, en die landerye kry ’n harde kors. Snelvloeiende riviere word dun straaltjies water in breë, sanderige rivierbeddings. Watervalle verdwyn. Boorgate word al hoe dieper gesink om water uit waterhoudende grondlae te haal, en die watertafel word al hoe laer. Wanneer die reënval laag is, lei dit tot droogtes, misoeste, sterftes onder die vee en die verhuising van dorpsbewoners na die stede, wat stedelike waterprobleme vererger.

Maar dit was nie altyd die geval nie. In die ou tyd het mense oor die hele Indië geleer dat dit beter is om nie uitsluitlik op die riviere en mere staat te maak nie, aangesien dit ná die moesonreëns sou opdroog. Hulle het die kuns aangeleer om reën op te vang waar dit val, dit vir hulle onmiddellike behoeftes te gebruik en dit te bewaar vir die tyd wanneer dit sou ophou reën. So is reënwater benut.

Die behoefte vandag

’n Mens sou dink dat daar vandag, met moderne tegnologie en die bou van groot damme, keerwalle en besproeiingskanale—waarvan daar ’n oorvloed in Indië is—feitlik geen belangstelling sou wees in eertydse metodes om water op te vang nie. Die meeste van hierdie metodes het immers in onbruik geraak toe mense water uit ’n kraan in hulle huise of dorpies kon kry. Maar daar is rede tot kommer. Grootskaalse waterbeheerskemas oor die afgelope 50 jaar kon nie byhou met die snelgroeiende behoeftes van die bevolking en die feit dat die bevolking so vinnig verander het van ’n landbougemeenskap na ’n nywerheidsgemeenskap nie. Daar is nie genoeg water opgegaar om die land se dors te les nie.

Omgewingsdeskundiges en besorgde owerhede besef nou hoe belangrik dit is om mense persoonlik betrokke te kry by waterbewaring. Mense word aangemoedig om reënwater op te vang in hulle huise, fabrieke, skole en enige plek waar dit op klein skaal prakties is. Baie stede en provinsies het dit selfs verpligtend gemaak vir nuwe geboue om fasiliteite vir die opvang van reënwater te hê!

Miljoene liters reënwater val in gebiede waar dit nie opgevang word nie, maar eenvoudig verdamp of na die see vloei. Met reënwaterbenutting—wat gegrond is op die idee om water op te vang waar dit val—word water deur individue bewaar. En anders as water van damme en kanale, waarvoor daar betaal moet word en wat dus ’n duur las vir die armes is, is hierdie water verniet!

Daadwerklike optrede

Talle besorgde mense in Indië raak dus betrokke by waterbewaring. Party het internasionale toekennings hiervoor ontvang, soos Rajendra Singh, wat in 2001 die gesogte Magsaysay-toekenning vir gemeenskapsontwikkeling ontvang het. Met behulp van ’n nieregeringsorganisasie, wat hy gestig het, het Singh die byna opgedroogde Aravari-rivier in die provinsie Rajasthan weer aan die vloei gekry, ’n seën vir ’n provinsie met 8 persent van die land se bevolking en net 1 persent van sy waterbronne. Singh se groep het oor ’n tydperk van 15 jaar bome geplant en 3 500 tenks gebou—tradisionele johads om water op te vang—waarby die plaaslike dorpenaars baat gevind het. Ander probeer ook water bespaar, en hoewel hulle pogings meestal ongemerk bly, verskaf die wete dat hulle help hulle groot tevredenheid.

Nyweraars sien die voordele daarvan om die stedelike watervoorraad met reënwater aan te vul. In ’n fabriek in die buitewyke van Bangalore, in die suide van Indië, is ’n eenvoudige, goedkoop stelsel begin om dakwater op te vang. Reënwater, wat voorheen op die hoofweg geval en verlore gegaan het, word opgevang in ’n tenk met ’n inhoudsmaat van 42 000 liter. Gedurende die moesonseisoen word 6 000 liter van die opgevangde water per dag gefiltreer sodat dit gebruik kan word om die fabriek se skottelgoed te was en die verversingslokaal skoon te maak. Geen water van die stad se voorraad word vir hierdie doeleindes gebruik nie.

‘’n Druppel in ’n emmer’, sê jy dalk. Maar stel jou voor jy het ’n bankrekening waarin geld een keer per jaar gedeponeer word. Vir jou daaglikse behoeftes moet jy geld uit jou rekening onttrek, maar geleidelik onttrek jy meer as wat jy gedeponeer het. Eendag sal jou rekening oortrokke wees. Maar as jy werk kry vir ’n paar maande van die jaar en jou inkomste meer as genoeg is om in jou daaglikse behoeftes te voorsien, sal die geld in jou rekening ’n kans kry om op te bou. Pas nou hierdie beginsel op waterbewaring toe. Maal jou klein besparing miljoene keer, en wat kry jy? Waterbronne word aangevul, die watertafel word hoër, waterhoudende grondlae word gevul en daar is water in voorraad vir gebruik wanneer die “inkomste” in die vorm van opgevangde reënwater opraak. Onthou, die beskikbare water is beperk; daar is geen voorsiening vir ’n oortrokke rekening wanneer dit by water kom nie.

Die permanente oplossing

Ons planeet voorsien oorvloedig in die behoeftes van sy bewoners. Maar deur die eeue heen het die mens se gierigheid en kortsigtigheid die lewe vir miljoene van die aarde se bewoners baie moeilik gemaak. Ondanks die pogings van opregte persone is dit duidelik dat mense nie die mag het om die aarde se omgewingsprobleme uit die weg te ruim nie. Gelukkig het die Skepper van die aarde beloof om “die verderwers van die aarde te verderf” en om die balans van die waterkringloop te herstel sodat ‘waters in die wildernis sal uitbreek, en strome in die woestynvlakte’. Ja, “die verskroeide grond sal soos ’n rietpoel word, en die dorsland soos waterfonteine”. Wat ’n wonderlike benutting van verkwikkende reënwater sal dit tog wees!—Openbaring 11:18; Jesaja 35:6, 7.

[Venster/Prente op bladsy 21]

Ou metodes word weer gebruik

DAKWATER: Eenvoudig en goedkoop. Dakke wat effens skuins is, laat water afvloei in geute, aflooppype en spesiaal voorbereide dromme. Filters van gaasdraad, sand, gruis en houtskool maak die water skoon. Dit word gelei na ondergrondse opvangputte of na bogrondse tenks. Tenks word verseël om lug, sonlig en organiese materiaal uit te hou; behandeling met aluin maak die water helderder; en bleikpoeier vernietig bakterieë. Hierdie water kan gebruik word om tuine nat te lei, toilette te spoel en klere te was. Verdere behandeling kan dit drinkbaar maak. Die oorblywende water kan in putte opgevang word of ondergronds gelei word om die watertafel aan te vul. Dit is die gewildste metode in stede.

NAULAS: Klipmure wat in ’n stroom gebou word om die water te laat opdam. Skadubome word langs die stroom geplant om verdamping te verminder, en geneeskundige plante word in die klein reservoirs gegooi om die water te suiwer.

SYFERTENKS, RAPATS: Klein tenks wat op sanderige of klipperige grond gebou word om reënwater te berg. Van die water word gebruik, maar die res syfer deur na waterhoudende grondlae, wat putte aanvul.

BHANDARAS: Ondergrondse tenks wat gebou word om water van fonteine af te keer en dit na opgaartenks te herlei vir gebruik in die stad.

KANATS: Vertikale tonnels in heuwelagtige gebiede om reënwater op te vang. Die water loop saam in ondergrondse kanale en vloei deur middel van swaartekrag oor lang afstande na opgaarputte.

AANEENGESKAKELDE TENKS: Tenks wat oorloop in ’n reeks laerliggende tenks om die reënwater op te vang wat deur geute daarheen gelei is.

[Erkenning]

Met vergunning: S. Vishwanath, Rainwater Club, Bangalore, India

[Foto-erkenning op bladsy 19]

UN/DPI Photo by Evan Schneider

[Foto-erkenning op bladsy 20]

UN/DPI Photo by Evan Schneider

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel